Posts Tagged ‘De Waal Venster blogs’

De Waal Venter. Goeiemôre

Friday, October 14th, 2016

 neruda

Goeiemôre

Pablo Neruda is op 12 Julie 1904 gebore as Ricardo Eliecer Neftalí Reyes Basoalto in Parral, suidelike Chile. Hy het gou die skuilnaam Pablo Neruda aangeneem, gebaseer op die Tsjeggiese digter Jan Neruda.

In 1923 verkoop Neruda al sy besittings om sy eerste bundel gedigte uit te gee met die titel Crespuculario (Aandskemering).Die jaar daarop kry hy ’n uitgewer vir sy Veinte poemas de amor y una cancion desesperada (Twintig liefdesgedigte en ’n lied van wanhoop). Hierdie boek het Neruda beroemd gemaak en op twee en twintigjarige ouderdom staak hy sy studies om hom op sy skryfwerk toe te spits. Hierdie liefdesgedigte is nog steeds van Neruda se bekendstes en gewildstes. Vir baie mense is dit die essensiële Neruda.

In die tradisie van Suid-Amerikaanse lande wat digters graag vereer deur hulle as diplomate aan te stel, kry Neruda diplomatieke poste, in 1927 in Myanmar, en later in Buenos Aires, Madrid, Parys en Meksiko. Hy was ‘ n lid van die Kommuniste-party en moes in ’n stadium vlug uit Chile om vervolging te ontsnap.

In 1952 keer Neruda terug na Chile en trou met Matilde Urrutia, sy derde vrou. Hy het aan haar sy meeste passievolle liefdesgedigte opgedra.

Neruda het verskeie prestige pryse ontvang: die Internasionale Vredesprys in 1950, Die Lenin Vredesprys en die Stalin Vredesprys in 1953. In 1971 ontvang hy die Nobelprys vir Letterkunde.

Hy is in September 1973 oorlede net dae nadat die die Chileense demokratiese regering onder Allende omver gewerp is. Neruda word deur baie mense as die grootste Spaanse digter van die twintigste eeu beskou en ook een van die grootste digters wat in ’n Europese taal geskryf het.

Neruda het in verskillende style geskryf. Hy het heelwat politieke gedigte en geskrifte gelewer wat nie altyd byval vind by poësieliefhebbers nie. Hy het ook ’n digte en moeilik verstaanbare styl gehad waarin bv. die twaalf canto’s in Hoogtes van Macchu Picchu geskryf is. Dan het hy ’n liriese, oop styl gehad waarin sy liefdesgedigte en odes geskryf is. Hy het veral die odes bedoel vir gewone lesers, mense wat nie noodwendig ’n hoë opvoeding gehad het nie – die werkersbevolking van Chile.

Spaans het ontwikkel uit die Latyn wat die gewone bevolking gepraat het in die tyd van die Romeinse Ryk. Romeinse soldate wat in die tweede Carthaagse oorlog geveg het, het die taal na die Iberiese skiereiland gebring. Die Latyn wat die mense by die soldate geleer het, is beïnvloed deur een van die oorspronklike inheemse tale, Baskies. In moderne Spaans tref mens nog spore van dié taal aan, veral in plekname.

Die ontwikkelende proto-Spaans is ook beïnvloed deur ander omringende Europese Romaanse tale, ook in ’n mate deur Germaanse tale en nogal sterk deur Arabies, as gevolg van die lang besetting van die More in daardie geweste. Vandag bevat Spaans ongeveer 8% woorde van Arabiese oorsprong.

Kom ons kyk na ’n paar van Neruda se gedigte in sy liriese styl. ’n Gedig wat baie goed kan dien om met Neruda kennis te maak, is sy Goeiemôre… waarin hy vra om ingenooi te word in die huis van die leser.

 

Buenos días, ¿puedo pasar?

Me llamo Pablo Neruda. Soy poeta.

Vengo llegando ahora

del norte, del sur, del centro, del mar, de

una mina que visité en Copiapó

 

Môre … kan ek inloer?

Môre … kan ek inloer? My naam

is Pablo Neruda, ek’s ‘n digter. Kom nou net

uit die noorde, die suide, die middel, van die

see, daardie een van my wat ek in Copiapó besoek het.

