Posts Tagged ‘droogte’

Nini Bennett. ‘n Simbool van bestendigheid

Thursday, May 21st, 2020

 

 

1.

 

Die mooiste blomme is dié wat vetplante maak. Kinderkunsblomme. Nederig en konkreet, na aan die hartslag van die aarde. Die mooiste blomme is nie rose of orgidieë – die koninginne met die kweekhuisname nie – nee; dit is woestynblomme.

My eerste bewuswording van ’n kataklismiese gebeurtenis was die Kaapse droogte twee jaar gelede. Ek het grootgeword in ’n waterryke voorstad in Pretoria. Daar was bome. Baie bome. Dit was die sewentigerjare; ek onthou ek het buitentoe gehardloop as dit begin blits. Hoeveel klein ewighede ek so in die reën vertoef het, sou niemand kon raai nie. My huismense het bekommerd na my geroep, maar my ouma het gesê: Los die kind, sy verstaan die reën. My ouma was deurwinter soos ’n kraai. Haar snaarblink hare was teruggekam en weggevou in ’n slakkie in haar nek. Sy het ’n bril gedra wat haar oë groot en teer laat vertoon het, en as sy iets met nadruk gesê het, het sy haar ooglede toegemaak. Ek kon my die koeltes in haar brilglase verbeel, ’n gerusstelling, diggesluit: haar wimpers was ’n skadunet. My ouma was van die Karoo en sy het wysheid gehad.

Eers later het al die wonderlike dinge name gekry. Petrichor. Amberwolke. Die eensame hemele van my kindertyd.

Dan is daar ’n ánder herinnering, een oggend, Januarie 2018. Vroegdag reeds was ek bewus van ’n vreemde dyns in die lug. Dit was bloedig stil. Die blompotte in my tuin het oopgebars, die wortels het ongenadig boontoe geskrei. Dit was tasbaar, die taai knettering in die lug. Vlieswolkies het verby gedryf, die geloei van die laatsomerwinde was op pad, winde wat geen reën sou bring nie en net die vure en bergbrande verder sou aanhits. ’n Nagloed het oor alles bly hang. Die grond het gebrand en gebloei om rowe te vorm. Na die woede en opstand oor die waterskaarsste het ’n weemoed gekom. Afrika het ’n warm weemoed – en daarná volg die behoefte om te bieg. Drome, hoop en wanhoop word uiteindelik een. Daar is dié wat teen alle weervoorspellings in bly bid en opkyk, lugwortels in die oë.

In nog ’n onverwante herinnering, jare gelede, het ek op ’n dag ’n ou vrou in Checkers gesien. Daar was net ’n kaktus en ’n boks wyn in haar waentjie. Intuïtief het ek iets begryp van droogte en van dors – die woorde suchen, versugting, sug, verlange, en verslawing is tog immers verwant. Haar irisse was gerimpel en haar oë dood. Die insident het my hewig ontstel.

2.

Vetplante het ewolusionêr ontwikkel tydens die Kryt-periode, die derde en laaste tydvak van die Mesosoïese era ongeveer 145 miljoen jaar gelede. Vetplante beskik oor sukkulente eienskappe naamlik om vog in hulle blare, stingels, stamme en wortels te berg. Xerofiete, halofiete en eromofiete ressorteer hieronder. Sukkulente weefsel stoor tydelik bruikbare water wat die plant in staat stel om sonder ’n eksterne waterbron te kan oorleef. Vetplante se habitat is droë gebiede, soos halfwoestyn, en as ekostreek is die sukkulente Karoo na vetplante vernoem. Snags gaan hierdie plante se waksagtige kutikule en ingesinkte huidmondjies oop om vog op te vang en waterverlies te beperk. Sukkulente roep kaktusse, plakkies en vygies voor die oog.

Oor die poëtika van vetplante kan ek liries raak. Die blomme is eenvoudig: kinderkuns, soos reeds genoem, of is dit die rofwerk van ’n onervare skepper? Die groei is geil, ’n gulharige gawe aan die droë aarde. Want vetplante is die ambassadeurs van dorre streke, tekenend van ’n genadelose klimaat.

Vetplante vorm ’n brandwag teen die laaste vesting van wind en reën.

Kyk na kaktusse, alarmisties met dorings om te verhoed dat hulle nie uitwissing in die gesig staar deur diere wat hulle vreet nie. ’n Kaktus vertoon weerbaar in teenstelling met sy sagte, sagte binneweefsel.

