Posts Tagged ‘Eugène N. Marais’

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (6)

Tuesday, October 19th, 2010
Die Brandwag

Die Brandwag

Eugène N. Marais het sy werk in ‘n verskeidenheid koerante en tydskrifte gepubliseer, naamlik Die Boerevrou, Die Huisgenoot, Die Brandwag, Ons/Die Vaderland, Die Volkstem, Die Burger en The Star. Sy verbintenis met Ons Vaderland het veral verstewig nadat hy uit Heidelberg teruggekeer en hom in Pretoria gevestig het. Gustav S. Preller, wat die hoofredakteur van die koerant was en ‘n hoë dunk van Marais gehad het, het hom oor sy vriend ontferm en Marais in Februarie 1928 as subredakteur by Ons Vaderland aangestel. ‘n Jaar later het die koerant ‘n dagblad geword. Benewens die skryf van verhale en artikels (soos die reeks “Burgers van die berge”, wat tussen 26 Maart en 4 Junie 1932 in die koerant geplaas is en in 1938 onder dieselfde titel in boekvorm verskyn het), was dit Marais se taak om nuusberigte van die Duitse nuusdiens Transozean te vertaal en te verwerk. Marais se betrokkenheid by Die Vaderland onder Preller se redakteurskap het ten einde geloop toe sy verhaal “Spore in die sand” omstreeks Maart 1935 deur die assistentredakteur, Willem van Heerden, vir publikasie geweier is.

As gevolg van Marais se morfienverslawing en swak gesondheidstoestand het sy skryfwerk dikwels in uiters ongunstige omstandighede ontstaan. A.M. van Schoor het die volgende vertel:

“So gereeld soos klokslag het dit gebeur dat ons die hele koerant, die hoofnuusblad inkluis, klaar gegiet het en dat die vervolgverhaalblad op die steen lê en wag terwyl ons oom Eugène na die werklikheid probeer terugroep. Male sonder tal het hy dan op die steen die hoofstuk klaar geskryf. Dit is dan feitlik sin vir sin van die skryfblok afgeskeur en in aller yl geset.”

Die Huisgenoot

Die Huisgenoot

In Die Huisgenoot publiseer Marais in 1925, 1926 en 1931 sy reeks artikels wat later as Die siel van die mier in boekvorm uitgegee is. Op die hakke van dié sukses publiseer hy ook ‘n reeks artikels oor bobbejane, getiteld “Die siel van die aap” (later opgeneem in ‘n Paradys van weleer en ander geskrifte). In dié jare het Die Huisgenoot onder redakteurskap van slegs twee redakteurs, naamlik H.G. Viljoen (1923-1931) en J.M.H. (Markus) Viljoen (1931-1949), gestaan. Volgens C.F.J. Muller het Die Huisgenoot in die twintiger- en dertigerjare van die vorige eeu die Afrikaner só gehelp om te lees “dat hy sy kulturele en intellektuele horison aansienlik verruim het”. Die publikasie van talle artikels met ‘n leersame en/of opvoedkundige strekking het grootliks hiertoe bygedra. Die hedendaagse navorser merk benewens die groot aantal geskiedkundige artikels ook ‘n beduidende aantal bydraes van ‘n natuurwetenskaplike aard op. Benewens die artikels van Marais verskyn daar ook bydraes soos dié van die entomoloë A.J. Hesse en S.H. Skaife en die herpetoloog F.W. FitzSimons. Marais se werk word saam met ander wetenskaplikes s’n gepubliseer en nie as kuriositeite of “rubrieke” oor allerlei wetenswaardighede soos dié wat later meermale in die Afrikaanse pers sou verskyn nie.

‘n Groot deel van Marais se werk het ontstaan toe die vestiging en standaardisering van Afrikaans hoë voorkeur geniet het.

 

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (5)

Tuesday, October 19th, 2010
Gustav S. Preller
Gustav S. Preller

In Blackwoodstraat 176, Prertoria, het Eugène N. Marais van 1927 af sporadies in die stoepkamer by die Prellers gewoon.

