Posts Tagged ‘De Waal Venter essays’

De Waal Venter. Agter die kap van Tranströmer se byl

Thursday, July 9th, 2020

 

 

Tomas Tranströmer, die Sweedse Nobelpryswenner vir Letterkunde in 2011, se siening en vertolking van die wêreld en werklikheid om hom transendeer die beperkinge van ’n bepaalde land, kultuur en taal. Dit bied ’n universele kyk op die lewe wat in die meeste van sy gedigte spruit uit die waarneming van ’n alledaagse verskynsel: landskap, ’n voël, die see, ens. Die gedig word dan opgebou uit hierdie oënskynlik eenvoudige begin.

Met die lees van ’n Tranströmer-gedig word die leser dieper en dieper in die vreemde denkwêreld van die digter ingelei en algaande ontdek mens die onverwagte verwantskappe wat daar bestaan tusssen entiteite en begrippe; en hoe ons as mense in verband staan met die wêreld om ons.

In die volgende kort gedig kom die leser die abstrakte idee van herinneringe teë wat onder Tranströmer se hand lewende entiteite word wat kan sien en asemhaal.

 

Minnena ser mig

 En junimorgon då det är för tidigt

att vakna men för sent att somna om.

 

 

Herinneringe kyk vir my

Een oggend in Junie wanneer dit te vroeg is

om op te staan, maar te laat om weer te slaap.

 

Ek moes uit die struike kom, versadig

met herinneringe, en hulle oë volg my.

 

Hulle is onsigbaar, hulle versmelt heeltemal

met die agtergrond, presies soos ’n trapsuutjies.

 

Hulle is so naby, ek hoor hulle asemhaal

die voëlgeluide is oorverdowend.

 

Om beter te verstaan

Elke vertaler het sy eie benadering tot vertaling en werk vanuit ’n eie filosofie ten opsigte van hierdie moeilike bedryf. Hoe kan jy ’n greep kry op die digter wat jy wil vertaal, se werk? Hoe kom mens agter die kap van die byl? Een van die strategieë wat ek volg om ’n digter beter te verstaan, en dus beter te vertaal, is om gedigte te skryf in die styl en toonaard van die bronteks, om as’t ware te skryf asof ek die oorspronklike digter is.

John Dryden (1631 – 1700), die groot Engelse digter, dramaturg, kritikus en vertaler en die eerste Poet Laureate, het hoofsaaklik uit Latyn vertaal. In die sewentiende eeu was dit algemeen aanvaar dat klassieke Latyn en Grieks die tale van fyn beskawing is en modelle is waarvolgens ’n goeie skrywer moes skryf. Dryden het interessante menings gehad oor vertaling. Sy idee van “imitation” is hier ter sake.

John Dryden oor nabootsing of naskrywing*:

“I take imitation of an author … to be an endeavour of a later poet to write like one who has written before him, on the same subject; that is, not to translate his words, or to be confined by his sense, but only to set him as a pattern, and to write, as he supposes that author would have done, had he lived in our age, and in our country.”

Ek het hierbo gepraat van die tegniek wat ek aanwend om ’n digter wie se werk ek wil vertaal, so goed as moontlik te verstaan en te internaliseer. Die doel is om ’n ’n gedig te skryf wat so oortuigend is dat dit miskien sou kon gesien word as ’n gedig van die Sweedse meester. Dit moet as’t ware in die spore volg van die digter wie se werk vertaal moet word.

Ek praat dus van ’n “volgvers”, ’n vers wat die aard en gevoelswaarde van ’n ander digter so noukeurig as moontlik volg. Om dit te demonstreer, volg hier nou so ’n gedig wat ek geskryf het. Dit is in die styl van ’n tipiese Tranströmer-gedig geskryf en is gebaseer op die tweede strofe van sy gedig “Afgesonderde Sweedse huise”. Maar eers Tranströmer se gedig.

 

Svenska hus ensligt belägna

 Ett virrvarr av svarta granar

och rykande månstrålar

 

 

Afgesonderde Sweedse huise

 

‘n Wirwar van swart spardenne

en smeulende maanstrale.

