Posts Tagged ‘Ernesto Cardenal’

Nobelprys vir Bob Dylan?!

Thursday, October 1st, 2009
Bob Dylan

Bob Dylan

Op sy onlangse blog het Desmond Painter my ietwat voorgespring met ‘n bespiegeling rondom kandidate vir vanjaar se Nobelprys vr Letterkunde wat oor ongeveer twee weke van nou af aangekondig word. Oudergewoonte is die internet boepensdik van al die heerlike bespiegelinge oor wie se naam vanjaar uit die hoed getrek gaan word. Onwillekeurig dink ‘n mens aan digters soos Ernesto Cardenal (Nicaragua), Roberto Juarroz (Argentinië), Adonis (Sirië) en Hans Magnus Enzensberger (Duitsland). Om nie eens te praat van ons eie twee kandidate wat vanjaar (so glo ek graag) ‘n besonder sterk kans het nie … En wat van prosateurs soos Amos Oz, Carlos Fuentes, Philip Roth, Haruki Murakami en ‘n magdom ander? Selfs Bei Dao (China/VSA) is elke jaar ‘n sterk gunsteling, maar net soos dit die geval is met Salman Rushdie sal só ‘n toekenning waarskynlik met té veel politieke bagasie gepaardgaan. (En wat van Tomas Tranströmer?!)

Nietemin, groot was my verbasing toe ek op De Contrabas lees dat niemand minder as Bob Dylan op dié stadium as gunstige kandidaat bejeën word nie. Volgens die Deense literator, Anne-Marie Mai, gaan die toekenning na alle waarskynlikheid vanjaar na ‘n Amerikaanse skrywer gaan; veral na aanleiding van die Akademie se voormalige hoofsekretaris, Horace Engdahl, se gewraakte uitspraak jeens die Amerikaanse letterkunde verlede jaar. Volgens The Guardian se berig van 1 Oktober 2008 het hy gesê dat die Amerikaanse skrywers  te selfgesentreerd is.  “The US is too isolated, too insular. They don’t translate enough and don’t really participate in the big dialogue of literature,” het hy glo gesê. Later het sekretaris Engdahl dié bewerings probeer ontken en beweer dat dit ‘n misverstand is. Maar nou ja, die skade was gedoen.

Verdermeer word die argument dat Bob Dylan voordeel mag trek uit ‘n regstellende stem ten gunste van ‘n Amerikaanse bekroning, word ook op Knack se webblad gevoer. Ook hulle haal Anne-Marie Mai aan wat beweer dat Dylan se nominasie al vir etlike jare voor die komitee dien, maar telkens oor die hoof gesien word; skaamteloos lewer sy egter nou ‘n betoog ten gunste van bekroning vir hom, aangesien hy “de experimentele romantische en modernistische tradities van de wereldliteratuur verder gevoerd en met populaire uitdrukkingsvormen versmolten (heeft).” Na haar mening kan Dylan op dieselfde vlak geplaas word as skrywers soos Alexander Poesjkin, Charles Baudelaire, Walt Whitman, Johann Wolfgang Goethe en John Keats.

Nou ja, toe. Indien ‘n liriekskrywer bekroon moet word, is ek dit heeltemal eens dat onse Bobbie ‘n besonder sterk kandidaat is … En selfs wanneer sy lirieke met die Amerikaanse digkuns vergelyk word, staan hy waarskynlik ‘n neuspunt voor die meeste ander … Maar ‘n bekroning vir hom ten koste van soveel ander onvergeetlike skrywers?! Sjoe, darem seker nie, of hoe?

Hoe dit ook al sy, solank ons net kan aanhou met asemhaal, sal ons mettertyd wel weet.

As toegif vanoggend plaas ek die laaste strofe uit “A Hard Rain’s A-gonna Fall” wat waarskynlik as Bob Dylan se mees beroemde liriek beskou kan word. Die res van die liriek – asook al die ander – is hier te lees.

***

Maak ook net seker dat jy Yves T’Sjoen se nuwe blog te lese kry; dis absoluut fassinerend. Cas Vos ‘n huldeblyk vir IL de Villiers gestuur en Hennie Aucamp gesels alte heerlik met Bernard Odendaal in die Brieweboks oor die Liedteks as deel van die poësieskat in Afrikaans. Intussen het Jakkie van der Colff sy (of haar) beswaar teen Bernard Odendaal se resensie van Jelleke Wierenga se bundel, Bloot mens, na LitNet geneem en hom (of haar) tromop geloop teen twéé geïnspireerde reaksies, naamlik die van Koos Sas en Marna Duvenhage. Gaan lees gerus. Ai, ai, dis altyd só jammer wanneer mense hoor maar nie luister nie.