Die Haworthia se kubusagtige blare laat my dink aan ’n Picasso-skepping. Vetplante mistifiseer die mens met hulle geometriese elegansie; sommiges dra immers die bloudruk van die Blom van die Lewe of die swier van Fibonacci se Goue Ratio. Kaktusse het dorings soos weerhake of prikkeldraad. Die weefsel is met growwe rygwerk en doringagtige sterre aanmekaar geheg.

Met Covid-19 het ek opnuut bewus geword van vetplante, hulle moedige eienskappe. Hulle stille krag en vermoë om op minimalistiese wyse te oorleef. Hulle dankbaarheid.

Dan is daar die mites en legendes. Die Christmas Cactus is ’n honderd miljoen jaar ouer as Christus.

Die Koningin van die nag (Selenicereus grandifloras), weer, is ’n kaktus wat net een maal ’n jaar vir net een nag blom. Volgens die legende het ’n beeldskone koningin in ’n onaantreklike vetplant verander nadat ’n draak haar met vuurtonge vervoek het. Dit is waarom sy net een maal blom, gedagtig aan haar skoonheid van vroeër; in die helder lig van die maan gaan sy vir ’n paar uur oop, verruklik en stralend soos ’n ster. Volgens oorlewering genees hierdie kaktus se blare gebroke minnaars se harte. En op ’n letterlike vlak: die Koningin van die nag word gebruik as homeopatiese middel om hartlyers te help om ’n verswakte hartspier te versterk. Die legende is dus (deels) waar.

En dan die Lithops, oftewel die ‘lewende klippe’. Dit is plantjies wat hulself voordoen en kamoefleer as klippe. Augustus breek hierdie klippe wonderbaarlik oop en blom. Maar méér as klippe: sommige Lithops lyk soos Runeklippies, kompleet met mistieke geheimskrif maar met die verskil dat dit inderwaarheid spensies vol water is.

Die gebruik van aalwyn as antieke kruiemedisyne is al vir duisende jare bekend aan die mens en is ook gebruik om lyke mee te balsem.

Met die Kaapse droogte van 2018 het ek geglo dit is ’n kataklismiese gebeurtenis. Toe kom die Koronavirius, ’n perd van geheel en al ’n ander kleur, die vaal perd genaamd die Dood as deel van die quattuor soos beskryf in die boek Openbaring. En deur alles bly vetplante die konstante, ’n simbool van bestendigheid. Ewolusionêr die pioniers en bittereinders van oorlewing.

.

Aalwyn in die droogte

 

Die ergste is dat die lewe dwarsdeur

’n droogte aangaan en dat nie

wil endkry nie, die verbete beur

van wortels vlak in die rondte,

.

dat die blare handewringend toevou

om die gees, en, gevaarrooi geverf,

krimpend asem ophou

tot eindelik die vernedering oorgaan.

.

 

Wilma Stockenström. Vir die bysiende leser (1970)

 

 

Verwysings:

 

https://af.wikipedia.org/wiki/Vetplant

https://dalenefowler.wordpress.com/2017/08/06/aalwyn-in-die-droogte/?fbclid=IwAR3bTwV-h87O2NJealSoGtlp11RHub6Tw7qO-MhvVARw5QeA-11_okt0Upw

 

 

 

 

 

Nini Bennett. Sonde met die bure

Friday, June 22nd, 2018

 

’n Spreuk is ’n baie ou digvorm, ’n bondige segswyse wat ’n didaktiese, moraliserende of godsdienstige strekking het. Deur die eeue heen hou mense daarvan as daar seën op hulle huishoudings rus, en huisspreuke is oral in huise op gebruiksartikels aangetref. Vandag is dit steeds die geval. Of dit ’n kombuisteël met woorde van wysheid is, of die tonikumgedagtes op yskasmagnete; dalk muurplakkers met inspirerende woorde, of heel moontlik die skurwe lewenswaarhede van kroegmemorabilia – die spore van ou huisspreuke maak steeds deel uit van ons dekor.

Hans du Plessis se Griekwapsalms bly gewild.

C. J. Langenhoven was ’n mensekenner par excellence – en hy het ook heelwat spreuke oor bure en die vreugdes en frustrasies van buurmanskap geskryf. Dit is nou afgesien van sy roman, Sonde met die bure, (1921).