Hier onder lê die kleinhoewe

en dit lyk leweloos.

 

Tot die oggend-dou murmel

en ‘n ou man sy venster

met bewende hand – oopmaak

en ‘n uil uitlaat.

 

En in ‘n ander rigting

staan ‘n nuwe gebou en stoom

met die wasgoed-skoenlapper

fladderend op die hoek.

 

In die middel van ‘n sterwende woud

waar die vermolming

deur ‘n bril van sap

die bedrywigheid van houtboorders lees.

 

Somer met vlasblonde reën

of ‘n enkele donderwolk

bokant ‘n hond wat blaf.

Saad skop in die aarde.

 

Oproerige stemme, gesigte

vlieg in telefoondrade

op verkrimpte vinnige vlerke

oor die vleiland myle.

 

Die huis op ‘n eiland in die rivier

broei op sy klipfondament.

Aanhoudende rook – iemand verbrand

die woud se geheime papiere.

 

Die reën wentel in die lug.

 Die lig slinger in die rivier.

 Huise op die hoogte hou toesig

oor die waterval se wit osse.

 

Herfs met ‘n swerm spreeus

wat die dagbreek skaakmat.

Mense beweeg styf

in die lamplig se teater.

 

Laat hulle geen vrees ken nie

die gekamoefleerde vleuels

van God se energie

opgekrul in die donker.

 

Religieus by uitsondering

Tranströmer roer ’n hele paar punte aan in hierdie gedig. Behalwe die ou man en die uil is daar die aanduiding van ander mense, die ander huis met wasgoed aan die lyn. Dan kom die natuurbeelde, die woud, vermolmde hout, saad in die grond, wolke. Dan weer tekens van die mens in die landskap, die telefoondrade en die huis op die eiland. Aan die einde van die gedig kom ons uiteindelik ander mense teë – maar hulle is “styf” en laat mens dink aan marionette soos hulle beweeg in die “lamplig se teater”.

Hierdie is een van die min Tranströmer-gedigte waarin ’n religieuse element eksplisiet en duidelik na vore kom: “God se energie opgekrul in die donker”.

Ek het ’n “volgvers” geskryf wat konsentreer op net twee van die idees wat in die Sweedse gedig voorkom. Die ou man en die uil. Hier is die gedig:

 

Uilgesprek

 

Vanoggend sluimer die huise nog.

die uil kyk

die vreemde dag in.

 

Stadig syfer

die donkerte weg

in die mond van gister.

Sneeu is die wit van wange

net waar die son skyn,

elders is dit blou

en byna die swart

van die Baltiese See in Desember.

 

Die ou man

kyk uit deur die krakende luik,

soekend na die uil.

Hulle het ’n gesprek gedroom

wat nie afgesluit is nie.

 

Die gesprek is ’n trein

wat deur die nag geloop het,

alle sinjale geïgnoreer het.

 

Die wind leun

’n stuk bleek koerant teen die heg.

Daar is ’n opskrif:

Dit is gevaarlik

om asem te haal.

 

Ek het ook ’n tweede volgvers geskryf wat ander klemme lê, Die ou man en die uil bly sentrale karakters.

 

Bestuiwing

 

Die ou man

in sy hemelsblou huis

maak die venster oop

en laat die uil uitvlieg.

Hoër en hoër vlieg die uil.

Onder hom

trek die landskap saam,

’n kuslyn verskyn, dan

word die ronding van die aarde sigbaar.

Vastelande staan bruin uit

teen die donkerblou see.

Die aarde is ’n groot bol,

geil van lewe

in die swart heelal.

 

Kleiner en kleiner

word die bol

tot dit ’n ligpunt is

tussen eindelose ander.

 

Die uil vlieg

onvermoeid

tussen die sterre deur,

swenk weg van suiende donker kolke,

ver verby woedende novas,

draai rond hier en daar

om sonne met troppies planete,

soek

na nog ’n uil.

