Posts Tagged ‘Daniel Hugo artikel’

Daniel Hugo. Karel, André en Ingrid

Monday, August 10th, 2020

Dit is bekend dat André P. Brink op ’n keer die romanskrywer Karel Schoeman getipeer het as ’n “ou tantetjie wat doilies hekel”. Dit het gebeur in sy resensie van Die noorderlig (1975) en slaan dan veral op Schoeman se “presieuse” vertelstyl en “selfbewuste estetisme”, terwyl hy glo net skynbaar betrokke is by die aktualiteite van sy tyd.

Toe ek die resensie destyds in Rapport teëgekom het, was ek nogal verbaas oor Brink se venynige formulering. Tog was die kritiek só effektief dat ek die boek nooit gelees het nie. Tot onlangs. Ek kry ’n tweedehandse eksemplaar in die hande en lees dit gefassineer in een aand deur.

Die boek handel oor twee universiteitsvriende wat mekaar ná jare weer in Amsterdam ontmoet. Hulle begin gesels oor die derde lid van hulle intieme vriendekring van destyds: Estelle Naudé,  ’n jong digter met ’n politikus-pa wie se lewensuitkyk sy totaal verwerp. Sy raak in Kaapstad bevriend met bruin anti-apartheidsaktiviste en wit liberale – “Kleurlinge en Kommuniste” volgens haar pa (p. 110). Ten slotte pleeg sy selfmoord omdat sy magteloos voel teenoor die gewelddadige bestel wat gelei het tot die dood in polisie-aanhouding van haar bruin minnaar. Niemand kan dit mislees nie. Estelle Naudé is ’n gekamoefleerde Ingrid Jonker.

En tog swyg Brink soos die graf daaroor. Waarom? Omdat hy dan onvermydelik ook die aandag op homself sou moes vestig. Hy verskyn naamlik as die baie onsimpatieke karakter “Francois” in die verhaal. Hy was haar minnaar en die verhouding het skipbreuk gelei. Estelle beskryf hom soos volg: “Baie selfverseker, sjarmant, aantreklik; hy draai sy sjarme aan en af soos ’n kraan, en geen mens kan dit weerstaan nie – daardie kleinseuntjie-glimlag … Maar al waarin hy belangstel, is sy loopbaan. Hy’s heeltemal koelbloedig, hy sal oor lyke loop vir bevordering of publisiteit” (p. 73).

Dat die woord “koelbloedig” Brink kwaai moes gekwets het, blyk uit sy beskuldiging in die resensie dat Schoeman se boek “iets kils en bloedloos” bevat. Hy praat ook in verband met die herkenbare, aktuele gegewe van die novelle as “’n bietjie skimp-op-’n-veilige-afstand”.

Die derdepesoonsverteller, Paul, probeer aanvanklik wel om objektief te bly. By hulle eerste ontmoeting beskryf hy Francois as “lank en slank” met ’n elegansie wat “vaaglik Europees” is (p. 73). Ná Estelle se begrafnis ontmoet hy hom weer. Dié keer beskryf hy hom lig spottend. Francois maak naamlik sy verskyning “in die halwe rou van ’n liggrys pak en ligpers das” (p. 109).

Wat Brink die meeste moes gegrief het, is die verwysing na die “legende” wat ontstaan het en deur almal aanvaar is “dat Estelle haar om die lewe gebring het uit liefde vir Francois” (p. 111).

Die karakter Ina is nog veel afwysender tenoor die Brink-figuur. Sy praat byvoorbeeld van “daardie mislike Francois” (p. 46).

Schoeman is ook nie van bitsigheid vry te spreek nie. Hy noem die Jonker-figuur “Estelle” – die naam van Brink se eerste vrou met wie hy getroud was toe hy die verhouding met Jonker begin het.

Dit is nie net Brink wat in die roman krities beskou word nie. Paul se oud-professor word genadeloos gesatiriseer. Professor Dreyer het voor die Tweede Wêreldoorlog in Amsterdam studeer en sy spesialiteit is die Nederlandse Tagtigers: Gorter, Kloos en Perk. Dit is ’n verwysing na prof. W.J. Badenhorst wat vir Schoeman klas gegee het by die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein. (Schoeman het daar gestudeer van 1957 tot 1959. In sy outobiografie verwys Schoeman naamloos na hom slegs as “ons bejaarde dosent”.) Badenhorst se bynaam was “ou Tamatie” wat op sy rooierige gelaat geslaan het – vandaar sy bynaam “Bakkies” in die verhaal.