  • Stuur jou buurman se vee skut toe en vind die skutgeld te min om vir jouself nog ’n veewagter te huur.
  • Vat al die kwaad wat jy in jou buurman sien en al die goed wat jy in jouself sien, en maak daar ’n derde mens uit. Hy sal maar naastenby so lyk soos elk van julle twee.
  • Koop jou wingerdstokkies van jou buurman. Jy het nie die vreemde wingerd se druiwe geproe nie.
  • Dis nie reg van my buurman om te bid vir reën solank as my gerwe nog op die land lê nie. Waarom dink hy net aan sy eie belange?
  • Dis makliker om die gemeente lief te hê as jou buurman, en die hele menslike geslag as jou vrou se familie.

*

Twee jaar gelede het ek en my geliefde getrek na ’n kraaknuwe landgoed in Somerset-Wes. ’n Trek is soos ’n troue, het my ma nog geskerts: daar loop altyd iets verkeerd. Maar wonder bo wonder het alles seepglad verloop. Die probleme het eers ná die intrekkery begin.

Die betrokke Saterdagaand het ek spykers in die muur gekap, besig om my portette op te hang. Dit was tien voor agt: ek hét die huisreëls, wat die agent my in die hand gestop het, bestudeer. Jy mag nie na agt op ’n Saterdagaand met toebehore werk wat ’n geraas maak nie.  Ek was nog betyds. Ek het iewers in die agtergrond verneem dat die Springbokke weer ’n epiese neerlaag teen die All Blacks gely het. Nie dat dit my kon skeel nie: ek was ywerig aan’t uitpak en nesskrop, verstrik in my talle lysies. Beddegoed in hoofslaapkamer. Koppel eerste yskas, ketel, mikrogolf. Badkamer toiletpapier NB. Reël vir wifi. Etes?? Mr D Food. Onthou medikasie in handsak.

Die volgende oomblik is daar ’n harde klop aan die voordeur. Onthuts sit ek my hamer neer; dan weer: dié keer ’n gebulder van ’n vuis teen die deur.

Ek maak oop. Voor my staan ‘n jongman. Aggressief. Hy praat my groet dood en val summier met die deur in die huis: “Jy raas! As jy aanhou kap, dan sal jy ’n ding sien. Ek kom  ?#@*&%!  breek hierdie deur van jou af.”

Ek protesteer; beduie dat ek binne die huisreëls is – dit is nog nie agtuur nie, dat ons nuwe intrekkers is, en dat ek net my skilderye ophang…

Mellet kom om die draai en staan nader. “Wat is die probleem?”

Maar nou het Buurman ’n ander man gesien, ’n rooi doek voor ’n bul. Hy fleks sy armspiere. 100% beef, lees ek op sy T-hemp.

“Térug,” waarsku ek hom. Jy kom nie in nie.”

Hy gluur na my en bly onseker op my nuwe Welcome-deurmat staan. Die geveg waarop hy gehoop het, gaan nie plaasvind nie.

Mellet praat met die knaap soos hy met ’n rebelse student praat. Stadig, bedaard, en in ’n lae stemtoon. Ek draai om na my selfoon wat op die eetkemertafel lê; aktiveer ongemerk die bandopname-ikon. Buurman se tirade duur voort. Hy vertel ons in kleur en geur dat hy ‘n Libanees nie (ja, hy het Afrikaans grootgeword), maar dat sy pa “hoog op” is in die Libanese mafia; en in gekruide taal (waarvan ek nie die sosiolek kan vasstel nie, dalk bendetaal in die tronk?) dreig hy wat hy nog alles aan ons gaan doen. Die Springbokke het verloor, maar sy alfaman-geen het ontwaak. “Gaan slaap nou maar. Gaan slaap jou roes af, ” bits ek tussenbeide voor ons saam die voordeur toedruk.

“Ek gaan polisie toe. Ons het skaars ingetrek en ons word gedreig met die dood,” lig ek my geliefde inderhaas in en gryp die motorsleutel. En só ry ek, agtuur op ’n Saterdagaand, op soek na Somerset-Wes Polisie. By die klagtetoonbank sit ’n konstabel, besig om ’n weekoue verkreukelde Son te lees. En verder geen siel in sig nie: geen gewondes, geen misdadigers, geen klagtes; nie eers ’n burger wat ’n Kommissaris van Ede se polisiestempel benodig nie.

