Posts Tagged ‘Elisabeth Eybers’

Verlore gunsteling

Monday, May 17th, 2010

Wanneer ek ’n gunsteling Afrikaanse digbundel moet kies, gaan dit vir my meer oor sentimentele waarde as verdienste. Dit is nou die een wat ek sal gryp as die huis afbrand, eerder as die een waarmee ek op ’n eiland wil uitspoel.

   Soos ek reeds iewers genoem het, het ek my eerste digbundel gekry as Kersgeskenk aan die einde van graad een. Dit was ’n roomkleurige hardeband bundel en as ek reg onthou was dit net getitel Gedigte – ’n versamelbundel van Elisabeth Eybers, met gedigte waarskynlik tot en met Kruis of Munt (1973) of Einder (1977). Op daardie stadium was ek skaars sewe jaar oud en my ma het voorin iets geskryf soos dat ek dit dalk nog nie sal verstaan nie, maar dat dit van die beste gedigte in Afrikaans is. Natuurlik onthou ek daaruit “Maria”, “Wes-Transvaal”, “Die eerste nag” en veral “Bome”. Iewers in my studentejare het my ma die bundel geleen en toe uitgeleen. Aan wie, kon sy later nie meer onthou nie en so is ek my geliefde bundel kwyt. Ek hoop maar dat dit aan iemand nog vreugde verskaf.

   Met my drie-en-twintigste verjaarsdag kry ek weer ’n bundel – Versamelde Gedigte van Elisabeth Eybers. Voorin skryf my ma: Aan my liefste Blom. Om op te maak.

   ’n Ander sentimentele geliefde is D.J. Opperman se Junior Verseboek, wat ek aan die einde van graad twee as boekprys kry. Voorin is ’n plakker op Laerskool Melkrivier se briefhoof: Vir beste prestasie in Gr ii. Om een of ander onverklaarbare rede het ek met ’n dik groen pen daarin gedigte afgemerk en ook die name van die digters onderstreep (en genommer, tot by nr. 60!). Jy kan sê wat jy wil oor vernuwing, party gedigte bly maar mooi, al kom dit uit ’n ver verlede en ’n sentimentele geheue – “Mabalêl” van Eugène Marais, Totius se “Repos ailleurs”, “Die strandjutwolf” van Van Wyk Louw, “Klara Majola” en “Sproeireën” van Opperman.

   Maar miskien is daar plek vir nuwe gunstelinge. Dis lanklaas dat iemand my ’n digbundel present gegee het…

Andries Bezuidenhout. Busrit in die aand

Wednesday, April 28th, 2010

Blogfokus

 

BUSRIT IN DIE AAND 

Elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit,
sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.

Skaduwee-skimme gly verby…Dis laat,
en lang ligvaandels wapper oor die straat
soos oor ‘n dam die blinkpad na die maan.

Ons ploeg deur stormsee met ons kaperskuit:
die stuurman voor, die passasiers die buit
wat ons as slawe huis toe bring vanaand…

Die vaartuig waggel afdraand, om die draai
met skril gekners en skommelende swaai,
en hyg en skok en snork en swoeg opdraand,

terwyl ons, soos twee kinders opgetoë,
mekaar toelag met glinsterende oë…
Asof hul jammerlik hul lot kan raai,

sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.

 

– Elizabeth Eybers

 

TAXI-RIT NÁ DIE AAND 

Weer op Melvillesypaadjie vomeer,
nou metertaxi ons skommelend naar huis.
Lense fokus loop en val met Empire langs,

skrams deur Hillbrow (klinkersteen skullfuck Corbusier),
in Louis Botha by metro-cops en kapers verby.
Dreine soog oopkeel aan die maan,

hul deksels skroot vir ʼn high-rise in Beijing.
Aan pale wurg ligvaandels in slierte,
gelynch deur een of ander kontrakteur

met ʼn better connection dan al die ander
bloedsuiers, klaplopers en woekeraars.
“Ek verlang terug,” bibber jy,

“na ʼn bus uit die neëntien dertigs.”
Ek hoes: “Yl weerkaatsings van nóú…”
Weimarbusse het lank gelede rymelik verroes.

“Home, James! And don’t spare the potholes,”
giggel jy. In minibusvensters sit hulle suf,
waiters en casuals wat huis toe gaan.

