Posts Tagged ‘Daniel Hugo bloemlesing’

Onderhoud met Daniel Hugo (Tuin van digters)

Wednesday, February 26th, 2020

 

 

Marlies Taljard gesels met Daniel Hugo

oor sy bundel Tuin van digters

 

MT: Daniel, baie geluk met jou mooie bundel “Tuin van digters”, met jou so rustig rokend in die geselskap van jou hond op die voorblad. Ek kon die bundel eenvoudig nie neersit nie en het dit in een sitting klaar gelees. Ek het lanklaas gedigte só geniet. Ook lanklaas in my lewe so spontaan gelag – meestal so ʼn bietjie schadenfroh. Die datum op die titelblad, 26 Februarie 2020, is jou vyf-en-sestigste verjaardag. Ek neem aan dat hierdie bundel iets van ʼn geskenk aan hom het – ʼn geskenk áán jou of ván jou? Ek wil nie die “verjaardaggeskenk” namens jou uitpak nie. Wil jy vir ons iets vertel oor dit wat die leser in die bundel kan verwag en wat jou bedoeling daarmee was?

 

DH: Dankie, Marlies, ek is bly jy het die gedigte geniet. Daar bestaan mos ’n ernstige misverstand dat poësie altyd swaarwigtig moet wees. ’n Digter kan ook ernstig wees in ’n ligte toonaard. En soms kan ’n digter doodgewoon lighartig en ligsinnig wees – solank dit vermaaklik en vernuftig geformuleer is. Die bloemlesing uit my eie werk is ‘n geskenk aan myself, en aan my familie, vriende en hier en daar ’n vyand. (Die bundel is nie in die handel beskikbaar nie.) Ek het ‘n keuse gemaak uit die gebundelde en ongebundelde gedigte wat ek die afgelope veertig jaar oor ander digters en die digkuns geskryf het. En ek het nogal geskrik toe ek agterkom hoe verliteratuurd ek lewe!

Terloops, my hond se naam is Emily Dickinson, en ek het spesiaal ‘n gedig vir die agterplat van die bundel geskryf wat na die foto op die voorplat verwys:

 

“and then the list is done”

in die tuin se laatmiddagson

terwyl ek oor nog ’n dag besin

bestyg my troue skadu haar troon

 

ek noem haar Emily Dickinson

en sy gedra haar afsydig

want in stilte word verse versin

 

Die aanhaling van die titel kom uit ’n gedig van Emily Dickinson:

 

I reckon – when I count at all –

First – Poets – Then the Sun –

Then Summer – Then the Heaven of God –

And then – the List is done –

 

Die “list” verwys ook na die register agterin die bundel met die 53 name van literêre mense oor wie ek gedig het.

Die foto op die voorplat van my en my hond op rottangstoele in ons tuin op Prins Albert is deur die ander vrou in my lewe geneem: Marlene Malan.

 

MT: Volgens die inligtingstuk verskyn daar in “Tuin van digters” verse oor 53 digters. Jy is iemand wat waarskynlik ʼn wye mensekennis besit vanweë jou werk as (onder andere) dosent en radio- en TV-persoonlikheid. Beskou jy jouself as iemand wat oor die algemeen deur mense gefassineer word? Hoekom (nie)? Hoe kyk jy na mense, of, om dit anders te stel, op watter wyse fokaliseer jy? Wat my aan hierdie bundel en aan jou hele oeuvre tref, is humor, ironie, satire, klem op detail, gedrongenheid, fokus, en die immer verrassende insig ten slotte. Beskou jy jouself as ʼn mensekenner?

 

DH: Nee, ek kan my nie op mensekennis roem nie. Eintlik interesseer die literatuur my meer as mense. In die meeste gevalle skryf ek oor digterpersoonlikhede, soos ek hulle uit hul werk leer ken het. Hier en daar gaan dit wel oor ’n persoonlike vriendskap of vyandskap. Die gedigte oor Barend J. Toerien en J.C. Kannemeyer handel byvoorbeeld oor vriendskappe wat versuur het. Andersins het ek nog altyd groot bewondering vir hulle skryfwerk.

