Posts Tagged ‘Ernst Wiechert’

Marlies Taljard: Ernst Wiechert – Märchen

Sunday, June 26th, 2011

Verlede keer het ek geskryf oor sprokies en bespiegel oor die argetipiese oorsprong daarvan. Ek het ook die bewering gemaak dat sprokies nie deur enkelouteurs geskryf word nie, maar dat dit verhale is wat deur die millenniums heen in die volksmond geleef het. Omdat dieselfde stof oral ter wêreld in sprokies voorkom, het sprokies waarskynlik hulle oorsprong in wat Jung die kollektiewe onbewuste[i] van die mensdom noem. Daar word beweer dat egte sprokies bepaalde argetipes in die mens kan aktiveer en daarom ‘n bepaalde effek op die mens se onbewuste uitoefen. Hoewel dit uiters seldsaam is dat ‘n enkele outeur ‘n sprokie of sprokies skryf, is die rede daarvoor waarskynlik omdat skrywers nie bewus is van die argetipiese onderbou waarop sprokies geskoei is nie. Anderson se sprokies is daarom kunssprokies, omdat hulle kunsmatig geskep is (op die verkeerde resep). Indien ‘n skrywer egter bewus is van die “resep” waarvolgens sprokies geskep word, is dit sekerlik moontlik dat so ‘n outeur ‘n sprokie kan skryf. Die skrywer aan wie ek in dié opsig heel eerste dink, is die Duitse skrywer Ernst Wiechert wat rondom die twee Wêreldoorloë geskryf het. ‘n Mens sou ook met redelike sekerheid kan aanneem dat Wiechert André Jolles se Einfache Formen gelees het – dit lyk beslis so as ‘n mens ‘n narratologiese ontleding van baie van sy verhale onderneem.

Ek wil vandag oor Ernst Wiechert skryf, omdat ek nog min Suid-Afrikaners teëgekom het wat hom as skrywer ken en waardeer – sommige van julle het dalk sy Der Weisse Büffel in matriek voorgeskryf gehad. Laasgenoemde bevat beslis baie kenmerke van die egte sprokie. Die boek wat homself egter as’t ware opdring in hierdie verband, is sy Märchen wat ongeveer 1945 by Rascher & Kie in Switserland gedruk is – my kopie het nie ‘n datum van uitgawe nie. In die voorwoord skryf Wiechert soos volg (ek vertaal woordeliks uit Duits):

“Hierdie boek het ek begin gedurende die laaste winter van die oorlog, toe haat en vuur die aarde en die harte verteer het. Dit is vir alle arm kinders van alle arm volke geskryf en vir my eie hart sodat dit sy geloof in waarheid en geregtigheid nie verloor nie. Want die wêreld, soos dit in die sprokie opgebou word, is nie ‘n wêreld van wonderwerke en towenaars nie, maar wel dié van die groot en laaste geregtigheid waarvan die kinders en die volkere van alle tydperke gedroom het.

“En gedurende die maande waarin die swaard van die oorlog tot in die laaste hart gesteek het, het ek alle vreugde en alle verdriet bymekaargemaak om my skure te vul met die toekomstige brood vir die kinders.

“Dat hulle oë weer ‘n slag sal blink, is nou die opdrag van die oorwinnaars, soos dit my opdrag was dat hulle harte weer ‘n slag sou blink.

“Hof Gagert, gedurende Junie 1945.     Ernst Wiechert”

 

Motto: “Kom, ons wil aan jou belowe / redding uit die diepste leed.” (Goethe)

 

Duidelik weet Wiechert dus wat die wesenskenmerke van egte sprokies is. Omdat dit duidelik inspeel op die aard van storievertelling en dus ook op die letterkunde van toepassing gemaak kan word, gaan ek die eerste sprokie in die versameling, naamlik Der arme und der reiche Bruder kortliks oorvertel – ook om vir die leser ‘n idee te gee waaroor dit in die egte sprokie gaan en iéts te probeer weergee van die sprokieswerklikheid. Wiechert vertel in die ware “sprokiesregister” wat in Duits kenmerkend is van sprokiesvertelling. Dit is ‘n verhewe en gedrae register, wat baie herinner aan die register waarin Luther die Bybel vertaal het – dus ‘n soort King James-register, net minder formeel. Ek sou sê dit stem in baie opsigte ooreen met die 1933-Bybelvertaling. Mens kry dit ook by Tolstoi en Dostojefski.

 

Die arm en die ryk broer

Op die oewer van ‘n stil woudmeer het lank gelede eenmaal ‘n visserman en sy vrou met hulle twee seuns gewoon. Al was hulle baie arm, was hulle tevrede met wat die lewe hulle bied, selfs al was daar meestal soggens, smiddae en saans niks anders as vissop op tafel nie.

