Posts Tagged ‘De Waal Venter Alles keer om’

Resensie: Tomas Tranströmer in Afrikaans: Alles keer om (De Waal Venter)

Saturday, December 26th, 2020

 

 

 

 

 

Alles keer om: Tomas Tranströmer in Afrikaans. Vertalings deur De Waal Venter. Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2020.

Isbn 978 0 620 905022 2

 

Resensie: Joan Hambidge

 

Die skoonheid van wondere is gevind

 

I

De Waal Venter het met sy Pablo Neruda-vertalings Vandag is boordensvol (2019) die gesogte Akademieprys gewen.

http://joanhambidge.blogspot.com/2019/08/resensie-de-waal-venter-vandag-is.html Besoek 24 Desember 2020

Alles keer om is sy vertalings van Tomas Tranströmer se verse wat in 2011 met die Nobelprys vir letterkunde bekroon is. Gebore 1931 en oorlede in 2015 was Tranströmer digter, vertaler en sielkundige.

Modernisme, ekspressionisme, surrealisme – so is hierdie gedigte al tipeer. Hierdie digter – soos vele modernistiese digters – is beskuldig van ‘n a-politiese aanslag.

Met die lees van hierdie pragtige antologie het hierdie leser weer teruggekeer na die verse van Wallace Stevens, in lewe ‘n baas van ‘n assuransie-maatskappy in Connecticut en volgens homself glo ‘n Sondagdigter, gebore in 1879 en oorlede in 1955.

Opperman was ‘n groot bewonderaar van Stevens se poësie.

In “An Ordinary Evening in New Haven” (1950) skryf hy:

 

The poem of pure reality, untouched
By trope or deviation, straight to the word,
Straight to the transfixing object, to the object At the

exactest point at which it is itself,
Transfixed by being purely what it is.
A view of New Haven, say, through the certain eye,
The eye made clear of uncertainty, with the sight
Of simple seeing, without reflection. We seek
Nothing beyond reality.

 

Stevens is duister, verwikkeld, maar soms ook liries. Soos Tranströmer, waar die lees van sy gedigte ‘n bykans hipnotiese effek het op die leser. Die voorblad gee vir ons ‘n ómgekeerde beeld van ‘n idilliese Sweedse huis met bome …

Helaas is alles nie pluis hier nie. Ons verneem van ‘n onstelde meditasie en daar is elegiese verse. Telkens word ‘n mens bewus van ‘n dubbele keuse en tyd is ‘n gevange insek:

 

                                               My polshorlosie

gloei hardkoppig met die tyd se gevange insek. (39)

 

Daar is grimmige ondertone in hierdie verse soos die verwysings na Georges Simenon, die bekende Belgiese speurskrywer en die Bockstenman wie se lyk in 1936 ontdek is in ‘n bog – deurboor met twee houtpenne wat hom vasgepen het …

Simenon se lewe was ook vol onstuimighede ten spyte van speurder Maigret se beheer oor alles. En Tranströmer skryf oor stilte – nes sy meesterlike landgenoot Ingmar Bergman dit weer op sy beurt uitstekend vertolk in films. Autumn sonata (1978) en The silence (1963) bly gewoon hoogtepunte in die verbeelding van ‘n versmorende stilte wat sy digterkollega eweneens aanspreek.

“In klein bleek telegramme van die wêreld” (51, “Lamento”) is die pynlike geskiedenis van die Afrikaanse digter D.P.M. Botes opgesluit.

Soos Stevens werk Tranströmer met verwysings, selfs soms met ‘n voetnoot; ander kere moet die leser self die verwysing ontsluit.

II

“Oggendvoëls” (65) is betowerend mooi en hierdie ekster gesels met Opperman se narokkong. Die ekster is die hel se voël; by Opperman is die narokkong, via Sangiro se Koors, die draer van slegte nuus. Opperman se “Koggelbos” (Komas uit ‘n bamboesstok) gebruik die narokkong met sy grieselige, eentonige en rou geroep, soos Snyman uitwys in Mirakel en muse (129).