 

In April 1927 rig Marais in ‘n brief ‘n desperate versoek aan Gustav Preller om aan hom ‘n heenkome te bied. Die brief wat Marais op 30.4.1927 aan Preller geskryf het, lui soos volg:

 

“Waarde Gustav, ek het jou brief eergister ontvang. Net een ding het by my voortgeleef – dat jy geen woord sê van na Pretoria oorkom nie; instede: my versoek om nog te skryf as of die saak nogmaals op die lange baan geskuiwe is. Gustav, ek bid jou, ek smeek jou om my nie langer in die ellende te laat voortgaan nie. Ek kan nie meer nie!”

 

In Mei 1927 neem hy sy intrek by Preller en sy vrou, Hannie, in Blackwoodstraat, nie ver van die Uniegebou nie. Daar rig hulle vir hom ‘n stoepkamer in. Later gaan woon Marais by mev. Jessie Cross en haar gesin in Arcadiastraat 733, vanwaar hy nog later saam met hulle na Vermeulenstraat 420 verhuis. Met mev. Cross se twee dogters (veral Edna) ontwikkel Marais, soos vroeër met talle ander jong kinders, ‘n soort vader-dogterverhouding. Op mev. Cross se erf hou Marais ‘n versameling vetplante aan en besoek in dié tyd sy susterskind Inez Verdoorn by die Nasionale Herbarium, waar hy haar van die Waterbergse broodboom vertel.

 

Die Preller-huis in Blackwoodsraat is in 1989 afgebreek om plek te maak vir die huidige Duitse ambassadegebou.

 

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (4)

Monday, September 20th, 2010

 

Gustav S. Preller

Gustav S. Preller

Gustav S. Preller (1875–1943) en Eugène N. Marais het ’n besonder hegte verhouding gehad. Preller het op die platteland van die ZAR grootgeword, voltooi nie sy skoolopleiding nie en begin as staatsamptenaar by die Departement van Mynwese werk. In 1898 trou hy met Hannie Preller, afstammeling van ’n familie wat ’n groot rol tydens die negentiende eeu gespeel het. Tydens die Anglo-Boereoorlog veg hy as artilleris in Natal en later in Oos-Transvaal. Vier maande voor die vredesluiting word hy as krygsgevangene na Indiё gestuur. Na sy terugkeer word hy deur Marais oorreed om nie na Argentiniё te emigreer nie, maar as joernalis by Land en Volk aan te sluit. Kort hierna gaan werk hy by De Volksstem totdat hy in 1925 redakteur van Ons/Die Vaderland word. Hy tree in 1936 in hierdie pos af en vestig hom op sy plaas Pelindaba. Hy sit sy geskiedskrywing en insameling van historiese bronne vir die Staatsargiefdiens hier voort. Na sy dood op 6 Oktober 1943 word hy op sy plaas begrawe.

 

 

 

 

Preller het ’n belangrike rol op kulturele en politieke terrein gespeel. Deur bydraes op verskeie terreine beywer hy hom vir die bevordering van Afrikaans. Hy is onder meer betrokke by die stigting van die Afrikaanse Taalgenootskap en die Z.A. Akademie voor Taal, Letteren en Kunst. In 1910 bring hy ’n Afrikaanse tydskrif, Die Brandwag, tot stand. Benewens sy joernalistieke bydrae, lewer hy ook beduidende werk as prosaïs (Oorlogsoormag en ander sketse en verhale, 1923, en Ons parool, 1938), literêre kritikus, historikus (studies oor Piet Retief, 1906, en Andries Pretorius, 1937) en vertaler. Hy beywer hom vir sowel natuur- as kultuurhistoriese bewaring, byvoorbeeld deur die versorging en uitgee van ou dagboeke soos dié van Louis Tregardt (1917). Hy neem ook aan die Afrikaanse toneel deel en skryf die draaiboek vir die rolprent De Voortrekkers (1916).

 

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (2)

Friday, June 25th, 2010

DIE ROETE

Tydens vandag se uitstappie op Eugène N. Marais se spoor gaan ons begin deur deur Pretoria te ry. Die strate (soos Kerk-, Blackwood-, Beatrix- en Proesstraat) wat ons gaan gebruik, het reeds in Marais se tyd bestaan, al het hulle sedertdien ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Ek sal tydens die toer ‘n aantal besienswaardighede uitwys wat op sy lewe betrekking het. Tydens die toer sal ons enkele afklimpunte besoek. Net een hiervan is in Pretoria. In die Kerkstraatse begraafplaas gaan ons naamlik na Marais en sy vrou se graf langs die Heldeakker kyk. Daar is natuurlik heelwat ander plekke in Pretoria wat met Marais verbind word, maar vandag gaan ons nie daaraan aandag gee nie. Dit regverdig eintlik ‘n toer op sy eie. Van die begraafplaas af ry ons weswaarts na Pelindaba waar ons besoek bring aan Gustav en Hannie Preller se huis, die rondawelhuis daarnaas waar Marais gewoon het, Lood Pretorius se huis waar Marais die geweer geleen het en die plek waar Marais homself geskiet het.

