De Waal Venter. Die stem van ‘n vrou
Thursday, June 21st, 2012Die stem van ‘n vrou
Die reënvoël vertel
van die dinge wat sy dink
as sy ‘n kleinkind se hand in hare hou;
die duif het iets te sê
van wat weggesteek
in haar hart lê;
die houtkapper tril aanhoudend
oor hoe sy werk, nooit ophou werk;
saans vertel die tarentale
reikhalsend vir mekaar
hoe sy verlang na die veld se geduld,
die berg wat die watertjie
moederlik aflei ondertoe.
Helderfluitend, met die stem
van rooikop-houtkapper
vul sy naatloos
die lewe van haar maat.
© De Waal Venter, 2012