Drie Chinese digters in Afrikaans: Che Qianzi, Huang Fan en Zhou Yaping
Tuesday, October 16th, 2018Drie Chinese digters in Afrikaans: Che Qianzi, Huang Fan en Zhou Yaping
Vert. deur Helize van Vuuren
[na die Engels van JH Prynne 2002: http://jacketmagazine.com/20/pt-chinese.html#zho-pro]
‘n lied
as ek ‘n gedig skryf
dan dink ek aan jou
voel daar is toeval
ek wil ‘n gedig skryf
maar weet nie wat later sal word
selfs naak weier die lyf
dat mense my beter verstaan
ek dink as ek skryf
hoop om iets te ontdek
jy sit op ‘n berg, lyf
soos somme in ‘n laerskoolboek
1 + 1 = 2
dikwels weet ek nie wat om te doen
streep deur, moet van vooraf begin
vyf mense tien mense
net vyf maniere om ‘n woord te skryf
en tien maniere vir die skryf van
reëls, of
te onleesbaar om uit te maak
ek dink as ek skryf
ek het nooit iemand nageaap
as iemand se skadu oor my val
is dit slegs oor
my lewe ‘n paar jaar te laat kom
Che Qianzi (1963- ) ; bundels onder meer Leer skryf met prentjies,
Papierleer, Stoel)
___________________________________________
.
gelykenis
slaan die skaapwagter, en die skape slaan op hol
Nog die grysland oopmaak, nog grond bewerk
Wie se seun pas skape op aan die heuwelkant
Pasop dat die oes nie in die velde geeët word
Wie se skaapwagter bly stil
Kyk na die lug
Verdwaas vir ‘n oomblik
Ek besef dat die sweep teen die rots geleun
Tak was, swaar van vrugte
Blare raak stil in bepeinsing
‘n Dol skaaptrop het dit omsingel
Oor en oor weer
Die blare verorberend
Pan Gu het gesê: Laat daar ‘n byl wees, en daar was ‘n byl*
‘n Wond kan nie ‘n byl vashou
Dis die slegte nuus
Die byl hoog bo, verskrik ‘n kol wilde bergbome
Hul poging om saaghout te word
Opeens ontbloot
Deur een woord van die byl
3/9/89
[*Pan Gu het hemel en aarde geskep deur die kosmiese eier te splyt met sy byl.]
Huang Fan (1963- ); twee bundels, Verdwyning en Ysige koue)
_____________________________________
.
kruis en blom
‘n Houtstokkruis gekap teen die deur
‘n Koue bries ‘n somber bui
Reën skiet blou tonge vlam op
Deur die venster van bamboes
Dowwe-oog mense, busse wat naby grom
Pikkewyne wat strompel oor gras
Ysvingers eggo die bleekheid van mense
‘n Appel stop vlak voor die voet
Wagtend, bring winter ‘n blom van granaat
Zhou Yaping (1961- ); bundels onder andere Verlore in liefde en
Ek haal asem, wie kan dit ontken)
______________________________________
Afrikaanse vertalings: Helize van Vuuren, 15 Oktober 2018