Posts Tagged ‘Die ander een is ek’

Heilna du Plooy. Die mens leef nooit alleen nie

Tuesday, May 14th, 2013

Die ander een is ek – T.T. Cloete

 

Een van die maniere waarop ‘n leser toegang tot ‘n teks kry, is deur die soort teks te herken. Die leser weet dan hoe om die teks te benader en ook, in meerdere of mindere mate, wat om te verwag van die teks. Dit is immers een van die maniere waarop leeservaring en leesvermoë ontwikkel en uitbrei: mens lees ‘n nuwe soort teks en dan weet jy hoe lyk dit. Die basiese kennis van ‘n tekssoort stel mens ook in staat om die variasies daarop te kan verstaan. ‘n Gedig kan onderskei word van ‘n verhaal of ‘n  koerantberig en al kan al drie tekssoorte byvoorbeeld ‘n verhaal vertel, maak lesers die onderskeid moeiteloos en verstaan die bepaalde teks binne sy soort en die konvensies wat daardie soort kenmerk. Vir die ingeligte leser of enige leser met selfs net matige  leeservaring, dra die teks se soortlikheid op sigself betekenis en sekere oorgange en wendinge word verstaan omdat die verwagting bestaan dat die bepaalde soort teks op ‘n  bepaalde manier verloop. As jy ‘n sonnet lees, weet jy daar kom ‘n wending en die gedig hoef nie self die feit van die wending aan te kondig of te verduidelik nie.

Soms improviseer skrywers op tekssoorte en dan word die leser se ervaring van die soort teks uitgebrei. Daar kan ook heeltemal nuwe tekssoorte ontstaan en sommige improvisasies of vermengings van tekssoorte kan ingrypend vernuwend wees. So is parodieë dikwels ‘n sterk instrument tot vernuwing en dikwels ontstaan daar ‘n nuwe styl of ‘n nuwe genre op grond van eksperimente, aanpassings en hibridiserings van bestaande tekssoorte. Lesers is egter nie altyd dadelik gereed vir hierdie nuwe tekssoorte nie – Cervantes het waarskynlik nooit kon dink dat sy parodie op die ridderroman so lank en so volgehoue beroemd sal bly nie en waarskynlik het sy eerste lesers ook nie so gedink nie.

Die ander een is ek van T.T. Cloete is ‘n ongewone teks omdat die soort teks, die genre waartoe dit behoort nie eksplisiet en klinkklaar aangedui kan word nie. Die teks is enersyds eksperimenteel omdat die skrywer, soos baie ander skrywers tans doen, die grense oopgooi en vrylik van verskillende tekssoorte gebruik maak. Die sterk tematiese samehange in die teks toon egter dat die skrywer hierdie temas wou ondersoek met al die kennis en vermoë tot sy beskikking en dat hy hierdie oogmerk nastreef sonder om hom te veel te steur aan literêre of akademiese vereistes en merkers. En dit staan enige skrywer immers vry om so volgehoue ‘n selfopgelegde taak uit te voer soos die gees hom in ‘n bepaalde stadium van sy lewe lei. Umberto Eco het ‘n speurverhaal, ‘n historiese roman en ‘n filosofiese roman gekombineer met ‘n romanmatige ontginning van die semiotiek in Il noma della rosa (Die naam van die roos) en dié unieke teks, wat Eco self beskryf as ‘n collage van aanhalings, is hoogs leesbaar en herleesbaar.

Die skrywer kan egter ook die grens tussen literatuur of letterkunde en akademiese en filosofiese skryf oorskry en tekssoorte soos die outobiografie, vertellings, filosofiese besinning, literêr-teoretiese analise en interpretasie, intertekstuele gesprekke,  akademiese literêre debatte en gedigte in een boek saamgooi. En dit is wat T.T. Cloete, gevestigde en deurwinterde digter, skrywer en akademikus doen in Die ander een is ek. Die teks bevat ‘n besinning oor die essensies van ‘n lewe, van die temas wat in Cloete se poësie, maar ook in sy akademiese werk, sterk figureer en is afwisselend bespiegelend, verhalend, analities en interpretatief van aard.