Die twee seuns het in alle opsigte van mekaar verskil. Waar die oudste seun die hele dag besig was om allerhande dinge bymekaar te maak, het die jongste seun meestal langs die water of in die woud gesit, die voëls dopgehou en hom besig gehou met die maak van fluite of die vleg van blomkranse. Saans het die jongste seun sy ma gevra om ‘n sprokie te vertel. Terwyl sy vertel, het albei seuns gefassineerd geluister, maar die jongste moes dikwels deur sy ma herinner word dat sprokies niks anders as sprokies is nie.

Een wintersaand tdie seuns droë hout bymekaarmaak. Toe hulle klein houtwaentjie al amper vol is, hoor hulle iemand kerm. Omdat die mense vangputte vir wolwe in die woud grawe, is hulle bang om in die ruigtes in te gaan, maar die jongste broer dring by sy ouer broer aan om tog te gaan kyk en beide besef dat wanneer iemand in nood verkeer, moet mens help. Tussen ruie doringstruike sien hulle skielik ‘n diep gat in die grond en binne-in ‘n ou man met ‘n eienaardige uitrusting. “Geseënd is julle, liewe kinders”, sê die ou man, “want ek het al gedink dis dalk die wolf wat my kom vang.” Op die kinders se vraag hoe hy in die gat beland het en wat hy in dié digte deel van die woud maak, antwoord die man dat hy kruie daar bymekaarmaak. Hy vra die kinders om te soek na sy kierie met ‘n slangkop wat hy tydens sy val verloor het. Die kinders vind dit en hoewel hulle gril vir die gekerfde slangkop, bring hulle dit vir hom. Die man vra dat hulle dit afgooi, en terstond verander die kierie in ‘n leer waarmee die ou man uitklim. Hoewel die kinders verskrik is, stel hy hulle gerus deur hulle te bedank vir die goeie daad wat hulle gedoen het en vra hulle om elkeen ‘n wens te wens. Indien dit nie sonde is of iemand anders kan benadeel nie, sal dié wens in vervulling gaan wanneer hulle dit in die toekoms die nodigste mag hê. Die oudste seun wens dadelik dat hy altyd ‘n lekker varsgebakte brood by hom sal hê; die jongste seun wens dat sy voorraad sprokies nooit sal opdroog solank daar kinders is wat wil luister nie.

Tuis gekom, vertel hulle van hulle ondervinding en oor hulle koppe kyk die ouers mekaar veelbetekend aan. Toe die ou man nooit weer gesien word nie en die wense ook nie in vervulling gaan nie, begin die kinders spottend na die petalje verwys. Die oudste seun sê dat hy in elk geval nooit die snaakse ou man geglo het nie.

So gaan die jare verby en die kinders word groot. Hulle pa moedig hulle aan om ‘n ambag te gaan leer sodat hulle nie eendag so arm en versukkeld soos hulle ouers hoef te leef nie. Dit sou beteken dat hulle na ‘n verafgeleë stad moes gaan en hulle ouers agterlaat. Die oudste seun neem maklik afskeid omdat hy baie toekomsplanne het, maar die jongste seun het trane in sy oë. Toe hulle na baie dae se stap uiteindelik op die markplein van die groot stad staan, belowe hulle om mekaar elke maand op dieselfde tyd op dié plek te ontmoet.

Die oudste seun gaan doen onmiddellik navraag na die grootste bakkery in die stad om daar as leerjonge aan te meld. Die jongste seun stap egter deur die strate en verwonder hom aan die werklikheid wat net so fantasties soos ‘n sprokie is. Laat die middag kom hy by ‘n parkie aan waar kinders besig is om te speel. Hy laat hom verlei om saam te speel en spoedig sit al die kinders in vervoering en luister na die wonderlike sprokies wat hy vertel. Selfs die moeders wat hulle kom haal en die diensmeisies wat hulle moet oppas, staan en luister. Nadat die laaste kind teësinnig huis toe is en die son al aan die sak, wou die jongste seun stilletjies wegsluip om iewers op straat slaapplek te soek, maar ‘n ou vrou neem hom aan die hand en nooi hom om by haar te oornag. So kom dit dat hy by haar bly woon en hulle na mekaar omsien, terwyl hy saans vir die kinders sprokies vertel.

Die oudste seun vorder flink met sy ambag en dis nie lank voordat hy sy eie bakkery oopmaak en vir hom ‘n pragtige huis laat bou nie. Steeds ontmoet die twee broers mekaar elke maand op die afgesproke plek. Dan vertel die oudste laggend van sy rykdom en voorspoed en vra sy jonger broer skalks of die sprokiesvertellery hom nog nie ryk gemaak het nie. Dan antwoord die jongste dat hy wel ryk is en dat hy sy lewe vir geen geld ter wêreld sal verruil nie. Eenmaal per jaar gaan een van die twee broers ‘n ruk lank huis toe om na hulle bejaarde ouers om te sien, maar die ou man kom nooit meer ter sprake nie.

