Posts Tagged ‘Cyril Clarke limerieke’

Cyril Clarke. 5 limerieke

Wednesday, October 6th, 2021

 

die vroutjie van allemanskraal

wat deur die leë plaashuis dwaal

huil saans op die stoep

as die groot uil roep

oor die boedel nie als betaal

 

*

 

pietie van groot pieter leidam

pappie se enigste bokram

saai breëbors sy saad

teen pieter se raad

hy dink hy’s die kontrei-stoetram

 

*

 

die ou vrek van oorkant die straat

wat met skelms per telefoon praat

glo elke vuil skelm

maar raak dan bedwelm

as hul seepglad geld uit hom praat

 

*

 

tewie klein was ’n groot hanswors

hy was ook altyd ernstig dors

sy ma het geweet

tot haar bitter leed

sy lewe was een groot gemors

 

*

 

die kerkhof lê vol dooie mans

die weduwees het nou geen kans

al kry hul so lus

mans is uitgeblus

hul moet op hul eie dans

 

© Cyril Clarke, 2021