Posts Tagged ‘Dan Jacobson’

Nini Bennett. Olga Kirsch se Engelse poësie: ’n ballingskap van swye

Thursday, January 27th, 2022

 

“We are all los inmigrantes, the Soul is the first Immigrant: The Soul cannot be held back by any imaginary boundary drawn against it; not by mountain ranges, not by rivers, nor by human scorn. – Clarissa Pinkola Estés, The Dangerous Old Woman: Myths and Stories of the Wise Woman Archetype, Volume 1 (2010) (mp3s/CDs)

Olga Kirsch het onder meer bekendheid verwerf as die tweede Afrikaanse vrouedigter om ná Elisabeth Eybers te publiseer. Sy het op die ouderdom van 20 (1944) gedebuteer met Die soeklig; haar poësie lewer ’n belangrike bydrae om die Joodse belewenis in Afrikaans te verwoord. Kirsch se oeuvre bestaan uit sewe Afrikaanse digbundels, met slegs enkele verwysings na haar Engelse poësie.

In 2018 verskyn Egonne Roth se biografie, Olga Kirsch: ’n Lewe in gedigte (Naledi) en as addendum tot dié werk word ’n bloemlesing van Kirsch se Engelse poësie uitgegee. Olga Kirsch: Her English poetry is saamgestel deur Roth, vergesel van ’n inleiding deur Antjie Krog (2020, Naledi). Kirsch se oeuvre, wat oor 50 jaar en drie tale strek word op verrassende wyse aangevul deur hierdie nagelate Engelse verse. In die samesteller se notas agter in die bundel vermeld Roth: “This largely, unknown oeuvre of English poems was the stuff that dreams are made of for a biographer. I used as many as I could in the biography but that was not nearly enough. It has been a privilege to be a part of the publication of these poems that need to be in the public domain.”

Dit was egter ’n uitdagende – en sensitiewe – proses om persoonlike dokumente van Kirsch se familie te bekom. Na die digter se afsterwe in 1997 is haar verse in bokse verpak en geberg by haar oudste dogter, Michal, se woonplek in Londen. Dit was eers met die hulp van Kirsch se jonger dogter, Ada Zohar dat daar ná maande besluit is op ’n datum om die inhoud van die bokse uit te pak. En dit was inderdaad ’n vonds. Daar was byvoorbeeld verse wat Kirsch in 1984 tydens Zohar se egskeiding geskryf het – gedigte waarvan niemand kennis gedra het nie. Ada Zohar het voorts 79 gedigte wat Kirsch na die afsterwe van haar man, Joseph Gillis, geskryf het, uit die bokse gehaal, asook 60 gedigte wat oor alledaagse verskynsels handel. Dit is veral die rougedigte na haar geliefde eggenoot se dood wat Krog uitsonder vir hul elegiese skoonheid. Maar daar het nóg ’n verrassing gewag: die lang epiese gedig, “Nevertheless” wat in ’n verkorte weergawe in Jewish Frontier (1966) verskyn het, se volledige kopie was weggepak in die boks. Egonne Roth was die eerste persoon buite die Kirsch-familie om dié volledige gedig onder oë te kry. Bygesê; Olga Kirsch se gesin het nooit haar geesdrif vir haar poësie gedeel nie, waarskynlik omdat sy allereers as Afrikaanse digter beskou is en omdat haar huisgenote se huistale Engels en Hebreeus was.

Kirsch het van kleins af die gevoel van buitestaanderskap ervaar – en as latere immigrant met ’n komplekse, selfs versplinterde identiteit geworstel. As voorbeeld haal ek ’n fragment uit deel V in “Nevertheless” aan:

 

V

Strange to be an immigrant.

To wander through the centre of the town

Watching the people pass, not a face known

Everyone going somewhere, you alone

A nobody going nowhere.