 

– Andries Bezuidenhout

Bernard Odendaal. Versigtig met die liefde

Tuesday, February 16th, 2010

Oor die liefde moet mens versigtig skryf, al skryf jy so tweedehands oor ander se skrywes. Om te kies is nie eenvoudig nie. Dis nie ’n ding van dié een kry tagtig persent en daardie een negentig nie. As die een liefdesgedig vandag jou hartsnare geroer het, gaan die volgende een môre jou tone laat tingel. Tog moet Boerneef sekerlik hoog op die lysie staan:

mits dese wil ek vir jou sê

hoe diep my liefde vir jou lê

Daardie berggansveer gaan nog lank lê en tril daar by Woeperdal.

   Die liefde kortgevat is Rumi se dertiende eeuse kwatryne. Uit die Persies vertaal deur John Moyne en Coleman Barks klink dit so, onder andere:

Come to the orchard in Spring.

There is light and wine, and sweethearts in the pomegranate flowers.

If you do not come, these do not matter.

If you do come, these do not matter.

   en:

I would love to kiss you.

The price of kissing is your life.

 

Now my love is running towards my life shouting,

What a bargain, let’s buy it.

     Die Amerikaanse digter e.e. cummings skryf ’n lang gedig, “somewhere i have never travelled” waarvan die laaste reël vir my maar op sy eie kan staan:

nobody, not even the rain, has such small hands

 

en uit my kinderdae onthou ek dié een van W.E. Henley:

 

The nightingale has a lyre of gold,

The lark’s is a clarion call,

And the blackbird plays but a boxwood flute

But I love him best of all.

 

For his song is all of the joy of life,

And we in the mad spring weather,

We too have listened till he sang

Our hearts and lips together.

   As ek verder uit Afrikaans moet kies, dan Elisabeth Eybers. Vele, vele, maar dié een bly ’n gunsteling, omdat dit die woordloosheid, die stomgeslaanwees van liefde, maar ook die somtyds onlewensvatbaarheid daarvan so reg sê.

 

Die antwoord

 

Of ek jou liefhet?… Hoe vra jy, wanneer

my oë van die antwoord vol is, weer

dieselfde vraag so twyfelloos en teer?

 

Toe Christus met die derde haangekraai

sy blik vol stil verwyt na Petrus draai,

wie kon die later vraag en antwoord raai?

 

Drie maal het hy gevra … Daar was alleen

die één gebroke antwoord oor vir een

wat in die nag oor eie verraad moes ween.

 

Wanneer ek elke roekelose eed

van eew’ge trou en liefde reeds vergeet

het, sal ek nog soos Petrus sê: Jy wéét …

Op dieselfde trant ’n gedig van A. Roland Holst, waarvan ek ook die eerste reël ver, ver terug onthou:

 

Zwerversliefde

 

Laten wij zacht zijn voor elkander, kind –

want, o de maatlooze verlatenheden,

die over onze moegezworven leden

onder de sterren waaie’ in de oude wind.

 

O, laten wij maar zacht zijn, en maar niet

het trotsche hooge woord van liefde spreken,

want hoeveel harten moesten daarom breken

onder den wind in hulpeloos verdriet.

 

Wij zijn maar als de blaren in den wind

ritselend langs de zoom van oude wouden,

en alles is onzeker, en hoe zouden

wij weten wat alleen de wind weet, kind –

 

En laten wij omdat wij eenzaam zijn

nu onze hoofden bij elkander neigen,

en wijl wij same’ in ‘t oude waaien zwijgen

binnen een laatste droom gemeenzaam zijn.

 

Veel liefde ging verloren in den wind,

en wat de wind wil zullen wij nooit weten;

en daarom – voor we elkander weer vergeten –

laten wij zacht zijn voor elkander, kind.

Laat ons die “trotse hoë woord van liefde” dus maar met versigtigheid sê.

Elisabeth Eybers – vertaling in Engels

Thursday, January 7th, 2010

Elisabeth Eybers – vertaal deur Charl J.F. Cilliers en die outeur/translated by Charl J.F. Cilliers and the author

 

Dagdroom



 

Ek het jou brief gelees terwyl ek eet,

die woordesoet het oor my tong gesprei.

