Posts Tagged ‘Dewald Koen resensie’

Resensie: I wish I’d said … Vol. 3 (Johann de Lange & Goodenough Mashego Reds.)

Thursday, September 24th, 2020

 

I Wish I’d Said… Vol. 3 deur Johann de Lange & Goodenough Mashego (Reds.) Naledi, 2020.

Resensie: Dewald Koen

 

I

In 1969 verskyn die Switsers gebore psigiater Elisabeth Kübler-Ross se wêreldbekende boek On Death and Dying waarin sy haar teorie oor die vyf stadia van verdriet uiteensit. Die Kübler-Ross model omskryf die vyf stadia van verdriet soos volg: Ontkenning, Woede, Bedinging, Depressie en Aanvaarding. Gedurende die afgelope tien maande is mense regoor die wêreld as gevolg van die Koronavirus gedwing om bestekopname te neem van die wêreld waarin ons woon en die mense met wie ons ons lewe deel. Honderdduisende mense vanoor verskeie vastelande het weens die Koronavirus gesterf en gevolglik is talle geliefdes, familielede, vriende, kennisse en kollegas se lewe deur die dood aangeraak. Kübler-Ross se model is ook op talle Suid-Afrikaners van toepassing wat tydens die grendeltyd ’n vorm van verdriet ervaar het. Ten spyte daarvan dat die Skoppensboer ons daagliks agtervolg, het die dood ons gemaksone onverwags betree weens die wêreldwye pandemie.

II

Dit is gevolglik heel gepas om AVBOB se jaarlikse Poetry Project wat vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar aangebied is binne die konteks van die Covid-19 pandemie te bespreek. In sy inleiding tot die bundel I wish I’d said… Vol. 3 verwys die redakteur Johann de Lange na D.J. Opperman se Joernaal van Jorik (1949) waarin die karakter Dabor opmerk: “Ons maak maar almal ’n geraamte groot”.

Die dood ontsien niemand nie. Daagliks moet iemand êrens in die land of wêreld van ’n geliefde afskeid neem. Tydens die rouproses moet elke individu sy of haar verdriet op individuele wyse verwerk ongeag watter stadium van Kübler-Ross se model betree word. Om die gevoel van verlies in woorde om te skakel, is seker een van die mees uitdagende ondernemings. Vir digters is laasgenoemde onderneming des te meer uitdagend vanweë die slaggate van clichés waarin gedigte soos lykdigte kan verval. Gelukkig is die Afrikaanse poësie geseënd met gesoute digters wat op geslaagde wyse oor die dood dig. Digters soos Lina Spies, Petra Müller, Marlise Joubert, Joan Hambidge, Johann de Lange, Daniel Hugo, D.J. Opperman en Breyten Breytenbach (om maar enkeles te noem) het al oor die dood gedig. Dit was immers Breyten Breytenbach wat tydens een van die Tuin van Digters-feeste op Wellington opgemerk het dat “’n mens natuurlik eers seker [kan] wees dat jy regtig dood is wanneer Joan Hambidge ’n lykdig oor jou geskryf het”. AVBOB se Hoof Uitvoerende Beampte beskou die bundel as “a bereavement resource available to all South Africans, to help them craft funeral pamphlets and write eulogies”. Ek wil egter aanvoer dat hierdie bundel veel meer bevat en ten doel stel as bloot “a bereavement resource […] to help [South Africans] craft funeral pamphlets and write eulogies”.

III

I wish I’d said… Vol. 3 kan (soos in die geval van die vorige twee volumes) beskou word as ’n versameling elegiese verse wat Suid-Afrika se rykdom aan tale weerspieël. Hierdie projek is sekerlik een van die innoverendste pogings om nasiebou en versoening te bevorder deur middel van taaldiversiteit. In ’n land waar taal ’n sensitiewe onderwerp is en maklik onmin tussen verskillende taal- en/of rasgroeperings teweeg kan bring, slaag I wish I’d said… Vol. 3 daarin om Suid-Afrikaners uit die elf amptelike taalgroepe byeen te bring deur een van die mees menslikste aspekte wat almal affekteer aan te raak, naamlik die dood. Die bundel bevat verse deur ’n aantal gevestigde digters uit die elf amptelike taalgroepe asook die drie wengedigte in elke taalkategorie. Die bundel word vir alle Suid-Afrikaners toeganklik gemaak deur die vertaling van die gedigte in Engels. Deur Engels as lingua franca te gebruik, kan verskillende taalgroepe mekaar se elegiese verse waardeer en kulturele praktyke ten opsigte van die dood bestudeer.