Stilte. Eensaamheid. Isolasie. Die soeke na sin en betekenis navigeer hierdie besondere verse vérder. Grimmige humor vind ons ook soos in “Oklahoma” (73) waar die Sweedse besoeker na ‘n Indiaanbyl kyk …

In ‘n lewenskets van Grieg (“‘n Kunstenaar in die Noorde”, 79) is die vleuelklavier so beknop ingepas as ‘n swael onder ‘n teëldak. My eksemplaar sit vol uitroepe waar ek so bekoor is deur ‘n mooi beeld.

Daar is verse wat kort en kragtig is; selfs ook ‘n villanelle, prosaverse – telkens bly die leser bekoor deur ‘n vers wat jou inkatrol en onkant betrap.

 

Die posseël se vlieënde tapyt

die adres se steierende letters

plus my verseëlde waarheid

swewend nou oor die oseaan. (“Lugpos”, 169)

 

Die digter betrek die geskiedenis, die skilderkuns (o.a. Turner), musiek, en daar is selfs ‘n verwysing na die Transvaal.  Shangai en uit ‘n Afrika-dagboek staan hier.

Daar is soos by Wallace Stevens ‘n soeke na die woord wat die regte emosionele lading moet weergee. Soos by Opperman.

III

‘n Groot geskenk in hierdie troebel dae hierdie vertalings van De Waal Venter. Hierdie leser ken nie Sweeds nie, maar via die Engelse vertalings imponeer De Waal Venter s’n bepaald.

https://www.poetryfoundation.org/poems/51016/the-indoors-is-endless  Besoek 24 Desember 2020

Hy het in Venuti se terme die gedigte huis toe gebring.  In ‘n nawoord gee De Waal Venter redes vir sy keuses en verwys na verskillende vertaalteoretici se sieninge oor vertaling. Sonder vertalings sou ons ervaring van ander letterkundes nie bestaan het nie.

 

Ek is geborge in my skadu

soos ‘n viool

in sy swart kas … (“April en stilte”, 171) is ‘n melancholiese strofe wat hierdie leser al lankal met haar saamdra, danksy De Waal Venter se bekendstelling van hierdie digter aan ons en een wat ek met sy toestemming as ‘n motto wil gebruik.

“Droomseminaar” (148) is ‘n gedig wat sterk resoneer met die tyd waarbinne ons leef …

Die onlogiese, die primitiewe, die droom, stiltes en spiritualiteit word saamgesnoer in wonderbaarlike gedigte met worstelstelsels wat ondergronds práát met ander digters in die “oop en geslote ruimtes” van die digkuns.

Daar is soos Neruda mos gewaarsku het: geen digters nie; net een groot digkuns.

Bronne:

Shumaker, Wayne. 1965. An approach to poetry. Londen: Prentice Hall.

Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.

Lys van bundels:

  • 17 Poems (17 dikter), Bonniers, 1954.
  • Secrets on the Way (Hemligheter på vägen), Bonnier, 1958.
  • The Half-Finished Heaven (Den halvfärdiga himlen), Bonnier, 1962.
  • Bells and Tracks (Klanger och spår), Bonnier, 1966.
  • Seeing in the Dark (Mörkerseende), Författarförlaget, 1970.
  • Paths (Stigar), Författarförlaget, 1973.
  • Baltics (Östersjöar), Bonnier, 1974.
  • The Truthbarrier (Sanningsbarriären), Bonnier, 1978.
  • The Wild Market Square (Det vilda torget) Bonnier, 1983.
  • For the Living and the Dead (För levande och döda), Bonnier, 1989.
  • The Sorrow Gondola (Sorgegondolen), Bonnier, 1996.
  • Prison (Fängelse), Edition Edda, 2001 (from 1959).
  • The Great Enigma (Den stora gåtan), Bonnier, 2004.

’n Woordkunswerk in eie reg sonder die beitelmerke van die vertaler

Thursday, December 10th, 2020

 

 

 

Marlies Taljard gesels met De Waal Venter oor sy vertaling van Tranströmer, Alles keer om.

 

Marlies Taljard: De Waal, ek het pas jou pragtig versorgde bundel Alles keer om ontvang wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns uitgegee is. Baie geluk met ‘n waarlik indrukwekkende vertaling van die digter Tomas Tranströmer se werk, ‘n Sweedse digter wat hoofsaaklik deur jou vertalings op Versindaba, en nou deur hierdie bundel, aan die Afrikaanse leserspubliek bekendgestel word. Dankie dat jy ingestem het tot ‘n gesprek op Versindaba oor dié reuse onderneming én oor jou vertaalfilosofie.