Verby die aardse brood het ek gestaar

dwarsdeur die bome in die raam, dwarsdeur die grys

wolkeplafon tot in die paradys

waar alles lig en helder is. En net

soos in die Bybel was ons naak en het

ek, aangekla, gou hom die skuld gegee

wat skemerig sis . . . toe ek opeens gewaar

dat ek my halfgerookte sigaret aftik

in my twee-derde koppie tee.

 

Elisabeth Eybers,  Gedigte 1958-1973

 

***

 

Daydream

 

I read your letter while I was eating,

sweetness of words spreading over my tongue.

Beyond this earthly bread I fixed my eyes

beyond trees in the window pane, the grey

cloud ceiling, to the everlasting play

of brightness and light in paradise. As

in the Bible when we were naked, and I was

accused, I quickly shifted blame from me

to one hissing in the dusk … then, to my surprise,

found I was flicking my half-smoked cigarette

into my two-thirds-full cup of tea.

 

Elisabeth Eybers,  Gedigte 1958-1973

 

(Translated by Charl JF Cilliers)

 

 

Whatever survives of the innermost me

 

Displaced Person

 

Whatever survives the innermost me

contains you too, unfailingly,

South Africa. But the traditional lore

seems less persuasive than before

they chose to bisect your proper name

 

by calling you Africa, where, on the whole,

disaster plays an alarming role

quite foreign to what I recollect

and cherish as a sancrosanct debt.

 

South Africa, while you disappear

I try to keep your status clear

by claiming that you’re exempt from blame.

[Translated by the author]

 

Immigrant

 

My hands and feet are all that came along,

the rest somehow got scuppered on the way:

the woozy heart, the whole foolhardy throng

of ductless glands raring to go astray.

 

Comparing what has disappeared with what

surrounds me here, I readily embrace

brand-new impressions, sound and light, the lot:

sense-organs occupying a rightful place.

 

My breast and belly also indicate

that something else existed previously.

Who knew that emptiness creates such weight

or what a burden non-constraint can be?

[Translated by the author]

 

 

In this strange land, unshielded by a mask…

 

Step by Step

 

You learn migration step by step, you see

strange and familiar objects, somehow stranded

on the artificial terrace where you landed

yet did not settle irrefutably.

[Translated by the author]

 

Willy-nilly

 

South Africa, when I abandoned you

because of personal hurt (not merely due

to random statements of stupidity)

my accent was enough to indicate

from where I came. Strange, how they welcomed me

while treating you to blind, official hate.

[Translated by the author]

 

Exile

 

In this strange land, unshielded by a mask…

the people here take everyone to task,

don’t tolerate nor flatter. What on earth

detains you here? There life was far more worth

and nothing now precludes your safe return.

 

You answer self-assured:

hate and suspicion can be borne

by all who share equivalent rights, who learn

not to make laws humiliating others

or challenge humanness by rubber stamp,

who look upon their fellow-men as brothers.

 

Why do I shrink from demanding:

my kinsmen, my co-incumbent,

just how will our children fare?

– Who’s paying for the past, its hapless care.

 

[Translated by Elisabeth Eybers (1915 – 2007)

Published in: The Low Countries. Arts and Society in Flanders and the Netherlands (2010, nr.18)

Published here with permission by the Chief Editor, Luc Devoldere.]

 

 

Mary

One of God’s holy seraphim

with joyful news came down to earth:

in humble praise you sang a hymn,

Mary, maid of Nazareth!

But when the neighbours looked askance

and Joseph thought he’d go away,

could you predict the dreary load

of shame your son would bear one day?

When, with a little secret smile,

you stroked your body – could you tell

the mingled love and dread with which

he’d have to brave the pit of hell?

And in the stable – as you lay

forsaken in your agony –

could you foresee the lonely way

that led into Gethsemany?

When gaudy monarchs journeyed far

their homage and their gifts to bring,

did you know with what boisterous shouts

the soldiers would proclaim him king?

When in your arms you held him so

as babes are cradled to be nursed

and watched his sucking, did you know

how helplessly he’d writhe with thirst?

*

When darkness flooded you, and John

came up and took you by the hand,

Woman of Sorrows, did you then

remember all and understand?