Strange to be an immigrant

To wander through the suburbs of the town

Ringing at doors, asking for odd chores,

Pitied, invited in and given a drink

Making it last to let your eyes take in

The table with its starched and glossy cloth,

The ancestors enlarged in oval frames:

Grandmother neckless, hefty, grandfather mild

And bearded to the eyes; the heavy chairs

The sideboard tiered and windowed, all that attests

To settleness.

 

For they promise you things will improve but home is a hut

And work is a few days a month breaking stones for the roads

And you cannot go back or elsewhere and you dare not look

   forward:

Grim to be an immigrant.   (26 – 7)

 

Olga Kirsch se pa was ’n Jiddisj-spreker wat uit Litaue na Suid-Afrika geïmigreer het. Haar moeder, Eva was ’n Engelssprekende Suid-Afrikaanse Jodin. Kirsch het op Koppies in die Oranje-Vrystaat grootgeword. Alhoewel Engels haar huistaal was, het Afrikaans haar denke, leefwêreld en jong vriendekring as jong kind oorheers. Aan die sinagogeskool op Koppies leer sy ook om Hebreeus te lees en skryf, maar ontvang haar hoërskoolopleiding in Engels aan die Eunice Girls High School in Bloemfontein. Die gesin verhuis later na Johannesburg waar Kirsch haar B.A.-Honneurs-graad in Afrikaans-Nederlands onder leiding van C.M. van den Heever behaal. Die jong digter was deurentyd bewus van die anti-Semitiese venyn teenoor haar Joodse gesin, ’n antagonisme aangevuur deur die opkoms van die Nazi-gesinde Ossewabrandwag in die dertiger- en veertigerjare. In 1948 het die Nasionale party na die Joodse stem gevry, maar die Joodse immigrante het die onderdrukkende beleid van apartheid verwerp – dit het herinner aan die Duitse Nuremberg-wette van 1935. Die vervulling van die Sionistiese droom in Israel (1948) beweeg in tandem met die implementering van die Nasionale Party se apartheidsideologie in Suid-Afrika, en teen dié agtergrond vestig Kirsch haar identiteit as Joodsgebore Afrikaanse digter. Sy het in 1948 op aliyah gegaan, oftewel na Israel verhuis. Kirsch het haar toekomstige man, Joseph Gillis, ’n professor in Wiskunde aan die Weizman Instituut in Rehovot ontmoet: ’n lang pad van daardie Afrikaanssprekende dogtertjie wat haar verlustig het in die natuurskoon van Koppies in die Vrystaat. Kirsch het ’n M.A.-graad in Engels aan die Universiteit van Jerusalem verwerf en was sedert 1959 werksaam, eers as Engelse onderwyseres en later as universiteitsdosent by die Weizman Instituut.

Daar het 24 jaar verloop sedert die digter se volgende vyf Afrikaanse bundels relatief kort op mekaar gevolg het. Die Afrikaanse poësiegemeenskap het waarskynlik aanvaar dat sy nie meer skryf nie. Gedurende dié periode het Kirsch basies verleer om Afrikaans te praat: haar huistale was nou Engels en Hebreeus, maar ten spyte van ’n toenemende vervreemding teenoor die Afrikaans van haar jeug en van haar eerste twee digbundels, was dit ’n wonder in die kleine toe Negentien gedigte in 1972 verskyn. Inderwaarheid het die digter ’n fyn balanseertruuk uitgevoer om in drie tale te dig – sy het later opgehou om in Hebreeus te skryf nadat kritici van mening was dat haar verse soos vertalings lees. Volgens Antjie Krog het Kirsch waarskynlik méér Engelse as Afrikaanse gedigte geskryf, poësie wat uiteindelik in bokse sou beland. Dit het vir Kirsch al moeiliker geword om in Afrikaans te dig aangesien sy min kontak en omgang met die taal gehad het. Kritici het haar styl en woordeskat as argaïes beskryf en na ’n louwarm – selfs ongunstige – ontvangs van Ruie Tuin (1983) het sy aan vriende erken dat sy opgehou dig het in Afrikaans. “My home language and my intimate language is English, but I don’t want to write in it. I am stranded at a busstop. To tell the honest truth, I don’t want to write any more”.