Selfs Ingrid Jonker kom nie skotvry uit die boek nie. Haar selfmoord word wel as iets sinvols beskou, as ’n finale verset teen die onregverdige bestel. Haar vriendin Ina stel dit soos volg: “(H)aar dood was ’n daad … dit was haar eie antwoord op alles, heeltemal besonne en oorwoë” (p. 106). Maar Schoeman het klaarblyklik nie groot bewondering vir haar digkuns nie. Die (fiktiewe) versreëls wat Paul kan onthou, is uiters onbenullig, byvoorbeeld: “Ek val / soos ’n blom: deur die duister …” (p. 47).

Professor Dreyer, wat ’n opdrag gekry het om ’n monografie oor haar te skryf, het ook sy bedenkings oor die waarde van haar skryfwerk: “Sy het ’n belangrike naam in ons letterkunde geword … belangriker miskien as wat haar werk regverdig. Sy het blykbaar die verbeelding van die jonger geslag beetgegryp – met haar poësie én haar tragiese dood – en sy het die afgelope jare as ’t ware ’n modefiguur geword: ’n kultusfiguur sou mens byna kan sê” (p. 22).

Die lewenskets gaan uitgegee word deur die professor se skoonseun, ene Koos, wat saam met ’n vriend ’n “uitgewerytjie” begin het (p. 14). Dit is ongewyfeld ’n skalkse verwysing na Schoeman se eie uitgewer, Koos Human, wat die uitgewery Human & Rousseau saam met Leon Rousseau in 1959 opgerig het.

Estelle se pa, Servaas Naudé, is natuurlik Abraham H. Jonker se dubbelganger in die boek. Hy word uitvoerig en hilaries deur sy dogter geparodieer. Die slotoordeel oor hom kom uit Ina se mond: “Servaas is deel van die hele stelsel wat skuldig is aan Estelle se dood …” (p. 104).

Dat André P. Brink in sy resensie nie die aandag op Ingrid Jonker, en by implikasie op homself, wou vestig nie, is verstaanbaar. Dit is egter verbasend dat J.C. Kannemeyer in sy literatuurgeskiedenis nie ’n woord daaroor rep nie. Dieselfde gebeur in G.A. Jooste en Chris N. Van der Merwe se artikel oor Karel Schoeman in Perspektief en Profiel. Deur die aktuele literêre verwysings van die boek te ignoreer, word die politieke en satiriese dimensie daarvan in ’n groot mate ontkrag. En is Brink se negatiewe reaksie onbegryplik: daardie verwysing na Schoeman as ’n ou tantetjie wat doilies hekel. Met die hekel-beeld erken Brink wel (onbedoeld?) die satiriese bedoeling van die verhaal.

Daniel Hugo

Bronne

André P. Brink: Voorlopige Rapport. Beskouings oor die Afrikaanse literatuur van Sewentig, Human & Rousseau, Kaapstad, 1976.

J.C. Kannemeyer: Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II, Academica, Pretoria, 1983.

Petrovna Metelerkamp: Ingrid Jonker. ’n Biografie, Penguin Books, Kaapstad, 2018.

Karel Schoeman: Die noorderlig, Human & Rousseau, 1975.

Karel Schoeman: Die laaste Afrikaanse boek. Outobiografiese aantekeninge, Human & Rousseau, Kaapstad, 2002.

H.P. van Coller (red.): Perspektief & Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Tweede uitgawe. Deel 3, Van Schaik Uitgewers, Pretoria, 2016.

Met dank aan Wium van Zyl en Jaap Steyn wat my op die spoor gesit het van prof. Badenhorst as model vir prof. Dreyer in die verhaal.

