
Anne Vegter/ Foto Roger Cremers
As mens jou land verlaat vir ’n ander een, soos wat ek byna ʼn dekade gelede gedoen het, en jy moet jou eie bed onder ’n vreemde vlag of boom of embleem of lied opmaak, voel jy maar bedremmeld. Met nie een van die nasionale tekens van identiteit kan jy jou werklik vereenselwig nie. Jy bly maar verlang na die ligroos fluweelblare van die protea, die grasie van die bok se spring, die knop wat in jou keel kom elke keer wat jy Nkosi Sikelele Afrika hoor. Jou bed bly spreekwoordelik koud.
Maar toe, op ’n dag, vind ek uit dat Nederland nie net ’n nasionale vlag, nasionale lied, klompe, windmeulens en tulpe het nie, maar ook ʼn ‘Dichter des Vaderlands’. Dit was ’n mooi dag. As ’n land ʼn behoefte aan ’n nasionale digter het sê dit iets wat die hart van iemand wat van woorde hou summier sag maak en haar bed warm. Want soos Ramsey Nasr, die pas afgetrede Dichter des Vaderlands dit stel ‘ik ken een struik van poëzie, een veilig brandend braambos / om in weg te schuilen”. Die boodskap was vir my hartverwarmend: poësie behoort hier nie net aan ’n uitgelese groepie literatuurliefhebbers nie, nee, dit behoort aan ons almal. En dit is goed om te weet.
Elke vier jaar word daar ’n nuwe Dichter des Vaderlands aangewys. In die verlede was dit deur publieke stemming, maar vanaf vanjaar is dit met benoeming van ’n kommissie, om te voorkom dat digters groot promosie-veldtogte van stapel stuur. Byna soos die Britse Poet Laureate is die funksie van die Dichter des Vaderlands om oor gebeurtenisse of sake wat van landsbelang is poësie te maak… ʼn soort digterlike volkskommentaar op dinge wat die mense na aan die hart staan.
Toe ek net hier aangekom het was Gerrit Komrij (1944-2012) die nasionale digter en het in sy termyn, behalwe vir gedigte skryf, ook ’n poësieklub gestig, die tydskrif ‘Awater’ begin en ’n sg. Sandwich-reeks waarvoor hy gedigte van beide vergete en nuwe jong digters geselekteer het. Daarna was Driek van Wissen (1943-2010) aan die beurt, gevolg deur Ramsey Nasr (1974). Die keer toe Nasr verkies is, het meer as 20 000 mense gestem waarvan twee-derdes selfs motiverings vir hul keuses aangedui het! Ook Nasr het sy funksie mooi ingevul deur ’n CD-reeks uit te bring waarop hy ’n seleksie uit die Nederlandstalige poësie voordra, en daarby het hy ook ’n versameling verfilmde gedigte uitgebring.
Die stem van die digter mag nie eentonig of voorspelbaar word nie, elke vier jaar word ’n nuwe aangewys. Gister, Donderdag 31 Januarie, ‘Gedichtendag’, was die dag waarop die aflosstokkie weer aangegee is. Om presies 12:30 is daar aangekondig dat die Rotterdamse digter en kinderboekskrywer Anne Vegter (54) by Ramsey Nasr oorneem. Die kommissie wat haar benoem het se verslag sluit af met die woorde: “Vanwege haar open blik en indringende taal, omdat zij een brug kan slaan naar theater en beeldende kunst en omdat ze ook kinderen voor zich zal weten te winnen, is Anne Vegter de perfecte Dichter des Vaderlands”
Tog is almal nie eens met die keuse nie, want Vegter se gedigte is meesal ontoeganklik en moeilik om te begryp. En moet ʼn digter wat hierdie rol vervul nie juis maklik verstaanbaar wees nie? Vegter se kommentaar hierop: “Ik wil als Dichter des Vaderlands graag direct begrepen worden. Daar moet ik me in oefenen. Het spannende is of ik de dichter kan blijven die ik ben.” Sal maar moet wag en sien.
Vegter neem oor by Nasr in dieselfde week wat Koningin Beatrix aankondig dat sy binnekort die aflosstokkie gaan oordra aan haar seun, Willem Alexander. Niemand was dus verbaas dat die eerste gedig wat Vegter in haar nuwe kapasiteit geskryf het, ’n gedig was oor die aangekondigde aftrede nie:
GEBED VOOR IEDEREEN
Nog trekt het zich terug als in twee vuisten, reculer pour mieux sauter.
Nog lift het vrolijk mee als op het stuur van een weesfiets, zwenkt uit.
Nog loopt het mee in de optocht van iedereen, het spreekt verdwenen taal.
Nog verstopt het zich in geluidsfragmenten, applaus en partituren.
Nog nestelt het gebed zich in het Nederlands en biedt royaal onthaal.
BENG! KLEDDERRRRR! KLENG!
Een opstelling van stokken en tomaten, stenen uit de straat, de verf.
Tongen die spugen op gebed: „Niet buigen broddah! Strek je op!”
Wereldvreemden die maar wat floepen: „Wie de staat kent, kent zichzelf.”
Nieuwe talen zingen, roepen: „Niks kebed, suster, komt niet koed.”
Daar de mening, hier de uitspraak. Het Laatste Oordeel is bankroet,
roept uit nood en overvloed. Het kruipt door puin en bloeit op stank.
Hecht zich aan honger en verruilt een koninkrijk voor voedselbank,
kijkt, verwart, merkt op. Niet schadevrij, er heerst het schrale tij.
Het lacht en lijdt maar in gelijke mate, dat is de vrijheid van de poëzie.
