Posts Tagged ‘Elizabeth Eybers’

Philip de Vos. Die Boek wat my lewe verander het

Friday, April 22nd, 2011

 

  

 

Dikwels is daar die klein dingetjies wat jou lewe vir altyd verander. In my eie lewe is daar ‘n paar wat ek goed onthou: Daardie dag toe ons kooroefening by Hoërskool Sentraal gehad het en ek op ‘n stoel naby mnr. Casaleggio gesit het. Sy opmerking was seker maar bloot toevallig: “Eendag as jy uit matriek is, moet jy sangles neem.”

En die dag toe Leon Rousseau vir my gesê het: “Hoekom skryf jy nie kinderversies nie?” En Kerneels Breytenbach: “Hoekom skryf jy nie limericke nie?”

Ek het nooit geweet ek kon nie, en ja, dit het later toe wel gebeur. En in die geval van Kerneels het dit toevallig gebeur toe my arme Volkswagen gesteel is en later in Benoni sy herverskyning gemaak het en ek my eerste limerick geskryf het en daarna vir drie maande glad nie kon ophou nie:

 

‘n Brose jong maagd van Benoni

sê immer en altyd: “Ninoni!”

Haar kêrel sê: “Jinne!

Ag, kom tot jou sinne,

want ek kan die glad nee meerhoni!”

 

Ja, klein dingetjies soos dié kan jou lewe vir goed verander. En wat van die boeke waarmee mens in jou kinderdae kennis gemaak het? En is daar wel boeke wat ‘n mens se lewe kan verander? Seker wel.

Deesdae is dit so maklik om inligting te bekom. Te maklik. Jy sit maar net daar voor jou rekenaar. Maak die Google webblad oop en tik: Books that changed my life.

Dit is tog vreemd wat jy nie alles op dié manier kan opspoor nie. Eers het ek gedink ek is uniek en het gereken ek kan iets intik wat geen ander aardse wese nog ooit gedoen het nie.I hate sellotape was my eerste soektog. Ek haat daardie halfgeel kleefband wat glo aan alles kleef. By my kleef dit aan niks vas nie, behalwe as dit skeur en aan my vingers vaskleef, en weier om weer los te kom, nes ‘n tiener wat soms in sy neus rondgrawe. En wat was die uitslag van my soektog?

Daar is selfs ‘n klub in Amerika vir sellotape-haters dus voel ek nie meer so alleen nie.

Die volgende was: I hate putting on duvet covers. En hier het ek al vooraf besef ek is nie alleen nie, en ek was reg. Dit is natuurlik te lekker met bed-opmaak sonder al daardie ekstra lakens en komberse, maar hoe om daardie duvetoortreksel oor die ding te kry, bring natuurlik ander probleme mee. En so-iets moet wel soms gedoen word. Jy kan sekerlik nie vir ses maande onder daardie duvet lê en broei nie.

Maar dit is iets wat die goeie Martin Luther wel gedoen het voordat hy daardie 967 leerstellinge teen een of ander kerkdeur êrens in Londen vasgespyker het. Volgens prentjies wat ek van dié man gesien het, was hy ook maar bra onaansienlik.

 

 

 Maar as dit maar ál was. Luther het somtyds glo vir ‘n hele jaar lank glad nie sy beddegoed laat was nie, want hy het glo gedink die sweetreuk maak hom ‘n regte man. Dink maar hoe hy die ander gemeentelede moes weggestink het. En ja, so godsdienstig soos hy was, het hy ook glo notas gemaak van sy defekasie-gewoontes, want hy was glo uiters gelowig en hardlywig, en het verklaar dat hy die duiwel of ander bose gees met ‘n enkele poep uit iemand kon verdrywe.

En dit is glo die reine, reine waarheid soos ek verneem het uit Irving Wallace se boek The Intimate Sex lives of Famous People en hierdie gunsteling boek van my staan heel gesellig tussen Lina Spies en Elizabeth Eybers se boeke op my boekrak.

 

 

 

Gunsteling boeke wat mense se lewens verander het?

Maar, soos gewoonlik het ek alweer, soos soveel kere vantevore, weggedwaal van die gewigtige onderwerp waaroor ek eintlik wou skrywe.

Om terug te kom by die duvet-storie. Ja, ek is nie die enigste wat duvet-probleme het nie. Op Youtube wys ‘n man vir die hele wêreld hoe hy dit regkry om die ding oor te trek. Hy klim sommer binne-in daardie gedoente in. En dit is presies wat ek ook doen. Maar, dit daar gelaat

Ek wil eintlik praat oor ‘n literêre werk wat my hele lewe vir goed verander het. ‘n Boek wat geen ander mens op aarde nog ooit gelees het nie.