 

Daniel Hugo. Voëls en digters

Tuesday, August 4th, 2020

 

“Elke voël sing soos hy gebek is,” sê die spreekwoord. ’n Digter word eers gereken wanneer hy sy eie stem gevind het en nie meer klink soos bewonderde voorgangers of tydgenote nie. Daar is natuurlik ’n voël, die Hippolais icterina, wat ander voëls naboots. Maar hy (en sy) word afkeurend ’n spotvoël genoem. Terwyl hulle met ander spot, is hulle nie in staat om ’n eie, oorspronklike wysie voort te bring nie.

Nog so ’n nabootser is natuurlik die papegaai. S.J. Pretorius het sekerlik ook aan ’n selftwyfelende en soekende digter gedink toe hy die lang gedig “Die papagaai” (uit Die mummie en ander verse, 1963) geskryf het. Die openingsreëls gaan so:

 

Verlate in my kou

moet ek hier angstig klou;

onder ’n webgewelf

draai ek en soek myself.

Ek het geen doel en strewe:

alles en niks my lewe.

Godsdiens en politiek

meng hier met jazzmusiek,

en erns met duiwelspot

gekurktrek uit my strot.

 

Eeue lank al word daar ’n ooreenkoms gesien tussen voëls en digters. Voëls self word meermale in die digkuns voorgestel as digters. Die beroemdste voorbeeld in Afrikaans is G.A. Watermeyer se wildekanarie in “Ballade van die bloeddorstige jagter” (uit Sekel en simbaal, 1948):

 

Ek kelk die sonlig in my keel

en rym die rondebessie ryp.

 

In sy opstel “Altyd moeiliker poësie” (Swaarte- en ligpunte, 1958)  noem N.P.van Wyk Louw die tweede versreël “’n meesterlike voorbeeldjie van ekonomiese taalgebruik”. Dit is ’n gedronge metafoor wat veel meer woorde in beslag neem wanneer jy al die betekenismoontlikhede daarvan wil uitlê. Hier is Louw se poging: “My lied is soos ’n gedig en dit klink die baie weke (of maande) lank wat die bessie nodig het om ryp te word; meer nog: die lied waarmee ek hierdie groeiproses begelei, is feitlik soos ’n koesterende warmte wat die rypwording help om plaas te vind.” Twee volle sinne in plaas van die digter se vyf woorde.

Leipoldt se “Sekretarisvoël” sou ’n mens kon lees as ’n metafoor vir die wêreldvreemde digter, die buitestaander wat as sekretaris of skriba van die samelewing optree. Hy het nie verniet penne agter sy ore nie:

 

Sekretarisvoël met jou lange bene,

Met jou penne agter die ore styf,

Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?

 

Sekretarisvoël met jou lange bene,

Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,

Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

 

Digters word soms ook as voëls uitgebeeld. D.J. Opperman praat byvoorbeeld van Totius se “tinktinkietaal” (“In memoriam” uit Blom en baaierd, 1956). In Totius se Versamelde gedigte (1988) is ’n onvoltooide, ongepubliseerde gedig opgeneem waarin die digter hom onteenseglik vereenselwig met ’n tinktinkie, daarom het dit die titel “My lewe”:

 

Êrens in die wêreld,

êrens in die tyd,

sit ’n klein tinktinkie,

en sy stemmetjie bewe

van sy sanggeluid.

 

En die mense wonder waarom sou

so ’n piepklein ding

dan ook ‘n lied wil sing.

 

Dit is dan stil weer

en geen voëltjie sing meer.

En die mense wonder waarom sou

so ’n piepklein ding

dan ook ’n lied wil sing.

 

Nêrens in die wêreld,

nêrens in die tyd

hoor mens meer sy sanggeluid.

 

Ek weet nie of Opperman van hierdie gedig bewus was nie, maar sy beskrywing van Totius se eenvoudige en opregte taalgebruik as “tinktinkietaal” is in die kol.

Die beroemdste gedig in die wêreldliteratuur oor hierdie onderwerp is waarskynlik Baudelaire se “L’Albatros”. Hier is Roy Campbell se vertaling in Engels, “The Albatross”:

 

Sometimes for sport the men of loafing crews

Snare the great albatrosses of the deep,

The indolent companions of their cruise

As through the bitter vastitudes they sweep.