 

Die byl kap

Om mee af te sluit, bied ek ’n derde volgvers wat ek geskryf het in navolging van Tomas Tranströmer. Hierdie een verwys nie direk na ’n spesifieke gedig of strofe nie. Hierin het ek daarna gestreef om die soort beelde en atmosfeer te skep wat ek dink Tranströmer sou kon gebruik het.

In hierdie gedig kom daar ’n ontmoeting en ’n gesprek voor tussen ’n mens, die weduwee, en ’n voorwerp, die klavier. Dit is die soort terloopse surrealisme wat tipies is van die Sweed. In sy gedig, “Die paleis” is daar iets soortgelyk. Die spreker in daardie gedig beland in ’n groot, leë saal waar daar ’n standbeeld van ’n perd is. Maar in die loop van die gedig blyk die standbeeld lewendig te wees en het baie duidelike en sterk menings van sy eie.

Ek verbeel my ek sien Tranströmer, met ’n byl in die hand, kap aan ’n dennestomp, besig om ’n beeld daaruit te dwing. Ek kyk en kyk en verbeel my ek begin effens agter die kap van sy byl te kom.

 

Morgon och piano

Det är kallt nog

för havet att tysta

gråmusik med vita måsar,

spridna musik noter.

 

Oggend en klavier

 

Dit is koud genoeg

vir die see om stil te lê,

grys bladmusiek met wit meeue

as verspreide note.

 

Die klavier kom met swaar pote

afgestap teen die steil trappe

na die hawe.

Dit neurie ’n andante

wat Chopin nooit gekomponeer het nie.

 

Onder op die kaai

gaan staan die klavier kortasemig

en knoop ’n gesprek aan

met ’n weduwee wat nog daar wag

vir niemand wat kom nie.

 

Die Baltiese lug

val uit oor die landskap,

nog klam van die seeswelling

om die kus van Runmarö.

 

Uiteindelik laat die klavier die weduwee toe

om ’n paar note te druk –

hulle beweeg stadig weg

die yl oggend in,

geklee in die donker pakke

van afgetrede skeepskapteins.

 

 

* Uittreksel uit John Dryden se “preface to his translations of Ovid’s Epistles, 1680”.

 

De Waal Venter. Maar die vensters bly heel

Wednesday, November 2nd, 2016

tomas-transtromer

Maar die vensters bly heel

Bespreking van enkele gedigte van Tomas Tranströmer

 

Die Sweedse digter, Tranströmer, het in 2011 die Nobelprys vir Letterkunde ontvang. In die sewentigerjare het sekere digters hom daarvan beskuldig dat hy verwyderd van die werklikhede van die tyd geleef het. Hulle het dit beweer omdat Tranströmer nie sosiale en politieke kwessies direk in sy gedigte aangespreek het nie.

Ander skrywers het hom verdedig en getoon dat sy poësie gegrond is in die Modernistiese, Ekspressionistiese en Surrealistiese tradisies van die twintigste eeu. Daar is gesê dat sy oënskynlik eenvoudige beelde uit die alledaagse lewe en die natuur, ’n mistieke insig bied in ’n wye reeks aspekte van die menslike psige.

Sy gedigte handel dikwels oor fragmentasie en isolasie: “He has perfected a particular kind of epiphanic lyric, often in quatrains, in which nature is the active, energizing subject, and the self (if the self is present at all) is the object,” volgens die poësie-kritikus Katie Peterson in die Boston Review.

Hier is een van Tranströmer se bekendste gedigte waarin mens hierdie eienskappe van sy oeuvre kan sien:

 

Allegro

Jag spelar Haydn efter en swart dag

och känner en enkel värme i händerna.

 

Oh stenarna rullar tvärs igenom

men varje ruta förblir hel.

 

Ek speel Haydn na ’n swart dag

en voel ’n ligte warmte in my hande.

Die klawers wil. Sagte hamers slaan.

Die klanke is groen, lewendig en stil.

Die klanke sê vryheid bestaan

en dat iemand nie die keiser belasting betaal nie.