‘n Ruk gelede het die Guardian-koerant ‘n paar bekendes gevra of daar enige boeke is wat hulle lewe vir goed verander het, en die antwoorde het my net ‘n bietjie slegter laat voel, want waarom kon ek nie sê dit was Periandros van Korinthe of Stephen Hawking se Singularities in Collapsing Stars and Expanding Universes of Schopenhauer se On the Fourfold Root of the Principle of Sufficient Reason nie?

Myne was waarskynlik ‘n bietjie minder bekend:

Howard Jacobson, wenner van die 2010 Booker Prize het genoem dat dit Palgrave se Golden Treasury of the Best Songs and Lyrical Poems in the English Language was.

Hy noem: “It was from Palgrave that I learned that literature had a sound, that language mattered more than story, that rhythm haunted the imagination, and that love and grief and loneliness interested me more than any other subject.”

En dan is daar Jo Brand, die Britse stand-up comedian wat vir 10 jaar lank ‘n verpleegster in ‘n psigiatriese inrigting was:

 

 

“The book that changed my life was One Flew over the Cuckoo’s Nest by Ken Kessey. I suppose it changed my attitude towards those with mental health problems. I read it in a few days, and I when I got to the final page was immensely pissed off to discover someone had torn it out …”

En die boek wat my persoonlik vir goed geknak het? Krompie en Stompie deur Pattie Beukes – en miskien is hierdie sublieme titel destyds deur haar man Gerhard Beukes voorgestel. Dink maar aan een of twee van sy ander titels As ons twee eers getroud is of dalk Die Vonkel in haar Oë.

As ek nie daardie boek gelees het nie, was ek dalk vandag ‘n ander man – ‘n man wat allerhande diep dinge kon dink en mense kon besig hou met filosofiese gesprekke tot moreoggend vroegdag. Iemand wat selfs weet wat die woorde metafisika en outodidakties beteken. En dan is daar daai ander woord wat Leon Rousseau eenkeer in ‘n brief gebruik het toe ek pas versies begin skryf. Hy het gesê: Vermy epigonie – en tot vandag weet ek nie wat dié groot woord beteken nie.

En dit moes die volgende prosagedeelte gewees het wat my ontroer het, want luister net hoe mooi begin dié storie:

Krompie en Stompie was twee snaakse ou vuurhoutjie-maatjies in ‘n propvol vuurhoutjiedosie in Pa se sak. Elke keer as Pa wou rook, het hy die moeite ontsien om met die mismaakte, skewe en stomp ou vuurhoutjies sy pyp op te steek; vererg het hy hulle dan eenkant toe gestoot om ‘n mooi reguit vuurhoutjie uit te haal.

“Is ons tweetjies dan heeltemal niks werd nie, Krompie?” het sy een aand met ‘n huilstemmetjie gevra. “Kan ons dan vir niks gebruik word nie? Is ons dan regtig so sleg”

Toe het Krompie sy armpies om haar gesit. “Toe maar, Stompie, eendag kom ons kans … eendag sal ons hulle wys …”

En tot vandag toe – en dis ongelukkig die reine, reine waarheid voel ek half treurig as ek ‘n mismaakte vuurhoutjie in ‘n dosie opspoor. Dié sal ek sal dan verkies bo enige van die ander en as die vlammetjie nog uitgaan voor ek dalk ‘n wierookstokkie aangesteek het, dan voel ek eers sleg!

En ongelukkig het hierdie jammer-voel vir vuurhoutjies oorgestoot na ander dinge in my lewe. Met Kersfees word daar altyd simpel klappers getrek terwyl mens ewe verspotte papierhoedjies dra. En na die klapper sy klap geklap het, val daar ‘n ewe simpele stukkie papier met ‘n ewe simpel grappie uit. En as dit nie genoeg is nie: ‘n stukkie pienk of geel speelding wat êrens in Sjina gemaak is vir mense wat dink dat hierdie goed wat uit die goedkoop klapper val hulle Kersdag gaan vervrolik.