[Translated by the author]

Neil Astley. Staying Alive

Friday, December 4th, 2009
Omslag

Omslag

Die beste manier om blootstelling aan internasionale digkuns te kry, is uiteraard deur middel van ‘n bloemlesing. Die frustrasie is egter dat die meeste bloemlesings (in Engels) meestal ‘n onbeskaamde Anglo-Saksiese voorkeur het. Naas J.D. McClatchy se The Vintage Book of Contemporary World Poetry” (Random House) wat ek twee weke gelede bespreek het, is my gunsteling bloemlesing sekerlik Neil Astley se “Staying alive – real poems for unreal times” (Miramax Books). Die rede hiervoor is die indrukwekkende reikwydte van sy seleksie wat tematies ingedeel is en terselfdertyd heelwat internasionale digters betrek.

Neil Astley was naamlik die stigter van Bloodaxe Books, ‘n onafhanklike uitgewer wat uitsluitlik poësie in vertaling gepubliseer het.  Sy seleksie vir dié bloemlesing is dus gebaseer op 35 jaar ervaring met internasionale poësie. Volgens die voorwoord was Astley se riglyn die volgende: “Staying alive is quite unlike any other anthology. It doesn’t just give you 500 exceptional poems by many different kinds of poets from around the world; it’s a book with a particular vision of what poetry should be about – drawn from the poems themselves, not the critical reputations of the poets. It doesn’t offer representative selections of the writers included, nor does it follow the edicts of any groups of poetic factions: it cuts across them all. My aim has been to select strong lucid poems by a wide range of poets which will speak to intelligent readers everywhere.”

En hiermee kan ek nie anders as om akkoord te gaan nie; ‘n kragtoer, inderdaad. Selfs Anne Michaels (soos aangehaal op die agterplat) stem hiermee saam: “Staying Alive is a blessing of a book. The title says it all. I have long waited  for just this kind of setting down of poems. Has there ever been such a passionate anthology? These are poems that hunt you down with the solace of recognition.”

Die besonderhede van die boek is soos volg:

TITEL:                   Staying alive – Real poems for unreal times

SAMESTELLER:      Neil Astley

UITGEWER:           Miramax Books / Hyperion

ISBN:                    978 1 4013 5926 3

PRYS:                    R320.00

FORMAAT:            A5, 496 bladsye

***

Vanoggend wemel die webblad van nuwe inhoud. So het ons Antjie Krog se manjifieke pleidooi vir die poësie, My ontnugtering tot die poësie, ontvang en geplaas. Net so is die Brieweboks boordensvol terugvoer oor verlede naweek se fees. Bernard Odendaal bespreek Elisabeth Eybers se gedig “Satelliet” in sy reeks gedigbesprekings; ook het Bernard sy resensie van die Versindaba-gedenkbundel geplaas. Johann Lodewyk Marais fokus weer op Marthinus Versfeld, een van die legendariese denkers in ons kultuurgeskiedenis. (Terloops, bykans al Marthinus Versfeld se boeke is tans weer in druk beskikbaar …) Dan is daar ook vertalings deur Daniel Hugo van Dorothy Parker en Omar Khayyám se gedigte in die vertaalkamers geplaas. Goeie nuus is dat daar selfs nog méér nuwe stukke gedurende die naweek geplaas sal word. Moet dit dus nie mis nie! En, indien jy na nog foto’s van Versindaba 2009 wil kyk, kan jy gerus ‘n draai maak by die fotoblad wat by LitNet gelaai is.

Ten slotte – ek beoog om ons webmeester van volgende week af te verlok na een (of meer) plekke aan die Suid-Afrikaanse kuslyn. Vanweë onsekere (of selfs onmoontlike) internet-toegang sal Nuuswekker en ook ander plasings van volgende week af met verrassende onreëlmatigheid verskyn.

Amptelik is dit dus nou komkommertyd; so, bly op die uitkyk vir jou slaaitjie rus. Waar jy dit ook al kan kry.

Nuuswekker hervat weer wanneer die geleentheid hom voordoen.

Mooi bly.

LE

Elisabeth Eybers – vertaling in Afrikaans

Thursday, December 3rd, 2009

Elisabeth Eybers – vertaal deur Daniel Hugo

 

Insomniac Murmer

Elisabeth Eybers

  

My papery but impetuous craft

will slip along on the undulant draught

nosing towards an anonymous shore

where I batten it down for one night more.

