Philip de Vos. Aandagsgebreksindroom of pleinweg ADD
Saturday, November 6th, 2010
Ja, dit is die lekkerte van ADD. Jy hoef jou nie te lank by een onderwerp te bepaal nie.
Die volgende:
Ek ontmoet tog so met my omwandelinge ander mense, al is dit somtyds net vir ‘n minuut of tien.
Dinsdagoggend het ek foto’s van Zandra Bezuidenhout geneem. En die GPS in my Uno het my al die pad tot reg by haar voordeur geneem met ’n vrouestem wat sê: Destination on the left!
Daarna was dit Winand Grundling die hoogs begaafde jong orrelis met wie ek saam middagete in Stellenbosch se straatkafees gehad het. En om die waarheid te sê ek ken ook nie juis die orrel as instrument nie. Dit laat my te veel dink aan die ure wat ek as kind in die kerk gesit het en die dominee gepraat en gepraat en gepraat het en die orrel gespeel en gespeel en gespeel het. En vir iemand met ADD voel ‘n uur in die kerk soos ‘n honderd jaar. Die ander dag vra ‘n vriend egter: “Maar hoe kry jy dan reg om vir drie uur lank na Avatar te sit en kyk?”
En tot my skaamte moet ek erken, toe Winand dié middag my novelle Tot siens, Tommasino uithaal om geteken te word en ek voorin ietsie moois vir hom skryf, kon ek vir ‘n oomblik glad nie sy naam onthou nie. My gedagtes was seker al klaar by die volgende onderwerp: oor wat ek presies vir die volgende paar uur sou doen
O ja, ek het netnou vergeet om te sê ek lees darem so nou en dan ‘n boek deur. ‘n Paar dae gelede was dit die laaste bladsy van Damon Galgut se In a Strange Room. Die lekkerte van dié boek is dat die boek se reëls in dubbelspasie gedruk is en dat Galgut se sinne kort is. En vir my met my ADD was dit een van die roerendste en allenigste boeke wat ek al ooit gelees het. Eenvoud en diepte in kort gelaaide sinne. Intellektueel was ek nog nooit nie en ek wil dit ook nooit voorgee nie en wil daarom ook nooit gedigte of boeke probeer ontleed nie, want ontleding vat te lank en die volgende boek se eerste drie bladsye wag. Maar – vir dié wat slimmer as ek is (en ook die ander) – lees asseblief dié boek.
Dinsdagmiddag in Stellenbosch, het ek toe van 13:00 tot 17:00 tyd gehad om te wag om weer vir Piet Grobler te sien. Hy was vir ‘n baie vlugtige besoekie aan die land vir die bekendstelling van Marita van der Vyver se Die Mooiste Sprokies van Grimm saam met met Piet se soos gewoonlik, wonderlike illustrasies. En toe ek vir Piet, wat nou in Engeland woon, vra hoe dit voel om terug in die land te wees, sê hy. “Dis vreemd. Ek voel ek behoort nie daar ander kant nie, en ek behoort ook nie meer nie hier nie” En toe vertel hy my hoe hy verby sy ou huis in Paradyskloof gery het. En die wonderlike hoë heining wat die huis met die groen dak half en half weggesteek het, is nou kort gesnoei. Ja, ‘n jaar is verby en dinge het verander.
En in die wagtyd tussen 13:00 en 17:00 het ek in Protea Boekwinkel in ‘n leunstoel gesit en boeke van bladsy 1 tot 3 begin lees. Veral die fotoboeke met foto’s soos dié van David Goldblatt. Maar toe maak ek ‘n ontdekking: tussen al die boeke ingedruk is Jurie Els se Ver van Vrede. En ongelukkig moet ek nou bieg, ek is ook maar nes baie ander Suid-Afrikaners. Ek hou van skinder en is geseën met ‘n tikkie Schadenfreude en ja, ek lees ook maar Die Huisgenoot wat my buurvrou-viendin Vicky Taljaardt vir my aandra en wat ek so gewillig lees.
Ja, van Jurie Els gepraat. Nog voor al die Klay-stories begin het, was ek bewus van die man wie se gesig so gereeld op Huisgenoot se voorblaaie verskyn het. En ek kon nog nooit vat kry aan iemand wat die heeltyd glimlag nie, want ‘n smaail irriteer my verskriklik, om die waarheid te sê, vir party mense s’n, gril ek my half dood.
En daar sien ek toe Ver van Vrede op die rak, en ek wil nie hê Louis Esterhuizen moet weet wat ek so skelm-skelm in die Protea-boekwinkel sit en lees nie. Toe haal ek maar ‘n dik fotoboek van die rak af met Jurie Els se Ver van Vrede onder dié groot boek versteek. En elke keer as Louis verbystap, sug ek diep. Hy dink toe dis oor Paul Alberts se roerende foto’s wat ek sug, maar min het hy geweet dit was eintlike oor Jurie Els se manewales.
Later dié middag het ek ‘n uur of wat by Louis en Marlise aan’t huis deurgebring. Ons het buite in die tuin gesit en wag op die voëltjie wat so gereeld kom kuier het. Ons het sit en wyn drink. Daar was klaviermusiek met die wondelike andante-gedeelte van Shostakovich se tweede klavierkonsert uit die sitkamer agter ons. En die voëltjie het laatmiddag steeds nie opgedaag nie.
Toe het dit skemer begin word en moes ek met my heerlike nuwe GPS-speelding in my Uno na Oude Libertas toe ry vir Piet se boekbekendstelling.
En daar het ek met Wilma Janse van Vuuren en Hilton Paul begin gesels. En Hilton het vir my gesê ons moet eendag by Giovanni’s in Groenpunt gaan koffie drink. Ek was nog nooit daar nie, net omdat ek seker ‘n bietjie te skaam is om alleen daar in te stap. En ja, dit is tog lekker om nuwe mense te ontmoet
Vir iemand met ADD is die lewe nooit werklik vervelig nie.
Later dié naweek gaan praat ek dalk weer met my nuwe vriend Rob Kirsner oor ou MGM Musicals …
Die ander dag juis sê een van my oudste pêlle: Ja jy dink net die hele tyd aan jouself! En dit herinner my skielik aan ‘n miss Piggy cartoon.
Dit was min of meer die volgende: “I have talked much too much about myself already. Let us rather talk about you. Tell me, what do you think of me …
Amen