’n Toevoeging tot vanjaar se bundel is gedigte wat in ǀXam geskryf is. Wat ’n fantastiese inisiatief om die taal wat amper uitgesterf het, te bevorder. Met Erfenisdag wat op 24 September gevier word bied I wish I’d said… Vol. 3 ’n mikrokosmos van ons diversiteit in bundelformaat aan.

IV

Vanjaar se Afrikaanse opdragverse is so divers in invalshoeke oor die dood as die bundel self. Andries Bezuidenhout, Charl-Pierre Naudé, Corné Coetzee, Loftus Marais, Marlise Joubert en Ronelda Kamfer het gedigte bygedra. As redakteur van die Afrikaanse afdeling verdien Daniel Hugo ’n pluimpie vir die keuse van laasgenoemde digters wie se verse van uitsonderlike digvernuf getuig.

In sy gedig “Lasciare suonare” gee Andries Bezuidenhout lewe aan musiek. Die polsende ritme word met elke versreël gevoel en skep ’n kakofonie van klank waaroor Abdullah Ibrahim liries sal raak. Die treffende vers lees as biografiese skets van Ibrahim se lewe en dien terselfdertyd as huldeblyk aan ’n groot gees.

 

Is hierdie kroeg ’n katedraal? Mout, umqombothi, vaaljaapdop

op systap van tromboon en trompet, saksofoon ’n kraai,

’n meeu, soms lewerik. Die riff, die rip, die run,

o, die klawers, die klawers, die klawers, man!

die stride, die stroll, die scat, Jitterbug hop, Charleston skop

blitsige jazzbriewe, bebop epistels vir hulle in tavernes

op vlaktes, in doodskadudalle, in optogte –

[…]

Eendag, maestro van stilte, sal u vir oulaas

tot buiging kom? Sal u hande ’n bede, ’n mantra palm

om die gevolg uiteindelik tot stoet op te roep?

 

Charl-Pierre Naudé se “Leukerbad in Julie” neem die leser op reis na die sprokiesagtige suide van Switserland waar toeriste hulself aan die natuurskoon kan vergaap. Die gedig neem ’n gewyde toon aan waarin die spreker die toeristebestemming met pragtige beeldspraak beskryf: “En verblindend is die pieke / wat swewend hang / soos wit heksehoede bo die pikswart windstil nag”. In “Wanneer” sluit Corné Coetzee by Naudé aan deur die natuur as tema te betrek. Coetzee se gedig kan vanuit ’n ekokritiese oogpunt gelees word waarin sy krities staan oor die verhouding tussen die natuur en die antroposeen. Sy fokus op die dood van die natuur – die mens, dier en plant se natuurlike habitat wat weens aardverwarming en besoedeling teen onrusbarende tempo uitgewis word.

 

Wanneer hulle weg is,

die ongeliefdes en die onliefhêbares,

die vaartbelyndes en die tonnelgrawers,

die hoogtrappers en die laagvliegers,

die sonsingers en dié wat in die maanlig werk,

wanneer alles wat hulle s’n was

platgestoot en omgedelf

en hulle verhonger, verdryf, vergif is,

 

dan sal ons hulle gedenk:

Onthou jy die vuurvliegies daardie een Oujaarsaand?

Onthou jy die naaldekokers?

Onthou jy die skerpioen in die speelgoedkis?

Onthou jy bye op ’n stil someroggend?

Onthou jy die ferweelwurm?

Om hemelsnaam, onthou jy die heilige skarabee?

 

En dan – sou ons nog lewe –

Sou kinders ons vra: Hoe dan so? Waddefok?

 

Coetzee slaag daarin om sonder blik of bloos die mens se onreg teenoor die natuur te verwoord. Klinkklare beelde en die gebruik van herhaling beklemtoon die boodskap wat die spreker aan die leser wil oordra.

Ronelda S Kamfer se gedig “Lykskouing” fokus op die geliefdes wat na die afsterwe van ’n dogter en vriendin op onnatuurlike wyse probeer sin maak van hul verlies. In ’n land waar geweld asook geweld teenoor vroue en kinders die norm geword het, gee Kamfer ’n spreekwoordelike stem aan die duisende verontregdes wat daagliks slagoffers van geweldmisdaad word.