Ek steek my hande in my Haydn-sakke

en maak of ek die wêreld kalm bekyk.

Ek hys die Haydn-vlag – dit beteken:

“Ons gee nie in nie. Maar soek vrede.”

Die musiek is ’n glashuis op ’n afdraande

waar klippe vlieg, klippe rol.

En klippe rol dwarsdeur

maar die vensters bly heel.

Helder surrealisme

Die surrealistiese kwasstrepe in die gedig is op ’n eienaardige manier nie so ondeursigtig en verwarrend as wat surrealistiese poësie en beeldende kuns soms kan wees nie. Dit belig die gedig op ’n wyse wat nie die intellek aanspreek nie, maar die onbewuste. Die digter se onbewuste praat direk met die leser se onbewuste.

“En klippe rol dwarsdeur

maar die vensters bly heel”.

Probeer nou hierdie toneel logies verklaar. Dit bly wegglip onder die loep, maar gee ’n helderheid aan die gedig wat moontlik glad nie met ’n “logiese” stelling bereik sou kon word nie.

In die volgende reëls sien mens hoe die self, die “ek” in die gedig, neig om die objek te word, die rol van die subjek af te lê:

“en voel ’n ligte warmte in my hande.

Die klawers wil. Sagte hamers slaan.”

Die klawers “wil” (het ’n wil van hulle eie) en dit is asof húlle die musiek speel, eerder as die “ek” in die gedig.

Die volgende gedig is in Sapfiese strofes geskryf. (Hierdie vorm is deur die vroegste Griekse en Romeinse digters, onder andere Catullus, beoefen. Die strofes is vierreëlig en bestaan hoofsaaklik uit daktiele en trogees.)

Met die vertaling het ek nie probeer om die ritmiese patroon te volg nie en eerder gekonsentreer daarop om die helderheid en evokatiewe krag van die Sweedse gedig te probeer weergee. Hier sien mens die natuurbeelde wat die leser kan lei tot insigte en begrip van aspekte van die menslike psige.

Die ou eikeboom word ’n roerlose takbok wat ver uitreik oor die Septembersee – ’n wintersee, dus, in die noordelike halfronde. Hierdie uitreiking word verdiep in die tweede strofe, tot ver buite die aarde – tot by die sterre.

Die sterrebeelde wat “stamp in hulle stalle” laat mens onwillekeurig dink aan Van Wyk Louw se “Beeld van ’n jeug: Duif en perd”:

“die staldeur se dik grendelblok uit die mikke.

Dit runnik daarbinne, sag, en die pote

stommel en glip op die ronde stalklippe;

dan beur hy die deur uit, die swart grote,”

 

Storm

Plötsligt mötervandraren här den gamla

jätteeken, lik en förstenad älg

 

Skielik kom die stapper af op ’n geweldige ou

eikeboom, ’n roerlose takbok, met

sy kroon wat ver uitstrek oor die Septembersee

se swartgroen vesting.

 

Noordestorm. Nou is die tyd wanneer die lysterbessie

in trosse ryp word. Wanneer jy in die donker wakker word

hoor jy die sterrebeelde stamp in hulle stalle

hoog bokant die bome.

Versteend of roerloos? 

In hierdie vertaling het ek doelbewus afgewyk van die letterlike betekenis van ’n woord in een reël:

“Plötsligt möter vandraren här den gamla

jätteeken, lik en förstenad älg”

 

“Skielik kom die stapper af op ’n geweldige ou

eikeboom, ’n roerlose takbok”

 

In ’n Duitse vertaling is dit:

“Rieseneiche, gleich einem versteinerten Elch”

En in ’n Nederlandse:

“reuzeneik, als een versteende eland”

Laastens in Frans:

“chêne géant, pareil à un élan de pierre”

In Duits, Frans en Nederlands hou die vertalers by die letterlike “versteende” vir die Sweedse “förstenad”.

In die oorspronklike gedig is daar ’n reeks metafore wat op mekaar volg. Die eikeboom verander eers in klip (versteen), dan word dit ’n takbok en dan weer terug na eikeboom met takke wat ver oor die see uitstrek.