 

Some nights, though, it remains at a loss

and until the day breaks it does nothing but toss.

Oh, help me to lull it from stern to stem,

this night won’t turn into one of them then.

 

 

 

Wakkerlê-rym

Elisabeth Eybers

 

 

’n vaartuigie van papier hou my vlot

solank as die onstuimigheid duur – tot

waar ’n anonieme baai lê en wag

en ek kan anker gooi vir nog ’n nag

 

ander kere vind ek rym nog rede

wat al die dobbering tot rus moet bring

maar streel jy my dat ek stil lê, liefling

word hierdie nag ’n hawe van vrede

 

(Vertaal deur Daniel Hugo)

(Uit: Monnikewerk, Tafelberg, 1995)

Bernard Odendaal. “Satelliet”

Thursday, December 3rd, 2009

Satelliet

 

1        Kyk maar, die arme satelliet

2        kan nooit aan die planeet ontvlug

3        en wíl ook nie: wat sou sy doen

4        diep in die eindelose lug?

5        Op lyn geslaan deur swaartekrag

6        het sy ten minste nou ’n baan,

7        sy moet, as sy ’n systap waag,

8        onmiddellik te pletter slaan.

 

9        Daarom dat sy aandagtig tol

10      en nougeset afstand bewaar,

11      geoefen in die wakker rol

12      wat lig in stand hou teenoor swaar.

 

13      Sy lei, soos dit ’n maan betaam,

14      sy oseane heen en weer,

15      vir haar part kan die heelal vergaan

16      terwyl sy op hóm konsentreer.

 

17      Res net ’n skrefie filigraan

18      nuut noem hulle dit, maar ai, hoe oud

19      word sy by tye, klein en koud –

20      bly sy nog met hom in die weer.

 

  • Elisabeth Eybers

 

Eybers is een van Afrikaans se heel belangrikste digters. Sy was soos Van Wyk Louw een van die Dertigers en het, naas gedigversamelings en enkele ander publikasies, uiteindelik 21 digbundels die lig laat sien voordat sy op 92-jarige leeftyd op 1Desember 2007 in Amsterdam oorlede is. Merkwaardig is voorts dat sy in Nederland, waar sy sedert 1961 gewoon het, net soos in Suid-Afrika vereer is as groot kunstenaar. Beide lande het hulle hoogste literêre eerbewyse aan haar toegeken (byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Hertzogprys en die Nederlandse P.C. Hooft-prys).

Een van haar uitstaande bydraes tot die Afrikaanse poësie is die wyse waarop sy die stem van die vrou laat opklink het: eers as jong meisie en toe as volwassene, as jong getroude vrou, as moeder, as belewer van die trauma van huweliksvervreemding en egskeiding, as middeljarige en as bejaarde. Dikwels teken sy die vrou as emosioneel en droomomwaas, in teenstelling met die logiese rasionaliteit en saaklikheid van die man. Veral in haar vroeër poesie staan die vrou boonop in vrywillige afhanklikheid tot die man. Later sou ’n duideliker verset teen sodanige stand van verhoudings en teen die verdeling van rolle intree.

Van laasgenoemde is die gedig “Satelliet” uit die bundel Bestand (1982) ’n voorbeeld.

 

Vrae

1. Watter aanduidings kan u in die gedig vind dat daar (waarskynlik) van ’n vrou en ’n man sprake is?

Daar word van ‘n “sy” en ‘n “hy” gepraat (reëls3,6,7,9 ensovoorts).

2. Waar Eybers aanvanklik in die trant van die Dertigers hoofsaaklik direkte belydenisverse geskryf het, “ontwikkel haar verse (mettertyd) tot objektiewe beelding en beskouings van lewensmomente” (Nienaber, Roodt en Snyman, 1994:91) – hoewel ’n resensent soos Tim Huysamen (1983:34) in Eybers se bundels sedert Tussensang (1950) by Eybers ’n “terugkeer” bespeur “na die persoonlike, selfs belydenis-, poësie van haar vroegste bundels”, met “Satelliet” as eintlik die enigste “gestaltegedig” in Bestand. Verduidelik kortliks wat die sentrale beeld in die gedig is en sê ook waarvan dit ’n beeld is.