 

my vriendin se ma kan haar noggie begrawe nie

sy wag vir die lykskouing

sy sê lykskouing die way iemand ’n nuwe woord sê

wat hulle nog nooit gebruik het nie

’n woord wat normal mense nie nodig het om

te gebruik nie

lykskouing stap

in my vriendin se ma se woordeskat in

soos ’n overdressed kerksuster by ’n kind se doop

ek kan sien hoe die woord oor haar smelt

waar sy sit

in die voorhuis

waar my vriendin se soet musky reuk nog

in die furniture vassit

 

Marlise Joubert se “gedagtig aan ma” lewer ’n hartroerende huldeblyk aan ’n moeder. Joubert het in haar bundel Grondwater (2019) ’n soortgelyke huldeblyk aan haar moeder geskryf naamlik “in memoriam: ma didi”. Haar gedig aan haar ma gee gestalte aan die ongelooflike verdriet en verlies wat ’n kind ervaar wanneer hy of sy ’n ouer aan die dood moet afstaan.

 

[…]

nog eenmaal, ten minste, wil ek

by jou graf besoek aflê, ma

die donker omslag in graniet weer

streel, my van jou waarde vergewis

totdat ek helende kan glo dat jou

boek in goeie aardse hande rus

 

Joubert se gedig sluit aan by Hannes Visser se elegiese vers “Vir Piet Visser (21.7.1925 – 19.7.1967)”. Visser het die derde prys in die kompetisie gewen met hierdie vers waarin die spreker op sy verjaarsdag terugdink aan sy geliefde pa. Visser het in 2019 gedebuteer met die bundel Die jaar toe pa… waarin die spreker ’n jaar van sy lewe en die verlies van sy pa met die leser deel. Die gedig “Vir Piet Visser (21.7.1925 – 19.7.1967)” staan sterk as enkelgedig en sluit op gepaste wyse by Visser se debuutbundel aan.

Loftus Marais se satiriese vers “Begrafniskitsch” is egter een van my gunsteling opdragverse. Op tipiese Maraisagtige wyse slaag hy daarin om die “komminwaarkonkreetheid” van die Afrikaner tydens begrafnisdienste met sy literêre lugdrukboor oop te bliksem. Die gedig skep ’n balans tussen die meer somber elegiese verse en die ‘ligter’ humorisitese aspek van die mens se verganklikheid sonder om afbreuk te doen aan die dood as ritueel. (Die leser moet die bundel gaan koop om hierdie gedig te kan lees – dit sal nie teleurstel nie.)

Vanjaar se bundel bevat 102 gedigte waarvan 33 deur die wenners van die onderskeie taalkategorieë asook 66 opdraggedigte in die elf amptelike tale (Die oorblywende drie gedigte verwys na die ǀXam-gedigte). Maretha Maartens het met “Perperboom”  die eerste plek in die Afrikaanse kategorie verower terwyl Marthina Broschk op haar beurt met “Swanesang” die tweede plak beklee. Al die gedigte is deur die digter en bekwame vertaler Douglas Reid Skinner in Engels vertaal.

Soos reeds genoem het Hannes Visser se huldeblyk aan sy ontslape vader die hartsnare geroer, terwyl Maritha Broschk met haar gedig “Swanesang” tragedie, kuns en dood byeengebring het. Broschk se treffende beeldspraak en gebruik van intertekstuele verwysings na Nietzsche en opera dra by tot die geslaagdheid van die gedig. Dwelmverslawing kom tematies aan bod en die stelselmatige agteruitgang van die verslaafde wat “soos ’n kwynende Odette” haar laaste dans dans, sal menige leser ontroer.

Die wengedig is getiteld “Peperboom”. Maretha Maartens bring hiermee, soos in die geval van Marlise Joubert en Hannes Visser, hulde aan ’n geliefde moeder. Maartens maak gebruik van die peperboom as metafoor vir die geliefde moeder. Die spreker beklemtoon egter dat selfs al vergaan die boom soortgelyk aan die afsterwe van ’n geliefde moeder, sal die nageslagte bly voorbestaan uit die spreekwoordelike sade wat die moeder nagelaat het. ’n Peperboom mag dalk afgesaag word, maar ’n moeder se liefde vir haar kinders is lewenslank.