Ek kom van my huis op Isla Negra en

ek vra toestemming om by jou huis in te stap, sodat

jy my gedigte kan lees, sodat ons kan gesels …

(My vertaling uit die Spaans)

Klik op die skakel hieronder om Neruda te hoor wat self die gedig voordra.

http://www.palabravirtual.com/index.php?ir=ver_voz1.php&wid=1892&t=Buenos+d%EDas…+%BFPuedo+pasar?…&p=Pablo+Neruda&o=Pablo+Neruda

’n Vertaler kan nooit ’n gedig in ’n ander taal presies herskep soos dit in die oorspronklike taal geskryf is nie. Hy (of sy) moet besluit watter styl van vertaling hy gaan volg. Wil hy só vertaal dat die leser die vreemde geaardheid en denkpatrone van die Spaanse digter aanvoel? Sommige vertalers doen juis dit, hulle wil die leser so na as moontlik bring aan die Spaanse kultuur, en maniere van dink en doen.

’n Ander benadering kan wees om die oorspronklike gedig as basis te gebruik en ’n nuwe gedig in die ander taal te skryf wat nogal sterk kan afwyk van die oorspronklike – ’n “vry vertaling”. Hierdie benadering is nie uniek aan poësie nie. Dit kom ook in ander kunsvorme voor. Komponiste het van vroeg af al dikwels gekomponeer met ’n ander stuk musiek in gedagte. Soms word volksliedjies gebruik, soms is ander komposisies deur tydgenote die inspirasie. En dink ook maar aan die skilderkuns waar dieselfde prosedure voorkom.

’n Derde benadering is om so te vertaal dat daar so na as moontlik aan die oorspronklike gedig gehou word, maar dat woorde so gekies word dat die leser die gevoel kry dat die gedig in sy eie taal ontstaan het, gegroei het uit sy kultuur. Dit is die benadering wat die vertaler van die gedig hierbo gevolg het.

Daar is ook ander maniere van vertaling en nog ’n interessante werkwyse word aan die einde van hierdie essay toegelig.

Die gedig word tuisgemaak

Watter metode gebruik die vertaler om die gedig “tuis te maak”? Dit kom neer op die keuse van woorde en sinswendige onder andere.

Die Spaanse woorde “¿puedo pasar?in die gedig hierbo kan vertaal word as “kan ek verbygaan” of “kan ek oorsteek”. Die woord “pasar” het ’n hele reeks betekenisse en “verbygaan” en “oorsteek” is twee van hulle. Maar die vertaler het gelukkig die hele gedig gelees voor hy begin vertaal het en besef dat die digter graag, metafories gesproke, deur die leser by sy huis ingenooi wil word.

Die woord wat die vertaler dus kies, is nie ’n letterlike weergawe van “pasar” nie, maar ’n Afrikaanse woord wat gemoedelikheid en informaliteit aandui – “inloer”. Alhoewel “inloer” kan beteken dat mens “na binne kyk”, het dit in hierdie konteks ’n ander betekenis naamlik om informeel by iemand te kom kuier. Uiteindelik sê die Afrikaanse woord presies wat die Spaanse woord sê, maar op ’n manier wat die leser tuis laat voel in sy eie taalomgewing.

neruda en...

Neruda het sy reeks liefdesgedigte “Kapteinsverse” (Los versos del capitan, 1952) geskryf terwyl hy in ballingskap verkeer het op die eiland Capri. In hierdie pragtige omgewing het hy die reeks verse geskryf en opgedra aan sy destydse minnares, Matilde Urrutia. Hulle is later getroud. Die verse is wêreldwyd ’n gunsteling van lesers wat van passievolle, sensuele liefdesverse hou. Matilde se liefdesnaam vir Pablo was “Kaptein”.

Kapteinsverse

En ti a tierra

 

Pequeña

rosa,

rosa pequeña,

a veces,

diminuta y desnuda,

 

Ek wil net kortliks aantoon hoe in hierdie gedig die vertaling “tuisgemaak” word, d.w.s. hoe dit aangebied word op ’n manier wat die leser gemaklik laat voel in ’n bekende atmosfeer. Mens kan ook praat van die “verafrikaansing” van die gedig.

