Posts Tagged ‘die algeba van nood’

Johann de Lange wen 2011 Hertzogprys vir Poësie

Friday, March 25th, 2011
Johann de Lange

Johann de Lange

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het gister bekend gemaak dat Johann de Lange met vanjaar se Hertzogprys bekroon word vir sy digbundel Die algebra van nood wat in 2009 by Human & Rousseau verskyn het. Die Hertzogprys, wat na genl. JBM hertzog vernoem is en al om die derde jaar aan poësie toegeken word, is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld. Volgens die berig by DeKat handel baie van die gedigte oor kenmerkende De Lange-temas en onderwerpe en word die deurlopende tematiek van nood met verrassende skakerings oorgedra; ‘n boeiende kaleidoskoop van fasette van die menslike nood, angs en weemoed. 

Die algebra van nood

Die algebra van nood

In sy resensie van die bundel het Bernard Odendaal die volgende by wyse van inleiding oor dié belangwekkende bundel gesê: “Met sy bundeltitelkeuse lui De Lange al die dringende toon van Die algebra van nood in. Dis naamlik veral die noodwendigheid van verlies, gefnuiktheid en verganklikheid, en die angste en verdriete wat dáárdeur gewek word, wat tot uitdrukking kom. Die tematiese opbou van die bundel weerspieël iets van dié onontkombare proses – vanaf die intense belewing van aardse skoonheid en verrukking in die openingsafdeling tot by die elegiese herdenking van gestorwenes in die slotafdeling. Trouens, die ekstase van die natuurbelewings aan die begin verkry ‘n kwellende kwaliteit in die lig van die latere uitgesproke bewustheid van die verydelende kragte in die lewe.”

In die onderhoud wat met De Lange gevoer was ten tye van die bundel se verskyning het hy soos volg reageer op die vraag na die tegniese vernuf wat sy digwerk kenmerk: “Ek sal jou woord vat oor my tegniese vernuf. In vergelyking met dié van skrywers wat ek bewonder, is dit maar aan die power kant. Maar die pluskant daarvan is dat ek nooit ophou leer nie. Daar kan nooit ‘n punt kom dat ek voel ek weet genoeg nie. Daarvoor is poësie te veel van ‘n spél vir my. Wat die spanning tussen tegniek/vernuf & spontaneïteit aanbetref, is daar in retrospek heelwat van my verse wat nie daaraan ontkom nie. Ek glo darem dat die hoeveelheid met elke bundel minder word. Vernufspoësie is ‘n rigting van sy eie, & ek skryf nie vernufspoësie nie, eerder gedissiplineerde poësie. Wat in die omgang straks ‘outyds’ genoem sal word. Ek volg nie modes nie, ek het my eie kompas.”

Inderdaad so. En hierdie bekroning is gewis welverdiend, want hierdeur word erkenning gegee aan een van die indrukwekkendste digskappe is ons hedendaagse letterkunde.

As leestoegif plaas ek graag De Lange se vertaling van ‘n Sharon Olds-gedig onder aan die Nuuswekker.

En by wyse van groet, Johann se wonderlike antwoord toe hy tydens die reeds genoemde onderhoud na literêre pryse verwys het: “Pryse dien nie die letterkunde nie, hulle  dien ánder gode. Skrywers & lesers kan gerus onthou dat pryse min sê oor die intrinsieke waarde van tekste. Pryse weerkaats maar net die feilbare & tydgebonde opinies van komitees. Sê eintlik meer oor politieke klimaat, modes, persoonlike agendas. En menige skrywer is al totaal verlam deur pryse, verál wanneer dit te vroeg gebeur. Veel belangriker as bekronings vir ‘n skrywer is langlewendheid, uithouvermoë.”

Mag hierdie prys dan uit en uit dien tot verdere aansporing tot die skryf van onvergeetlike verse.

***

En daarmee eers weer groet. Laat dié naweek punte tel.

Ons hervat weer Maandag.

Mooi bly.

LE

 

Die Pous se penis

 

Dit hang diep verborge in sy togas, ‘n delikate

klepel in die middel van ‘n klok.

Dit roer as hy beweeg, ‘n spookvis in ‘n

stralekrans van silwer seegras, die hare

wieg in die donker en die hitte – en snags

terwyl sy oë slaap, staan dit op

tot lof van God.

 

(c) Sharon Olds (Vertaling deur Johann de Lange)