 

“Geil en goed gegroei om só verwoes te word.”

Die lem vibreer deur bas en duramen

en jy, suurstofsoekend voor die venster,

kreun oor die peperboomstam wat grond toe stort.

 

Ma, jy was tog lewenslank lembestand

onknakbaar sterk en doodweerstandig

 – ons lowerryke peperboom

huisboom, groen baken van ons binneland.

 

Ons het ons honger en nood voor jou oopgegooi

en die bessies wat jy strooi soos die sysies

streepkoppies en rooirugsaadvreters opgepik.

Weet jy, Ma, daardie bessies was genesend rooi.

 

“Aan ’n peperboom,” het jy gesê, “kleef daar ’n eenvoudigheid

wat aan saadvretervoëls en koeltesoekers bied wat hulle soek.”

Toe jy gekreun het omdat die stam dwarsdeur sy pithout knak

 – ou huilboom, huisboom in jou gewaande onaansienlikheid –

 

moes ek gesê het: “Die boomsaer dink hy vát jou, Ma,

maar die takke uit jou stam sal jou peperbossies dra.”

V

AVBOB se Poetry Project dien as geskrewe simbool van Suid-Afrika se rykdom aan taal en kultuur. Die aantal inskrywings wat jaarliks groei, dien as bewys dat poësie nie ’n spreekwoordelike sterwende genre is nie. Soos die nasionale boekeredakteur van MEDIA24, Jo Prins, onlangs in sy rubriek Boekevat opgemerk het, het 2020 geen gebrek aan nuwe digpublikasies nie – kritiek ten spyt. Die Afrikaanse letterkunde begin reeds die vrugte pluk van ontluikende digters soos Lynthia Julius wat vanjaar met haar debuutbundel Uit die kroes gedebuteer het nadat sy vroeër ’n wenner van die AVBOB Poetry Project-kompetisie was. Wie weet watter opwindende jong talent nog deur middel van hierdie projek ontgin kan word? I wish I’d said… Vol. 3 is ’n geslaagde en hartroerende bundel. Die elegiese verse is omvangryk in diversiteit en die verstegniese vernuf waarmee digters met ’n onderwerp soos die dood omgaan, is prysenswaardig. Die redakteurs het hul goed van hul taak gekwyt.

 

 

 

Volg die onderstaande skakel om in te skryf vir die 2020-Avbob Poësiekompetisie. Groot kontantpryse kan gewen word:

 

https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjwy8f6BRC7ARIsAPIXOjgcXTaM8K11Sp2Zrq7gSws15ib4w4i2bySQ_

AioG2iNlcmBSb0OhiQaAmqpEALw_wcB

 

 

 

 

Resensie: Die heimlike heiligdom (Jacobus van der Riet)

Wednesday, June 17th, 2020

 

 

 

Die heimlike heiligdom deur Jacobus van der Riet. Protea Boekhuis, 2020.

Resensie: Dewald Koen

 

Die sonnet (hetsy die Italiaanse of Petrarchaanse/Shakesperiaanse sonnet) kan as een van die mooiste digvorme beskou word. Die woord “sonnet” is afgelei van die Latyn sonare wat “om te klink” beteken (Grové, 1953:123). In Nederlands word daar ook van die “klinkdicht” gepraat en dit is juis hierdie musikale klankryke aard wat die sonnet as digvorm so treffend maak. Dit is sekerlik ook een van die mees uitdagende digvorme wat aan talle reëls moet voldoen, en soos Grové tereg opmerk, maklik in ’n “leë vernufspel kan ontaard” (1953:124).

Vader Jacobus van der Riet is een van slegs twee Afrikaanssprekende geordende priesters in die Grieks Ortodokse kerk in Suid-Afrika. Naas priester is hy ook bibliotekaris en digter en het in 2012 met Die onsienlike son gedebuteer. Kenmerkend aan Van der Riet se debuutbundel is die sestigtal sonnette gebaseer op die heiliges wat deur die Oos-Ortodokse kerk gekanoniseer is. In sy jongste bundel Die heimlike heiligdom sluit Van der Riet aan by Die onsienlike son met ’n verdere vyftigtal sonnette geskoei op die die lewens van heiliges. Die argument kan dus aangevoer word dat die twee bundels ’n tweeluik vorm waarin die konsep van heiligheid, maar ook spiritualiteit ondersoek word.