Die sentrale beeld is die van ’n maan wat as satelliet op ’n vaste baan om ’n planeet bly wentel, en slegs met katastrofiese gevolge daarvan kan losraak. Dit beeld die verhouding tussen man en vrou uit, waar die vrou in vrywillige (vergelyk reël3) afhanklikheid van die man as meerdere (vergelyk reël12) bly leef en haar na hom skik (strofe 4, byvoorbeeld).

3. Hoewel die vrou vrywillig afhanklik bly van die man, is sy tog steeds ’n soort gevangene van die verhouding. Haal woorde uit die gedig aan wat sodanige gevangenskap impliseer.

”[K]an nooit […] ontvlug […] nie” (reëls 2-3); “[o]p lyn geslaan” (reël 5); selfs “soos dit ’n maan betaam” (reel 13).

4. Is daar dalk aanduidings dat ’n ontsnapping aan die verhouding oorweeg is of word? Toon dit aan.

Ja. Dat die vraag ontstaan wat van die “satelliet” sou word indien sy van die planeet ontvlug, is ’n aanduiding dat so ’n ontvlugting oorweeg is (strofe 1). Eweso as daar in strofe 2 die opsie genoem word van ‘‘’n systap waag” van die vaste baan af. Wat haar weerhou daarvan om weg te breek, is taamlik negatiewe oorwegings: die vrees vir eensaamheid (reël 4) en vernietiging (reël 8). Sy is klaarblyklik nie juis positief aangetrokke tot die verhouding nie.

5. Het die spreker simpatie met die vrou (die “satelliet”)? Staaf u antwoord uit die gedig.

Ja, die woord “arme” in versreël 1 druk dit direk uit, asook die uitroep en die tekening van haar erbarmlike toestand in versreëls 18-19. Strofe 1 en versreëls 18-19 is ook die twee plekke in die gedig waar dit die duidelikste blyk dat dit eintlik om die uitbeelding van ’n menslike toestand gaan, en nie om die hemelliggame nie. Nog sterker as in die res van die gedig gryp die spreker in om sy/haar eie ingesteldheid te laat blyk. Dit het tot gevolg dat die beelding hier eintlik ’n bietjie oneg word, dat die metafoor nie heg ‘sluit’ nie. Die maan kan byvoorbeeld nie regtig “wíl” soos ’n mens nie (reël 3), net soos wat “nuut en “oud […] by tye, klein en koud” (reel 18-19) nie in alle opsigte ewe gemaklik op die vrou sowel as die maan van toepassing gemaak kan word nie.

Indirek blyk die simpatie van die spreker natuurlik ook uit die keuse van die sentrale beeld om die verhouding uit te druk. Dit is ‘n beeld wat onontkombare vasgevangenheid en onderworpenheid (wil) suggereer. H.C.T. Müller (1982:35) wys egter op nog ’n onoortuigendheid in die beelding in hierdie verband: “Daar is ’n mate van inbreuk op die fyn, veelduidige balans van die parallel in [reëls 15 en 16]. Dis of, gesien binne die vers as geheel, die menslike (vroulike) handelswyse te dominant word in die verhouding met die satelliet wat die rol van die metaforiese beelddraer aangeneem het.” Met ander woorde: Daar is iets teenstrydigs daarin dat die vasgevange en onderworpe vrou (en maan) vasbeslote en teen alle omringende kragte in blý fokus op die man (aarde). En, aansluitend by die kritiek op die beelding in reëls 3 en 18-19 hierbo: Die deur middel van personifikasie aangeduide optrede van die vrou oorskry hier té duidelik die grense van waartoe die (in werklikheid willose) maan in staat is.  

6. Hoewel nie openlike opstandigheid nie, is daar dus tog ’n duidelike toon van onvrede met die vrou se posisie in die man/vrou-ver houding wat uit die gedig spreek. Dis asof die spreker die leser wil konfronteer met ’n gegewe wat duidelik genoeg van ’n misstand spreek. Waaruit blyk die appèl op die leser se oordeel die duidelikste?

