Posts Tagged ‘Een aangename postumiteit’

Herman de Coninck. Een aangename postumiteit

Friday, January 22nd, 2010
Omslag

Omslag

In sy essay oor Herman de Coninck en sy band met Suid-Afrika verwys Yves T’Sjoen na die keur uit De Coninck se korrespondensie van bykans 15,000 briewe wat na sy dood as Een aangename postumiteit: Brieven 1965 – 1997 deur De Arbeiderspers gepubliseer is. Graag wil ek dan vanoggend se boeke-Nuuswekker aan dié besonderse publikasie afstaan …

Vanweë sy posisie as redakteur van Nieuw Wereldtijdschrift en sy uitgebreide kontakte binne die literêre wêreld was De Coninck inderdaad ‘n bedrywige briefskrywer.  Die geluk is dat hy nie net alle briewe wat hy ontvang het, behou het nie, maar ook kopieë van sy eie briewe gemaak en bewaar het.  Volgens die samestellers van dié lywige versameling briewe, te wete Benno Barnard, Kristien Hemmerechts, Piet Piryns en Annick Schreuder, het De Coninck veel makliker geskryf as gepraat. Volgens hulle het hy gedagtes op papier verwoord soos ander mense sou praat: soms babbelend, soms skerp, of aarselend, soms beslis, hartstogtelik, of selfs geïrriteerd, en heel dikwels geestig.

In sy geheel beskou vorm die 450 briewe wat in Een aangename postumiteit opgeneem is, ‘n besonderse tydsdokument: nie van die lewe en werk van Herman de Coninck nie, maar ook van die uiters opwindende periode in die Vlaamse en Nederlandse literatuurgeskiedenis waaraan hy deel gehad het; enersyds as joernalis (aanvanklik by Humo, later by De Morgen en uiteindelik as redakteur van NWT), dog andersyds ook as gerekspekteerde skrywer en kommentator.

As voorbeeld haal ek graag die eerste brief aan. Dit is ‘n brief wat De Coninck op 13 Julie 1965 geskryf het aan die Uitgeverij Manteau en handel oor die voorlegging van die manuskrip wat later as sy debuutbundel, De lenige liefde, sou verskyn. Maar ai, hoe goed ken ‘n digter nie die onsekerheid (en verwagting) wat met só ‘n skrywe gepaardgaan nie …

Geachte Heer,

Ongeveer een jaar geleden zond ek U een map gedichten, die ik geretoerneerd kreeg met de troostwoorden dat U gaarne bereid was rijper en omvangrijker werk ter uitgave in overweging te nemen. Ik weet niet of de huidige gedichten veel rijper zijn, maar de bundel is alleszins omvangrijker […]

Verdere aanwinste van dié publikasie is die talle voorbeelde van De Coninck se handgeskrewe briewe, asook ‘n beknopte bibliografie met ‘n persone- en tydskrifregister. Inderdaad, ‘n fassinerende publikasie wat vra om besit en geléés te word.

Die besonderhede van die boek is soos volg:

TITEL:                           Een aangename postumiteit: Brieven 1965 – 1997

OUTEUR:                      Herman de Coninck

UITGEWER:                  De Arbeiderspers

ISBN:                            9029509791

PRYS:                          R369.50

FORMAAT:                   A5, 862 bladsye

***

Vanoggend wil Nuuswekker ook jou aandag fokus op Daniel Hugo se aanvullende kommentaar op Yves T’Sjoen se essay. Kyk heel onder aan die essay, of volg die kortpad via die kommentare-lys regs onder op die hoofblad. Inderdaad ‘n fassinerende stuk geskiedenis, dié. Verder het Desmond Painter ‘n inskrywing geplaas oor Johan Degenaar se versamelde essays, Tweede refleksie,  wat ‘n hele tydjie gelede verskyn het. En dan – indien dit gedigte is waarvoor jy lus is – kan jy gerus by Johannes Prins se gedigtekamer inloer; daar’s ‘n nuwe gedig geplaas.

Ten slotte – môre is dit die verjaarsdag van MM Walters. En hoeveel ryker is ons digkuns nie vanweë sy besonderse (en unieke) bydrae daartoe nie … Veels geluk, mnr. Walters, en mag dit ‘n baie spesiale jaar wees. (En jammer, steeds kan ek u nie op u voornaam noem nie.)

Nietemin, lekker lees aan alles op die webblad en geniet die naweek wat op hande is.

Mooi bly.

LE

 

  •