De Waal, Om watter rede sal ’n digter tipies ’n gedig vertaal?

 

De Waal Venter: Daar is seker ’n hele paar redes waarom iemand sal besluit om ’n gedig te vertaal. Natuurlik is alle vertalers nie digters nie. En wanneer ’n digter vertaal, is daar geen waarborg dat hy noodwendig goed sal vertaal nie.

Eerstens dus: die gedig in die brontaal vind aanklank by die vertaler. Die gedig spreek tot hom, ontroer en verruim sy geestelike lewe. Die vertaler voel die drang om hierdie besonderse taalkunswerk ook in sy moedertaal te kan lees en geniet. As daar nie ’n ander vertaling bestaan nie (of een wat nie bevredig nie!) moet hy self die taak onderneem.

Die volgende gedig van Tomas Transtromer is ’n voorbeeld hiervan.

 

Ansikte mot ansikte

 I februari stod levander still.

Fåglarna flög inte gärna och själen

skavde mot landskapet så som en båt

 

Van aangesig tot aangesig

In Februarie het die lewe tot stilstand gekom.

Voëls was traag om te vlieg, en die siel
het teen die landskap geskuur soos ‘n boot

teen die brug waaraan dit vasgemeer is.

Bome het gestaan met weggedraaide rûe.

Sneeudiepte is gemeet aan dooie gras.

Voetspore het oud geword in die sneeukors.

 Onder ‘n seil, vervagende taal.

Op ‘n dag kom iets na die venster.

Werk word gestaak, ek kyk op.

Kleure brand, alles keer om.
Die grond en ek spring na mekaar.

Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter

 

Die tweede laaste reël van die gedig lewer die titel van die bundel op: “Alles keer om”. Dit is moontlik die mees tiperende eienskap van Tranströmer se oeuvre. Hierdie ervaring, soos in die gedig beskryf, kan verstaan word as ’n tipe epifanie. Meteens word “gewone” dinge vir die leser anders en wonderlik. Dit bring ’n nuwe besef en waardering vir aspekte van die werklikheid waarin jy jou bevind.

Verder is daar die heerlik vars en verrassende metafore wat die Sweedse digter gebruik: “die siel het teen die landskap geskuur soos ’n boot”. En: “Bome het gestaan met weggedraaide rûe.”

Die helderheid en oënskynlike eenvoud van die poësie wat in werklikheid geweldige diepgang het, bekoor my en vind aanklank by my. Ek wou, toe ek vir die eerste keer kennis gemaak het met Tranströmer se werk, baie graag dit ook oopmaak vir Afrikaanse lesers. En in 2011 het ek dus begin vertaal.

 

MT: Hoe gaan jy te werk wanneer jy gedigte uit ander tale in Afrikaans vertaal?

 

DWV: Eerstens moet mens die brongedig natuurlik verstaan en dit waardeer as ’n woordkunswerk wat verdien om ’n wyer leserskring te hê. Dit gedaan, begin die vertaalproses.

Ek weet van vertalers wat eers ’n taamlik letterlike vertaling maak en dit dan verder verfyn. Albei weergawes word gepubliseer. Dit doen ek nie. Die proses om die gedig in verstaanbare Afrikaans om te sit, gebeur hoofsaaklik in my kop. Wat ek neerskryf, is so na as moontlik aan die eindproduk. Maar dan hersien ek die vertaling, soms dae later, en bring verdere verfynings aan.

Vir ’n vertaler in ons tyd is daar baie hulpmiddels. Dit wissel van tradisionele woordeboeke tot elektroniese hulpmiddele. Masjienvertalings is geredelik beskikbaar en dit kan gebruik word as ’n basis waarvandaan jy verder kan werk.

Dan vind ek dit baie nuttig om ander vertalers se weergawes te lees en te sien hoe hulle die gedig benader het. In die geval van die Tranströmer-gedigte het ek veral Bernlef se Nederlandse vertalings nuttig gevind. Maar ook Franse en Duitse, asook Engelse vertalings het nuttige insigte gebied.