Uit die bevelsvorm (“Kyk maar”) en die retoriese vraag “wat sou sy doen / diep in die eindelose lug?”) in strofe 1. Die woord “maar” in die bevel het ongeveer die betekenis van “gerus”, waardeur die vanselfsprekendheid van die situasie soos verder in die gedig beskryf, onderstreep word. Die retoriese vraag rig nie slegs ’n appèl aan die leser om saam na te dink nie, maar impliseer eweneens die onontkombaarheid van die posisie waarin “die arme satelliet” haar bevind.

7. Die ondertoon van onvrede word ook duidelik gemaak deur die benutting van die dubbele implikasies van bepaalde woorde/uitdrukkings, in besonder deur die spel tussen letterlike en figuurlike betekenisse in die metaforiseringsproses. Gaan sodanige voorbeelde na en verklaar die verskillende implikasies. (Let terselfdertyd op die nuutmaking van sekere geykte uitdrukkings.)

  • “Op lyn geslaan deur swaartekrag” (reël 5) – letterlik: deur swaartekrag in ’n vaste baan gehou; figuurlik: deur konvensie (aangaande die huwelik?) gebind aan die man, in ’n ondergeskikte rol teenoor die van die oorheersende man geplaas.
  • “[H]et sy nou ten minste ’n baan” (reël 6) – letterlik: het die maan darem ’n vaste wentelbaan in plaas daarvan om koersloos deur die heelal te dryf; figuurlik: het die vrou darem ’n bepaalde plek en rol in die samelewing. (In Nederlands beteken om ‘n “baan” te hê ook om ’n betrekking/werk te hê.)
  •  “[A]s sy ’n systap waag” (reël 7) – letterlik: as die maan sou durf om van die wentelbaan af te wyk; figuurlik: as die vrou sou durf anders optree as wat die konvensie vir haar voorskryf, of ook as sy sou durf om uit die verhouding los te breek.
  • “[N]ougeset afstand bewaar” (reël 10) – letterlik: noukeurig in die wentelbaan bly; figuurlik: oppas om nie té intiem betrokke te raak by die man se aangeleenthede nie. (Straks ook wat betref hulle eie verhouding?)
  • “[G]eoefen in die wakker rol” (reël 11) – letterlik: bedrewe en bedag in die volg van die wentelbaan; figuurlik: al gewoond om haar te kwel (snags wakker te lê) oor hulle verhouding.
  • “[L]ig in stand hou teenoor swaar” (reël 12) – letterlik: die minder massale maan in sy baan hou om die groter planeet; figuurlik: die minder belangrike vrou ‘op haar plek hou’ in die verhouding met die belangriker man.
  • “Sy lei […] sy oseane heen en weer” (reël 13-14) – letterlik: die maan veroorsaak deur haar aantrekkingskrag dat daar verskillende getye ontstaan; figuurlik: soos wat daar van haar as vroulike wederhelf verwag kan word, sien sy om na sy verskillende behoeftes, of streel/stuur sy op vroulik slinkse manier sy gedagtes / gemoedstemminge in gunstige koerse.
  • “Res net ’n skerfie filigraan:” (reël 17) – letterlik: as net ’n fyn sekelmaantjie oorbly; figuurlik: as net ’n bietjie van haar vroulikheid/skoonheid oorbly. (Filigraan = “fyn edelsmeewerk, veral uit goud en silwer, met die voorkoms van kantwerk” – Odendal et al., 1994.)
  • “[B]ly sy nog met hom in die weer” (reël 20) – letterlik: bly die maan en die planeet mekaar se meteorologiese omstandighede beïnvloed; figuurlik: bly die vrou met die man besig wees. (Die uitdrukking “in die weer wees” beteken op en besig wees; kyk Barnes, s.d: 240.)

8. Verklaar wat die uitdrukking “hoe oud word sy by tye, klein en koud” (reël 18-19) aangaande die vrou se geestestoestand suggereer.

Dat haar ervaring van die verhouding tussen man en vrou soms net te veel vir haar word, haar lewenslus blus, haar vernederd en geestelik afgestomp laat voel.

9. Gaan die rymskema in die gedig na en probeer die funksionaliteit daarvan verklaar in terme van wat geïmpliseer word aangaande die vrou se ervaring van die huweliksverhouding.

Die basiese rympatroon is kruisrym, wat ’n besonder hegte rympatroon is. Dit is funksioneel om die onverbiddelikheid van die sosiale konvensies aangaande die huwelik en die rolle van man en vrou daarbinne te suggereer, asook die ervaring van vasgevangenheid binne hierdie konvensies deur die vrou.

