Posts Tagged ‘Droombegin’

Digstring. Alfred Schaffer. “Droomstart”

Monday, December 2nd, 2013

Alfred Schaffer

 Digstring.  Enkele vrae oor die rugstring van ‘n gedig

 

Droomstart

 

De nachten zijn het ergst. Verderop de laatste boerderijen

maar alles is al onherkenbaar zelfs mijn eigen stem niets

er klopt helemaal niets meer van – wat bestaat lijkt plotseling

superdichtbij en gedocumenteerd, het water in de slootjes

de wind door het kniehoge gras, de zuigende aarde

en dat paard daar volgens mij is dat een paard. Om tijd te winnen

strik ik mijn veters. In mijn rugzak water voedsel droge kleren

een handvol losse kogels mijn mobieltje heeft gewoon bereik.

Nauwelijks denk ik na, nauwelijks haal ik adem, net of ik dood ben

maar ik ben springlevend. Heb ik dorst dan drink ik, ben ik moe

dan zing ik een liedje dat mijn moeder altijd voor mij zong.

Van bovenaf zou dit misschien op vluchten kunnen lijken maar

van bovenaf is alles duister. Hooguit een paar kilometer schat ik

dan komt de zon op, schitterend en helder licht alom.

 

 

Droombegin

 

Die nagte is die ergste. Verderaan die laaste plase

maar alles is al onherkenbaar selfs my eie stem niks niks

maak meer sin nie – wat bestaan lyk skielik

supernaby en gedokumenteer, die water in die slootjies

die wind deur die kniehoë gras, die suigende grond

en daardie perd daar ek dink dit is ’n perd. Om tyd te wen

strik ek my veters. In my rugsak water kos droë klere

’n handvol los koeëls my selfoon het gewoonweg ’n sein.

Ek dink skaars, ek haal skaars asem, presies of ek dood is

maar ek is springlewendig. Is ek dors dan drink ek, is ek moeg

dan sing ek ’n liedjie wat my ma altyd vir my gesing het.

Van bo af sou dit miskien kon lyk of ek vlug maar

van bo af is alles duister. Hoogstens nog ’n paar kilometer skat ek

dan kom die son op, skitterend en helder lig oor alles.

 

Vertaling deur Daniel Hugo

 

Uit: Kom in, dit vries daar buite  (Protea Boekhuis, 2013).

***

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Ek vermoed die gedig het iewers ontstaan tussen 2009 en 2011 – dit kan wees ek was nog in Amsterdam, maar ek is nie seker nie. Ek noteer nooit ’n datum of iets nie, hou nie ’n dagboek by nie en gooi al my aantekenings bewus weg. Die gedig het waarskynlik ontstaan uit los aantekeninge, en amper chronologies verder tot ’n vorm gekom.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Ek vermoed dit het vinnig sy finale vorm gekry – net klein wysigings het plaasgevind in die loop van die tyd.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

ʼn Vers is (vir my in elk geval) altyd maar wroeg en sweet. Skryf is in dié sin ʼn vorm van ondersoek, en ’n vorm van dink. Sonder wroeg en sweet sou dit net ’n dagdroom wees. En ’n droom is fassinerend, maar onsamehangend.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Wat die slot moet wees, is dikwels gou bekend. Dis dan asof jy na die dood toewerk. ʼn Sterwe wat bekend is aan jou.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ek wys nooit enige werk aan iemand as ek nog skryf daaraan, dit sou net ’n verleentheid wees.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

As ek reg onthou is dit net gepubliseer in Kom in, dit vries daar buite, begin 2013. ’n Bietjie bygewerk sal dit nou verskyn in my Nederlandse nuwe bundel, Mens Dier Ding, wat die geskiedenis van Shaka Zulu belig.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die inhoud is weliswaar fiktief, maar die fantasie hier is ’n pure feit.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dit handel oor ʼn nuwe begin, wat ook ’n afsterwe kan wees. Dalk is dit ʼn droom met oop oë. In elk geval het dit vir my ʼn positiewe konnotasie.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gelei het?

Nee, niks van sulke aard nie. Net die beeld van iemand in die donker in ’n veld, ʼn skadu binne skaduwee.

Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Nee, ek het nooit iemand in gedagte nie. Al is ’n gedig dan soos ’n onbesorgde brief.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Wel, hierdie en ook die ander gedigte in die nuwe bundel is dink ek drasties anders as my ou werk – veral wat die vorm en aanpak betref. Effens sagter, toegankliker, minder luidrugtig.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee, en ook nie iets tipies Nederlands nie – behalwe nou die taal, uiteraard. My verbeelding het iewers bly steek in die middel, rondom die ewenaar, glo ek.

Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek los ’n gedig nie uit tot ek met hom klaar is en nie verder kan nie. Dan smeek die gedig om genade en laat ek hom gaan.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek het ʼn paar goeie reaksies gekry op van die nuwe gedigte, soos toe ek van hulle gelees het by die Melville Poetry Festival verlede jaar. Maar ek glo nie dat ek my gevoel daaroor as ‘tevrede’ sal omskryf nie – in wese is ’n geskrewe gedig dooie materiaal.

’n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ja, ek kan, dit was ʼn baie kort gedig oor ʼn fiets in die mis wat rus teen ʼn boom, ʼn gedig uit my vorige lewe as ʼn tiener in Den Haag, ʼn soort Hollandse haiku. Maar die kontoere van dié gedig is verdwene iewers in die hoeke van my brein.

 

 —————————————————————————————————————–

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.



  •