Posts Tagged ‘Der Erlkoenig’

Andries Bezuidenhout. Teen digterlike tangverlossings

Wednesday, July 15th, 2009

(… of dalk eerder narsissistiese notas oor waar my liefde vir poësie miskien vandaan kom, al stel niemand waarskynlik daarin belang nie – and good on them!)

 

‘n Vraag wat Louis Esterhuizen nou die dag vra sit my aan die dink oor waar my liefde vir gedigte vandaan kom. Hoekom koop mense digbundels? Of erger, hoekom lees hulle selfs daardie bundels? Of die alleverskriklikste moontlikheid: Hoekom slaan mense hul eie hande aan gediggies? Hoekom sal énigiemand hom of haar aan iets só pretensieus skuldig maak?

Ek onthou hoe Christo van Staden (Die Perdeby se kunsredakteur in die vroeë 1990s) uitgevaar het teen die Boheme wat in die Universiteit van Pretoria se koffiekroeg sit en “insipid poetgy uitguil” terwyl hulle vir mekaar vra “skgyf jy ook gedigte as jy depgressed is?” Ek hoop nie hy’t na my verwys nie. Ek dink hy het niemand minder as Breyten Breytenbach as ʼn ware digter gereken nie. Helaas, dit laat nie veel mense oor nie. As student het ek meestal geskryf as ek dronk of hoog is, maar danksy Christo sukkel ek nou nog om die term “digter” op myself van toepassing te maak.

Terug by Louis se vraag. Waar kom ʼn mens se liefde vir poësie vandaan? Dis iets wat mense wat hier rond boer as vanselfsprekend aanvaar, maar ek wonder nou al ʼn hele ruk daaroor.

Aanvanklik het ek oor my oupa Andries Rossouw se invloed nagedink. Hy was een van daardie outydse skoolhoofde. Hy was baie lief vir Afrikaans, dalk juis omdat hy amper Engels geword het in die strate van Belgravia en Bedfordview in Johannesburg, waar hy grootgeword het. Hy was in ʼn Engelse laerskool en al sy vriende was Engelssprekend, of van ander Europese lande. Hy is egter Helpmekaar toe vir hoërskool, waar hy vir die taal “gered” is. Soos hy eens geskryf het: “Ons was op pad om Rooinekkies te word, maar my leerlingskap by Helpmekaar was die reddende invloed met die gevolg: O moedertaal, o, soetste taal, jou het ek lief bo alles.” In die laat-20s en vroeë-30s hy aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer, met Afrikaans en Duits as hoofvakke.

Gits, as ek nou só na my familiegeskiedenis kyk, lyk dit nogal donker. Duits in die 1930s. Ek het ook Duits as vak op skool gekies. My ma het altyd gesê ʼn mens leer jou eie taal deur ander tale ken. Maar hoekom juis Duits?

Ek onthou hoe my oupa “Der Erlkönig” kon voordra. As hy aan die einde by “In seinen Armen das Kind war tot” kom, was daar trane in sy oë. Ek het ook trane in my oë gehad as hy my hand styf vasdruk, my reguit in die oë kyk en “ek hou van ʼn man wat sy man kan staan” voordra. Tranerigheid is ʼn eienskap wat ek seker van hom geërf het. (Aan die ander kant, hulle sê mense wat met ʼn tangverlossing die lewe ingesleep is, is van nature hartseer.) Nietemin, alhoewel ek nog nooit goed was met die bars kyke en die handdrukke van ware mans nie, moes my oupa se liefde vir digkuns tog iewers spore gelaat het.

Toe, nou die dag in ʼn gesprek met Carina Stander op haar blog, noem sy my “Driesie van die binneland”. En net daar gaan ʼn ou laai van my brein se leggerkas oop en onthou ek ʼn hele aantal “rympies” (“Driesie van die binneland, het gaan kuier by die strand, so sonder broek of sonder baadjie…”). Ek dink dit kom uit die Kleuterverseboek. Ek besef toe dat my ma reeds by ons as kleuters ʼn liefde vir rym en metriese taal gekweek het. Miskien is die Kleuterverseboek die belangrikste boek in enige huishouding met kinders. My ma het ons ook geleer hoe om na musiek te luister, om die verskillende instrumente in ʼn simfonieorkes te identifiseer. Ek het talle kere met klavierlesse met haar as instrukteur begin, maar weer opgehou daarmee. Ek wou komponeer voor ek toonlere kon speel. Ek het note neergeskryf en my ma dan beveel om die komposisies te speel. Helaas, die resultaat was afgryslik.

My ma se wysheid het verder as digkuns en musiek gestrek. Sy het ook gesê ʼn mens moet realisties kan skilder voor jy abstrakte werke aanpak; advies wat ek weereens tot my eie nadeel ignoreer het. (Hier moet ek darem byvoeg dat ek weens my pa se homofobie nie toegelaat is om kuns as vak op hoërskool te neem nie. ʼn Seun met ʼn verfkwas in die hand sukkel blykbaar nog meer om sy man te staan.)

My ma het ons as kinders ook aan die teater voorgestel. Ek onthou hoe ontsteld sy was omdat die gehoor op al die plekke in “Pa, maak vir my ʼn vlieër, Pa” gelag het waar sy gehuil het. Ek het besef my ma kyk anders na toneelstukke as ander mense. Maar dalk het sy nie oor die toneelstuk as sulks gehuil nie. Ek dink ek was te jonk om te besef wat die boodskap van die toneelstuk vir my moes wees.

Ek is nou nog spyt dat ek nooit met klavierlesse volhard het nie. Die kitaar moet instaan as tweede beste. As André Letoit kon komponeer met net vyf akkoorde, kon ek ook mos! Maar dis eers later. Die punt wat ek probeer maak is dat daar belangrike kragte tussen poësie en musiek lê. Teater ook.