Weer vertel ek die storie van my buurman, die Afrikaanse Libanees (of die Libanese Afrikaner, ek is nie seker nie.) Die konstabel lyk vaak. Sy luister onbetrokke, buig dan vertroulik vorentoe en sê: “Die karre daar by julle estate staan onder ’n skadunet. Ons het al baie klagtes gekry van karre wat gekrap word…Mevroutjie wil tog nie hê hy moet jou kar beskadig nie? Ignoreer hom net, hy sal iewers afkoel.” Die son sien alles is die laaste wat ek op die voorblad lees voor ek op my tande kners en wegloop. Nou voel ek éérs geviktimiseer. In die kar herroep ek stories van frustrerende pennelekkers en staatsamptenare. In Nikolai Gogol se legendariese kortverhaal, Die jas, het Akakii Akakiiwitsj ná die diefstal van sy jas tragies tot sterwe gekom en by ’n polisiegeneraal begin spook. En in Marcel Aymé se verhaal, Die man wat deur mure geloop het, het die afgeknoude klerk, Dutelleul, op sy baas wraak geneem deur op ’n magiese wyse dwarsdeur mure te beweeg. Die frustrasie met die burokrasie is ’n gewilde onderwerp in die ouer Russiese en Wes-Europese kortverhaalkuns. Want daar was en ís altyd ’n amptenaar wat die burgery se lewens versuur.

Voor ek onder die skadunet indraai, luier ek eers stadig by Buurman se parkeerplek verby. Hy ry ’n Ford Fiesta, en sy kar staan wydsbeen geparkeer oor twee parkeerareas. Die ekstra een is seker vir sy pa, my gesiglose vyand in die Libanese mafia.

En geen verwelkoming by ons nuwe tuiste nie – net ’n ontgroening. Maar as ek so na koshuispolitiek kyk, is verwelkoming en ontgroening dalk een en dieselfde ding. Enkele bure het kom inloer; hulself vlugtig voorgestel. Geen koek of karmenaadjie in die hand, soos outydse plattelandse etiket vereis nie. Tye verander. Tog gebruik mense dwarsoor die wêreld vandag steeds verwelkomingsrituele om ’n nuwe huis in te wy, en hierdie rituele, bygelowe, of seënwense is afkomstig uit verskillende kulture en gelowe.

Die brand van ’n kers die eerste nag is ’n belangrike verwelkomingsritueel. Volgens oorlewering besweer dit slegte geeste en dryf die duisternis simbolies na buite. Hierdie brandende kers word vergesel van ’n gebed, seënwens, of vorm deel van ’n groter offergawe of sakrament.  “Housewarming” beteken ook die aansteek van ’n vuur in die kaggel; ’n ou tradisie wat op sy beurt sy herkoms in die middeleeue het. Vuur is ’n kragtige simbool van lewe en dit beliggaam suiwerheid.

Brood en sout. Die bygeloof (uit Joods-Russiese oorsprong) lui dat brood en sout die eerste items moet wees wat oor die drumpel van die nuwe huis gebring word. Beide brood en sout simboliseer gasvryheid en voorspoed. Brood is ook bedien saam met maaltye in Europese huishoudings, en sout, wat eens op ’n tyd so kosbaar en skaars was dat dit as handelseenheid gebruik is, verteenwoordig die smaak van die lewe.

Lui ‘n klok in elke vertrek. Vir diegene wat Feng Shui in hulle huise beoefen, is die lui van ‘n Tibetaanse klok niks nuut nie. Die beierende klok reinig die nuwe huis van ou en stagnante energie (si Chi). Die oopmaak van vensters, die oopdraai van waaiers en die verwelkoming van sonstrale is ander maniere om positiewe energie binne te laat.

Tradisionele Boeddhistiese intrekrituele is volop. Binne die Thaise kultuur word ’n onewe getal monnikke genooi om die nuwe woonplek te seën, ook bekend as die Khuan Ban Mai-seremonie. Tydens so ’n geleentheid ontvang die huisbewoners geskenke, en word spesiale disse berei; die huisbewoners dra dan die Sai Seen, of ’n heilige draad of toutjie om hulle polse.

Die brand van gedroogde salie. Daar word geglo dat wanneer jy hierdie krui aan die brand steek en saggies daaroor blaas totdat dit rook, dit kragtige beskerming teen bose invloede kan bied. Die gebruik is ontleen van inheemse Amerikaanse stamtradisies. Tydens hierdie ritueel word alle elektroniese toestelle afgeskakel, en die spieëls en vensters in ’n huis word toegegooi met ’n kleed.

Daar bestaan talle Indiese huisverwelkomingstradisies. Die nuwe intrekkers kook rys in melk tot die kastrol letterlik oorloop: dit simboliseer reinheid en ’n lang lewe van oorvloed. Volgens ’n ander tradisie moet jy ’n melkkoei met ’n blommekrans om die nek oor jou drumpel lei, en dié ritueel waarborg glo voorspoed en vooruitgang in alles wat jy aanpak.

