Posts Tagged ‘De Waal Venter gedig’

De Waal Venter. In waansin het ek gevra

Thursday, July 15th, 2021

 

 

“Vlakvulling II” M.C. (Maurits Cornelis) Escher 1957

 

In waansin het ek gevra. NP van W Louw

 (Uit die bundel: Alleenspraak, 1935)

Herr du mein Gott, was gehen mich die
Gesetze der Natur und Arithmetik an?

 

In waansin het ‘k gevra, o God

vir my die vrede van die ster,

om bo die berge stil te woon,

die wêreld onder dof en ver.

 

***

 

In waansin het ek gevra

 

Tuna byt die water in, bo

oor die swaan in die waan dat wit

die kleur is van olifante, al sê die koerante wat

’n kameel swart laat voorkom, nes ’n boeddha sonder

klere rustig by die wit stertvere van

’n haan sonder waan dat hy altyd kan onder-

skei tussen walrus en donker padda leunend teen

die spitse ore van die meisie wie se glim

lag

jou laat in die waan dat

’n vol

struis niks weet van die Recuerdos

de la Alhambra terwyl dit stewig

staan, geplant op die ki-

taar rustend op  die stert van ’n tok

kelossie en ’n trieste tipe pelikaan on-

der ’n ongedierte buigend onder die hand van

die meisie ver maar tog geneties ná

aan die besorgde kreef hang-

end oor die esel wat eens die Mes-

sias hoog deur die skare gedra het in

die waan dat hy net sy werk doen maar

nou weet ons die een vorm die ander, waar

jy lig is, is ek donker om

jou te wys waar dit waar is sodat

jy jou waan beter

kan verstaan.

 

© De Waal Venter, 2021

 

De Waal Venter. Yl raamwerke van ons drome

Saturday, February 13th, 2021

 

Foto: De Waal Venter

 

 

Yl raamwerke van ons drome

 

 Teen die aand

fluister die bome

van hartseer

maar ook van die uitbundige blydskap

dat daar son was.

 

Hartseer

oor dié wat geval het

en in die grond

oorgee aan nuwe lewens.

 

Hulle fluister

van die sagte reën

wat tussen hulle blare

ingeval het

met saaklike teerheid –

verpleegsters

wat weet dat die lewendes sterf

en dat daar altyd

nuwe groei kom.

 

Hoe later, hoe stiller

fluister die bome,

stiller in die sterker nag

tot ons agterkom

dit is die yl raamwerke

van ons drome.

 

© De Waal Venter, 2021

 

De Waal Venter. Uitverkiesing van spesies

Wednesday, February 3rd, 2021

 

 

 

 

Uitverkiesing van spesies

 

 Hoenders kyk na mekaar

en peil

hulle teenstanders.

 

In die diep kuile

van die riviere

sweef seekoeie plegtig

deur die skemer water.

 

Pikkewyne stap penregop

waterkant toe

asof op pad na ’n idee,

diep ingedagte oor die inhoude

van hulle toesprake,

kundig gevou

met die prag van origami.

 

Muskiete hang aan die helikopters

van hulle skellende vlerke,

tuur af in die nag

na die landskap onder,

soek teikens

wat sonder verdediging

weerloos lê.

 

Katte loop tussen

hande deur,

verdra dit maar

om die lomp voedselverskaffers

se bonkige plesiere

ter wille te wees.

 

’n Klein persentasie mense

kom in hulle drome

af op waarhede:

grense tussen genusse

is lukraak,

hondesiele besit stemreg,

en hulle stem –

nou en vorentoe

in die uitverkiesing

van spesies.

 

© De Waal Venter, 2021

 

 

De Waal Venter. Net pietersielie

Thursday, January 21st, 2021

 

 

 

Net pietersielie

 

Net pietersielie

en ’n takkie

suurlemoen-verbena.

 

Roket se neutegeur

in jou mond

en donker, diep

koffie by jou neus.

 

Net kanferfoelie

en ’n blaartjie

van tamatie

het jy nodig.

 

Het jy nodig

om mens te wees,

te weet jy is hier

saam met

haar

wat ruik soos weilande,

die glimlag van appelkose,

nat grond na die reën,

vars sonskyn deur die klam wolke.

 

Net pietersielie

en die ander klompie

het jy nodig

om hier te wees.

 

© De Waal Venter, 2021

 

 

De Waal Venter. Lynreg

Thursday, November 5th, 2020

 

Korona-gedigte

 

Lynreg

 

Deur die vel

steek die angel,

spuit die gif

in die vleis.

Deur die lap

steek die naald,

trek ’n garing

in en uit.

In die spier

steek die naald,

spuit die teenmiddel

in die bloed.

Deur die leer

priem die els

in die maak

van die skoen.

Deur die lyf

dring die strale

en wys die bleek bene.

Deur die modderwater-spoeling

van gedagtes

skiet insig,

’n helder lyn

na die anderkant

van dink.

 

© De Waal Venter, 2020

 

De Waal Venter. Twee gedigte

Monday, April 20th, 2020

 

Rakelings

 

Voel hoe lig

hang

die nuanse

van angs,

suggestie

van vreugde,

naby mekaar.