Digters soos Sheila Cussons het reeds talle gedigte in haar roemryke oeuvre geskryf waarin daar veral klem geplaas word op die Katolieke geloofsbelydenis in teenstelling met digters soos W.E.G. Louw, T.T. Cloete en I.L. de Villiers waarin die Protestantse geloof prominent figureer, terwyl Breyten Breytenbach alom bekend is vir sy Zen-Boeddhistiese inslag. Dit is dus belangrik om te noem dat Van der Riet se bundel nie ’n spesifieke geloofsbelydenis wil verkondig of bevorder nie, maar bloot gedigte met die leser deel binne die verwysingsraamwerk van die Grieks Ortodokse kerk. Die sonnette is gevolglik nie slegs op religieuse lesers gemik nie, maar kan ook vanuit ’n meditatiewe perspektief gelees word. Die leser word as sulks gedwing om te besin oor die dieper boodskap binne elke sonnet en word ook aan onbekende heiliges vanuit ’n Grieks Ortodokse perspektief bekend gestel.

Die titel van die bundel sinspeel op die gewydheid van die heiliges wat vir die gewone mens bestaande uit vlees en bloed as amper verborge figure voorkom. Hierdie “heiligdom” is “heimlik” van aard. Die mens se soeke na antwoorde op vrae wat geestelik van aard is, vorm deel van hierdie ‘heimlike heiligdom’. Van der Riet bied aan die leser die spreekwoordelike toegang tot die ‘heimlike heiligdom’ deur die onbekende wêreld van die heiliges vir die leser te ontsluit.

Alhoewel Die heimlike heiligdom nie enige kleurafdrukke van ikone soos in Die onsienlike son bevat nie, is die voorplat heel besonders en esteties aanloklik. Dit sluit sterk aan by die gewyde stemming van die bundel as geheel met ’n kunswerk deur die Oekraïense kunstenaar Ivanka Demchuk se “Annunciation” – of eerder die aankondiging van die blye boodskap waarin die engel Gabriël Maria inlig dat sy ’n kind sal baar, naamlik die Seun van God. Demchuk se kunswerk sluit ook direk aan by die gedig “Die Aankondiging van die Blye Boodskap”:

 

Het die dagbreek gedui op wat hierdie dag sou bring,

die son hom met haas aan die nag se tentakels ontruk,

’n gloedrooi granaat met ’n kroon van ses punte gepluk?

Het ’n duif dringend gekoer, ’n lewerik luidkeels gesing?

 

Het soos ’n bruid ’n lelie haar stempel met skroom omhul,

oornag dalk ’n amandelboom met ’n enkele bloeisel gebloei?

Het ’n roos van Saron sy kop gelig waar daar distels groei?

Het ’n kind by die basilisk gespeel, ’n leeu van Juda gebrul?

 

Waar sy garing spin vir die weef van ’n nuwe tempelgordyn,

kon sy dink dat die hemel skielik sou open, ’n engel verskyn?

Het sy Babilon se vurige oond onthou, veral die mistige bries,

en wat van die bloeiende staf in die ark, die dou op die vlies?

Hoe kon sy weet hoe sag die voetjies in haar buik sou skop,

Hy wie se hart sy nou in haar skoot voel klop, nes ’n kneukel?

 

Dit is interessant om die bostaande gedig te lees en met die “Maria”-gedigte van onderskeidelik W.E.G. Louw, Elisabeth Eybers, Sheila Cussons en I.L. de Villiers te vergelyk. Ook Cas Vos se “Maria van Nasaret” is hier van toepassing. Reeds in Die onsienlike son het Van der Riet oor Maria geskryf in sy gedig “Die Heilige Maagd Maria, die Moeder van God”. Die gedig fokus meer op die menslike eienskappe van Maria as moeder in die wending vergeleke met “Die Heilige Maagd Maria, die Moeder van God” wat meer op die gewyde vreugde van die koms van die Seun van God klem plaas.

Die eerste ses gedigte in die bundel fokus op heiliges wat aan die meeste Christenlesers bekend sal wees, insluitend die Profeet Moses, Dawid en Lukas. Die programgedig bestaan uit drie afdelings en fokus op die lewe van “Die Heilige Profeet Moses”. Die spreker slaag daarin om die weemoedige toon van Moses se lewensverhaal en die talle uitdagings wat hy moes oorwin op geslaagde en klankryke wyse te verwoord:

 

[…]

Ontmoedige Moses, wat uitgeput klim

na Nebo se hoë kruin, beteuterd staar

na waar melk- en heuningland glim

kyk hoe blink daar ver die olyf se blaar.

