Posts Tagged ‘De Waal Venter blogs’

De Waal Venter. Hulde aan Jeanne Goosen

Thursday, June 4th, 2020

 

2020.06.04

 

My voete loop

 vir Jeanne Goosen

 

My voete loop op die grond

loop

my voete deur die gras

loop hulle

my voete op die strand

my spore in die sand

loop my voete

oor die klippe

loop

tussen dorings deur

my voete loop

op die teerpad

my voete op die teerpad brand

my voete

loop

langs die see se kant

loop my voete

langs die bosviooltjies

op die waterklippers

van die platberg se stroompies

my voete loop

by die graf verby

by ander grafte

loop my voete verby

my voete

loop

oor vars rooigrond

loop

oor die vaalgras van die winter

in die voetpaadjie

na môreoggend

op die voetpaadjie

loop my voete

kaal

soos ek gebore is

 

 

De Waal Venter. Gesprekke met Yanni Euterpe

Thursday, April 9th, 2020

 

EEN

 

Afskryf van ’n gedig is nie maklik nie

 

Yanni* stap binne

sonder om te klop, soos gewoonlik,

deur die toe deur.

Sy loop nie ongemaklik

met die lomp

kameelperd-treë van ’n kleremodel nie,

maar met die atletiese gang

van ’n afstand-hardloper.

 

Haar hare is vasgevang

agter haar kop in ’n soort bolla

en sy dra ’n string

Venesiese glaskrale

met lewendige kleure

wat mekaar uitdaag

in ’n goedige gestoei.

Ek kan sweer

sy het ’n paar druppels

Chanel aangetik.

 

(Venesiese krale aan ’n Griekse muse?

Ja, ek weet. Sien, sy transendeer tyd.)

 

Sy het ’n wit kledingstuk aan, ’n toga

of ’n soort Griekse god-rok.

Dit is heeltemal bedek

met vars blomme; nie ’n verlepte blaartjie

tussen die spul nie.

 

Het jy jou pen? vra sy

en gaan sit op die wasgoedmandjie.

Ek is in die bad

soos gewoonlik wanneer hierdie soort ding gebeur.

 

Ja, sê ek, wat …

Skryf neer, onderbreek sy my:

 

Hoekom stoot jy nie die sagte dreunsang

van die see voor jou uit

soos ’n walvis nie?

Hurk jy partykeer

op ’n dun takkie

en nooi reënwolke nader

met bedekte beledigings

soos ’n kuifkop-houtkapper?

 

Wanneer laas het jy

oor die rooigras gewip

soos ’n pronkende Springbok?

Kan jy teen ’n muur ophardloop

en wegglip in ’n skeurtjie

met glinsterende oë

soos ’n vetpens-akkedis?

 

Nee, antwoord ek. Dis …

Hoekom nie? vra sy en staan op.

Want ek is ’n mens! antwoord ek verleë.

 

Dis nie ’n verskoning nie, gooi Yanni terug

en stap na die muur.

Het jy nie ’n skeppende …

 

Ek kan nie haar laaste woord hoor nie

want sy was besig om deur die muur te loop.

 

Wat kon sy bedoel het?

Nou sal ek heeltemal op my eie

’n woord moet kry.

 

 

TWEE

 

Ek het jou gewoon lief

 

Yanni het vandag

by die deur ingestap,

nie deur die muur nie.

 

Sy gaan sit op een van die regop houtstoele.

Ek groet en kyk afwagtend na haar,

pen in my hand.

 

Gewone dinge, sê sy peinsend.

Wat is gewone dinge? vra ek versigtig.

Alles, antwoord sy.

Hierdie tafel, die venster, hierdie servet,

die vesels in jou hemp, die afgebreekte been

van ’n mier in die gleuf in die vloer,

jou rooibloedselle wat pas in jou murg gemaak is,

die watermolekules in die aërosoldruppels

wat jy uitgeasem het,

die koolstofatome waarvan alles gemaak is,

ek bedoel alles wat lewe.

 

Dit is gewone dinge?

Vra ek, effens uit die veld geslaan.

Wat is ongewoon?

 

Iets wat nie gewoonlik

en algemeen voorkom nie,

antwoord Yanni.

Soos?

 

Skryf! beveel Yanni

en begin dikteer:

 

So lig was sy vingers

op haar bors

dat sy nie seker was

dat sy hom gevoel het nie.