 

Raak die een die ander,

word dit weemoed.

Nooit kan ons mekaar

in diepte ken nie

 

 

Opstanding van die verslape digter

 

Dit is mos maar so,

jy kan eintlik amper nie anders nie

as om hierdie varsgesnyde dag

in te stap nie.

 

Dit is miskien of jy amper half uitgelag word

deur daardie tortelduif

wat op die takkie hurk

van die koorsboom.

Sy bek trek so effens skeef

van sy glimlag se spot.

Is dit ooit ’n duif?

 

Nee, vandag is tog eintlik maar darem regtig heeltemal

’n lekker een om in te leef –

kyk daardie wit wolkies

wat lyk of hulle skaapkraal toe kom,

half holderstebolder oor mekaar.

 

En ek ruik koffie

wat my half heeltemal nogal regtig amper laat begin sing

van lekkerproe

en netnou se lekkerkry.

 

Ja-nee, mens moet darem regtig miskien half dink

aan opstaan en môre sê vir mekaar,

maar nou moet ek ophou skryf,

die papier is amper klaar.

 

© De Waal Venter, 2020

 

De Waal Venter. Gedigte oor sterflikheid en verganklikheid 2

Monday, January 7th, 2019

Elke dag word gister

.

Vandag het opgedaag,

oënskynlik boordensvol energie,

daadkrag en dinamiese planne.

.

Hy gaan sit voor my,

klap die rekenaar-tablet oop

en wys my sy beplanning

wat rondpronk in helder Oled-kleure.

.

Maar dit is vir my ál

of daar iets geforseerds is aan hom.

As hy voel na iets

in sy formele baadjie se binnesak,

ruik ek Boxer-tabak;

my oupa het die geurige kerwinge

met sy duim in sy pyp vasgedruk.

Die vuurhoutjie se swaelslag

het my neus ’n speelse klap

op die blad gegee.

Dan die wit rook

met die geur van ou beplannings,

saamgedring en beliggaam

uit die lippe van my oupa.

.

Die dag wil my die hele dagplan laat deurwerk,

maar ek sien hom nou

in sy werklike wese.

Hy dra nie meer ’n pak nie,

maar ou plaasklere.

Sandale wys sy lang tone

en ek dink die Bybelse Petrus

het so gelyk.

Hy praat saam met die oubaas

oor waar die beeste vandag gaan loop,

en hoe hulle gaan regmaak vir die dip.

.

Hy kyk na my,

en sy gesig, bruin soos die grondpad

na die mielieland,

verander nie,

maar ek weet hy glimlag.

Woorde is vir hom kap met ’n byl,

elkeen moet reg kap in die hout,

indring in die stomp,

anders mors jy jou krag.

.

Maar nou vra hy:

Jy’t vroeg opgestaan saam met oubaas?

Ek knik, want nou voel woorde, die byl,

vir my te swaar om op te tel.

Hy draai om, om te gaan werk, en sê:

Dis goed so, want vanaand kom,

vir ons almal,

vir jou ook.

 

***

 

Lewe uit dood

.

Die stad is dood.

Daar is niemand in die strate nie.

Die verkrummelende geboue is bruin.

Binne die huise is daar die nietighede

van verlate persoonlike besittings.

’n Hardloopskoen

lê roerloos

langs ’n hopie gekreukelde klere.

’n Glas water,

eienaardig onaangeraak

op ’n vensterbank

met gebreekte ruite.

Alreeds word die substansie van die stad

omgesit in eenvoudiger verbindings,

dit sak stadig die grond in

om nematodes, bakterieë,

erdwurms en ander honger kreatuurtjies te voed.

Hierdie stad sal herrys,

maar in ’n ander gedaante – ex terra semper aliquid novi.

 

© De Waal Venter. 2018

De Waal Venter. Riglyne tot gebed

Friday, October 12th, 2018

Riglyne tot gebed

 

My gedagtes wat wyd rondloop

begin stadig naderstaan

om die klip.

 

Dit vat langer vir party

om by te kom,

want hulle was baie ver.

 

Een het gesit en kyk

hoe ’n vrou

grassaad tussen haar hande vryf

tot daar ’n hopie lê

op die velletjie voor haar.

 

’n Ander een

het met ’n stok

(toegegee, nie ’n baie geskikte instrument nie)

gesteek-steek in die los grond

in die stikdonkerte

van ’n sonlose deel van die maan.

Hy het die los grond opgetel

(handskoene aan, natuurlik)

en in die skerp lig van sy flits

gesoek na yskristalle.

Ja, hier en daar het iets geblink.

 

Uiteindelik was naastenby almal

rondom die klip bymekaar.

 

En nou dat ons bymekaar is?

Nou stap ons in,

sê die sterk een wat uit die niere kom.

 

Ons stap in.

Binne welf die blou kristalplafonne

hoog bokant ons.

Waterpoele lê stil

soos slapende koeie

in kristallyne holtes.

 

’n Luggie trek en streel oor ons neuse.

Hier binne

kan mens bid.

Dink net baie mooi

wat jy wil vra.

Jou gebed bly net hier.

 

© De Waal Venter. 2018