Nietemin, ‘n lekker (musikale) dag word jou toegewens.

Mooi bly.

LE

Oh, what’ll you do now, my blue-eyed son?
Oh, what’ll you do now, my darling young one?
I’m a-goin’ back out ‘fore the rain starts a-fallin’,
I’ll walk to the depths of the deepest black forest,
Where the people are many and their hands are all empty,
Where the pellets of poison are flooding their waters,
Where the home in the valley meets the damp dirty prison,
Where the executioner’s face is always well hidden,
Where hunger is ugly, where souls are forgotten,
Where black is the color, where none is the number,
And I’ll tell it and think it and speak it and breathe it,
And reflect it from the mountain so all souls can see it,
Then I’ll stand on the ocean until I start sinkin’,
But I’ll know my song well before I start singin’,
And it’s a hard, it’s a hard, it’s a hard, it’s a hard,
It’s a hard rain’s a-gonna fall.

 

© Bob Dylan (uit: A Hard Rain’s A-gonna Fall)

Charl-Pierre Naudé. ‘n Geloer oor die voetligte

Saturday, June 27th, 2009

Die grootste oomblik vir my op my huidige Europese besoek was om saam met Breyten Breytenbach en Gert Vlok Nel in die Nederlandse stad Hengelo op die verhoog te verskyn ter herdenking van die sewentigste verjaardag van Breyten later vanjaar.

     Hieroor gaan ek nie skryf nie, Rapport se Boekebylae gaan twee groot artikels oor hierdie heugelike gebeurtenis eersdaags dra. Hou die Augustus- en September-weergawes van die Boekebylae dop.

    Vanaf Vrydag 19 Junie tot Maandag 22 Junie het die jaarlikse Internationales Literaturfestival Bremen, ook bekend as Poetry On The Road, plaasgevind.

   Dit was ryke ervaring om saam met digters soos Michael Kruger, Hans Magnus Enzensberger en die wonderlike prosagedigskrywer, Michael Augustin, op ’n verhoog te kan verskyn. Al drie hierdie digters is van Duitsland. Enzensberger is ’n legende, en die grand old man van die Duitse digkuns. Hy tree lankal nie meer op die verhoog op nie, maar het vanjaar, uit die bloute, ingestem om by Poetry On The Road voor te lees. Hy is ’n lang man met ’n seunsgesig, selfs nog op tagtig, en met ’n skugter uitstraling ondanks die kragtige, baie “manlike“ aard van sy reëls.

   Ek volg nie eintlik Duits nie, wel so ’n bietjie, so ek moes maar raap en skraap wat ek kon wat betref Engelse vertalings op die internet en andersins. Hier en daar het ek my maar aan die stroom klanke oorgegee, soos ’n witwaterwipplankryer.

   Daar Ramsy Nasr, die Nederlandse Dichter des Vaderlands, wat my geweldig beïndruk het met sy begeesterde lewerings. Nasr staan effens vooroor gebuk terwyl hy lees, asof hy probeer byhou by sy woorde, agter hulle aanhardloop, agter die ’n stortvloed van beeld en klank aan wat sputterend en wapperend vooruit beur, met die arme digter op sleeptou, agterna.

     Op een stadium het hy vir my gelyk soos ’n marionette wat aan onsigbare toutjies genadeloos deur sy woorde rondgepluk word, sy ledemate soos papiere wat in ’n vuur brand.

    Baie van die anderstalige digters, soos Nasr en Nora Iuga wat in Roemeens skryf, het hul werk in Duitse vertaling voorgelees. In Nasr se geval het hy darem ’n paar Nederlandse weergawes naas die Duits gelees, so ek was nie heeltemal verlore in my stoel nie.

     In my eie geval het ek in Afrikaans voorgelees, gedigte uit my bundel In die geheim van die dag en ’n paar nuwes, met agter my op ’n skerm die Duitse vertalings deur Ulrike Draesner geprojekteer. 

     Nasr is gedeeltelik van Palestynse agtergrond en die Palestynse lewe en kultuur – ook die oënskynlike sistematiese volksmoord van daardie nasie – speel ’n rol in sy werk en dinkwêreld. Hy is akteur van beroep en sy gedigte put ryklik hieruit.