Hartlike Franse verwelkomingstradisies. Die Franse het ’n instelling dat die skoorsteen se haak, oftewel die pendaison de crémaillère verander moet word tydens die voorbereiding van ’n dankseggingsmaaltyd.

In Suid-Afrika verwys ons na “dak natmaak”, ’n gebruik waartydens mense genooi word vir ’n ete of braai om die nuwe woning in te wy. Geskenke word onderling uitgeruil. Die herkoms van die uitdrukking is afgelei van ’n tradisie waar die bouer of eienaar van ’n gebou letterlik die dak moet natmaak om te bepaal of dit waterdig is. ’n Tweede herkoms van die gebruik is om wyn tydens ’n fees op die grond uit te giet as dankoffer om die gode te behaag.

Tydens verwelkomingsrituele gee gaste ook graag vir die nuwe inwoners gedigte of mooi groetekaartjies. Ek het afgekom op ’n paar webwerwe wat pasgemaakte verse, kompleet met template en grafika, vir dié geleentheid voorberei het. Die verse is nie bedoel om groot poësie te wees nie, maar om die liminale oorgang (die intrek in ’n nuwe woonplek) te vier en die seën daaroor uit te spreek.

Maar terug na ons trek en Buurman se onwelkome ontvangs.

Dit is ’n mooi landgoed met die Hottentots-Hollandberge in die agtergrond wat kort-kort verkleur, ligspelend tussen grys, Pruisiese blou en skakerings van gekneusde pers. Die name van plekke bly voortdurend verander; dorpe, strate, stede… maar die name van berge verander selde, indien ooit. Berge is die bloedlyne van ’n landskap. Dit staan vas. En dit is ’n deftige landgoed: selfs die katte stap aan leirieme. Dit is nie sommer hierjy rondloperkatte nie – nee, elke troeteldier dra ’n blink naamplaatjie met die besonderhede van die eienaar aan die halsband. Reëls, reëls; hier is streng huisreëls. Ek ontmoet die opsigter. Sy naam is Giep Steyn. Hy is ’n dun gedrinkte man met ’n jaartbesem vir ’n snor. Hy dra geruite hemde en groet almal in die verbygaan, glimlaggend met sy spierwit klawerbord. Sy kunsgebit is te groot. Hy maak ’n fluitgeluid as hy ’n ‘s’ sê, kompleet soos ’n ou Hervormde predikant wat aandgodsdiens hou. Sjomersjet-Wesj. Die groot snor dra ’n geel skynsel van te veel Paul Revere. Binne die mikrokosmos van die landgoed is Giep ’n belangrike man. Hiér het hy mag. En jy mag nie na hom verwys as die “opsigter” of “caretaker” nie, nee, hy is die voorsittende beampte. Uit die staanspoor besef ek hier word die bodorp en die onderdorp se vetes net voortgesit, maar hierdie keer in die gedaante van rusies tussen die huurders en die eienaars, deeltitelakte en huisreëls in die hand. Giep moet beslis. En soos dit mos gaan, het eienaars altyd meer seggenskap as huurders. Maar dit was ná ons ingetrek het, en maande voor die Groot Droogte.

Februarie hierdie jaar ontvang ek ’n selfoonvideo van me Zille – (waar hét die DA my nommer in die hande gekry?) Die Weskaapse premier praat met ’n beswaarde gesig en met haar platgekamde, praktiese nuwe haarstyl. Water is skaars. Kapenaars bad hopeloos te veel – ’n vlugtige stort een, hoogstens twee maal ’n week is meer as genoeg. “Daar is niks verkeerd met ’n outydse waskom en lap nie,” vervolg sy. Die politikus is geklee in ’n knalrooi baadjiepak om die erns van haar boodskap te beklemtoon. Sy word die simbool van droogte en van ’n vegtende matriarg wat die lot van miljoene droogtegeteisterde Kapenaars op haar skouers neem. Kort na hierdie onthutsende boodskap ontvang ek nóg ’n video, die keer van Mmusi Maimane. Hy is minder dreigend en meer paaiend as die premier. Daarna biep my foon met ’n skakel na ’n rits klagtenommers om jou bure te rapporteer indien hulle water misbruik. Nou kyk, dis nie baie bevorderlik vir goeie buurmanskap as die leier van die amptelike opposisie jou aansê om op jou bure te spioeneer en hulle te verklik vir watervermorsing nie. Op die landgoed is daar baie buitekrane – dit vorm deel van die gemeenskaplike eiendom. En o wee die arme drommel wat vinnig sy emmer probeer opvul…Giep Steyn se waterpatrollie het begin. Hy huiwer, altyd iewers in die agtergrond en binne sigafstand van ’n kraan. Water is ’n nasionele bate, en die opsigter neem sy nuwe taak ernstig op, al rokende, ’n blik Coke in die ander hand en ’n bofbalkeps op sy kop teen die bloedige son. Dan tree die nuwe Vlak 6B-waterbeperkings in werking en die inwoners se agterdog verander in paranoia: wie het onlangs hulle motors gewas? En hoe is daardie motor gewas? Die karwassers, wat altyd met hulle waentjies vol skoonmaakmiddels en stofsuiers ronddool tussen die parkeerareas, raak oornag ’n skaars gesig. Die motors onder die skadunette vertoon al dowwer en stowweriger, bemors met die skuins blertse van die hadidas. Die gebruik van ’n tuinslang is teen dié tyd lankal geskiedenis.