 

Scarce have they fished aboard these airy kings

When helpless on such unaccustomed floors,

They piteously drop their huge white wings

And trail them at their sides like drifting oars.

 

How, comical, how ugly, and how meek

Appears this soarer of celestial snows!

One, with his pipe, teases the golden beak,

One limping, mocks the cripple as he goes.

 

The Poet, like this monarch of the clouds,

Despising archers, rides the storm elate.

But, stranded on the earth to jeering crowds,

The great wings of the giant baulk his gate.

(Uit Poems of Baudelaire, 1952)

 

Die gedig kan sekerlik ook gelees word as ’n klinkende dwarsklap na die digter se mundane kritici.

W.H. Auden het klaarblyklik met die volgende haikoe ook ’n digter (homself?) in gedagte gehad:

 

Like the redstart

He recalls but a formless fragment

Of his real tune.

(Uit “Symmetries & Asymmetries”, Collected Poems, 1976)

 

In my vertaling het ek, met Opperman se vers in my kop, van die “redstart” ’n tinktinkie gemaak en daarmee die konnotasie met ’n digter vir die Afrikaanse  leser versterk:

 

soos die tinktinkie

onthou hy net ’n fraksie

van sy ware lied.

(Uit Hanekraai, 2012)

 

Ek kon ek nie die versoeking weerstaan om myself en die tinktinkie by mekaar uit te bring in ’n ongepubliseerde kwatryn “Vir my kritici” nie:

 

waar vind ek ’n rusplek in die ruigte

om tinktink my gedagtes te beklink

voor die laksman my korpussie vere

flink vaspen en aan ’n doring laat stink.

 

By Breyten Breytenbach neem die digter/woordvoël die gedaante aan van ’n tronkvoël. Maar dit is ’n studie op sigself.

Voëls, veral ganse, het natuurlik eeue lank aan digters hul skryfinstrument verskaf: die veerpen. Boerneef gee in sy gedig “Die berggans het ’n veer laat val” ’n sjarmante kinkel aan dié gegewe. Die spreker in sy gedig wil vir sy geliefde ’n boodskap stuur, maar hy is klaarblyklik ongeletterd. In plaas van ’n brief stuur hy dan vir haar ’n veer, ’n ontroerende metafoor:

 

die berggans het ’n veer laat val

van die hoogste krans by Woeperdal

my hart staan tuit al meer en meer

ek stuur vir jou die berggansveer

mits dese wil ek vir jou sê

hoe diep my liefde vir jou lê.

 

Die berggansveer neem die plek in van die verlangde gevleuelde woorde.

Breyten Breytenbach gaan ’n stap verder – in plaas van net ’n voëlveer stuur hy vir sy geliefde ’n volledige duif:

 

Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif

want niemand sal ‘n boodskap wat rooi is skiet nie.

Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug

en ek weet al die jagters sal dink dis die son.

Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder

en waar hy vlieg daar skitter oseane

en bome word groen

en hy kleur my boodskap so bruin oor jou vel …

(Uit Ysterkoei-blues, 2001)

 

Breytenbach wend hier inderwaarheid ’n dubbele metafoor aan: die rooiborsduif verteenwoordig die digter-minnaar se boodskap aan sy geliefde en terselfdertyd word dit – vanweë die rooi kleur van die duif – die son.

D.J. Opperman maak in sy gedig “Paddas” (uit Blom en baaierd) ook van ’n dubbele metafoor gebruik. Hy noem die paddas “die tortels van die modder” en laat hulle “koer” in plaas van kwaak. Dit is die eerste metaforiese laag; die tweede laag word bygevoeg wanneer hy van die tortelende paddas ook digters maak, soos duidelik uit die slotstrofe blyk:

 

Ons wat uit die slym

berg en ster berym,

roep oor die borreling van die moeras

deur die eeue in ons sange

toesang en teensange

op Hom die groot hosannas.

 

Terug by elke voëlsoort wat uniek gebek is. Dit bly my verwonder hoedat ornitoloë daarin slaag om die taal van voëls weer te gee. Newman (Voëls van Suider-Afrika, 1991)  beskryf byvoorbeeld die geluide van die geelbekneushoringvoël, wat ek dikwels as kind in Namibië gehoor het, soos volg: “wurk, wurk, wurk, wurk, wurk, wukwukêk, wukwukêk, wukêk, wurk, wurk, wurk …” Hierop kan geen digter verbeter nie!