Toe gebeur dit so dat die land twee seisoene na mekaar deur ernstige misoeste geteister word en ‘n groot hongersnood uitbreek. Ou mense en kinders begin swaarkry. Die twee broers moet daagliks in die smekende oë van die geteisterde stedelinge vaskyk. Dit is egter opmerklik dat net so veel mense as wat soggens voor die bakkery toustaan, teen die aand op die markplein saamdrom om na die jongste broer se sprokies te luister. En dit is nie net die kinders wat aan die voete van die jong man sit nie, maar ook volwassenes voel die behoefte aan verhale om hulle nood en hartseer te verlig. In hierdie tye wil hulle hoor van veraf plekke waar mense in goue paleise woon met geurende tuine omring, van konings wat rooi wyn uit goue bekers drink; hulle wil hoor van plekke waar waarheid en geregtigheid, beskeidenheid en barmhartigheid die wêreld regeer.

Op ‘n dag gebeur dit egter dat die oudste broer sy laaste handvol meel in die deeg meng en die jongste broer sy laaste sprokie vertel. Toe sien hulle in die swyende skare wat saamgedrom het, ‘n eienaardig geklede ou man staan wat op ‘n kierie met ‘n slangkop leun. Voordat hulle mooi besef wat gebeur het, het die man reeds met ‘n knipoog in hulle rigting in die skare verdwyn. Op daardie oomblik sien die oudste broer ‘n vars, bruingebakte brood op die toonbank lê en die jongste seun sien ‘n nuwe sprokie voor sy geestesoog afspeel. Van toe af het die oudste broer steeds genoeg brode om die honger mense te voed en die jongste broer hoef maar net sy mond oop te maak en daar vloei ‘n sprokie uit. Eers verkoop die oudste broer sy brode, maar binnekort is hy so ryk dat hy sy brode verniet weggee. Sy skatkamers is tot oorlopens toe vol juwele, edelstene, goud en ander skatte. Die jongste broer bly egter arm soos vantevore.

Toe dit nou weer tyd is vir hulle ontmoeting op die markplein, wonder die oudste broer hardop wie van hulle nou eintlik die grootste is. Die jongste antwoord dat hy nie dink een is juis groter as die ander nie en nooi sy ouer broer om saam met hom na die armste deel van die stad te gaan waar baie kinders siek en sterwend is. Daar buk hulle oor die drumpel van ‘n armoedige hut waar ‘n meisie op sterwe lê. Die oudste broer bied dadelik vir haar ‘n broodjie aan, maar sy weier en vra net dat die jongste broer vir haar die sprokie van die vondeling-kind vertel wat by die paradys aankom. Hy vertel hoe ‘n engel die arme kind in sy arms dra tot by die ewige woning waar elke traan wat sy in haar leeftyd gestort het, as ‘n pêrel in die wolke ingeborduur is. Toe die sprokie klaar is, sterf sy met ‘n glimlag op haar gesig. Die oudste broer is verslae toe hy besef dat sy hele voorraad brood nie die lewe van die kind kon red nie, maar dat die sprokie wat sy broer vertel het, die arme meisie se laaste oomblikke gelukkig kon maak.

So gaan die tyd verby; die twee broers word hoog bejaard  totdat die hand van die dood hulle op dieselfde dag aanraak. Terwyl die deftige begrafnis van die oudste broer met swier plaasvind, word die smal dennehoutkis van die jongste broer op die skouers van kinders na ‘n graf gedra wat met blomme gevul is. Toe dit weer tyd word vir die broers om mekaar te ontmoet, kom hulle mekaar teë op die pad na die hemelpoorte. Met ligte spot in sy stem sê die oudste broer: “Nou sal ons uiteindelik sien hoe die Vader boekgehou het van ons lewens.” Toe hulle eindelik voor die Genadetroon staan, vra die Vader die oudste broer om sy verdienste in die goue weegskaal te sit. Met ‘n buiging sit hy die laaste van die bruingebakte brode in die een skaal. Toe hy dit neersit, sink die skaal diep af en die Weegengel knik sy kop goedkeurend. Toe dieselfde versoek aan die jongste broer gerig word, laat hy net diep bedroef sy kop sak omdat hy niks het om in die goue weegskaal te plaas nie. Maar die Vader nooi hom uit om een van sy sprokies te vertel. Lank vertel die jongste broer en later staan al die hemelinge rondom hom en luister. Toe hy uiteindelik klaar is, slaak almal ‘n sug van verligting en die Vader sê: “Weet jy, my kind, dat dit gevoel het soos die begin van die ewigheid.” In die goue weegskaal is die bruingebakte brood en die gloeiende rooi pêrel wat in die ander skaal bly lê het, in perfekte ewewig toe die Engel van Geregtigheid die twee broers die laaste trappe na die hemel toe begelei.

 

 

 

 

 

 

[i] Ek is ten volle bewus daarvan dat die terme wat ek hier by Jung leen, nie meer in die Sielkundepraktyk gebruik word nie. Dit is egter handige terme wanneer ‘n mens skryf oor die impak wat literêre tekste op lesers uitoefen en word vandag steeds in die literêre teorie gebruik.

 


  •