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (1)

Monday, June 21st, 2010

Jare gelede het ek een middag in my motor geklim om die eerste keer na die plekke te gaan kyk waar die digter, prosaïs, joernalis, regsgeleerde, amateurwetenskaplike, morfinis en kindervriend Eugène N. Marais in die Waterberg gebly het. Dié dag was Leon Rousseau se Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais (1974) op die sitplek langs my, saam met twee of drie topografiese kaarte en ‘n aantekeningboek.

Oor sy Waterbergse ervarings het Marais baie geskryf en van dié boeke het hom beroemd gemaak. Die Waterberg met sy fauna, flora en mense het Marais besiel (vandaar waarskynlik sy boektitels Die siel van die mier en The soul of the ape) en hom heel aan die einde vergeefs laat hunker om soontoe terug te keer. Miskien daarom het die Waterberg my reeds as jong leser geboei en was dit die plek waar my reise op Marais se spore begin het.

Daardie middag in die Waterberg het ek ‘n bietjie koersloos na die Rietfontein van die gedig “Wanneer dit reёn op Rietfontein” tussen al die ander Rietfonteine op die kaart op my knie gesoek. Kort-kort het ek by die venster uitgeleun en by ‘n voetganger of fietsryer probeer hoor: “Waar is Rietfontein?”

Dié middag op die savanne het vir een van die unieke ervarings tydens my navoring oor Marais gesorg: Op ‘n werf buite Naboomspruit het ek hoopvol afgeklim en na die huis gestap waarheen ‘n jong man beduie het. “My ma het hom geken,” het hy tussen sy malende boelhonde agter my aan gesê. Op die agterstoep het ek die enigste persoon in al my navorsing oor Marais ontmoet wat hom nog uit die tyd van sy Waterbergse verblyf, 1907 tot 1916, self geken het. ‘n Ouerige mev. Van Heerden het vertel hoe sy meer as sestig jaar vantevore as dogtertjie op die Wonderdokter se skoot gesit en hoe hy met sy vinger liggies oor haar voorkop gevryf en haar “gemesmeraais” het.

Johann Lodewyk Marais. Stellings oor Eugène N. Marais

Wednesday, June 16th, 2010

Eugène N. Marais (1871–1936) is in die Afrikaanse letterkunde van vroeg af as digter gekanoniseer ten spyte daarvan dat hy ook ‘n beduidende hoeveelheid bellettristiese en wetenskaplike prosa geskryf het.

*

Marais het hom in Londen in die regte bekwaam (1897–1901), maar daarna min belangstelling getoon in die één rigting waarin hy formele opleiding gehad het.

*

Marais was besonder ontvanklik vir Charles Darwin se The origin of species (1859), wat ‘n groot invloed op die lewens- en wêreldbeskouing tydens die tweede helfte van die negentiende eeu gehad het.

*

In die verhaal oor Marais se lewe en werk is daar een groot skurk: die Belgiese Nobelpryswenner Maurice Maeterlinck (1862–1949).

*

F.G.M. du Toit se Eugène N. Marais: Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940) is ‘n goed gedokumenteerde studie, wat nog steeds ‘n belangrike bron van inligting is.

*

Na die aandag wat Robert Ardrey in African genesis: A personal investigation into the animal origins of nature and man (1961) aan Marais gegee het, het Marais se bydrae op die gebied van die etologie vir die eerste keer duidelik begin word.

*

W.C.H. du Randt het gedurende die 1960’s ‘n hele aantal studies aan Marais gewy, wat van die winste van die stilistiek op linguistiese grondslag getuig. Hy kom egter ook met ‘n aantal enigmatiese lesings vorendag.

Leon Rousseau se navorsing vir die skryf van Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais (1974) kan nie herhaal word nie.

