Posts Tagged ‘Die eerste lewe van Colet’

Amanda Lourens. Swart Jan en Salome.

Wednesday, June 22nd, 2011

Die maand van Junie het vir my weinig meer opgelewer as eindelose nasienwerk, sodat ek glad nie juis bedroë is dat die maand se einde al in sig is nie.  Tog het die nasienwerk vir my ’n verrassing gebring in die sin dat ek vanjaar op my eie leesspoor deur die teks van Sewe dae by die Silbersteins kon terugstap.  Die tweedejaars het die boek behandel, en moes natuurlik die individuasie-cum-alchemistiese proses (en aanverwante sake) ontleed, welbekend aan ons almal.

Om sommer eers in die algemeen my belewenis van hierdie spesifieke boek te deel: Ek het op skool van hierdie gevaarlike en ondermynende boek gehoor, maar die titel het my om die een of ander rede bekoor – miskien die alliterasie, of dalk die toweragtige kwaliteit van “Silbersteins” wat amper ’n assosiasie gedra het met die Merlin-figuur in my kinderboeke?  Of dalk was dit ’n soortgelyke towenaar, maar ek onthou ’n illustrasie van ’n towenaar wat edelgesteentes vir die feëkoningin uit ’n stomende donker pot gediep het.  Iets hiervan was opgesluit in die volksvreemde klank.  Of is dit nou die volwasse perspektief en die akademiese weet-van-alchemie wat jeugherinneringe laat vermeng? 

In elk geval, die titel het my bly fassineer en in standerd sewe het ek my eerste leespoging van Sewe dae (sowaar in die dorpsbiblioteek) aangewend; enduit gelees maar besef dat dit bo my vuurmaakplek was.  Ek kon nie eens die doen en late van die Accademia d’amore verstaan nie. My veertienjarige nuuskierigheid is gestuit deur Leroux se ongelooflike vermoë om ’n handeling en die menslike nuanses daaromheen in sy proefbuis vas te vang, te distilleer en met behoud van elke skakering daarvan in taal om te sit. Vir ’n nuuskierige tiener was dit nogal ’n teleurstelling om te moes lees: “Sy wag sonder aansien des persoons soos al die ander deur die eeue gewag het, maar deesdae klinies, met oorleg, met begrip – vir die stotterende begin, die verontskuldigings, vir die impotensie van beginners, die storie van alledaagse frustrasie , vir die taak soos ander take, wat altyd versinsels sal vind om homself te heilig.” 

Nietemin het beelde van Welgevonden hulle in my binnewêreld tuisgemaak en ek droom nog al die jare dat die landgoed mag werklik word; dat ’n mens in Jock en Henry se spore kan stap, in Henry se bad met die leeukopkrane kan wegsink en die geroesemoes van gaste sien kom en gaan.  Stel jou voor: ’n Welgevonden-theme park waar Henry in sy aanpak sy verskyning maak en Mrs Silberstein slank tussen die toeriste heen beweeg. 

Op universiteit het ek Sewe dae herlees met al die pretensie van ’n derdejaarstudent.  Ek werk steeds uit dieselfde kopie, maar is nou verbaas om te sien hoe ek die wérklik betekenisvolle dele van die roman destyds heel misgelees het.  Uit my destydse onderstrepings en aantekeninge sien ek hoe ek my ingeleef het in regter O’Hara en dr. Johns se ingewikkelde filosofieë en hoe ek die grepies Latyn probeer vertaal het.  (Ou Mrs Silberstein se Jiddishe vloeke het darem té banaal gelyk om na te slaan.) Kennelik het ek die idees rondom goed en kwaad bepeins; Jock se siening van God as die Groot Onbewuste aangehang, in só ’n mate behep met die abstrakte dat ek nooit besef het watter skerp insig Leroux in die menslike aard gehad het nie.   

Dit is juis in die “gevaarlike” en “obsene” toneel van die heksesabbat waar Leroux die mens in sy kwesbaarheid teken en die teelaarde vir die “bose” vir ons karteer.  Veel beter as enige selfhelpgids wys Leroux hoe menslike onvolmaaktheid, ons onwilligheid om dít te aanvaar en ’n gebrek aan liefde saamspan om verhoudings te verwoes en die “bose” te laat seëvier:

Saam met Satan wreek hulle hulle op die onvolmaaktheid van hulle metgeselle – die gebrek aan aandag, die gebrek aan liefde, die eentonigheid, die teefsheid, die vertwyfelings gewek deur die ander een, die persoonlikheid gebreek deur die ander een, die saaiheid van hulle kennis van mekaar.

