Cyril C.M. Clarke. soveel soos ‘n hart kan hou
Thursday, February 24th, 2022
soveel soos ’n hart kan hou
‘Nobody has ever measured,
not even poets,
how much the heart can hold.’
Zelda Fitzgerald
op die stofgemergelde beendroë vlakte
duskant blaauwskop
waar dartelende stofduiwels
drogbeelde van verstoorde siele
oor die dorsland dartel en draai
loop lê ’n mof-ooi
moeg van maerte
swartkraai
bode van die dood
in ’n verflenste swart pak
land elegant
op haar hortende ribbes
klik sy snawel simpatiek
pik bedrewe haar oog uit
en
sluk dit smaaklik soos ’n oester
met ’n skor knetterende
kra-kra-kraaa kras kraaklag
knetter hy die lug in
en frommel vermetel
weg op die warm wind
sewejaardroogte se swaarkry
lê nie in die donker poele
van my pa se oë
waarin vele versengende horisonne
wolkloos weerspieël nie
nie in sy stofskor stem nie
nie in die wanhoop van sy weerlose skouers nie
of in sy geleefde verskrikking
van die verlore veldtog van tobruk
of die verpletterde puin van monte casino
of in die grafte
van gesneuwelde skoolmaters
in europa nie
maar
in sy kreukeldroë
grof afgesloofde hand
wat sy knipmes uithaal
en die skaap
keel-af sny
© Cyril C.M.Clarke, 2022