Twee nuwe publikasies: Vuurvas (Carel Anthonissen) & Die goddelike komedie (Cas Vos, vert.)
Wednesday, September 13th, 2017
Omslag
Vuurvas
Carel Anthonissen
Die gedigte gaan oor die onskuld en verwagtinge van ‘n kind in sy eerste landskap, die ontnugtering en vervreemding wat die volwasse bestaan meebring, en die uiteindelike aanvaarding en omarming van pyn, siekte, ouderdom en dood. Vuurvas is nie alleen ‘n verwysing na die onvernietigbare kiem van hoop, regskapenheid en welwillendheid in die mens nie, maar dien ook as ‘n voorbeeld van aandagtige en gevoelige omgang met taal en verwoording.
.
Oor die skrywer:
Carel Athonissen het reeds enkele Engelse gedigte in ‘n reeks van drie bloemlesings (oor Afrika, oorlog en liefde ) gepubliseer. In 2015 is hy gelanglys vir die Sol Plaatje UE kompetisie. Een van sy gedigte is daarna opgeneem in The Sol Plaatje, European Union Poetry Anthology, Vol V. In 2016 is twee van sy Afrikaanse gedigte ook opgeneem in Stanzas Nommer 6, Desember 2016 ( R 190.00, Sagteband • 136 p, 213 mm x 137 mm; ISBN: 978-0-928316-97-1, Naledi, 2017)
.
.
Intiem
om intiem te wees is om te onthou:
die stiller aanblik, die gloeiende mond
’n enkele wimper, één flitsende haar
en dat ons woorde met mekaar nooit
selfbewus of leeg was nie
maar altyd vrolik sonder swaar gordyne
of einder
die nagolf van ’n snaar wat onverwags
gepluk is
(Uit: Vuurvas, 2017)
.
.
Die goddelike komedie
Cas Vos (vert.)

Omslag
In hierdie bundel durf die skrywer Danté Alighieri se briljante werk aan. Hy bewys homself as uitmuntende vertaler.
Danté se lang reis kan tematies verbind word met Israel se uittog verhaal. Met sy La Divina Commedia beoog Danté om die boosheid van die mens aan die kaak te stel en roep hy die mens op om saam te werk aan die skepping van ’n beter samelewing van vrede en orde onder leiding van ’n goeie keiser en pous.
Oor die vertaler: Cas Vos was dekaan van die fakulteit Teologie van UP van 2000 tot 2010. Hy het die Andrew Murray Prys ontvang asook die Pieter van Drimmelen medalje vir sy teologiese werk by die Akademie vir Kuns en Wetenskap. Hy het verskeie artikels in plaaslike en internasionale tydskrifte gepubliseer. Sy mees onlangse werk is sy bundel In ‘n oomblik (2016).
(R 175.00, Sagteband • 136 p, 213 mm x 137 mm , ISBN: 978-0-928316-85-8. Naledi, 2007)
Voorlesings:
Aleppo: https://youtu.be/2Qh1qD8K8PE
Die Goddelike Komedie: https://youtu.be/OOACiJb0avQ
.