Dit is hoe ek jou liefhet,

sê hy.

Dat jy altyd nader

aan my wil kom.

 

Yanni staan op en stap weg.

Is dit al? roep ek agterna.

Dit is genoeg

vir enige mens, antwoord sy vervagend,

terwyl sy verdwyn

in die muur.

 

 

*Die klassieke Griekse godin van onder andere liriese poësie se naam is Euterpe. Wanneer sy manifesteer as my persoonlike muse, neem sy die ekstra naam “Yanni” aan.

 

Hierbo is twee gedigte uit die reeks: “Gesprekke met Yanni Euterpe” wat in 2017 begin het en nog goed aan die gang is. So elke drie weke of maand kom daar ’n nuwe gedig by. DWV

 

 

’n Veelsielige digter. De Waal Venter

Wednesday, December 7th, 2016

’n Veelsielige digter          

Fernando Pessoa

Fernando Pessoa

Die vier grootste Portugese, en ook Europese digters in die moderne tyd is Fernando Pessoa. So word daar op ’n half speelse wyse gepraat van hierdie digter wat in Durban sy skoolopleiding gehad het. In 1905 het hy na Lissabon verhuis waar hy die res van sy lewe geslyt het. Hy is in 1888 gebore en het in 1935 gesterf.

Die stelling dat hy die vier grootste digters is, berus op die besonderse manier wat Pessoa gehad het om fiktiewe “digters” te skep wat elkeen sy eie persoonlikheid gehad het en ’n eie skryfstyl wat heeltemal van die ander “digters” verskil het. Pessoa het hulle “heteronieme” genoem. Hy het gesê dat ’n pseudoniem ’n vals naam is wat ’n digter gebruik om sy of haar werk bekend te stel. ’n Heteroniem kan vertaal word as “ander naam”. Pessoa het ander “digters” met ander name geskep.

Die bekendste heteronieme was Ricardo Reis, Alberto Caeiro en Álvaro de Campos. Saam met Pessoa was hierdie groep dan die “grootste Portugese digter”. Mens sidder eintlik om te dink dat Pessoa meer as sewentig sulke heteronieme geskep het! Die ander het egter werk van mindere belang gelewer.

Kom ons kyk na hierdie vier “digters” se werk. Eerstens die vlees-en-bloed digter, Fernando Pessoa self. Sy gedig “Ek weet nie hoeveel siele ek het nie” is baie beskrywend van die soort mens wat hy was.

Não sei quantas almas tenho.

Cada momento mudei.

Continuamente me estranho.

Ek weet nie hoeveel siele ek het nie.

Fernando Pessoa

Ek weet nie hoeveel siele ek het nie.

Ek verander elke oomblik.

Ek voel voortdurend vreemd.

Ek het myself nog nooit gesien of gevind nie.

Vanaf soveel te wees, het ek net siel.

Hy wat ’n siel het, het nie kalmte nie.

Hy wat sien is net wat hy sien.

Hy wat voel is nie wie hy is nie.

Oplettend na wat ek is en sien,

word ek hulle en is nie meer ek nie.

Elkeen van my drome en begeertes

kom uit hulleself, nie van my nie.

Ek is my eie landskap.

Ek bekyk my eie reis,

verskillend, bewegend en alleen.

Ek kan myself nie voel hier waar ek is nie.

Dis waarom ek, as ’n vreemdeling

my wese lees asof dit bladsye is.

Ek weet nie wat gaan gebeur nie,

en vergeet wat gebeur het.

Ek merk in die kantlyn van my leeswerk

wat ek gedink het ek voel.

Met die herlees wonder ek: “Was dit ek?”

God weet, want hy het dit geskryf.

Fernando Pessoa

Die gedig gee mens insig in watter soort mens Pessoa was. Hy was in ’n sin, “buite homself”. Hy het geleef sonder om werklik in die werklikheid te wees soos die meeste ander mense. “Ek voel voortdurend vreemd” verklaar hy. En: “Ek het myself nog nooit gesien of gevind nie.” Hy “lees” sy wese asof dit neergeskryf is op bladsye. Hy word eintlik net “werklik” wanneer hy homself uitleef in ’n gedig.

 

Heteronieme

Mens kom in die versoeking om hierdie persoonlikheidstrekke van die digter dadelik as “skisofrenies” te wil sien. Een van daardie persone wat versteurd is en talle verskillende persoonlikhede het. Ek dink egter nie dat dit die ware toedrag van sake is nie.