Wag, ek besef nou dat ek nie die betrokke gedig oor Kannemeyer opgeneem het nie, waarskynlik omdat die gegewe te droewig is:

 

Literatuurgeskiedenis

 

 in ‘n tweedehandseboekwinkel

– as liefdadigheidorganisasie bedryf

deur die kerk – ontdek ek

Uys Krige se eerste digbundel

uit 1935, opgedra aan ene

Gideon Uys en geteken

deur die blonde digter-troebadoer

 

ek vermoed die boek kom uit

John Kannemeyer se verstrooide

nalatenskap en koop dit as bewys

van my liefdadigheid teenoor

’n ongeliefde man, my eerste

mentor, my vriend en vyand –

hy was los van tong maar nooit

nalatig met sy biblioteek nie:

rye gealfabetiseerde swye

 

hierdie boek breek my hart: John

was die grootste van ’n Gideonsbende,

bewakers van die gedrukte woord,

nou uitgedun tot snuffelaars

tussen stowwerige rakke, skamel

versamelaars van ’n taal se ellende

(uit: Takelwerk, Human & Rousseau, 2015)

 

In die reeksie gedigte “Onrusbarend” beskryf ek Toerien se irriterende hebbelikhede. Die eerste een gaan só:

 

sodra jy dink: dis nou die laaste sien

van daardie babbelende blikkantien

duik hy op, onverwag uit Praag of Wien,

die onbeminde Barend J. Toerien

(uit: Openbare domein, Naledi, 2018)

 

Die ander digters wat ek onvriendelik behandel, leef nog. “No names, no pack drill”.

 

MT: Hierdie bundel bevat ʼn keur uit jou lewenswerk (tot dusver), soos die subtitel “ʼn Bloemlesing uit eie werk” aandui. Dit bevat egter byna uitsluitlik gedigte oor digters en kritici. Waarom beskou jy hierdie gedigte wat oor ongeveer 40 jaar ontstaan het, as die keur van jou digwerk, en wat het jou gemotiveer om so baie gedigte oor jou kollegas te skryf?

 

DH: Nee, ek beskou nie hierdie bundel as ‘n keur uit my beste gedigte nie – dit is wel ’n keur uit my gedigte oor figure uit die letterkunde en oor literêre toestande waarin rolmodelle, uitgewers, redakteurs, kritici, pryskomitees en verpulpers ’n wesenlike rol speel. Dit is dus ’n tematiese bloemlesing. Ek noem dit graag ‘n klein literatuurgeskiedenis in versvorm.

Wat het my gemotiveer om so baie gedigte oor hierdie onderwerp te skryf? ‘n Digter skryf oor dit wat hy intiem ken, en ek ken die literatuur en sy mense klaarblyklik beter as die res van die wye werklikheid. Ek het darem ook gedigte geskryf oor die liefde, die natuur en die dood.

 

MT: Die bundel “Tuin van digters” is myns insiens een van die belangrikste eksplisiete poëtiese verklarings van skatpligtigheid in Afrikaans, hetsy aan digters wat jou op positiewe wyse beïnvloed het, of dié wat jou op een of ander wyse geïrriteer het en met wie se styl of werkwyse jy jou nie kon vereenselwig nie. Dikwels skuil daar in en tussen die gedigte oor mede-digters ook iets van ʼn eie ars poetica, tegnieke wat jy by kollegas geleer het. Wil jy op hierdie stelling uitbrei en dalk na enkele digters verwys by wie jy geleer het (hetsy positief of negatief). Uit die Register agter in die bundel blyk dit byvoorbeeld dat jy verskeie gedigte geskryf het oor T.T. Cloete, N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman. Ek wonder ook of jou vertaalpraktyk en die diepgaande analise van gedigte wat deel daarvan uitmaak, jou beïnvloed.

 

DH: Aan die begin van my skrywersloopbaan was ek ooglopend beïnvloed deur D.J. Opperman. Sekere resensente het my selfs ‘n Opperman-epigoon genoem! In Saad uit die septer (1981) het ek juis probeer om my deur middel van ’n parodie op Opperman se Komas uit ’n bamboesstok (1979) aan sy invloed te ontworstel. Maar dit het nog ‘n hele tyd geduur voordat sy stem nie meer hoorbaar was in my verse nie. T.T. Cloete het my ook ’n tyd lank gefassineer, maar ek het drastieser en venyniger van hom ontslae geraak in ‘n paar minder vriendelike gedigte. In ’n gedig wat nie in die bloemlesing opgeneem is nie, skryf ek selfspottend só oor my venyn (“venyn” is die ou woord vir “gif”):

 

Die digter as wesp

“jou verse is veels te venynig

– veral teenoor ander digters”

het iemand op ’n keer beweer

 

dis waar: met klei en eie speeksel

bou ek sel aan sel waarin woorde

mettertyd vlerke en angels kry

 

tot op ’n kwade dag die betekenis

loskom van die vorm: dan moet

ook ek vir my giftige maaksel vlug

(uit: Openbare domein, Naledi, 2018)

 

Wat jou opmerking oor my vertaalpraktyk betref: Ek maak beslis geen “diepgaande analises” van die gedigte wat ek vertaal nie. Ek vertaal doodgewoon wat daar staan. Ontledings en interpretasies is die taak van kritici en akademici.

