Posts Tagged ‘Emperors Palace’

Desmond Painter. Droedelaire!

Friday, September 16th, 2011

Die laaste drie dae het ek deurgebring by die jaarlikse kongres van die Psychological Society of South Africa (ek het al vantevore verwys na die akademiese stam aan wie ek teen wil en dank behoort, die sielkudde, die sielskunniges, die kopbekruipers, die bewussynsswyne, die gedragsmasjiniste, die bitterweters…).

Erger nog, die kongres was nie by ‘n universiteit aangebied nie, maar by Emperors Palace net langs die Johannesburg Internasionale Lughawe. So tussen die casino (Richmond Fontaine se wonderlike song, “Casino”, het meermale deur my kop gedraai…) en die food court met die vreemde plafon vol prente van wolke en beligting wat dit laat lyk of dit altyd skemer is (ons het een aand by die Ocean Basket gaan eet, en jou wrintie, die eerste ding wat die kelner ons vra is: “Do you want a table inside or outside?”).

Maar laat ek julle nie verveel met werkspraatjies nie. Terwyl ek so sit en luister na die een referaat na die ander, droedel ek maar in die komplimentêre notaboekies met die komplimentêre penne wat in al die lesingsale uitgedeel word. Ek skryf neer wat ook al by my opkom, en dan probeer ek die gedagtes voor afloop van die sessie in ‘n digterlike vorm indwing.

Ek het vanaand na afloop van die kongres deur my boekies geblaai, en tussen al die gedagtes en enkelsinne darem vyf kwatryne gevind wat al so half en half konsepstadium bereik het. Terloops, ek het tuisgegaan in een van die hotelle binne die Emperors Palace kompleks, wat nogal ‘n neerdrukkende ervaring was. ‘n Dooie ruimte. Iets van die vervreemdende, deels beklemmende, deels bevrydende aspek van hotelle en hotelkamers (onthou julle Stef Bos se lieflike song, “Hilton, Barcelona”?) het in die droedels neerslag gevind, lyk dit my.

En na drie dae in ‘n casino kan ek netsowel maar met ‘n paar kwatryne dobbel, so hier is hulle — en kom ons noem hulle vir nou sommer “Vyf Hotelkwatryne”

*

1.

Koffie te maak. Die oggend haar gang

te laat gaan. Te luister na die veraf sang

van die strate. Te droom, te word, prys te gee

al wat die oggend van jou verlang.

2.

gisteraand se gawes staan verleë

wanneer sy die deur agter haar toeklap

wanneer sy straataf stap

wanneer die oggend meegee

3.

hy sit na homself en staar

in die hotelkamer se spieël

staan eers op wanneer hy haar

in die hotelkamer se bed verbeel

4.

die vergifnis van kortstondigheid

of die warmte van geleende tyd

wie weet wie sy gister was

‘n hotelkamer hou jou anders vas

5.

‘n Hotelontbyt, net vlugtig die koerant

voor ek loop. Ons is nêrens nuus nie, want

laasnag in daardie rookvrye kamer

het ons ongemerk uitgebrand.