Bemint een land uit een verlangen naar dat land: gebed laat liefde vrij.
LEVE
majesteit boven dit krachtenveld. Zo’n spiedend oog over de dijk.
Het soort alwetendheid ten dienste van het Crisisrijk. Verheft
in majesteit saamhorigheid tot kunst. Zo dus. O lieve koningin
die levenslang het hele land voorbij zag gaan, nu mag het zomaar,
lekker zomaar in de rij gaan staan.
[Anne Vegter]
Toe Vegter gevra is wat sy beoog met haar termyn, was haar antwoord: “Dat elke Nederlander tien gedichten uit zijn hoofd kent.” En ʼn ander idee van haar is om elke seisoen ʼn gedig te publiseer wat as spreekkoor geleer kan word. En dan met behulp van ʼn regisseur filmpies te maak met instruksies, dit op YouTube te sit en dan ʼn flashmob te organiseer waarby minimaal 500 mense bymekaar gebring word. Ook wil sy poësie die klaskamer inbring, dit deel van kinders se alledaagse bewussyn maak.
Ramsey Nasr (1974) het met ʼn gedig afskeid geneem:
hier komt de poëzie
als je haar begint te schateren, als je blauwhuis zacht voelt naderen
als je plots dit vers verstaat, naar buiten gaat, waar alles slaapt
behalve de tuinman, die je bloemen vrolijk platspuit met zijn slang
als je paukenhart zich stilhoudt, als je lichaam langzaam afgaat
als de hele wereld dwerrelt – dan begin de poëzie.
als de zon opkomt als een insect en niets dan duizendpoten uitstrekt
als je schreeuwt uit zeven kelen, rondwandelt in brood
als je mensentaal moet bakken van de dood, pap vreet van oude peppels
als die oerknal tegenvalt, en ook je almacht doet het niet
als je pantserschild ineenstruikt – dan begint de poëzie.
dan vind je wrakhout, troost noch tweede kans
dan helpt er niets – hier zijn geen kolibrietjes uit te delen
niemand zal je leren drijven en er is geen lief dat blijft
er is alleen maar poëzie: om te loeien dat het pijn doet
deze heimwee stuk te knijpen, leeg te lopen zonder bloed.
ik ken een struik van poëzie, een veilig brandend braambos
om in weg te schuilen en ons allebei steeds verder
om de tuin te leiden. kom, ik zal je goed verwijderen.
wij horen hier niet, maar ik heb wanhoop en papier.
waar niemand ooit nog thuiskomt, daar begin de poëzie.
[Ramsey Nasr]
Alhoewel Anne Vegter se poësie soms duister kan wees, is haar idees oor die waarde van poësie helder: “In poëzie kun je het vrije denken beoefenen. In poëzie kun je radicaal en creatief zijn. Poëzie is een gereedschap om naar de werkelijkheid te kijken.”
Sy’s reg, poësie is inderdaad ’n voertuig waarmee mens in ’n ander taalwerklikheid kom: “Onze cultuur wordt gedomineerd door een zakelijke vorm van taal, een politieke taal. De verbeelding, die ooit aan de macht zou komen, wil ik beschermen. Dat is althans het eerste waar ik belang aan hecht in mijn functie van ambassadeur van die poëzie. Vrijheid proclameren en verwarring zaaien!”
Miskien tyd vir ’n Dichter des Vaderlands vir Suid-Afrika? Klink vir my na ’n pragtige idee, om met woord en ritme ons seer land te besing, poëties te wieg wanneer saaklike en politieke woorde te kort skiet, wakker te roep as dit tyd is om te weet en te wonder. Suid-Afrika het van die mooiste digters ter wêreld, ons het die pragtigste klinkende klankryke tale, pryssangers is hier so oud soos die berge, ʼn orale tradisie wortel ons diep en kragtig in die woordkuns, en met ritme word ons gebore. Die idee van ’n vaderlandse digter pas ons soos ’n handskoen. Of gryp ek na laaste grashalms?
 Annemarie van Niekerk
ANNEMARIÉ VAN NIEKERK woon en werk in Den Haag en Amsterdam. Sy is boekresensent by Trouw, wenner van die European Newspaper Award 2012. Sy doen ook vryskutwerk vir Suid-Afrikaanse koerante en tydskrifte, manuskripkeuring en -redigering en vertaalwerk. Sy is medewerker by Tydskrif vir Letterkunde. Voor haar verhuising na Nederland was sy universiteitsdosent in Suid-Afrika en redakteur by Kwela Boeke in Kaapstad. Sy is die samesteller van drie verhaalbundels: Raising The Blinds – A Century of South African Women’s Stories (1990), Vrouevertellers 1843-1993 (1994) en The Torn Veil. Women’s Short Stories from the Continent of Africa (1998).
In 1999 voltooi sy haar PhD by WITS. Sy lewer verskeie bydraes tot akademiese publikasies, waaronder die mees onlangse Edinburgh University Press se “A Historical Companion to Postcolonial Literatures: Continental Europe and its Empires”. Hiervoor het sy meegewerk aan die afdelings: “The Netherlands and its Colonies”, “Anti-colonial Resistance”, “Creolisation and Creoleness”, “Critique of Imperialism/Anti-colonialism”, “Narratives of Empire”, “Race and Language in South Africa” en “Women’s Histories”.
Annemarié se skryfstudio in Amsterdam (www.amsterdamstudio.net) was al die werk- en rusplek van skrywers/kunstenaars soos Melt Myburgh, Lina Spies, Richard de Nooy, Marita van der Vyver en Gert Vlok Nel.
|