 

MT: Die gedig “V huisdig”, wat inspeel op die bundeltitel, is ʼn besinning oor die maak en die opbou van ʼn gedig:

 

in die openingsreël staan ’n smee-ysterhek

wat toegang verleen tot die tuin van my plek

 

by die voordeur groei rankrosies oor ’n boog

die tweede koeplet lei dus deur die naald se oog

 

tot in die hemel van my gehuurde huis:

drie slaapkamers, klein sitkamer en kombuis

 

saam met die badkamer, toilet en gang

maak agt vertrekke soos wat die oktaaf verlang

 

om die enjambement te demonstreer, slent-

er ek deur die huis – die karige ameublement

laat my voete jambes uit die linoleum wek

 

net drie reëls en ek kan die saak as sonnet beëindig

– in die jaart gewaar ek nog hoe die onkruid welig

wuif voordat ek inderhaas die agterdeur dig trek

 

Daniel Hugo het nog altyd gedigte geskryf volgens vaste reëls en met vaste stukture – soos die digter dit in die gedig “V huisdig” konstateer. Ek wil ʼn paar moedswillige vrae in dié verband vra: In ʼn tyd waarin vrye verse by die kilometers uitgespin word, wát motiveer jou om by klassieke vorme te hou? Is jy nie bang dat jou gedigte in rymelary sal verval nie? Baie moderne digters en kritici is immers baie skepties oor alle vorme van rym en metrum. Dink jy dat dit wat jy as digter wil sê makliker in vormvaste verse verwoord kan word, en indien wel, waarom?

 

DH: In ʼn rymarm taal soos Afrikaans is dit baie maklik om in rymelary te verval. Daarom bly dit so ‘n groot uitdaging. ‘n Gedig is vir my in die eerste plek iets wat moet klink – en dan kan jy skaars rym (of halfrym) vermy. Ek hou van die aforistiese stelwyse in gedigte – iets waarin Elisabeth Eybers uitgemunt het – en hoe kan jy ’n stelling beter beklink as met rym? ‘n Gedig is die arm digter se klinkende munt. Van invloede gepraat. Die gedig wat jy hier aanhaal, is onteenseglik deur Gerrit Komrij geïnspireer:

 

Een gedicht

De eerste regel is om te beginnen.

De tweede is de elfde van beneden.

De derde is om wat terrein te winnen.

De vierde moet weer rijmen op die tweede.

 

De vijfde draait u plotseling een loer.

De zesde heeft het twaalftal gehalveerd.

De zevende schijnt zwaar geouwehoer,

De achste bloedserieus. Of omgekeerd.

 

De negende vertelt nog eens hetzelfde.

De tiende is misschien een desillusie

De elfde is niets anders dan de elfde.

De twaalfde is van niets de eindconclusie.

(uit: Alle gedichten tot gisteren, De Arbeiderspers, 1994)

 

Ina Rousseau is vir my die groot klank-komponis in Afrikaans. Ek het baie by haar geleer en is jaloers op die “klinkklank” van haar “klipkappershamer”. Dit kom uit haar gedig “Die diederik” (Grotwater) wat eintlik ‘n huldeblyk is aan die ander groot klankvirtuoos: D.J. Opperman. Hier is een van die drie gedigte in Tuin van digters wat aan haar opgedra is:

 

Grotwater

Vir Ina Rousseau

 

sy laat die vers aanwas

soos ’n druipsteenkers

laat elke sillabedrup-

pel trillend saamsmelt

tot rye pype wat opvlam

in die speleoloog se lig

 

sy skep die groeiende koraal

van die grot se groot orrelsaal

(uit: Monikkewerk, Tafelberg, 1995)

 

MT: In die gedig “V huisdig” gebruik jy die metafoor van die huis om te verwys na die streng gestruktureerdheid en opbou van die gedig  – ʼn sonnet, ʼn besonder gestruktureerde klassieke digvorm. Die ikoniese aard van die gedig (naamlik dat die struktuur die inhoud illustreer) kan min digters jou nadoen. Hoe skryf jy gedigte? Is die skryfproses vir jou altyd min of meer dieselfde? Moet die muse jou besoek, of skryf jy gedissiplineerd, byvoorbeeld elke dag ʼn gedig? Wanneer beskou jy ʼn gedig as afgehandel? Lê gedigte soms lank in jou laai, of kan jy as ervare digter nou al ʼn gedig in ʼn kort tyd skryf en afwerk?

 

DH: Ek skryf nie gedissiplineerd nie. Die bietjie selfdissipline waaroor ek beskik, wend ek aan vir my vertaalwerk. Sonder ’n kreatiewe inval, is ’n gedig doodgebore al karring jy ook hoe lank daaraan. Dit is wel belangrik om daardie eerste impuls so gou as moontlik op skrif te stel, anders gaan dit vir goed verlore in die prosaïese gebeure van elke dag. Sommige gedigte bied meer weerstand as ander – veral as jy nie ‘n geskikte rymwoord vind nie. Dis moeilik om te sê hoe lank dit neem om ‘n vers af te rond omdat dit so wissel. Soms neem dit langer om die sewentien lettergrepe van ’n haikoe reg te skaaf as die veertien reëls van ’n sonnet.