Op hoërskool het ek Pink Floyd en Leonard Cohen ontdek. Vir adolessente speel musiek ʼn belangrike rol om ʼn liefde vir digkuns (of ten minste die versvorm) verder te ontwikkel, dink ek. Ek sukkel deesdae om veral na die latere Pink Floyd te luister. Dis net té. Van Wish you were here en Dark side of the moon hou ek egter nou nog. Van Leonard Cohen kan ek steeds nie genoeg kry nie. Goeie wyn. Ek het sy gedigte deur sy musiek leer ken. Vir my was hy was die eerste voorbeeld van iemand wat die grense tussen liriek en poësie kon oorsteek. O ja, dan was daar Koos du Plessis se plate. My pa het hom “vrolike Koos” genoem. Hy bly ʼn meester van die liriek. Hoe kan iemand wat graag na hom luister nie ook van gedigte hou nie?

Ek dink nie die digkuns wat ons op skool gedoen het, het veel gedoen om ʼn liefde vir poësie te kweek nie. Ek weet nie of die skuld voor die deur van die keuse van gedigte gelê moet word nie. Dalk was die probleem die dodelik didaktiese wyse waarvolgens onderwysers gedigte behandel het. Ek hoop dit het verander, maar om een of ander rede twyfel ek.

Na skool en die weermag jou uitspoeg (laasgenoemde gelukkig nou iets van die verlede), ontwikkel jy in elk geval ʼn smaak van jou eie en lees jy self verder. Mense wat teen hierdie tyd nie ʼn oor vir poësie ontwikkel het nie, sal waarskynlik lewenslank doof bly.

Ons alternatiewe tipes is deur André Letoit betower en wou almal met ernstige uitdrukkings op ons gesigte en pette op ons vuil hare deur Pretoria se strate strompel. By Grapevine in Sunnyside is vele pogings aangewend om iets soos “die son loop agter die wolke deur” neer te pen. Ek onthou ook hoe iemand vir my uit Die huis van die dowe uit voorgelees het in ʼn koshuiskamer by die kunsfees in Grahamstad.

ʼn Mens moet André Letoit en Breyten Breytenbach seker nie in dieselfde asem noem nie, maar ek hoop die geskiedenis sal wys hoe belangrik Letoit, of Kombuis, was om ʼn hele generasie gedigte te laat lees. Daarvoor sal ek hom immer dankbaar bly, vir hom en vir Gert Vlok Nel. Hulle het die poësie uit biblioteke gehaal en op die straathoeke gesit.

Vat my opinie hier maar van waar dit kom. Op universiteit het ek nooit ʼn taal as vak geneem nie. Ek bly ʼn poëtiese outodidak, ʼn tref-en-trap skrywer – steeds dalk iemand wat wil komponeer voor hy sy toonlere ken. Maar ek voel nie spyt oor my getas in die donker nie. Ek stamp goeters om en kry lelike houe op my knieë. Maar ek vind my eie pad. Ons tangverlossings is dalk maar so.

Aan die ander kant is daar soveel wat ek as vanselfsprekend aanvaar. Ek het ʼn kollega wat nou nog met haar ma Afrikaans praat, maar Engels met my. Soms sien ek haar met ʼn Afrikaanse boek. Haar ma het haar ook teater toe geneem en hulle was lede van ʼn biblioteek. Tot daardie teater vir hulle toegemaak is en hulle uit die biblioteek geskop is. My oupa het hierdie onvergeeflike dade waarskynlik goedgekeur. Dis hierdie verlede – die vervreemding van meer as die helfte van Afrikaanssprekendes van die taal – wat die grootste enkele struikelblok is vir ʼn lewendige Afrikaanse digkuns. Hoe maak ʼn mens reg wat só verkeerd was? Dis seker onmoontlik. As die Afrikaanse digkuns ʼn stadige dood sterf, verdien dit waarskynlik daardie einde.

Ek het nou vreeslik afgedwaal. Wat sou die antwoord op Louis se vraag wees? Vang hulle vroeg, dink ek. Nie met tange nie. Lees eerder uit die Kleuterverseboek voor. Trek voortdurend verbande tussen musiek en taal. Iewers sal ʼn vermoede dat poësie veel meer as net pretensie is dalk posvat. Hoe kan enigiemand onaangeraak bly as hulle oor Katrina van die Bo-Kaap lees, van Martin, Diana en de lô, van Koichab se water, of van Rick Turner wat vir sy dogter sê om aan die planete te dink voor die veiligheidspolisieman hom doodskiet:

Waar stelsels eens geblink het was skroot en gruis
– ʼn donker sterrewag. Alle denkbeelde
het dié onverdeelbare bestanddele,
uiteindelik: gebreekte lens en koeël; boog, kruis.

Ek kom nou die dag op ʼn opname van Josh Ritter, een van my gunsteling singer-songwriters, af. Dis sy weergawe van Der Erlkönig, wat hy, vreemd genoeg, as “Oak Tree King” vertaal het. Ek hou daarvan, maar voel ongemaklik daaroor. Hoe kan hierdie upstart sangertjie met sy kitaar aanpak, op Amerikaanse Engels nogal, wat Schubert reeds vervolmaak het? Aan die ander kant begin ons almal iewers met ʼn reis deur taal. Ek dink die Kleuterverseboek is waar ek begin het, met iets soos: “Allenig moes ek bed toe gaan dis donker in die gang” tot by “die skelm was my eie jas wat aan die kapstok hang.”

Die bekendstelling van die nuwe uitgawe van die Kleuterverseboek hierdie week in Bloemfontein is iets waarop ons almal maar ʼn glasie absynthe (“die groen feetjie”) kan klink.

  •