Posts Tagged ‘Erik Menkveld’

Daniel Hugo. Erik Menkveld en Villa Hellebosch

Tuesday, April 1st, 2014

Dit is gister bekend gemaak dat een van Nederland se vernaamste digters, Erik Menkveld (1959), Sondag in die ouderdom van 55 jaar oorlede is. Hy was onder meer ‘n redakteur by die Uitgeverij De Bezige Bij en ook redakteur van die literêre tydskryf Tirade. Menkveld het in 1997 as digter gedebuteer met De karpersimulator, ‘n bundel wat vir die VSB Poëzieprijs genomineer was en bekroon is met die Van der Hoogtprijs en ook die C. Buddingh-prijs.

Onderstaande essay is deur Daniel Hugo ingestuur ter nagedagtenis aan die ontslape digter

*

In Oktober 2007 was ek twee weke lank ’n gas aan ‘n internasionale skrywershuis in België, waar ek op ’n herfstige Sondagmiddag aangekom het.

Villa Hellebosch (www.residentiesinvlaanderen.be) lê in ’n pragtige bos teen ’n helling van die dorpie Vollezele – vandaar die naam Hellebosch. Dit is ’n enorme dubbelverdiepinghuis met ’n rietdak. (Die mense van die omgewing verwys daarna as die “kasteel”, sou ek later in die dorpskroeg verneem.) Die bos bestaan onder meer uit populiere, kastaiings, eike en – my asem slaan weg – beukebome. Dit is die eerste keer in my lewe dat ek hierdie lang en slanke wolkekrabbers aanskou. My kamer is op die boonste verdieping van die villa en kyk uit op die beuke. Snags word ek bewus van hulle gerusstellende geritsel.

In die onderste gang van die villa is daar ’n rak met die publikasies van die skrywers wat al hier gebly het. Aan die oorkantste muur hang ’n hele galery foto’s van die einste outeurs. Een van hulle is die Nederlandse digter Erik Menkveld, van wie daar drie bundels op die rak staan. In Prime time (Uitgeverij GA van Oorschot, Amsterdam) ontdek ek “Dichter en fazant te Hellebosch” opgedra aan Alexandra Cool, eienaar van die villa en ons gasvrou.

Een klaroenstoot haalt hem uit zijn werk.
Vanachter zijn tafel een blauw gemarmerd
knaloranje spektakel in de herfstige
spikkelpopulieren achter de haag.

Onder zijn appelrodewingerdrankomaderde
raam versprinkt een geelvink
in de rozelaar, staart hem scheef
aan en schiet weg in de boomgaard.

O kleurloos getsjilp in mijn hersens
denkt hij. Een fazant laat zich niet zien
onder onmiddellijke woorden als vermiljoen,
paarlemoer, valavond, zwerk.

In Afrikaans klink dit só:

Digter en fisant by Hellebosch

’n Trompetgeskal steur hom in sy werk.
Hy kyk op en sien ’n blou marmergestreepte
knaloranje spektakel in die herfstige
spikkelpopuliere agter die heining.

Buite sy appelrooiwingerdblaarberankte
venster spring ’n geelvink rond
in die roosboom, kyk hom skeef aan,
vlieg skielik weg na die boord.

O die kleurlose getjilp in my kop,
dink hy. ’n Fisant bly onsigbaar
in onmiddellike woorde soos vermiljoen,
perlemoen, skemeraand, swerk.

Die gedig gaan oor die uitdaging om die klinkende, kleurryke, bewegende werklikheid te beskryf – sonder om in geykte taalgebruik te verval. In die slotstrofe gee die digter ’n rytjie “poëtiese” woorde wat hy as verslete en daarom as onbruikbaar beskou. As teenvoeter skep hy die neologismes “spikkelpopulieren” en “appelrodewingerdrankomaderde”.

Soos te verwagte is daar onvertaalbaarhede in Menkveld se gedig wat minder bevredigende Afrikaanse ekwivalente moes kry. Daardie “klaroenstoot” waarmee die vers so welluidend begin, word ’n veel lomper “trompetgeskal”. Die enkele helder noot word ’n kermisagtige fanfare. Die halfrymende “klaroen”/“knaloranje” gaan ook daarmee verlore, maar word in ’n mate voor vergoed deur die klankooreenkomste tussen “geskal” en “spektakel”. (Dit val my nou op dat die “blauw gemarmerd / knaloranje spektakel” van ’n fisant inderdaad as ’n soort kermisattraksie voorgestel word.) In reël 2 van dié strofe is my “blou marmergestreepte” weer eens omslagtiger (en minder presies) as “blauw gemarmerd”.

Daardie lang nuutskepping in die openingsreël van strofe 2,  “appelrodewingerdrankomaderde”, is noodgedwonge anders weergegee in Afrikaans, omdat die woord “omaarde” vir “omaderde” onduidelik en selfs dubbelsinnig is – die leser sou kon dink dit verwys na die “aarde” en nie na “are” nie. Die “raam” (venster) word in die Nederlandse gedig deur die wingerdranke “omader”, waarmee assosiatief na die woord “gemarmerd” in die eerste strofe verwys word. Marmer vertoon naamlik kronkelende strepe of are. Van Dale praat van ’n “mozaïektextuur” en gee die frase “geaderd marmer” aan. Dit alles gaan in my vertaling verlore. Die allitererende b-klank wat uit die Afrikaanse strofe opklink, vergoed nie vir dié semantiese verlies nie.

In die slotstrofe kom die poëtiese woorde – wat die digter onmiddellik en alte maklik te binne skiet – naamlik “vermiljoen”, “paarlemoer” en “zwerk” gelukkig ook in Afrikaans voor. Tog jammer dat die Nederlandse “valavond” in donker Afrika heeltemal verduister geraak het.

Nog ’n bewoner van die villa-in-die-beukebos is Paul Buekenhout. (What’s in a name?) Hy is die hoofbestuurder van Het Beschrijf, wat hierdie huis bedryf. Ek ry saam met Paul na Brussel, waar ek ’n paar Nederlandse boeke wil koop. Hy kies smal kortpaadjies tussen weivelde en suikerbeet- en mielielande deur. Skielik vlieg daar ’n fisant uit ’n heining op. Presies die pragtige spektakel wat Erik Menkveld in sy gedig beskryf het. So kry die woord vlerke.

(c) Daniel Hugo