Daar is egter ’n aantal afwykings op die rympatroon. In strofe 1 rym versreëls 1 en 3 nie. In strofe 2 is die rym tussen reëls 1 en 3 nie heeltemal vol nie, soos ook in strofe 4. In die slotstrofe is die afwyking selfs meer ingrypend, deurdat ons hier slegs paarrym van die twee binneste versreëls vind.

Al die afwykings kan as ’n soort sigbaarmaking van die ondertoon van onvrede (in die vroulike gemoed) oor die konvensies aangaande die huweliksverhouding gesien word, miskien selfs as tekenend van die wankele voet waarop die konvensionele beskouings oor die huweliksverhouding berus.

10. Verklaar hoekom die titel bloot “Satelliet” heet, en nie byvoorbeeld “Planeet en satelliet” nie.

Die vroulike ervaring van die huweliksverhouding staan in fokus, en nie soseer die man/vrou-verhouding self nie.

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat 

Bronnelys

Barnes, A.S.V. Sonder datum. Afrikaanse spreekwoorde, gesegdes, en ander uitdrukkinge. Tiende druk. Elsiesrivier: Nasou Beperk.

Huysamen, Tim. 1983. Eybers maak hier vrede met ’n hele lewe. Rapport, 30 Januarie:34.

Müller, H.C.T. 1982. “Weloorwoë, sonder nood of haas …” Buurman 13(2), Desember 1982/Januarie 1983:35.

Nienaber, P.J.; Roodt, PH.; en Snyman, N.J. (samestellers). 1994. Digters en Digkuns. Vyfde uitgawe, eerste druk. Midrand: Perskor-uitgewers Beperk.

Odendal, F.F. (hoofred.); Schoonees, P.C.; Swanepoel, C.J.; Du Toit, S.J.; en Booysen, C.M. 1994. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Derde, hersiene, uitgebreide uitgawe, eerste druk. Midrand: Perskor-uitgewers Beperk.

 

Uitgeverij Van Oorschot vier fees …

Friday, August 28th, 2009
Geert van Oorschot

Geert van Oorschot

Vandag is ‘n groot dag in die 63-jarige geskiedenis van die onafhanklike Nederlandse uitgewery, Van Oorschot. Nie net sou sy stigter, Geert van Oorsschot (1909-1987), vandeesmaand ‘n honderd jaar oud gewees het nie, maar die uitgewery wat hy in November 1945 tot stand gebring het, publiseer vandag hul duisendste titel. Dié spesiale publikasie bevat die korrespondensie tussen Van Oorschot en M. Vasalis (wat toevallig óók vanjaar ‘n honderd jaar oud sou gewees het), wat hulle tussen 1951 en 1987 gevoer het. “Uitgeven zoals Geert van Oorschot deed betekent onafhankelijk uitgeven, en alleen uitgeven wat je zelf mooi of goed vindt,” het Arjen Fortuin (NRC Handelsblad se redakteur en biograaf van Geert van Oorschot) opgemerk.

Uitgeverij Van Oorschot was maar nog altyd wars van die hoofstroom, maar kon onder hul galery skrywers groot name soos Hans Lodeizen, W.F. Hermans, J.J. Voskuil en G.K. van het Reve reken.  Voorts was hulle bekend vir die klassieke werke van Multatuli, Biesheuvel, Couperus, Leopold, Ter Braak en Du Perron wat hulle met netjies-versorgde uitgawes in druk gehou het.

Inderdaad is hierdie ‘n besonderse prestasie deur ‘n relatief klein hondjie op die werf wat so lank tussen die groot honde kon oorleef. En – gaan lees gerus ook weer die artikel wat Hans Ester oor die korrespondensie tussen Elisabeth Eybers en Chris van Geel geskryf het. Hierin is daar vele verwysings na Geert van Oorschot, wat nie net Eybers se Nederlandse uitgewer was nie, maar ook haar minnaar. Of Van Oorschot ‘n aangename, liefdevolle mens was? Wel, dít is ‘n totaal ánder storie …

En daarmee groet Nuuswekker vir dié week. Stook die vreugdesvure dié naweek; ons hervat Maandag weer.

Mooi bly.

LE