Desmond Painter. Dylan, De Vries, en die Hertzogprys
Wednesday, April 6th, 2011As ‘n mens politieke oorwegings rondom die geskiedenis van Afrikaans en apartheid vir ‘n oomblik tersy lê, is die Akademie se grootste versuim wat betref die toekenning van die Hertzogprys aan ‘n Afrikaanse skrywer dalk nie Adam Small nie, maar Abraham H. de Vries. Anders as Small publiseer De Vries nog aktief; die verskoning van ‘die reglemente maak ‘n toekenning onmoontlik’ is dus nie op hom van toepassing nie.
‘n Hele aantal van De Vries se bundels (beslis Die Uur van die Idiote en Nag van die Clown) was as individuele werke sterk genoeg om die Hertzog te verdien; en as ‘n mens na sy oeuvre as geheel kyk (na die kwaliteit daarvan maar ook na die belangrikheid van sy werk in die vestiging van die kortverhaal as ‘n toonaangewende genre in die Afrikaanse letterkunde) is dit werklik absurd dat De Vries nog nooit die ontvanger van daardie prys was nie. Wat moet die man nog doen om te kwalifiseer? ‘n Roman skryf?!
‘n Keur uit De Vries se “ernstiger” verhale, Die Behoue Huis, het onlangs by H&R verskyn. Ek het vir Die Burger ‘n resensie daaroor geskryf; dit het gister verskyn. In die resensie vergelyk ek De Vries (slegs deels tong in die kies) met Bob Dylan. By beide Dylan en De Vries kry jy daardie “modernistiese” impuls tot eksperimentering, grensverskuiwing en self-vernuwing; maar beide bly “folk” kunstenaars: gewortel in ouer retoriese tradisies en ten diepste verbonde aan die landskappe, karakters en mitologieë van spesifieke plekke.
Ek het nie geweet hulle gaan die Dylan-vergelyking as kop gebruik nie, en ek het vergeet om die koerant te koop voor ek Maandag vroegoggend ‘n vliegtuig na Johannesburg moes haal. Ek was dus erg verras en sommer heel ingenome toe die man in die ry voor my sy koerant by die boekeblad oopslaan, en daar staan dit in dik, swart letters: “Die Bob Dylan van die Afrikaanse lettere”!
Terloops, ek sien Crito skryf op sy blog (ja, ek is egosentries genoeg om te gaan kyk wat Crito oor my skryf…): “Desmond Painter … ken nie sy Dylan nie”. Het jy nou al in jou lewe iets so belaglik soos dit gelees?! Gmf!