Inderdaad is die boek nie maklik in ‘n vaste kategorie of genre in te pas nie. ‘n Poging om die boek te beskryf sal iets wees soos die volgende: Inhoudelik is dit ʼn vorm van besinnende lewensbeskrywing wat aansluit by die tradisie van “life writing” of egoliteratuur wat ‘n prominente genre in die kontemporêre literêre tradisie is, maar dit is beslis nie ‘n gewone outobiografie wat ʼn lewensverhaal vertel nie. Die ander een is ek is eerder ‘n beskrywing van en ‘n besinning oor ‘n intellektuele lewensreis waarin die skrywer kernomstandighede van sy eie lewe as uitgangspunt neem, maar dit dan objektiveer en tematiseer. Die skrywer besin oor hierdie temas in terme van sy eie besonder wye leeservaring wat uiteenlopende soorte tekste insluit. Hy verwys dikwels na die klassieke tekste van die Westerse beskawing, wat beroemde en minder bekende literêre, religieuse, filosofiese en wetenskaplike boeke uit verskillende historiese tydperke insluit. Mens sou byna kon praat van ‘n akademiese outobiografie of ‘n outobiografiese akademiese geskrif. In hierdie teks is Cloete, wat as ʼn vernuwende en eksperimentele digter bekend is, ook weer sterk vernuwend en dit op die rype ouderdom van 88 jaar. Dit op sigself maak van hierdie boek ʼn besondere dokument.

Die teks word aangebied in die formaat van afsonderlike essays waarin ‘n bepaalde onderwerp telkens as fokus gebruik word. Bepaalde temas ontwikkel egter regdeur die teks sodat die besinning oor lewe en dood, oor liggaamlikheid en veral oor kreatiwiteit as ‘n helende en lewensbehoudende aktiwiteit regdeur die manuskrip vanuit verskillende hoeke belig word. In die gang van die argumentasies word aandag gegee aan onderwerpe soos inlywing, transendering, selfvervreemding, selftransendering, gestes en aktualisering, wat toon dat dit hier werklik gaan om ʼn intellektuele gesprek hoewel dit vertrek vanaf persoonlike ervarings soos die dood van ʼn geliefde en liggaamlike gestremdheid.

Die manuskrip het ‘n taamlike akademiese voorkoms omdat dit netjies afgerond is met uitvoerige bibliografiese verwysings. Die uniekheid lê daarin dat persoonlike vertelling en akademiese gesprek bymekaarkom. Die grens tussen outobiografie, verhaal en akademiese skryfwerk word oorskry en hoekom nie? Wie is die hoofseun of hoofdogter van genres? Tekssoorte is konvensies wat oor tyd ontstaan en as kommunikatiewe raamwerke funksioneer. Maar soos Alastair Fowler dit in sy boek, Kinds of Literature: An Introduction to the Theory of Genres and Modes (1985) gestel het: die genre is nie die duiwehok nie, dit is die duif. Die genre bied die vryheid van vlieg en van in-vlug-wees. Die vorm en formele eienskappe van ‘n teks maak die basiese kommunikasie moontlik, maar dit is die vertrekpunt en daarna kan en moet die leser die aanduidings van die skrywer volg. Wat hierby kom, is dat ‘n redelik geoefende leser aanpassings kan maak, oorgange kan hanteer, improvisasies kan begryp. Hierdie soort lees en verstaan is eie aan ons tyd en selfs minder geoefende lesers kan dit hanteer en begryp. Dink maar aan die verskeidenheid improvisasies wat in populêre films gebruik word en nie as ontoeganklik beskou word nie.  In Die ander een is ek is die vermenging van tekssoorte en verwysingsvelde weldeeglik gemotiveer en logies. As die verwysingsveld van ‘n digter en skrywer literêr en akademies van aard is, is dit immers sy natuurlike “habitat” in terme waarvan hy lewe en nadink. Vir die leser wat daartoe bereid is om die roeteaanwysings van hierdie teks te volg, vir hierdie gewillige leser, is daar ‘n groot wins en ‘n verrykende leeservaring te wagte. Wat belangrik is, is dat hierdie teks geskryf is in Cloete se kenmerkende helder en toeganklike styl en al bevat dit baie inligting, lees dit maklik en vlot.