Letterkundiges wat ’n studie van Pessoa en sy oeuvre gemaak het, wys daarop dat hy as jong man homself die taak gestel het om Shakespeare die loef af te steek! Hy was ’n bewonderaar van o.a. Walt Whitman, TS Elliot en Shakespeare. Die groot Engelse bard het hom beïndruk met die onvergeetlike karakters wat hy geskep het – Othello, Hamlet, Lear e.a.

Dit is waarskynlik hoe dit gebeur het dat Pessoa uitgekom het by die skepping van sy heteronieme. Hy wou karakters skep wat nog meer geloofwaardig is as Shakespeare s’n. In ’n sekere sin kan mens dan ook sê dat hy Shakespeare wel oortref het deur sy “mede-digters” lewens te gee wat netsowel deur werklike mense gelei kon gewees het.

 

Alberto Caeiro da Silva

image002

Die heteronieme het met mekaar gekorrespondeer en oor mekaar geskryf en mekaar gekritiseer. Ricardo Reis het byvoorbeeld van Alberto Caeiro gesê dat sy werk “die absolute essensie van paganisme verteenwoordig, ten volle geherkonstrueer.”

Alberto Caeiro da Silva is in 1889 in Lissabon “gebore” en het in 1915 “gesterf”. Hy het feitlik sy hele lewe afgesonderd deurgebring in ’n dorpie in Ribatejo. Reis skryf dat Caeira se paganisme nie bewustelik gekom het nie, maar van êrens diep binne hom, dieper as rede of gevoelens. Caeira se styl het hierdie lewenswyse weerspieël. Dit is suiwer, eenvoudig en terselfdertyd diepsnydend en onthullend. (Ek gebruik die woord “paganisme” eerder as “heidens” omdat laasgenoemde woord baie sterk gelaai is met ’n element van ongelowigheid, terwyl dit nie presies is wat Reis bedoel het met “paganisme” nie).

Dit klink onwaarskynlik, maar die “eenvoudige” Caeira is deur die ander drie digters as hulle “meester” beskou. Hulle het almal groot bewondering vir hom en sy werk gehad.

Uit ’n boekbeskrywing van The keeper of sheep by Fernando Pessoa, bilingual edition, translated by Edwin Honig and Susan M Brown:

On a singular March day in 1914, Fernando Pessoa felt his master appear inside him, Alberto Caeiro, the heteronym that stands over his epiphanic collection, composed that day The Keeper of Sheep – the pivotal work in the career of Portugal’s great modern poet.

O GUARDADOR DE REBANHOS II

Hier is een van Caeiro se gedigte uit sy versameling “Die oppasser van die kudde II” .

O meu olhar é nítido como um girassol.

Tenho o costume de andar pelas estradas

Olhando para a direita e para a esquerda,

E de vez em quando olhando para trás…

Die oppasser van die kudde II

My kyk is so helder soos ’n sonneblom.

Dit is my gewoonte om in die strate te stap

links en regs te kyk,

en partykeer agter my …

en dit wat ek elke oomblik sien

is wat ek nog nooit voorheen gesien het nie

en ek kan dus baie goed sien …

ek weet dat ek die verwondering kan ervaar

wat ’n pasgebore kind sou ervaar

as hy besef dat hy gebore is …

ek voel elke oomblik dat ek pas gebore is

in die ewigdurende nuutheid van die wêreld …

Ek glo aan die wêreld soos ’n madeliefie,

omdat ek dit sien. Maar ek dink nie daaroor nie

want om te dink is om nie te verstaan nie …

die wêreld is nie vir ons gemaak om daaroor te dink nie

(om te dink is om oë te hê wat nie gesond is nie)

maar om daarna te kyk en daarmee saam te stem.

Ek het geen filosofie nie: ek het sintuie …

as ek van die natuur praat, is dit nie omdat ek weet wat dit is nie,

maar omdat ek dit liefhet, en ek het dit lief om daardie rede,

want dié wat lief het, weet nooit wat hulle lief het nie

of hoekom hulle lief het nie, of wat liefde is nie.