Ina Rousseau was klaarblyklik nie tevrede met Newman se ongeïnspireerde beskrywing van die Indiese spreeu se taaluitings as “kekkel-, kloek- en piepgeluide” nie. In haar gedig “Die plaag” (uit Kwiksilwersirkel, 1978) laat die digter hulle sommer Afrikaans praat. Hulle sê naamlik “lelike woorde” soos “smyt” en “skrou”.

Dieselfde gebeur in Rousseau se “Die laspos” (uit Heuningsteen, 1980) waar ’n duif se gekoer haar aan die woord “kroepoek” laat dink. Dit is ’n Nederlandse woord van Maleise oorsprong (“kerupuk”) en is die klanknabootsende benaming vir krakerige koekies van vis- of garnaalmeel. Die woord “kroepoek” kry in die gedig dus ’n tweede klanknabootsende funksie, naamlik om ook die duif se geluid weer te gee. Dit word dan versterk deur die oek-ryme en oe-assonansie wat dwarsdeur die vers volgehou word: boek, soek, skoert, spoedig, vloek. Verder allitereer “kroepoek” ook met die generiese benaming “kropduif”.

Die digter ontmoet die lastige, bedelende duif in die Kompanjiestuin in Kaapstad. Dit is baie gepas dat die duif in dié omgewing, met sy VOC-geskiedenis en die nabygeleë Maleier-buurt, hierdie Nederlandse woord van Oosterse herkoms uiter:

 

Uit die niet

kom staan voor my ’n kropduif

wat probeer om my blik van my boek

te lok. En sodra ek wonder

wat in liefdesnaam hy by my soek,

begin hy iets by my te bedel

wat ek sweerlik self ontbeer:

Hy vra vir my kroepoek.

En as ek vir hom sê skoert,

herhaal hy maar weer kroepoek.

So: kroepoek kroepoek kroepoek.

Pleitend eers, maar spoedig

bot, asof hy op my vloek.

 

Rousseau sou waarskynlik met Auden se gedig “Bird-language” saamgestem het. Voëls is net soos mense in staat om komplekse emosies en gewaarwordings te verklank, sê hy:

 

Trying to understand the words

Uttered on all sides by birds,

I recognize in what I hear

Noises that betoken fear.

 

Though some of them, I’m certain, must

Stand for rage, bravado, lust,

All other notes that birds employ

Sound like synonyms for joy.

(Uit Collected Poems, 1976)

 

In talle kulture word voëls se klanke in mensetaal omgesit. Dit lyk asof dit veral duiwe is wat tot die mensdom spreek. In Newman se voëlgids doen selfs die ornitoloog mee. Volgens hom sê die wydverspreide tortelduif: werk stadig, werk stadig …” In Engels sê die duif presies die teenoorgestelde: work harder, work harder …”

Hier is die Suid-Afrikaanse digter Anthony Delius se Engelse weergawe van wat Xhosa-mense die groenvlekduifie hoor sê:

 

The Xhosa say

When the emerald dove

Sits sobbing in the bush

She is thinking of the terrible wars

And she cries

My father is dead

My mother is dead

My sisters are dead

My brothers are all dead

And my heart goes

Doem Doem

Doem doem doem doem

doem

doem.

 

In Edward FitzGerald se vertaling van ‘n kwatryn van die Persiese digter Omar Khajjam (1048-1131) word die geroep van die ringnekduifie as “coo, coo, coo” aangedui. Dit lyk op die oog af na blote klanknabootsing, maar in werklikheid is dit ’n intertalige woordspel. Die Persiese woord “kú” beteken “waar?”. Die duifie vra dus oor en oor wat van die eens magtige konings geword het.

 

The Palace that to Heav’n his pillars threw,

And Kings the forehead on his threshold drew–

I saw the solitary Ringdove there,

And “Coo, coo, coo,” she cried; and “Coo, coo, coo.”