Net twee voorbeelde:

“Pequeña rosa” kan letterlik vertaal word as “klein roos”. In die vertaalde gedig word dit “Klein rosie”. Met ander woorde, daar word ’n dubbele verkleining aangedui – iets wat kenmerkend is van Afrikaans. In Spaans kon die woord ’n verkleinvorm (rosita) gekry het, maar dit is nie wat Neruda wou doen nie. Ten spyte van die teerheid van die aanslag, verkies Neruda net die een woord (pequeña) om die kleinheid van die roos te beskryf.

De tweede voorbeeld is “diminuta” wat letterlik “klein” of selfs “mikroskopies” beteken. In die Afrikaanse weergawe is ’n woord gekies wat weer eens die “klein” verder versterk en ook verder die “Afrikaansheid” van die gedig onderstreep. “Piepklein” is ’n warm, gemoedelike volksmond-uitdrukking.

Hier is die vertaalde gedig.

Die aarde in jou

Klein

rosie,

rosie so klein,

partykeer,

piepklein en naak,

asof

jy kan pas

in een van my hande

wat ek dan toevou

en oplig na my mond

maar

skielik

raak my voete aan jou voete, en my mond jou lippe, jy het gegroei

jou skouers styg op soos heuwels

jou borste wandel oor my bors

my arm kry skaars kans

om die fyn lyn te verken

van die nuwe maan

wat jou middel skep:

jy het vry geraak in liefde

soos seewater:

ek kan nouliks die oë verstaan wat wyer as die lug is

en ek buig na jou mond om die aarde te soen.

 

(My vertaling uit Spaans)

 

Voëlvry vertaling

Laastens is daar ’n uiterste vorm van “vertaling”. Die gedig hieronder is ’n voorbeeld daarvan. Ek noem dit ’n “uiterste vorm” omdat die gedig nie gebaseer is op ’n spesifieke teks nie.

Ek het die gedig heeltemal van die grond af opgebou sonder verwysing na ’n Neruda teks. Hy het nooit ’n ode aan die aartappel geskryf nie, wel aan aartappelskyfies! (Oda a las papas fritas). Die “vertaling”-aktiwiteit is dus baie ver verwyder van “oorsetting” van ’n bepaalde teks in ’n ander taal. Die gedig leen net die voorbeeld van Neruda se ander odes, en is geskryf so na moontlik aan Neruda se styl. Ek dink nie mens kan verder wegkom van ’n “letterlike” vertaling nie.

Hier is die gedig.

 

Ode aan die aartappel

 

deur De Waal Venter

geskryf as ’n huldeblyk aan Pablo Neruda

‘n Klein aarde,

bruin, glad

soos die dye

van ‘n meisie

wat wag vir haar minnaar.

Die mes

onthul jou wit vlees,

ontskil

is jy naak,

wit

onskuld van kinderjare.

Water dans in kookgenot,

jy duik in,

onverskrokke,

pyn oorkom jy –

‘n heilige wat iets groots sien.

Nou is jy anders,

jy bied

jou siel aan,

jy neem plaas op die glansende wit bord,

pietersielie

loof jou,

botter smelt in jou

volkome teenwoordigheid,

sout seën jou,

jy is aan die spits,

die poorte gaan oop

en orrels dreun,

kore hang ryk tapisserieë

van bewondering

teen die verhemelte,

jy is bevrediging

en nie meer

van hierdie aarde nie.

Foto: DWV

Foto: DWV

 

 

BIOGRAFIE

De Waal Venter

De Waal Venter

De Waal Venter het in die sestigerjare begin om digbundels te publiseer en was toentertyd die stigtingsredakteur van die tydskrif WURM. Hy was radio-omroeper by die destydse SAUK en het bekroonde radiodramas geskryf. Hy het ook romans, kinderboeke, TV-reekse, ’n filmdraaiboek en verhoogdramas geskryf. Hy het die grootste deel van sy werkende lewe deurgebring as ’n reklameskrywer. Nadat hy uitgetree het, is hy in 2011 as stadsraadslid in Krugersdorp verkies. Hy tree uit en skryf nou voltyds. Hy skryf deesdae meesal poësie in Engels en Afrikaans en vertaal ook baie van die digters Pablo Neruda, Octavio Paz, Fernando Pessoa, Tomas Tranströmer en ander se werk uit die oorspronklike tale. De Waal Venter is getroud met Erla en het vier kinders en vyf agterkleinkinders.

 

De Waal Venter is saam met ander een van Versindaba se gasbloggers vir Oktober en November 2016. MJ

  •