Posts Tagged ‘digter wordende’

Pieter Odendaal. Happiness, gehoor en ‘n barakat

Monday, October 1st, 2012

Gister se lui Sondag het in Grassy Park begin, ’n draai in Muizenberg gaan gooi, by ’n Moslem doopmaal in De Tyger gaan inloer en geëindig op my balkon in Stellenbosch met die album The Happiness Project van Charles Spearin wat deur vensterrame klink, ’n koppie rooibos met vars boegoe en heeltemal te veel sigaretstompies in die asbakkie. Dit was ’n goeie dag gewees, ten spyte van die longskade.

Die omslag van The Happiness Project

Die omslag van The Happiness Project

Charles Spearin is ’n stigterslid van die Kanadese musiekgroepe Do Make Say Think en Broken Social Scene en het in 2009 sy eerste solo-album (’n bietjie van ’n misnomer, want The Happiness Project is ’n samewerking tussen sy jazz musikant-vriende en mensestemme uit die multikulturele woonbuurt waar hy in Toronto bly) vrygestel. Hier is wat Spearin oor die album te sê het:

In the hot summer months all the kids in the neighbourhood play outside together and everyone is out on their porch enjoying each other’s company, telling stories and sharing thoughts. A year or so ago I began inviting some of them over to the house for a casual interview vaguely centered around the subject of happiness.

[…] After each interview I would listen back to the recording for moments that were interesting in both meaning and melody. By meaning I mean the thoughts expressed, by melody I mean the cadence and inflection that give the voice a sing-song quality. It has always been interesting to me how we use sounds to convey concepts. Normally, we don’t pay any attention to the movement of our lips and tongue, and the rising and falling of our voices as we toss our thoughts back and forth to each other. We just talk and listen. The only time we pay attention to these qualities is in song. (Just as when we read we don’t pay attention to the curl and swing of the letters as though they were little drawings.)

[…] I wanted to see if I could blur the line between speaking and singing and write music based on these accidental melodies. So I had some musician friends play, as close as they could, these neighbourhood melodies on different instruments […] and then I arranged them as though they were songs.

Spearin konsentreer op die ritmes en wisselende toonhoogtes van die praatstemme in sy verwerkings van die onderhoude en belig só die musikaliteit van alledaagse gesprekke. Die instrumente aap die stemme na en laat mens weer aan die oorsprong van musiek dink: die orkestrasie van lug met ons lywe – ons lippe, tande, tonge, verhemeltes en stembande. Ons is lewende instrumente wat nie anders kan as om musiek te maak as ons met ons asem wil kommunikeer nie.

My gunsteling snit op die album is “Vanessa”, alhoewel “Anna” net-net tweede kom en al die ander snitte ook herhaalde plays werd is. Vanessa, een van Spearin se bure, is doofgebore en het na dertig jaar se stilte ’n kogleêre inplantasie ontvang. Die onderhoud fokus op haar reaksie toe sy vir die eerste keer kon hoor. Toe sy die hoorstuk aanskakel, was daar eers niks nie, maar haar brein het amper onmiddellik begin om betekenis aan die stuwings van lug te gee:

My brain didn’t know what to do with the information, but
all of a sudden I felt my body moving with sound

Die laaste reël is pas voltooi voor Spearin dit begin loop en die woorde en hul toonhoogte ’n eenreël-koor vorm vir een van die mooiste musikale uitdrukkings van happiness wat ek tot nog toe gehoor het. Ek kan nie anders as om telkens te glimlag vir die hoendervleis wat oor my arms uitslaan nie.

Spearin kry dit reg om Vanessa se storie in poësie te omvorm deur die oomblikke van latente skoonheid in haar prosaïese vertelling te isoleer en te amplifiseer tot ’n musikale viering van ons vermoë om te hoor en die happiness wat ons ore ons daagliks bied. Die snit “Vanessa” buig terug op homself omdat klank die fokus van beide die vorm en die inhoud is, ’n soort meta-kunswerk wat mens oor die nuts en bolts van gehoor laat dink. Soos Vanessa tereg aan die einde van die snit sê: “and then I learnt that sound is electricity.”

Jy kan die volle album hier luister: http://www.happiness-project.ca/music.php

En dan Krog se alombekende gedig oor gehoor as barakat vir die week:

digter wordende

om op ‘n oggend wakker te word binne-in klank
met vokaal en klinker en diftong as voelspriet
om met aarselende sorg die effensste roerings
van lig en verlies in klank te kalibreer

om jouself meteens gekniel te vind
bo-oor die hoorbaar kloppende wand
van ‘n woord – soekend na daardie presiese
moment wat ‘n versreël volloop in klank

wanneer die betekenis van ‘n woord swig,
begin gly en hom eindelik oorgee aan geluid
van dan af smag die bloed na die inkantasie
van taal – die enigste waarheid staan gevél in klank

die digter dig met haar tong
sy haal asem – ja, diep uit haar oor

© Antjie Krog, Kleur kom nooit alleen nie (2000).

  •