 

In “Die Heilige Brandaan die Seevaarder” (ook bekend as een van die twaalf Apostels van Ierland) word die Heilige Brandaan se soeke na die Tuin van Eden uitgebeeld:

 

O Vader, altoos voor my uit in die wind en weer,

op die kruin van die golf en ook diep in die trog

op hierdie dolende Eden-soekende pelgrimstog

as my siel soos ’n kormorant oor die water skeer. […]

 

Laasgenoemde gedig aktiveer ’n intertekstuele verwysing na D.J. Opperman se agttal sonnette getiteld “Brandaan” in sy bundel Engel uit die klip (1950) wat, alhoewel dit inhoudelik grootliks van Van der Riet se interpretasie verskil, geïnspireer is uit die Middeleeuse verhaal van die reis van “Sinte Brandaan” (Grové, 1974:67). Die reismotief staan dus sentraal in beide Opperman en Van der Riet se gedig gebaseer op die Heilige Brandaan.

Opvallend omtrent die vyftigtal sonnette in die bundel is die digter se vermoë om telkens die vorm van die sonnet te verander. Laasgenoemde dra by tot die afwisseling van strofelengtes om eentoningheid te vermy. Sodoende word die sonnette nie ’n blote herhaling van die kenmerkende resepmatigheid wat met die sonnetvorm geassosieer word nie, maar bied die digter ’n unieke beeld van elke heilige – beide in inhoud, klank en vorm. Met die sonnetvorm bestaan daar altyd die gevaar dat die digter hom- of haarself aan woordoordaad of dwangrym skuldig kan maak. In dié opsig toon Van der Riet duidelike groei vanaf sy debuutbundel en word elke woord heelwat swaarder geweeg. Die bundel sluit af met ’n gedig “Die Heilige Paisios van die Heilige Berg”:

 

Jy vlieg verder, swerfvalk van God,

op jag na die tergende, lokkende prooi

wat skuil op Sinai se kruin of straks in ’n grot

aan Athos se hange, Tuin van die Nasaretnooi.

 

Vir jou, Paisios, bring die visarend vis,

in jou hand soek Walid, die rooiborsie, kos;

by jou luier die wesel, skilpad, slang en akkedis.

 

Jy sweef hoog, malmok van die Gees,

omsirkel die pole van ons gefolterde eeu

tot in jou verste vlerkveer gevoelig waar hees

die krete opklink, verwees soos dié van ’n roek of meeu.

 

Jy skrop nes, soos ’n bospatrys of ’n kelkiewyn;

naglank waak jy – hoe roep die uil, hoe huil die vos –

tot die lig deur die donker wolk van ons wanhoop skyn.

 

In die geheel is Van der Riet se jongste bundel ’n geslaagde voortsetting van sy debuut waarby religieuse sowel as spirituele lesers aanklank sal vind. Lesers aan wie die heiliges van die Grieks Ortodokse kerk onbekend is, sal die biografiese afdeling aan die einde van die bundel insiggewend vind, aangesien dit belangrike inligting oor die verskillende heiliges wat in die bundel aan bod kom, uiteensit. Die bundel word foutiewelik as “fiksie” op die agterplat aangedui – ’n aspek wat hopelik met ’n moontlike herdruk reggestel sal word. Die heimlike heiligdom is ’n bundel wat die leser tot diep besinning dwing om bestekopname te neem van die gewyde aspekte van ons geestelike en spirituele lewensbeskouing. Soos met sy debuutbundel, het Van der Riet weereens bewys dat hy oor kranige digvernuf beskik met ’n bekwame hand wat beheersd met die skryf van ’n sonnet kan omgaan. Dit is ’n bundel wat die menslike psige verryk en die ernstige poësieleser tot nadenke sal stem.

Verwysings

Grové, AP. 1953. Woord en wonder: Inleidende studie oor die tegniek van die poësie. Kaapstad: NASOU.

Grové, AP. 1974. D.J. Opperman – Dolosgooier van die woord: Saamgestel deur A.P. Grové by geleentheid van die digter se sestigste verjaardag op 29 September 1974. Kaapstad: Tafelberg.

 

  •