Die ander een is ek sou ook as wysheidsliteratuur bestempel kon word omdat dit onder meer sterk fokus op die kuns van lewe en besin oor dinge soos die verwerking van trauma, hetsy van die self of juis van die ander. Die titel is hier baie belangrik: dit gaan om die gemeensame aard van belewenis. Die Nederlandse digter Willem van Toorn het eenkeer in ‘n onderhoud gesê: “Alle mense het emosies: dit gaan in die literatuur nie oor die emosie as sodanig nie, maar oor wat jy daarmee doen”. Jy kan dus ‘n gedig maak om aan die emosie ‘n besondere kleur en veral betekenis te gee, maar jy kan ook daaroor besin in terme van die insigte van ander skrywers, hetsy akademies of literêr en jy kan die algemeen-menslike daarin aantoon. Vandaar is die “ander een” ek en “ek” is die ander een.

Die akademiese verwysingsveld van Die ander is ek sou vervreemdend (in die letterlike sin van die woord) kon wees vir sommige lesers maar dit is ‘n objektiveringstrategie vir die skrywer om die dinge wat baie diep raak, te kan beskryf. Dit sou dan kon funksioneer as ‘n vervreemdingstegniek (in die sin van literêr-vervreemdend) omdat dit ‘n gans ander aanbieding van onderwerpe vertoon. Wat mens nie moet miskyk nie, is dat verwysingsvelde wat betrek word, ‘n bepaalde gravitas aan die besinning verskaf.

Die ander baie belangrike aspek wat in ag geneem behoort te word en wat hierby aansluit, is die bekende uitspraak dat as ʼn mens ʼn ernstige digter se poësie of ‘n toegewyde skrywer se werk in die algemeen wil verstaan, jy moet gaan kyk na sy boekrak, d.w.s. jy moet ondersoek instel na wat hy lees en gelees het. Daar bestaan ook uitgebreide studies hieroor ten opsigte van die werk van skrywers soos T.S. Eliot, N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman en Etienne Leroux. Dit is interessant dat die roman Possession van A.S. Byatt (verfilm met Gwyneth Paltrow in die hoofrol) juis daaroor gaan dat die sleutels tot ‘n groot skrywer se werk gevind kan word in die boeke wat hy gelees of bestudeer het, die tekste waarmee hy in gesprek tree en die bronne waaruit hy kennis en insig put. By die bestudering van die werk van belangrike skrywers en digters is dit ook inderdaad  ʼn bekende strategie om die bronne van die digter op te spoor en na te gaan.

Mens sou dus kon beweer dat hierdie manuskrip as ʼn belangrike sleutel tot Cloete se oeuvre beskou kan word, selfs dat dit as ʼn soort sluitsteen inligting bevat waarop baie ander tekste berus. Dit gaan in elk geval hier om een van daardie skrywers wat nie net los gedigte skryf nie, maar wat op ‘n samehangende en volgehoue wyse in gesprek tree met die kulturele tradisie en geestesgeskiedenis waarbinne hulle lewe en werk. Hulle is die denkers en intellektuele wat die gesprek in ‘n kulturele gemeenskap verder voer. Cloete se verkenning en ondersoek van kwessies soos lewe en dood, liggaamlikheid en veral sy besinning oor die rol en die plek van kunsbeoefening en insig in kunswerke maak dus hier ‘n geweldige bydrae tot die skat intellektuele tekste in Afrikaans. Die manuskrip bevat inligting en besinning van ‘n algemene sowel as ‘n persoonlike aard en is dus ‘n onmisbare bron om Cloete se eie poëtikale opvattings sowel as belangrike kunsteoretiese beginsels te kan verstaan. Ook hierin speel die akademiese verwysingsveld ‘n verdiepende rol en verleen aan die argumente wyer trefkrag.  Omdat die hele betoog egter ingebed is in sy eie lewensomstandighede, is die persoonlike en menslike aspekte steeds aanwesig en dit bly die leser op ‘n menslike vlak boei.