Uiteindelik dan, wanneer ek die finale weergawe afrond, is my mikpunt om ’n woordkunswerk in eie reg daar te stel, ’n gedig wat op sy eie bene kan staan en sonder die beitelmerke van die vertaler aangebied word.

  

MT: Watter digters se werk vertaal jy by voorkeur en hoekom juis dié digters?

 

DWV: Party Europese tale is vir my toeganklik en ek beperk my vertaalwerk tot daardie tale. Die Spaanse digter en Nobelpryswenner, Pablo Neruda, was my eerste keuse omdat sy geweldige groot oeuvre ’n ryk verskeidenheid van vernuwende en meesleurende gedigte bevat. Hy is ook, waarskynlik in Engelse vertaling, bekend en gewild in Suid-Afrika.

Die tweede groot vertaaltaak het uitgeloop op die gepubliseerde Tranströmer-vertalings. Hy is minder bekend in Suid-Afrika, maar na my mening (en dié van die Sweedse Nobelpryskomitee!) is hy een van die grootste digters van ons tyd.

Ek vertaal ook graag gedigte van Fernando Pessoa, die Portugese digter wat sy opleiding hoofsaaklik in Suid-Afrika ondergaan het. Hy is veral bekend vir die “heteronieme” wat hy geskep het – name wat hy gegee het aan poësie wat hy in verskeie uiteenlopende en selfs teenstellende style geskryf het.

Verder het ek ’n handvol van Cesar Vallejo (Spaans) se gedigte vertaal en dan ’n klompie van die baie interessante Franse digter Jacques Roubaud wie se gedigte wissel van kinderlike eenvoud tot matematiese verwikkeldheid.

Hier is ’n voorbeeld van een van sy nogal guitige gedigte oor die digkuns.

 

Art poétique

Jacques Roubaud

 

              Ce que disait le poème, je l’ai oublié

              Jai su ce que disait ce poème, mais je lai oublié

              Le poème disait cela, mais cela que disait le poème, je

              l’ai oublié

 

Digkuns

 

Dit wat die gedig gesê het, het ek vergeet

Ek het geweet wat die gedig gesê het, maar ek het vergeet

Die gedig het dit gesê, maar dit wat die gedig gesê het, het ek vergeet

Dat die gedig dit gesê het, is dit wat die gedig gesê het? As dit is wat die gedig gesê het, het ek vergeet

Miskien, sonder om te weet wat die gedig gesê het, toe ek die gedig gesê het, (op die oomblik toe ek die gedig gesê het), het ek dit al klaar vergeet

maar as dit is wat die gedig gesê het, het ek vergeet

Jy sien, wanneer ek die gedig sê, weet ek nie dat ek die gedig sê nie,

want wat die gedig gesê het, het ek vergeet

Dit is waarom dit wat die gedig sê, nie regtig is wat die gedig gesê het nie

en dit het ek vergeet

Uit Frans vertaal deur De Waal Venter

 

Ek hou ook van ’n paar van die jonger Spaanse (Spanje, nie Suid-Amerika nie) digters: Coral Bracho, en David Huerta byvoorbeeld, asook die Franse digter Claude Esteban.

Tans is ek besig om te werk aan gedigte van die Meksikaanse digter, Octavio Paz, met die oog daarop om dit as ’n bundel te publiseer.

Ek vertaal nie uit Nederlands en Duits nie omdat daar talle knap vertalers is wat uit hierdie tale in Afrikaans vertaal. Ek probeer eerder om Afrikaanse lesers toegang te gee tot die ander tale wat minder in Afrikaans weergegee word.

 

MT: Vertaal jy graag die oorspronklike gedig uit die oorspronklik taal – hoekom?

 

 DWV: Ek vertaal altyd uit die oorspronklike taal omdat ek die gedig so getrou moontlik wil herskep en nie ’n herskepping wil herskep nie.