 

Hoewel daar volgens Newman duiwe is wat in Afrikaans “koee”-geluide maak, het ek in my vertaling van dié Khajjam-kwatryn van die ringnekduif ’n lagduifie gemaak, en  ter wille van die rym die woord “koeroek” in haar bek gelê. Die Engelse “laughing dove” is in Afrikaans eintlik die rooiborsduifie (Breytenbach!) of lemoenduifie. Met “koeroek” laat ek my duifie byna dieselfde geluid maak as die “kroepoek” van Rousseau se kropduif:

 

Daardie paleis met torings wat die hemel soek

waar sultans daagliks gebid het en soms moes vloek –

ek het ’n lagduifie daar alleen sien sit

en “koeroek, koeroek,” roep sy, “koeroek, koeroek”.

(Uit Die roebaijat van Omar Khajjam, 2014)

 

Hoe dit ook al sy, digters voel hulle verwant aan voëls en skryf graag oor hulle. Soms neem dié belangstelling selfs ’n perverse vorm aan, soos in die vers “Aspekte van die liefde” van Barend J. Toerien (uit 39 Gedigte, 1963):

 

My hans, ’n stadsduif, is gepaar met my hand,

’n onvanpaste paramour. Dog hul bereik

eenwording met hoog-seldsame volkomenheid.

Hy hoef alleen hom uit te strek bo haar

of sy buk honger voor haar heer,

soek en soen sy vingers en plat

gee haar geheel en al oor, word tot niet.

My hand se hanswors dus? Inteendeel;

soos hy haar streel, sy vyf vingers sluit

om haar trots skoenlapper nek, en sy klein kreetjies stoot,

voel hy die fyn stuip-trekkinge, leer ’n hand se doel.

 

Ek kon nie anders as om op hierdie gedig te reageer nie, veral toe ek Toerien in die 1990’s persoonlik leer ken het en met my eie oë die gedoemde duif op sy balkon in Tamboerskloof, Kaapstad, gesien het. Dit is die derde gedig in ’n reeksie met die titel “Onrusbarend” (uit Openbare domein, 2018):

 

hy het ’n kransduif op sy balkon

makgemaak met sonneblomsaad

haar inskiklik leer paar met sy hand

 

tot hy moeg was vir die rumoer

van die duif wat boonop sy balkon

beskyt, haar toe met die ander hand nek-

 

omgedraai, die een waarmee hy

liefdevolle voëlgedigte skryf.

 

Ten slotte ’n gedig waarin voël en digter onherroeplik verstrengel raak. Dit is P.W. Buys se “Groenspreeu” (uit Van sigbare en onsigbare dinge, 1998). Boaan die vers staan die volgende aanhaling van Jean Cocteau: “Die digter is ’n leuenaar wat altyd die waarheid praat”:

 

Jy kan die groenspreeu nie vertrou,

hy lieg die aarde pimpelblou.

 

Hy fluit die hemel lowergroen,

paljas ‘n pruim tot perlemoen.

 

Hy tierelier die suring soet,

die katjiepiering swart soos roet.

 

Hy vonkel, konkel, toor die son

tot ’n ranonkelrooi ballon.

 

Die groenspreeu is ’n kunstenaar –

soms lieg hy selfs die waarheid waar.

 

Daniel Hugo

Julie 2020

 

Daniel Hugo. Billy Collins en die vergelyking

Wednesday, June 24th, 2020

 

Die vraag oor wat die poësie nou eintlik is, is nog nooit beantwoord nie. Want daar ís nie net een antwoord of ’n régte antwoord nie. Dit is waarom dit al eeue lank ’n interessante, onstuimige en soms omstrede gespreksonderwerp is, met net soveel sienswyses as wat daar soorte gedigte is.

Vergelykings is die essensie van die digkuns, sê die Amerikaanse digter Billy Collins. In sy gedig “The trouble with poetry” uit die gelyknamige bundel van 2005 vra hy of die skryf van poësie ooit tot ’n einde sal kom. Dit sal gebeur, beweer hy dan, wanneer

 

… the day finally arrives

when we have compared everything in the world

to everything else in the world.