Na die dood van sy vrou in 2007 was die behoefte aan besinning vir Cloete dringend en dwingend en vanuit hierdie persoonlike trauma vertrek hy om te skryf oor die verhouding en verbondenheid tussen liefde, pyn, lyding, liggaamlikheid en kreatiwiteit. Hy put uit die briewe van Vincent van Gogh en die biografie van Helen Martin in sy besinning oor kreatiwiteit en die transenderende vermoë van kunsbeoefening. Dit geld ook die ervaring van die kunswerk as sodanig deur ander mense. Hy verwys uitvoerig na die Ilias van Homeros in ‘n insiggewende bespreking van die beskrywing van die skild van Achilles as ‘n uitvoerige representasie van die mensbeskouing van die antieke tyd maar dit word ook ‘n besinning oor die mens se skeppingsdrang én sy vernietigingsdrang in alle tye. Die kunswerk bied insig in die agterliggende kulturele opvattings en kwessies en dit geld dan weer vir die onderhawige teks ook. In sy nadenke oor die verhouding tussen liggaamlike kwellings en geestelike en intellektuele krag sluit Cloete aan by die outobiografie van Helen Keller en by Viktor Frankl en die ervaring van mense soos Stephen Hawking en Ernst van Heerden. Hy is ook, soos in sy poësie, steeds besig met Marilyn Monroe, met die eietydse ikone en kultusfigure, maar terselfdertyd put hy uit klassieke boeke waarin byvoorbeeld die geheime geskiedenis van die Mongole opgeteken is.

‘n Ander aspek wat Die ander een is ek uniek maak is dat die digter vrylik aanhaal uit sy eie werk en uit ander literêre tekste sodat die leser nie net met ‘n argument gekonfronteer word nie, maar inderdaad sien hoe die kunstenaar met die insigte en materiaal te werk gaan. Die boek kan in hierdie opsig onder meer as ‘n reeks annotasies op bepaalde sleutelgedigte in Cloete se poëtiese oeuvre beskou word, maar dit bied ook uitstekende insigte op die werk van ander skrywers en digters soos Paulus, Nijhoff, Gorter, Baudelaire, Henry James, J.H. Leopold, Darwin en Einstein. Soos in sy digwerk kom die digter se verstommende vermoë om “correspondences” raak te sien ook in hierdie boek na vore.

Goeie lesers en navorsers sou ‘n teks soos hierdie as van uiterste belang vir literêre navorsing vind en in die lig van Cloete se statuur as ‘n intellektuele digter binne die Afrikaanse literêre wêreld kan dosente en studente met groot vrug hierdie werk bestudeer.

Die ander een is ek val vanweë die uitsonderlike aard daarvan nie maklik binne vasgestelde bemarkings- en publikasiekategorieë van die hoofstroomuitgewers nie en daarom verdien die uitgewer Annekie Botha du Plessis ‘n pluimpie vir haar moed en durf om hierdie teks uit te gee. Dit is ook ‘n groot taak om so ‘n semi-akademiese geskrif tegnies te versorg en dit is baie mooi en goed gedoen.

Die ander een is ek is nie leesstof vir een oggend in Desember op die strand nie. Die boek sal eerder gelees kan word soos ‘n suiglekker, waaraan mens lank en stadig en deeglik suig en waarvan die soet diep in jou smaakpapille gaan lê. Dit is leeswerk wat saamdink vra, ook saampraat of teëpraat, wat stukkie vir stukkie verteer moet word.

Etienne van Heerden het by geleentheid gesê dat die toekoms van Afrikaans sal afhang van die gehalte van wat daar in Afrikaans geskryf word. Hierdie teks van T.T. Cloete is myns insiens een van daardie tekste wat die ideaal van gehalte en diepgang vir ‘n intelligente en denkende leserkorps, waar maak.

 

Heilna du Plooy

Verwerkte weergawe van die voordrag gelewer by die bekendstelling van Die ander een is ek van T.T. Cloete op 8 Maart 2013 tydens die Woordfees in  Stellenbosch.

 

  •