Ek het verkies om die metafore ietwat meer vatbaar te maak deur die woord “roerloos” te gebruik, eerder as “versteen”. Na my mening maak dit die bok meer geloofwaardig soos hy, tipies van ’n boek, roerloos bly staan as hy gevaar vermoed.

Maar ’n leser kan gerus “versteend” lees as dit meer sin maak!

 

Japanse invloed

Tranströmer het as jong digter haikoe geskryf en sy poësie herinner mens nogal aan die gestrooptheid en skerp eenvoud van sekere Japanse style. In daardie opsig herinner dit ook aan die musiek van Arvo Pärt. Hier is die slotreëls van die gedig “Twee stede”:

 

Två städer

Jag simmar ut i trance

på glittrande mörka vattnen.

 

Ek swem uit in ‘n beswyming

op die glinsterende donker waters.

‘n Dowwe tuba-klank dring in.

Dit is ‘n vriend se stem, vat jou graf en gaan.

 

Weer sien mens sterk surrealistiese trekke in “swem uit in ’n beswyming” en veral in “vat jou graf en gaan”.

Een van Tranströmer se bekendste gedigte is ’n beskrywing van ’n doodgewone gebeurtenis, ’n egpaar wat gereed maak om te slaap in ’n hotelkamer. Die digter transformeer hierdie situasie in iets wat mens ’n kyk gee in die psiges van hierdie twee mense, sonder dat een van hulle ’n woord sê.

 

Paret

De släcker lampan och dess vita kupa skimrar

ett ögonblick innan den löses upp

 

Die paar

Hulle skakel die lamp af en die wit bol

gloei ’n oomblik terwyl dit oplos

soos ’n pil in ’n glas donkerte. Dan opstyg.

Die hotelmure skuif op in die donker lug.

Die hartstog het bedaar en hulle slaap nou

maar hulle geheime gedagtes ontmoet

soos wanneer twee kleure ontmoet en inmekaar vloei

op die nat papier van ’n kind se tekenboek.

Dis oral donker en stil. Maar die stad krimp nader

in die nag. Vensters word uitgewis. Huise kom nader.

Hulle staan saamgedring en wag, baie naby

’n klomp mense met uitdrukkinglose gesigte.

 

Verruim en verdiep

Die fotograaf en skrywer, Teju Cole, het onder andere die volgende te sê oor Tranströmer se werk:

The images with which Tranströmer charges his poems bring to mind the concept of “acheiropoieta,” “making without hands”; in Byzantine art, acheiropoeitic images were those believed to have come miraculously into being without a painter’s intervention. The Shroud of Turin and the Veil of Veronica are the most famous examples.

These were images registered by direct contact, and they were usually images of the Holy Face of Christ. (Albrecht Dürer, in his immodest way, was alluding to such images when he painted his deliriously detailed full-frontal self-portrait of 1500.) I feel Tranströmer’s use of imagery is like this, and like contact printing, in which a photograph is made directly from a film negative or film positive.

There is little elaborate construction evident; rather, the sense is of the sudden arrival of what was already there, as when a whale comes up for air: massive, exhilarating, and evanescent.

Tranströmer se poësie illustreer op besonders wyse die begrip dat ’n gedig sy ontstaan het in die onbewuste en nie “uitgedink” kan word nie. In die gedig hierbo word die leser feitlik teen wil en dank “ingevoer” in die gedig. Jy sien hoe die lig soos ’n pil oplos en dan begin die stad “naderkrimp”. Die wêreld word kleiner om jou en daardie mense met uitdrukkinglose gesigte – jy weet hulle het iets om vir jou te sê, en hulle gaan dit sê.

Tomas Tranströmer is ’n groot digter wat elke leser se lewe kan verruim en jou insigte kan verdiep.

 

*Die gedigte in hierdie essay is uit Spaans vertaal deur De Waal Venter.

 

© De Waal Venter / 2016

  •