Indien ’n gedig in, sê nou maar Engels, vertaal word, kry die gedig gestalte wat nie presies dieselfde kan wees as die oorspronklike gedig nie. Wanneer ’n ander vertaler dus hierdie vertaling vertaal, is die eindresultaat onvermydelik nog verder verwyder van die oorspronklike gedig – woordkeuses, atmosfeeer, verwewing van betekenisse en idees, subtiliteite, ens. skuif al hoe verder weg. Vertalers kan selfs foute begaan. Hier is ’n voorbeeld:

In Pablo Neruda se meesleurende gedig uit “Canto General” met die titel: “Algunas Bestias” (deur my vertaal as “’n Klompie gediertes”) kom die reël voor:

 

“el hormiguero monacal pisaba

con melodioso pie la selva”

 

’n Engelse vertaler het dit weergegee as: ”the monastic ant-heap was melodiously

teeming in the undergrowth,”

 

My vertaling is:

 

“die monnikagtige miervreter

het met musikale voete deur die oerwoud gestap”

 

Die woord “hormiguero” kan wel vertaal word as “miershoop”. Maar ’n miershoop wat in die oerwoud met musikale voete rondloop, het nie vir my sin gemaak nie. Ek het kopgekrap en uiteindelik besef dat Neruda kortpad gekies het. Na my mening het hy “oso hormigeuro” bedoel, wat “miervreter” beteken. Die Engelse vertaler het gemeen dat hy by die letterlike “miershoop” moes bly.

 

 MT: Hoe behoort mens ‘n vertaalde gedig te evalueer? Moet dit byvoorbeeld woordeliks korrek wees?

 

DWV: Hierbo het ek al heelwat gesê oor hoe ’n gedig na my mening vertaal behoort te word. Ek dink só daaraan: stel jou ’n glyskaal voor. Aan die een kant is daar die letterlike vertaling. Dit is soos vertalers van politieke toesprake probeer vertaal sodat elke woord se presiese betekenis weergegee word, sonder enige poing om die toespraak oratories aantreklik aan te bied. Aan die ander kant is daar die vertaler wat so vrylik vertaal dat dit min ooreenkoms toon met die oorspronklike. Die vertaler het die oorspronklike gedig gebruik as basis om iets heel anders te skep.

Ek dink ’n vertaalde gedig behoort êrens tussenin te lê op hierdie glyskaal. Dit moet nie styf letterlik vertaal wees nie en ook nie so wild weg van die oorspronklike dat die oorspronklike nie meer daarin herken kan word nie.

En dan moet die vertaling ook geëvalueer word met die kriteria waarvolgens enige gedig beskou word: oorspronklikheid, trefkrag, klankrykheid, betekenis, ens.

 

MT: Watter wenke kan jy vir beginner-vertalers gee?

 

DWV: Eerstens moet jy jouself vergewis van al die beskikbare hulpmiddels. Dit wissel van masjienvertalers (Google Translate e.a) tot woordeboeke en webruimtes waar gedigte bespreek en verklaar word. Daar is ook talle blogs bedryf deur gewone lesers en waar jy menings kan kry – natuurlik moet jy nie alles vir soetkoek opeet nie! Enigiemand kan feitlik enigiets kwytraak in die elektroniese media en mens moet jou goeie oordeel gebruik.

Tweedens moet jy soek na vertalings in enige ander taal of tale wat jy ken. Dit is baie waardevol om ’n vertaler in ’n ander taal se poging met joune te vergelyk.

Derdens moet jy die vertaalkunde navors indien jy nie reeds ’n akademiese kursus volg nie. Vertaalkunde het veral vanaf die sestigerjare van die vorige eeu die status begin kry van ’n gerespekteerde en waardevolle dissipline. Veral die taalnavorser André Lefevere het baie gedoen om vertaalkunde stewig te vestig. Hy het ’n paar boeke die lig laat sien wat sy idees en metodes baie goed toelig.

En, anders as met die skryf van ’n gedig wat meesal in een sessie geskryf word, hoef ’n vertaler dit nie te doen nie. Jy kan ’n ent ver vertaal en dan later weer terugkom en verder gaan. Die oorspronklike gedig is daar op papier en sal nie verdamp soos jou inspirasie wel kan wanneer jy self ’n gedig skryf nie.

einde

 

Nuwe bundels: Spesiale aanbod!

Friday, December 4th, 2020

 

 

  •