En so sinies as wat ek oor klappers en Krismishoede is, so jammer kry ek later vir daardie pienk speelding. Ek wil dit weggooi, maar dan dink ek: hierdie stukkie plastiek moet seker êrens ‘n doel in die lewe hê en om dit sondermeer in die asblik te gooi, klink ook nie heeltemal reg nie en dan hoor ek weer Krompie se stemmetjie: “Is ons dan regtig so sleg? Toemaar Stompie … eendag kom ons kans …”

En ja, ek kry selfs jammer vir onkruid en sal dit nie sommer-sommer uittrek nie. Hoekom kan die onkruid en die katjiepiering nie saam-saam woon nie? Ek vra maar net.

Maar toe begin ek die ander dag effens wonder toe my vriend Peter onkruid wou uittrek. Toe ek hewig begin protesteer het vir my toegesnou. “Hemel, is jy dan van lotjie getik?”

En toe begin ek selfs wonder en reken ek moet maar weer Google se hulp inroep, en hierdie keer tik ek: Do you ever feel sad about inanimate objects? En na ‘n paar minute voel ek sommer stukke, stukke beter, want skielik besef ek daar is selfs ‘n Facebook-bladsy vir mense wat soos ek voel.

En hier is een of twee inskrywings wat ek teëgekom het:

Is it normal feeling sorry or pity for inanimate objects? Like the last mangled cookie that gets thrown out, or a broken light bulb in a packet of light bulbs that will never get its turn to shine?

En iemand anders wat skryf: “I always have to eat all the food on my plate because seeing that last green bean getting thrown away is rough for me. The bean was planted in soil and nurtured through growth and then picked by a farmer and cleaned and packaged and sent to a grocery store where it was purchased taken home and cooked. Its last moment is lying on this nice dinner plate arranged with other foods that have travelled long and hard to be eaten by me. So I make sure their life was worth it and eat everything on my plate.

En dan voeg ‘n simpatieke wese iets by: I think it sounds beautiful and poetic.

En iemand anders: This is the stupidist thing I’ve ever read. I think you should go and see a shrink.

Die een ding wat ek wel uit my ge-Googlery geleer het, is dat ek nie alleen is nie. Daar is miskien baie ander soos ek. Hulle wil net nie daaroor praat nie, maar heimlik dink hulle dalkies in die stilte van hulle binnekamers: “Toemaar, eendag kom my kans … eendag sal ek julle wys.

Maar tog, maar tog. Hoekom kon dit nie maar liewer Dostoyevksy of T.S. Eliot gewees het wat my lewe vir goed verander het nie.

En wie het al in elk geval ooit van Krompie en Stompie of Pattie Beukes gehoor (behalwe natuurlik haar goeie ou man en hy is alreeds in 1998 daarmee heen).

 

 

 

 

 

Andries Bezuidenhout. Busgedigte aan die einde van Weimar

Wednesday, April 28th, 2010

BUSRIT IN DIE AAND

Elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit,
sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.

Skaduwee-skimme gly verby…Dis laat,
en lang ligvaandels wapper oor die straat
soos oor ‘n dam die blinkpad na die maan.

Ons ploeg deur stormsee met ons kaperskuit:
die stuurman voor, die passasiers die buit
wat ons as slawe huis toe bring vanaand…

Die vaartuig waggel afdraand, om die draai
met skril gekners en skommelende swaai,
en hyg en skok en snork en swoeg opdraand,

terwyl ons, soos twee kinders opgetoë,
mekaar toelag met glinsterende oë…
Asof hul jammerlik hul lot kan raai,

sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.

– Elizabeth Eybers

Boston Globe

Foto: Boston Globe

TAXI-RIT NÁ DIE AAND

Weer op Melvillesypaadjie vomeer,
nou metertaxi ons skommelend naar huis.
Lense fokus loop en val met Empire langs,

skrams deur Hillbrow (klinkersteen skullfuck Corbusier),
in Louis Botha by metro-cops en kapers verby.
Dreine soog oopkeel aan die maan,

hul deksels skroot vir ʼn high-rise in Beijing.
Aan pale wurg ligvaandels in slierte,
gelynch deur een of ander kontrakteur

met ʼn better connection dan al die ander
bloedsuiers, klaplopers en woekeraars.
“Ek verlang terug,” bibber jy,

“na ʼn bus uit die neëntien dertigs.”
Ek hoes: “Yl weerkaatsings van nóú…”
Weimarbusse het lank gelede rymelik verroes.

“Home, James! And don’t spare the potholes,”
giggel jy. In minibusvensters sit hulle suf,
waiters en casuals wat huis toe gaan.