*

Letterkundiges het lank jaloers oor Marais se literêre nalatenskap gewaak en min moeite gedoen om erkenning vir sy wetenskaplike werk te beding.

*

Danksy die besondere wyse waarop sy ‘n sfeer kan beskryf, het Elize Botha in 1980 en 1987 twee rigtinggewende essays oor Marais as prosaïs gepubliseer.

*

Deur in die veld agter diere aan te loop en hulle gedrag waar te neem, het Marais tot ‘n belangrike paradigmaverskuiwing in die natuurwetenskappe bygedra. 

*

Na die differensie van die dissiplines het die opvatting lank bestaan dat literatuur en wetenskap twee onversoenbare wêrelde is.

*

Die paradigmaverskuiwing wat Thomas S. Kuhn se The structure of scientific revolutions (1962) bewerkstellig het, het daartoe bygedra dat die leser met ander oë na Marais se wetenskaplike geskrifte kan kyk.

*

Volgens Jonathan Culler (1997) is daar ‘n “basic human drive to hear and tell stories”. Natuurwetenskaplikes is eers onlangs bewus gemaak van die rol wat die vertelling (en ander literêre strategieë) in wetenskaplike tekste speel.

*

Die Waterberg is ‘n essensiële ruimte in Marais se lewe en werk.

*

Marais het baie daartoe bygedra om die soms bygelowige lesers van sy tyd (en daarna!) van die belangrikheid van rasionele verklarings vir verskynsels in die natuur te sensitiseer.

*

Die ontdekking van die Waterbergse broodboom (Encephalartos eugene-maraisii Verdoorn) weerlê die aanname dat Marais as natuurwetenskaplike ‘n boereverneuker was (‘n idee onderliggend aan S. Zuckerman se tirade). 

*

Marais sou hom verlustig het in David Copperfield se toertjies en self met een vorendag gekom het.

Johann Lodewyk Marais. Voortreflike poësiekritiek

Thursday, October 15th, 2009

Die vraag kom meermale by my op wat die mooiste, insiggewendste of bes geskrewe stuk literêre kritiek in Afrikaans is. ‘n Mens sou natuurlik eers goed moet besin oor die maatstawwe vir jou keuse en net so goed moet motiveer waarom die keuse op ‘n bepaalde stuk val. Hieroor gaan ek nie in soveel besonderhede uitwei nie.

Oor die jare heen was daar in Afrikaans kritici wat met besondere werk vorendag gekom het. Een van dié is Elize Botha, wat met haar voortreflike geselsstyl insiggewend en baie onderhoudend skryf. Dit is ‘n groot vreugde om te sien hoe sy met haar belesenheid, kennis van heersende literêre strominge en benaderings, en met groot respek oor skrywers en boeke skryf. Die leser het ook waardering daarvoor dat sy selde ‘n byl te slyp het, wat so dikwels die bydraes van ander prominente figure met groot gebare kenmerk en vertroebel.

Botha het die beste opstelle oor figure soos Eugène N. Marais, Jochem van Bruggen, Etienne Leroux en Henriette Grové geskryf, wat sedert die 1960’s daartoe bygedra het om aan die Afrikaanse prosakritiek ‘n prominente plek te besorg. Toe ek ‘n keer gekla het omdat ouer kritici kritiekbundels so oorheers, het die oud-Akademieman en -uitgewer Danie van Niekerk tereg opgemerk: “As jy Elize Botha vra, weet jy ten minste dat jy ‘n goeie bydrae gaan kry.” My gunsteling onder Botha se opstelle is haar bespreking van D.J. Opperman se gedig “Blom van die baaierd” in Merwe Scholtz (red.) se Woord en wederwoord: Bundel aangebied aan D.J. Opperman by geleentheid van sy sestigste verjaardag, 29 September 1974 (1974).

Nog kritici wat ek graag lees, is Merwe Scholtz en T.T. Cloete. Scholtz was benewens kritikus ook ‘n digter van onder meer die vernuftige Grimas: 1969-1973 (1976), een van my gunsteling Afrikaanse digbundels. Dit verbaas nie dat Scholtz gedigte geskryf het nie, want sy opstelle is spitsvondig, speels en taalgevoelig. Hy slaag daarin om met verrassende insigte ‘n mens verwonderd te laat oor die werkinge van taal en taalvirtuose. Wie kan ooit sy ontleding van N.P. van Wyk Louw se “Dood in die berge” in Nuwe verse (1954) vergeet? Dit slaan die leser se asem as ‘t ware weg. Cloete weer is doodgewoon een van ons oorspronklikste lesers (kyk byvoorbeeld sy opstel oor “Die taalavontuur van ‘Die swart luiperd'” in Op die woord af: Opstelle oor die poёsie van N.P. van Wyk Louw (1963)).