     Poetry On The Road, waaroor die digter Danie Marais ook ’n vers geskryf het, is ’n top fees in Europa.  Dis ‘n vooreg om daar te kon voorlees. Die saal was elke aand volgepak.

     Die hoogtepunt van die fees vir my was die verskyning van Ernesto Cardenal op die laaste aand van die fees, die vuriglik anti-kapitalistiese priester-digter van Nicaragua. Sy vroeër verse het ’n blywende indruk op wêreldpoësie gelaat, en dis veel meer as bloot aktivistiese gedigte. Sy onlangse gedigte toon ’n insinking. Ondanks die heldeverering vir die man – Bremen is ’n stad wat histories met linkse politieke simpatieë verbind word – was daar fluisterings van „tyd om af te tree“ en „liewers nooit as te laat“. 

     Maar Cardenal is 85 jaar oud! Die konsert was ’n uur en half lank, nee, langer! Daarna het hy nog energie genoeg gehad om ’n wyntjie of wat te gaan geniet. Klaarblyklik ’n man wat gewoond is aan „die gemeente“ sowel as die Nagmaal. Ek het hom dopgehou, hoe hy die druif proe-proe, asof dit ’n soort heilige water is. Wat dit natuurlik is. 

    Maar ja, die Duitse gehoor was nie bang om kritiek te lewer nie, selfs op ’n ikoon as dit moes. Cardenal het met sy eie band opgetree, meestal Suid-Amerikaanse uitgewekens veral uit Chile afkomstig. Baie Chilene het hul ná die staatsgreep van Pinochet in 1973 in Bremen kom vestig.

   ’n Groot deel van die belangstelling vir Cardenal het te doen met sy oënskynlik teenstrydige lewe. Sy lewensdilemma val in dieselfde kader van enigma as dié van Breyten Breytenbach of Majakofski of Lorca, maar natuurlik om heel ander redes as hierdie uiteenlopende digters.

     Cardenal is ’n Katolieke priester wat verruklike uitinge kon maak oor sy liefde vir die mensdom. Hy straal daardie liefde uit. Dis voelbaar. Maar hy was ook op sy dag guerrillavegter wat die wapen opgeneem het vir die sosialistiese Sandinistas en die bewind van Nicaragua help omverwerp het. Hy is later ontnugter en het hom van die Sandinista-bewind gedistansieer.

   Die voormalige Pous, die een uit Pole, het Cardenal op ’n keer in die openbaar geroskam, met laasgenoemde op sy knieë voor hom oor die priester se steun vir Bevrydingsteologie. Die gebeurtenis is op film vasgelê.

   Cardenal is een van die wêreldwye ikone van die Bevrydingsteologie. Sowel as van die sosialisme.

   Hy het in Spaans voorgelees, daarna sou ’n Duitse vertaling deur iemand anders gelees word, en dan sou die orkes lostrek, om die beurt.   

       Dit was ’n uiters memorabele gebeurtenis om mee te maak, veral vir iemand uit Suid-Afrika. Ek het die aand bygewoon met my ou skoolvriend Uwe Hummel, vandag ’n teoloog in Wuppertal, in sy geboorteland Duitsland. Uwe en sy vrou, pas getroud, en ook teoloog, kon in die tagtigerjare nie terugkeer na Suid-Afrika waar Uwe sy grootwordjare geslyt het en waar hy op universiteit ’n anti-apartheid aktivis was. Hy het Duitsland toe gegaan op ouderdom 22 om sy M-graad te doen. En tot onlangs het ek hom meer as 25 jaar gelede laas gesien. Sy vrou is Fillipyns, en onder apartheid het dit beteken “nie-blank“.

   Dit was vir my opvallend hoe nuuskierig die ou man (Ernesto Cardinal) is! Hy het van tyd tot tyd homself in sy stoel opgepluk om oor die voetligte van die verhoog te kan loer (die ouderdom het hom maar kort gelaat), die oë op skrefies, na die mense in die voorste rye. Hy het ons een vir een gefynkam. Hy het so bietjie soos my knorrige ou houtwerk-onderwyser gelyk. Ek sou nie sommer van hom verskil, as ek kon verhelp, oor die aard van die sonde nie …

     Wié is hulle? Wáár kom hulle vandaan? Waarheen gaan hulle? Hierdie was van die vrae leesbaar op die ou bebaarde gesig.

   En miskien was dit van so teen die voetligte inkyk, ek weet nie. Miskien omdat dit laat geword het. Maar ondanks ’n sekere onwrikbaarheid was daar soms trane in sy oë.

 

  •