© 1914, Alberto Caeiro (Fernando Pessoa)

Hierdie “paganistiese” lewenssiening kan miskien ten beste beskryf word met die hedendaagse modefrase: “om in die oomblik te leef.” Twee reëls in die gedig beskryf hierdie benadering baie goed:

“ek voel elke oomblik dat ek pas gebore is

in die ewigdurende nuutheid van die wêreld …”

Die digter voel hom vry van die bagasie wat die meeste van ons saamdra: beplanning, rasionalisering, bekommernis, verveling ens. Vir hom is die wêreld altyd verrassend nuut.

Ricardo Reis

Ricardo Reis, wat oor Caeiro se paganisme geskryf het, is in Oporto gebore in 1887. Hy was ’n mediese dokter en ’n klassikus. Pessoa het hom beskryf as “’n Griekse Horatius wat in Portugees skryf.” Hy het nie-rymende odes geskryf oor die leegheid van die lewe en die nodigheid dat mens jou lot moet aanvaar.

Waar Caeiro ’n paganis is wat die lewe eenvoudig net lééf, is Reis die deurdagte klassieke skrywer wat heeltemal natuurlik kan skryf van (Romeinse) gode en die Noodlot. Die volgende gedig illustreer dit.

Não consentem os deuses mais que a vida.

Tudo pois refusemos, que nos alce

A irrespiráveis píncaros,

Perenes sem ter flores.

Die gode gee niks meer as die lewe nie.

 

Die gode gee niks meer as die lewe nie.

Laat ons dan alles verwerp wat ons oplig

na asemlose hoogtes, ewig maar sonder blomme.

Al wat ons hoef te aanvaar, is wetenskap,

en so lank die bloed in ons fonteine nog pols

en liefde nie verskrompel nie,

laat ons aangaan,

soos glas lig-deurskynend

druppelend in die treurige reën,

warm gebak in die son,

effens weerkaatsend.

©Ricardo Reis (Fernando Pessoa)

Vir hierdie digter is die mens weerloos teen die verloop van die lewe. Hy meen dat mens ten beste soos glas moet wees – passief, deurskynend en onversteurd deur reën en son.

Álvaro de Campos

Die derde heteroniem, Álvaro de Campos, is in 1890 gebore, maar Pessoa het nie sy sterfdatum aangegee nie. De Campos was ’n stormagtige en emosionele digter wat vurige manifesto’s geskryf het en skerp polemiese essays geskryf het. Hiervoor het sommige mense hom bewonder en is hy deur ander sterk aangeval.

Pessoa het hom beskryf as iemand wat meganiese ingenieurswese bestudeer het en het gegradueer in skeepsingenieurswese. Hy het op verskeie skeepsvaarte gegaan en baie van sy gedigte is op hierdie vaarte geskryf.

Een van sy bekendste gedigte is “Ai margarida” met die onderskrif: “Gedikteer deur die skeepsingenieur mnr. Álvaro de Campos in ’n toestand van alkoholiese bewusteloosheid.”

Daar is twee sprekers in die gedig: ’n minnaar wat sy geliefde aanspreek, en haar antwoorde op sy vrae. Verskeie komponiste het die gedig getoonset en as mens “Ai, Margarida” google kry jy verskeie weergawes van die gedig, party sang-weergawes daarvan.

Hier is die gedig:

Ai, Margarida,

Se eu te desse a minha vida,

Que farias tu com ela?

— Tirava os brincos do prego,

Casava c’um homem cego

E ia morar para a Estrela*

 

*’n Deftige distrik in Lissabon naby die parlementsgeboue.

Ai, Margarida

As ek jou my lewe gee,

wat sal jy daarmee maak?

Dan vat ek my oorringe uit die pandjieswinkel

trou met ’n blinde man

en gaan bly in Estrela*.

Maar, Margarida,

as ek jou my lewe gee,

wat sal jou moeder sê?

– (sy ken my baie goed.)

sy sal sê daar’s baie dwase in die wêreld

en dat jy ook een is.

En, Margarida

as ek jou my lewe gee,

deur werklik te sterf?

–           Ek sal na jou begrafnis gaan

maar ek sal dink dit is ’n fout

om te probeer bemin sonder om te lewe.

Maar, Margarida

as hierdie oorgawe van my lewe aan jou

maar net poësie is?

Dan kom daar niks van nie, boet.

Klaar en gedaan.

Hier maak ons nie so nie.

Nota: Al die gedigte in hierdie essay is uit Portugees deur De Waal Venter vertaal.

  •