Op ’n dag klop ’n karwasser blinkgesig aan my deur. “Ek het water gekry, maar ek charge nou R10 meer vir die was, want ek moet ’n deposit op die water neersit.”

“Ja..?” vra ek ongelowig. En met ’n omweg vertel hy my dat die kroegman water verkoop, of eerder: dat daar ’n florerende sluikhandel in gryswater in die landgoed se klubhuis ontstaan het. “Cheap-cheap”, en hy knipoog toe hy die motorsleutel by my neem.

’n Huis is ’n sosiale konstruk, ’n idee. ’n Tuiste, daarenteen, is ’n woonplek wat ingeleef en beliggaam word; dit dra die slytasie en verweer van die lewe self. Dit is die beloftes van kosgeure half sewe elke aand… of die vingermerke op verkillende hoogtes teen die mure wat verklap dat jong, groeiende kinders hier speel. En “tuiste” impliseer ’n moedswillige buurman wat met die lang verwagte winterreën van 2018 sy moddervoete aan my deurmat kom afvee. Maar ek het geleer om hom op ’n geamuseerde afstand te bejeën. Uiteindelik kom dit neer op grense.

Anders as die moraliserende spreuke van Langenhoven, skryf Robert Frost met ’n satiriese knyp oor die grense van buurmanskap.

Mending Wall

Something there is that doesn’t love a wall,

That sends the frozen-ground-swell under it,

And spills the upper boulders in the sun;

And makes gaps even two can pass abreast.

The work of hunters is another thing:

I have come after them and made repair

Where they have left not one stone on a stone,

But they would have the rabbit out of hiding,

To please the yelping dogs. The gaps I mean,

No one has seen them made or heard them made,

But at spring mending-time we find them there.

I let my neighbour know beyond the hill;

And on a day we meet to walk the line

And set the wall between us once again.

We keep the wall between us as we go.

To each the boulders that have fallen to each.

And some are loaves and some so nearly balls

We have to use a spell to make them balance:

“Stay where you are until our backs are turned!”

We wear our fingers rough with handling them.

Oh, just another kind of out-door game,

One on a side. It comes to little more:

There where it is we do not need the wall:

He is all pine and I am apple orchard.

My apple trees will never get across

And eat the cones under his pines, I tell him.

He only says, “Good fences make good neighbours.”

Spring is the mischief in me, and I wonder

If I could put a notion in his head:

“Why do they make good neighbours? Isn’t it

Where there are cows? But here there are no cows.

Before I built a wall I’d ask to know

What I was walling in or walling out,

And to whom I was like to give offence.

Something there is that doesn’t love a wall,

That wants it down.” I could say “Elves” to him,

But it’s not elves exactly, and I’d rather

He said it for himself. I see him there

Bringing a stone grasped firmly by the top

In each hand, like an old-stone savage armed.

He moves in darkness as it seems to me,

Not of woods only and the shade of trees.

He will not go behind his father’s saying,

And he likes having thought of it so well

He says again, “Good fences make good neighbours.”

 

Verwysings:

Cloete, T.T. (red.). 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.

Scannel, J. Spreuke van Langenhoven. 2002. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.

https://holidappy.com/greeting-cards/Congratulations-messages-for-new-home-Housewarming-wishes-poems-and-quotes-for-new-home-cards

https://www.bustle.com/articles/118785-8-housewarming-traditions-from-around-the-world

10 of the Best Poems about Houses and Homes

https://maroelamedia.co.za/afrikaans/idiome-en-uitdrukkings/uitdrukking-dak-natmaak/

 

 

 

 

 

Gisela Ullyatt. Stuur groete aan die reën.