In die laat jare tagtig dig Kirsch weer met mening in Engels en gee ’n selfpublikasie, The book of Sitrya in 1992 uit. Hierdie bundel bevat gedigte oor haar kleindogter, Sitrya wat met ’n ongeneeslike siekte gebore is en op tienjarige ouderdom oorlede is. Kirsch het betrokke geraak by Joodse literêre verenigings soos die Israel Association of Writers in English. Om haar lesersmark vir haar Engelse poësie te vergroot, stuur sy in 1996 haar gedigte vir publikasie na forums in die VSA en Engeland. Sy was gekonfyt in die skryf van Engelse poësie en was in 1948 reeds medevertaler van Elisabeth Eybers se verse in The quiet adventure. Kirsch se oorspronklike Engelse gedigte oor die Eerste Israeliese Onafhanklikheidsoorlog het dan in 1966 hul weg tot publikasie gevind in die New Yorkse Sionistiese tydskrif, Jewish Frontier.

Olga Kirsch: her English poetry bundel die digter se nagelate verse wat geskryf is tussen 1965 en 1996. Egonne Roth belig op die agterflap die temas, byvoorbeeld die digter se liefde vir Israel asook haar sensitiewe beelding van die natuur en die bewoording van gevoelens van pyn, eensaamheid en verlies. Soos in die geval van Kirsch se Afrikaanse werk dig sy oor die belewenis van immigrasie, ballingskap, ontheemding en die mens se soeke na identiteit. Die bundel onder bespreking bevat ook mededelings vir en oor haar dogter Ada en haar man Joe. Om ’n immigrant en digter, werksaam in drie tale te wees het haar deurlopend meer vervreem van haar vaderland, Suid-Afrika met sy apartheidsideologie van menseregteskendings. As ’n vrou van Joodse herkoms het sy haar nooit werklik tuis gevoel in die heimat van haar geboorte nie en Krog verwys in die voorwoord dan ook na Kirsch se gefragmenteerde identiteit. Die versameling Engelse gedigte bevat hoogs persoonlike poësie oor die lotgevalle van die geliefdes die naaste aan haar. Volgens die samesteller lê die skoonheid van die verse juis in die pretensielose eenvoud en in die afwesigheid van enige megalomanie. As voorbeeld: in die afdeling, “Poems to Life” lees ’n mens hierdie treffende vers raak:

 

Catullus

Poems in a dead language –

butterflies pinned to the page.

Till the mouth’s moist cavern

resuscitates the syllables,

the springboard of the uttering tongue

flings them

into iridescent flight.    (124)

 

Antjie Krog beweer dat Kirsch se Engelse poësie nooit gekanoniseer is binne die Suid-Afrikaanse kanon nie; haar werk is ook nooit vergelyk met dié van Suid-Afrikaanse skrywers van Joodse herkoms soos Nadine Gordimer of Dan Jacobson nie. Danksy Kirsch se biograaf, wat kuratorskap geneem het van hierdie belangrike projek is ’n versameling nagelate verse dertien jaar na die digter se afsterwe noukeurig byeen gebring en uitgegee.  Kirsch se ballingskap was in vele opsigte een van swye ten opsigte van haar Afrikaanse poësie – ’n swye wat ironies gesproke verrykend ingewerk het op haar Engelse poësie. Die poësiegemeenskap is inderdaad die uitgewer, Naledi, heelwat dank verskuldig vir ’n seminale publikasie soos dié.

 

Verwysings

Roth, Egonne. Olga Kirsch: ’n Lewe in gedigte. Naledi. Kaapstad. 2018.

Kirsch, Olga. Olga Kirsch: Her English poetry. Naledi. Kaapstad. 2020.