 

MT: Na aanleiding van ’n vorige vraag waarin ek so ʼn bietjie duiwelsadvokaat gespeel het in verband met jou poëtiese styl: Die inleidingsgedig wat jy aan die kritici rig, verraai ʼn element van afranseling, teleurstelling en selfs seerkry, veral deur die beeld van die kat tussen bebloede vere. Aan watter kritici en kritiek steur jy jou (en aan watter nie)? Wat maak jou seer of boos of ongelukkig wanneer ʼn resensie oor jou werk verskyn, en waarom hou jy aan skryf?

 

Vir die kritici

 

vandag beproef die duif sy toonlere

môre lê die kat tussen bebloede vere

 

die digter sal onvolmaak bly skryf

tot daardie dag van die leeu en die lam

die kat en die duif

 

DH: Oor die algemeen is ek nog altyd regverdig behandel deur die kritici. Hierdie gedig is nie geskryf uit persoonlike gekrenktheid nie; dit is eerder ‘n lig satiriese kyk op die literêre bedryf waarin soms onrealistiese en ontoepaslike maatstawwe gestel word. Maar dink net hoe vervelig dit sal wees as die ideale toestand van ’n paradyslike eengesindheid tussen skrywers en hul kritici bereik word!

Onlangs het ek ‘n tweede gedig aan die kritici opgedra waarin die “vere” weer hul verskyning maak:

 

Vir my kritici

 

waar vind ek ’n rusplek in die ruigte

om tinktink my gedagtes te beklink

voor die laksman my korpussie vere

flink vaspen en aan ’n doring laat stink

Ek hou aan skryf omdat dit vir my die lekkerste en mees verstroostende ding in hierdie tranedal van ons is. As ‘n eie skepping my plesier kan verskaf, is ek doodtevrede en vir ‘n kort rukkie selfs versoen met die onkenbare lewe en die oerbekende dood.

 

MT: Van watter gedig in die bundel hou jy op die oomblik die meeste? Hoekom? Deel asseblief dié gedig met die lesers.

 

DH: Ek het besonder baie plesier daaruit geput om Die singende wêreld (Naledi, 2019) van die Vlaamse digter Marc Tritsmans in Afrikaans te vertaal. Hy laat inderdaad die aarde sing.

 

Karootuin ná die reën

Vir Marc Tritsmans

 

geil die geluid van bye

en brommers wat werk

waar die aalwyne blom

 

die by is vir die nektar

daar – die brommers het

vir die hondedrol gekom

 

bye en brommers: twee

soorte digters wat uit-

bundig die aarde besing

 

tot lof van die tuinier

en die hond, die reën

en die vrugbare grond

 

doof draai die aarde voort

ongehoor soos dit hoort

 

MT: Daniel, baie dankie dat jy my (soms moedswillige) vrae so eerlik en insiggewend beantwoord het. Baie geluk met hierdie heerlike bundel … en met jou verjaardag!

 

 

Nuwe publikasie: Tuin van digters (Daniel Hugo)

Monday, February 17th, 2020

 

Inligtingstuk

Daniel Hugo: Tuin van digters. ’n Bloemlesing uit eie werk

 

Daniel Hugo (1955) het die afgelope veertig jaar talle gedigte geskryf oor digters wat hom geïnspireer en geïrriteer het. Tuin van digters is ’n persoonlike keuse daaruit en kan as ’n klein literatuurgeskiedenis-in-versvorm beskou word. Die bundel bevat ’n register met die 53 digters wat daarin figureer: van Gerrit Achterberg tot George Weideman.

Hierdie bloemlesing verskyn by geleentheid van die digter se vyf-en-sestigste verjaarsdag op 26 Februarie 2020. Die foto op die voorplat is geneem deur Marlene Malan; die agterplattekening is gemaak deur André Letoit (Koos Kombuis).

Die boek sal nie in die handel beskikbaar wees nie. Die uitgewer is Christel Foord Selfpublikasies (cfoord@yebo.co.za)

 

Bladspieël

Vir André Letoit

 

in die verbygaan sien ek soms

by dié kafeetafel ’n eensame man

wat skryf – dan verbeel ek my

hy skryf oor sy weerkaatste self

die tafel en die verbyganger

wat hom verbeel: daar sit ’n man

wat oor sy eensaamheid skryf

 

Grapevine, Pretoria, 1978

 

(Die Boek Daniel, Human & Rousseau, 1986)

  •