Wednesday, December 9th, 2015

Colesberg

’n Gros woorde sou 2015 kon beskryf: #rhodesmustfall#; #feesmustfall# en ander dergelike hutstekens (of liewer onthuts-tekens?). Terreur, Parys, verset, twis, tweespalt. Afrikaans. Kolonisering, de-kolonisering, neo-liberalisme, Marxisme(s).
Steve Hofmeyr wat country sing. Nathan Trantraal wat op Halloween die Ingrid Jonker-prys wen. Wit patriargie. Swart patriargie.
Open Stellenbosch. Kovsies #Steynmustfall#; NWU #Totiusmustfall#. Oscar Pistorius en die ANC-vroueliga. Suid-Afrikaanse Oorlog. Boer. Grond. Donker donker land. Wye en droewe land.
Twee woorde oorheers egter bostaande begrippe: ‘reën’ en ‘droogte’. Hiermee saam, ‘versengend’; die ‘dieper dors’.
In 6 Desember se Rapport Weekliks skryf Leon Schreiber oor die VN-Klimaatsberaad in Parys (‘’n Droë, warm seisoen’:7). Wat my opval en terselfdertyd nog meer moedeloos laat, is die volgende paragraaf:

Die impak van die klimaatsverandering word inderwaarheid reeds wêreldwyd beleef: 14 van die 15 warmste jare wat tot dusver opgeteken is, het almal sedert 2000 voorgekom. Die Wêreld-Metereologiese Vereniging (WMF) voorspel bowendien dat 2015 verreweg die aarde se warmste jaar gaan wees sedert optekening in 1860 begin het.

Hier sit ons dus, ge-hittegolf. Soos ek hier tik, is dit 35 grade. Maar dit is 20:35. Daar is nie ’n venster of ’n deur wat nie oopgaap nie. Daar is waterbeperkings. Lugverkoeling is te duur vir meeste privaat-huise. Aldus die waaier wat warm lug soos ’n bergwind rondspiraal. Die hitte oordonder alles; die donderstorms bly gerugte.
Veral boere in die Vrystaat en Noordwes word deur die droogte vermink. Daar is nie weiding nie; die aarde is verskroei. Talle moet hul eie diere skiet. Kalfies kry skitterysiekte omdat hulle maagvelletjies nog dun is en nie bestand teen die son is nie: die melk in hul mae word letterlik suur.
Gilbert Gibson, Bloemfonteinse internis wat die Oos-Vrystaatse plaaslewe ken, skryf só oor droogte op ’n plaas (Groot Verseboek, Deel 3:1204):

krit

daar is iets
in die oosvrystaat
marquardsenekalexcelsior
wat uit die ou testament uit peul
iewers in korannaberg
vlam ’n bos toevallig in ’n veldbrand
’n skaapwagter op rietvlei
se stok word ’n slang
steynskraal-beeste se oë
word deur kraaie uitgepik
in sandspruit se waterlose skeut
kniel droogte as profeet

Hans du Plessis dig in ‘Droogte drie en tagtig’ (GV, Deel 2:840) oor ’n knellende droogte van meer as dertig jaar gelede. Die emosionele ondertoon van die gedig (‘diep in die donker van ’n put’ en ‘dié swart gal gaan in my sinne sit’) speel in op die donkerte van moedeloosheid; die ongenade van hitte en son. Let op die wyse waarop die digter as’t ware ’n assosiatiewe spieëlbeeld uit die twee strofes skep: die tweede word ’n emosionele kartering van die eerste se fisiese ruimte:

mielies skuifel skraal skrompeltjies blaar
maer en ritsel teen die droë wind
skalter skewerig skuins en ongekop
op bruin gelit die dorte deur
die draaiwind dribbel uit ’n tregterpot
droë derms uit die dors uitlos
son speel speke teen ’n windpomp vas
as stofstrepe staan waar water was
en diep in die donker van ’n put
bid die son ’n skelm skerfie wit

ek loer flegmaties af
toe stort en staar my kop
uit die wiegende weinig op:
watertjie wikkel wanorde:
lug word water word son word stof:
en word ek ooit weer uitgeput:
dié swart gal gaan in my sinne sit:
iewers in hierdie jammerjaar
het ek nog kop verloor
en die laaste sap
word uit my leë lyf getap

Phil du Plessis se ‘Kalkbaai, Maart 1984’ (uit ‘Asemgedig’:19) eksploreer die verband tussen asemhaling-as-lewegewende ritme van die heelal wat ’n sikliese gang (asem/lug; water/reën) suggereer. Die wisselvalligheid van die kreatiewe proses, hier spesifiek die digproses, is ‘n verdere betekenismoontlikheid ter ontginning.