Seker sou mens van die duiwel ’n gerieflike sondebok kon maak. Helaas ontbloot Leroux ook hierdie fantasie van blaam as ons lees dat Swart Jan “homself nooit kan voortplant nie, dat sy vrug verkrummel is, dat sy venyn beperk is tot die daad en die draers van die daad …”.  Iewers begin ek begryp wat Leroux moontlik bedoel het met sy stelling dat obsessie en psigose “die enigste kinders” van Swart Jan se omgang is.  Jou ongeneëndheid om jou demone, jou tekortkominge – hetsy ingebore of verworwe – hok te slaan, is wat jou met Swart Jan in die bed laat beland, waaruit ’n gekwelde gees gebore word.  Sielkundig dalk ongemotiveerd of ’n oorvereenvoudiging, maar tog ook ’n broodnodige raps in die rigting van die blame it on the devil-legioene en ’n vingerwysing in die rigting van selfondersoek.

 Aan die einde van die fees, skryf hy in die deel wat tydens my nuutste herlees so betekenisvol is: 

Die lewe is besonder kompleks.  Die kerke pas hulle aan by die mense en word ewe kompleks,  Die vormlose wolk hang oor alles.  Al wat hulle weet, is dat daar ’n sekere gespannendheid is, ’n neiging vir allerhande allergieë om te ontstaan – ’n soort obsessie omtrent allerhande dinge, ’n gevoel dat jy oor ’n tydjie sal ontplof as iets nie gebeur nie.

Dit is moontlik ironies, maar eerder verbluffend dat Leroux hier sy vinger lê op ’n kernaspek van wat haper in die moderne kondisie, maar dit byna verhul binne die kompleksiteit van sy eie werk aan ons voorhou: die neurose van afwagting, die afhanklik raak van prikkels, die onvermoë om in die oomblik te leef en die opvul van die leegte met voortdurende maar kunsmatige events.  Klimakse moet voortdurend geskep word as ’n soort ontladingsproses. Ons grootste vrees skyn te wees die leegte van all dressed up and nowhere to go.  Ons sal die partytjie skep as die uitrusting maar net daar is. En dit kom uit die sestigerjare, lank voor die eietydse obsessie met voortdurende aanlyngebeure om die leegte te bestry.  (Dus glad nie ’n generasieding nie; eerder ’n hoop op die later, die môre wat beter, meer opwindend sal wees as vandag. Enige wag-op – die wegraping, die wederkoms, die katastrofale einde van die wêreld – iets wat beter sal wees as die ondraaglikheid van die leë nou.) Maar Sewe dae sê dat niks gebeur na die druk van ’n knoppie nie, “omdat alles onsigbaar is”. 

En ja, die kerke (lees ook enige ander morele kompas) wat hulle angsvallig aanpas om die neuroses van hulle tyd te akkommodeer, wat sélf bronne word van Rabie se aanhou beweeg en geraas maak – dit is seker ’n storie vir ’n ander dag, maar tog seker ’n storie wat verder geskryf moet word.  Want, vertel Leroux ons, beeldloosheid is ons grootste bedreiging. (As beeldloosheid die bedreiging is en gekenmerk word deur gesigloosheid, deur karikature, wat is beelde dan? Moontlik die waarhede vir elke nuwe epog, die stel oorlewingsreëls?)  Die uiteinde egter, van beeldloosheid is die woede voor die dood, die onvermoë om die onsienlike in die gesig te staar; kortom, die onvermoë tot ’n waardige lewe tot reg aan die einde.  Sou die opgaan in die oomblik, die aflê van die hoop op ’n lewe van opgehypede klimakse dalk nuwe beelde kon oprig? En daarmee saam die meedoënlose kyk na die self en die aflê van die die-duiwel-het-my-dit-laat-doen-mentaliteit?    

Ek vermoed dat Leroux in sy enigmatiese slot – dalk die mooiste slotwoorde al ooit in ’n Afrikaanse roman, in wese dalk meer poësie as prosa – ’n oplossing aan ons stel:

Veronderstel jy is alleen in ’n groot saal.  Jy lig jou hande vir jou beminde.  Jy is geklee in  uniform.  Jy is bevrees, maar jy het die geloof. Jy dobbel met jou geloof.  In jou uniform van die engele gaan jy na vore, jy lig jou hande, en met volkome vertroue wag jy op die beeld van die waarheid in gelid van die liefde.

Ek verstaan hierdie slot nie regtig nie.  Ek gaan die geloof behou en hoop dat ek met my volgende lees van die roman sin sal kan maak van die “beeld van die waarheid in gelid van die liefde”.  Maar intussen koester ek die woorde en onthou ek Colet se gedagtes in Leroux se debuut:  “Johan het ook vir hom gedigte gegee om te lees, Engels en Afrikaans, en alhoewel hy niks kon verstaan nie, het hy tog die krag daaragter gevoel.”  Miskien is dít die raakste opsomming van groot literatuur, uit die mond van die meester self: dat woorde wat hulle moeilik leen tot interpretasie, tog kommunikeer met ’n krag wat dalk juis in ons wêreld die onsienlike verteenwoordig.

Salome as beeld van die liefde is sekerlik meer opwindend as Swart Jan? Hy ís immers ’n travestie en holruggery, by wyse van spreke. So, tong in die kies: Salome as my Valentynslief. 

  •