Andries Bezuidenhout. Hul laaste dae in Johannesburg, skets 4a

Wednesday, November 11th, 2009

1
Wie sing vir die metropool?

2
Wat gebeur as jy die aardbol omdraai sodat die gatkant bo sit? Die antipodes is nie meer doer onder nie. Die plek wat ons Suid-Afrika noem sit aan die noorde van die kontinent. Op die wilde wye web is enigiets moontlik. Op straat lyk dit nie juis so nie.

3
Na slegs ses jaar se boomtown sprawl:
duisende myners in tente, sinkhuise, hostelle en hotelle
     suiphuise en bordele vir enkellopende mans
besluit die Rand Lords
dis een te veel en vlug
oor die randjie – beskut van die smerige Eldorado
rig hulle ʼn heining rondom Parktown op.

Raserige, swetende bouers werk aan:
Northwards,
Pallinghurst,
Highfield Manor, en,
spesiaal vir Lionel Phillips,
met die rug gekeer op die myne se hel:
Hohenheim
en later Villa Arcadia.

Maar steeds hoor hulle die gestamp
van metaal op klip –
soos tromme in die nag.

4
Melankolie en nostalgie. Hulle sit hoog in hulle woonstel, die glasdeure oop. Hy blaai deur ʼn ou Elizabeth Eybers digbundel. Die drukkers het rooi ink op die titelblad gebruik. Die drukpers het nie slegs ink nagelaat nie. Die letters is letterlik by die bladsye se vesels ingestamp. Hierdie is woorde met gesag, dink hy. Hy lees oor die Witwatersrand. Die Ponte flikker met daardie obsene Vodacom-advertensie. Die Hillbrow-toring stuur nog steeds sy seine in die nag, sy seine in die nag, sy sein vir die junkies wat wag.

5
The Johannesburg Salon is an experiment. It is a contingent and in-process attempt to merge elements of an intellectual-cultural magazine with a public discussion forum. Notwithstanding the misgivings of many of our Anglophone writers (who associate the term Salon with amateur opera and sad canapés) we have called this forum a Salon in an attempt re-establish the ideal of a public space fundamentally dedicated to intellectual discussion; one that recognises the central place of ideas in public life. We also wish to rework the notion that such a forum is the exclusive domain of old Europe. The Johannesburg Salon is an attempt to utilize the opportunities for global conversation offered by the spatial and temporal compression of the virtual environment. The 21st Century manifestation of the internet allows The Johannesburg Salon’s public to be from all over the world, and to meet simultaneously.

6
Nuwe tendens. Kinders wat hulle gesigte wit smeer en danspassies by verkeersligte doen. Die man met sy een arm is verplaas deur die nuwe agente.

7
Nuwe inisiatief. Die Johannesburg Salon. Om lewe intellektuele lewe in Johannesburg se onderaardse mynskagte te blaas. Luister iemand? Hy lees van die artikels. Hy geniet John Comaroff se stuk oor neoliberalisme en Franco Barchiesi se onstellende argument oor wat gebeur as jy ander mense se drome droom. Ook Pamila Gupta oor nostalgie. Hy sal later die onderhoud met Achille Mbembe aanpak.

8
Will readers respond and become writers? Will this Southern-based Salon attract an active global public? Are we right that such a venue is needed and desired and will be used?

9
ʼn Suid-Afrikaner van Joodse afkoms wat al lank in Chicago woon. ʼn Italianer, wat lank in Johannesburg gewoon het, maar nou in Ohio klasgee. ʼn Kameroener, wat lank in Parys gewoon en studeer het, en nou in Johannesburg woon. ʼn Amerikaner van Indiese afkoms, wat nou in Johannesburg woon. Hiérdie is die nuwe intellektuele elite wat uit Johannesburg se salon skryf. Mense sonder grense. Hy voel provinsiaal. Hy skryf in Afrikaans, nie omdat hy wil nie, maar omdat dit al taal is waarin hy homself min of meer kan uitdruk. Soms moet hy ver ry om ʼn Afrikaanse koerant te koop. Waar hy woon, is nie baie ander Afrikaanssprekendes nie. Hy is een van baie immigrante. Kan die mense in die salon met die mense in Johannesburg se strate praat? Dit lyk asof hulle so ʼn behoefte het. Maar vir wie sing hulle? Die ontwykende Johannesburg, of ander metropole? Moet jy ʼn keuse maak?

10
Bronne: Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band. 1989. Eet kreef! Klankopname, Shifty Records. Kursiewe aanhalings in Engels: Lara Allen en Achille Mbembe. 2009. “Editorial: Arguing for a Southern Salon.” Johannesburg Salon, volume 1, pp. 1-3.

  •