Ek sou nog die name van, op hulle beste, E. Lindenberg, Louise Viljoen, Daniel Hugo, Joan Hambidge en Charl-Pierre Naudé wou noem, maar oor elkeen van hulle behoort ‘n mens by ‘n later geleentheid te skryf. Hoe veral die Afrikaanse poësiekritiek op die oomblik daar uitsien, is in elk geval ‘n onderwerp om (nog steeds!) oor te besin. Miskien is dit genoeg om te sê dat indien dit nie vir Bernard Odendaal se deeglike en ingeligte oorsig oor die onlangse poësie in Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Deel 3 (2006), Louise Viljoen se Ons ongehoorde soort (2009) oor Antjie Krog se poёsie en Ronel Foster, Yves T’Sjoen en Thomas Vaessens (reds.) se Over grenzen: Een vergelijkende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёzie/Oor grense: ‘n Vergelykende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёsie (2009) was nie, ons vandag veel minder sou gehad het om oor opgewonde te wees.

Maar ek wil eintlik iets sê oor my gunsteling stuk kritiek in Afrikaans! Dit is naamlik drie bladsye in Opperman se Digters van Dertig (1954), spesifiek die inleiding tot “Die hooffiguur van Dertig: N.P. van Wyk Louw”. In hierdie evokatiewe bladsye gee Opperman sketsmatig biografiese inligting oor Van Wyk Louw se jeugjare en maak ‘n byna tasbare voorstelling van hoe die Louws se Rôeveldse wêreld gelyk het. Hy beskryf dit op so ‘n manier dat dit as ‘n sleutel by die interpretasie van Van Wyk Louw se gedigte kan dien. Lees byvoorbeeld hoedat die bokkoppe in die (Lord Milner-)hotel op Matjiesfontein die eerste prikkeling vir Raka (1941) geword het. Min woorde, maar slim!

Johann Lodewyk Marais. Had Eugène N. Marais iets teen my?

Thursday, September 10th, 2009

Leon Rousseau, die skrywer van Die groot verlange, die wyd geprese en gelese lewensverhaal van Eugène N. Marais, noem in Eugène Marais and the Darwin syndrome/Die dowwe spoor van Eugène Marais (1998) ‘n aantal voorbeelde van sogenaamde sinchronisme. Hy beskryf sinchronisme in laasgenoemde boek as “Jung se woord vir min of meer gelyktydige gebeurtenisse of belewenisse sonder aantoonbare kousale verband” (p. 111). Wat die leser veral intrigeer, is die wyse waarop Rousseau sy ervarings aan ons voorhou as bewys dat Marais hom (d.w.s. Rousseau) “op soveel onverwagte maniere gedwarsboom” (p. 112) het om navorsing oor hom te doen en die resultate daarvan bekend te stel. Ek is egter skepties hieroor en beskou dit as niks anders as ‘n mistifisering van sy werk oor Eugène Marais nie. Maar soms moet ’n mens darem wonder …

Soos omstandighede (of die noodlot?) dit wou hê, was my naamgenoot, die bekende herpetoloog Johan Marais, op 4 Maart 2004 elders in Pretoria op presies dieselfde tyd besig om sý ‘n Volledige gids tot die slange van Suider-Afrika/A complete guide to the snakes of Southern Africa (2004) bekend te stel toe my bundel, Plaaslike kennis (2004), by die hAp bekend gestel is. Volgens die uitnodiging wat ek per e-pos van Fascination Books Menlyn ontvang het, had die dapperes ook “the opportunity to have their PHOTO TAKEN with a snake!”. In die lig van die rol wat slange in die werk van die ander Marais (d.w.s. Eugène Marais) speel, sou iemand wat in sinchronisme glo moontlik dié aand die werking van sinistere magte kon vermoed.

Had Marais iets teen my? Was daar dalk êrens ‘n slang in die gras?

Smile

  •