Posts Tagged ‘Equilibrium’

Andries Bezuidenhout. Waarna ek vanoggend geluister het

Tuesday, January 26th, 2010

Ek en Irma moes vanoggend karre omruil. Sy wil iets met die dieseltrok oplaai. Dit beteken ek het vir ʼn verandering musiek om na te luister in die verkeer. Irma luister nou al vir weke na my nuwe kopie van die Mattheuspassie (ʼn opname van Karajan se Weense weergawe uit 1950), maar om een of ander rede voel ek nie opgewasse vir Bach nie. Met die kitaar in die een hand (vir band practice vanaand) loop ek gou verby die CD rak en gryp met die ander hand die eerste en beste CD waarvoor ek lus is. Druk dit onder die arm in.

Louis Botha-laan sukkel maar. Ek vat ʼn kortpad deur Yeoville, mik vir Hillbrow en Berea, dan deur Braamfontein tot by die kantoor.

Ek luister oor en oor na “Picasso se song”, die eerste snit op die album, Koos Kombuis se Equilibrium. Hy het dele van die liriek uit gedigte gehaal wat Annelize Olivier van Pretoria vir hom gestuur het, dele bygevoeg, asook “ietsie geleen by Breyten”, soos hy op die CD se omslag skryf.

Ongelukkig is die liriek nie daar nie. Ek is mal oor die klavier en kontrabas in die opname. Soms kan ʼn mens Koos ook hoor asemhaal, baie soos die musikante in die opname van die Mattheuspassie. Dit laat die opname werklik voel. Laat ek dele van “Picasso se song” probeer onthou:

My hart is in ʼn speaker box, gebêre in wit Wellington,
hy’s gewoond aan AC/DC speel, maar die metafoor is Breyten s’n.
Namakwaland kweek drome na elke jaar se reën
en Joburg lyk soos Rome, net sonder hart of been.

Picasso sou kon lekker bly in Hartenbos se hand
en Shakespeare sou kon poetry skryf op Mosselbaai se sagte sand.

In ons land van steel en bedel soek jy telkens na jou rus,
op die trein van toek(?) na vrede, of die Melville party bus,
want wense kos net tiekies op die plekke langs die pad –
dit hang af wie jou wens kies, dis belangrik wie hom vat.

In jou flat in Hillbrow saans sit ons op jou balcony
en ons sing van hoe ons dans, maar weet ons dat ons kan nie.
My hart is in ʼn speaker box, gebêre in wit Wellington,
hy’s gewoond aan AC/DC speel, maar die memories is ons s’n.

Hierdie is goeie musiek om mee werk toe te ry. Deur Yeoville, Hillbrow en Braamfontein. Ek dink steeds Equilibrium is een van Koos Kombuis se beste CD’s, deels weens die uitstekende, onkonvensionele verwerkings.

  •