 

Dan gaan hy voort en vertel watter uitwerking die lees van ander se gedigte op hom het. En hy doen dit – hoe anders? – deur beeldspraak te gebruik:

 

Poetry fills me with joy

and I rise like a feather in the wind.

Poetry fills me with sorrow

and I sink like a chain flung from a bridge.

 

But mostly poetry fills me

with the urge to write poetry,

To sit in the dark and wait for a little flame

to appear at the tip of my pencil.

 

Daardie vlam van inspirasie wat aan sy potloodpunt verskyn, het my dadelik laat dink aan ’n gedig wat ek in 1998 in die bundel Skeurkalender gepubliseer het. Daarin vertel ek hoedat ’n gedig ontstaan het wat ek in my pa, ’n predikant, se studeerkamer geskryf het toe ek nog op skool was. Die eerste twee strofes van “Geroepene” lui só:

 

Dit is eksamentyd. My pa se studeer-

kamer is die stilste plek in die stampvol huis.

Ek sit agter sy lessenaar en probeer

om die skool se Algekadabra uit te pluis.

 

Buite rammel Ou-Testamenties ’n storm.

Plotsklaps slaan ’n weerligstraal my byna blind.

Daar spat wragtag ’n vonk uit my potloodpunt

en – uit my geloof geskrik – vind ek my vorm:

 

Dan volg die gedig wat ek destyds as skoolseun geskryf het, waarskynlik gedurende my matriekjaar in 1972. Dit behels die noukeurige optekening van wat ek alles om my in my pa se studeerkamer en teen sy aansteekbord bo die lessenaar opmerk. Sonder ’n enkele vergelyking.

 

Studeerkamer: V.D.M.

ek sit by sy groot bruin lessenaar

met sy potlode, skêr en seëls:

“Gezelligheid kent geen tijd”

hang teen die muur in goue reëls

 

agter stof sit ses-en-vyftig se sinode

met beffies lankal uit die mode

starend, langs suur Calvyn, Jan van Riebeeck

en onder Die Burger lê Sondag se preek

 

“Dient elkander door de liefde”

’n briewemes en halwe bottel ink

bo-op ’n brief in trane-trant:

“Dominee my man drink”

 

“Prompte et sincere in opere Domini”

waarsku bo rye boeke wat hy nog moet lees

onder die Bybel Cohen se faktuur

en op Andy Capp daal die Heilige Gees.

 

Wat Collins met ’n beeld weergee – die inspirasie soos ’n vlammetjie aan die loodpunt van sy skryfinstrument – het dus werklik met my gebeur. En daardie gebeurtenis laat my ’n gedig skryf waarin die konkrete werklikheid sonder die versiering van vergelykings gestalte kry.

Daar is natuurlik baie soorte gedigte – vanaf die metafories-digte verse van D.J. Opperman of die tuimelende beeldspraak van Breytren Breytenbach tot die gestroopte, beeldlose vertelverse van Danie Marais en Hannes Visser, en al die moontlikhede tussenin. Ek was reeds vroeg onder die invloed van die tipiese Opperman-gedig met sy gelaagdheid en meerduidigheid. Ek sou ook intuïtief en onmiddellik met Billy Collins wou saamstem dat metaforiese taalgebruik die wese van die digkuns is. Maar toe herinner daardie potloodvlammetjie my aan my eie “prosaïese” opnoemgedig.

En dit verklaar dan ook my gefassineerdheid deur ’n gedig soos dié deur Hannes Visser. Dit staan in sy bundel Die jaar toe pa … (2019). Die jaar is 1967:

 

Sondag 12 Maart

pa koop ’n skildery

onder die bome

by floridameer

by ’n man met

’n geel kombi

 

dis magaliesberg

en ’n rivier met

’n maer boom

ek moenie vat

die verf is nat

 

pa betaal vyf rand

en die res

elke maand

maal ses

 

hy sê dis soos

skuld vir ’n kar

maar ‘n skildery

is iets anders

 

dit word duurder

 

Die lakonieke verteltrant en die gedempte humor maak hierdie gedig so aantreklik. En dan is daar ook nog die woordspel “skuld” / “skildery”. Maar nie ’n enkele vergelyking nie. Jammer, meneer Collins.

 

  •