1

Die heelal haal ritmies asem,
maar hóé
verander die jaar self?

die aarde asem,
verdig die asem tot water,
tog, voor verposing
kom die uitasem
wat dampe weer
die ruimte instuur

soms kom die reën vroeër,
soms later.

Soos met talle van sy ander gedigte, daag Gert Vlok Nel semantiese sowel as strukturele konvensies uit; dit wat ongesê bly en verkap word, moet die leser self invul.
In ‘i sagte reën het agtermiddag’ (10) word die titel in beide openingsreël en laaste reël herhaal en met ’n punt of end stop markeer. Ook word ‘die’ by die openingsreël gevoeg wat spesifisiteit aan die spreker se herinnering verleen.

i sagte reën het die agtermiddag.
ja ons almal het uitgehol, rondgedans in die.
tot Ma natuurlik gesê het kom in julle reën.
julle sal koue.

ekeenAttieenPollie en Vlokkie my vertraagde.
het nie geluister vir Ma nie, ons het.
ons bootjies gery in die sloot langs.
Vlokkie die simpel lag i i i iieeggghh die simpel ding.

in die yard kom Ma uit met die belt kamma.
ons hol in bang kamma. skielik is daar ’n helse.
in die straat is daar i botsing, i bakkie en i.
i sagte reën het agtermiddag.

Christine Barkhuizen le Roux gebruik die garingboom as objektiewe korrelatief in ‘droogteblom’ (55). Die woord ‘pose’ in die slotreël is ’n effektiewe transponering van betekenis vanaf die openingsreël: die kortstondigheid van die garingboom-as-droogteblom. ‘Pose’ is ’n woord wat meestal in onbruik verval het; dit dui ’n vensterperiode of tussenpose aan:

die garingboom het uitgeloop
weerskant aan elke hand
’n diepbord stuifmeel saad en son

drie maande en ’n bietjie tyd
kantel die stingel val die blom

’n droogteplant leef in respyt
tot somer weer één pose kom

Petra Müller se My plek se naam is Waterval (Waterval verwys ook na haar plasie wat in 1984 deur ’n brand verwoes is) se uitgangspunt is geskoei op die Oosterse dig-tradisie; natuur en landskap swaelstert met kalligrafie. Omdigtings en voortdigtings van onder andere Kalligrafie-digters soos Li Po en Riokan word terselfdertyd in konteks met die Afrika-landskap geplaas. So byvoorbeeld word ‘die kersieboom soms ’n pruimboom, die den soms ’n seder’. Ingelyks aktiveer ‘reënroeplied’ (‘Maart, April’:92) Eugène Marais se ‘Die dans van die reën’:

sy hang haar vlae wyd
oor rante oop … draal nog dae
sleep nog ver

o suster van die yl karos
ek roep u uit die vaalte los

met miere, haas en wildegans
begin ek stadig, hortend dans

’n kleinwild wat die tekens lees
om spoortjie van u spoor te wees.

Tradisioneel word die reëndans met die Noord-Amerikaanse Indiane geassosieer. Suid-Afrika het egter Modjadji, die Reënkoningin, wie se tradisionele tuiste Suid van Venda lê. Marais se wêreld skakel dus met hierdie Afrika-legende (’n Engelse Uitgewery wat spesifiek aandag skenk aan vroue-skrywers het hulself na Modjadji vernoem).

Ek sluit af met Marais se alombekende gedig (GV, Deel 1:32): mag ons almal ’n riel kap vir Onse Suster:

Die dans van die reën
Lied van die vioolspeler, Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn

O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met al twee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!

Ns.: My hutsteken-mantra vir Suid-Afrika, 2016: #rainmustfall#.
Mag die Groot Lafenis ons almal omarm.

Colesberg2

Bibliografie

Barkhuizen Le Roux, C. 2006. roset. Pretoria: Lapa.
Brink, A.P. (ed). 2008. Groot Verseboek, Dele 1-3. Kaapstad: Tafelberg.
Du Plessis, P. 1986. Ek sing waar ek staan. Kaapstad: Tafelberg.
Müller, P. 1987. My plek se naam is Waterval. Kaapstad: Tafelberg.
Nel, G.V. 1993. om te lewe is onnatuurlik. Kaapstad: Tafelberg.

  •