Posts Tagged ‘Evette Weyers’

Marlies Taljard. Diep gewortel in die grond bymekaar

Tuesday, July 7th, 2015

Roland Barthes skryf oor die verhouding tussen tekste: “Any text is a multidementional space in which a variety of writings … blend and crash.”

Hierdie multidimensionele ruimte waarin tekste bestaan, beeld Evette Weyers uit in die temabeeld van haar uitstalling op die Woordfees in Stellenbosch vroeër vanjaar, “Intertekstualiteit”. Evette is ʼn bekende beeldhouer wat dikwels beelde maak as uitbeelding van of kommentaar op literêre tekste – veral Afrikaanse tekste. Die betrokke beeld (hierbo), wat ek in hierdie blog wil bespreek, kan ook geïnterpreteer word aan die hand van Jonathan Culler se bewering dat om te lees, beteken om ʼn teks binne ʼn diskursiewe ruimte te plaas waar dit ʼn bepaalde verhouding verkry met ander tekste wat in dié ruimte bestaan, asook met die kodes waarvolgens betekenis aan dié tekste toegeken word. Evette beeld hierdie saambestaan en gesprek van tekste met mekaar uit deur die besonder kragtige metafoor van die venster van waaruit ʼn blik op ander tekste verskaf word. Die venster raam ook die uitsig, met ander woorde die teks waarna “gekyk” word, word geraam (“frame”). Dit beteken dat die geraamde teks selektief gelees kan word deur dit binne ʼn bepaalde politieke, sosiale, etiese of ander raamwerk te lees. Evette se beeld is sodanig gemaak dat tekste vanuit verskillende perspektiewe deur die venster beskou kan word – met ander woorde verskillende tekste kan “geraamde” tekste wees, terwyl dit vanuit ʼn ander perspektief die teks kan wees vanwaar “gekyk” word. Hierdie konsep stem natuurlik ooreen met Julia Kristeva se insig dat intertekste nuwe betekenis tot mekaar toevoeg en dat sowel die interteks as die “sekondêre teks” se betekenis nooit weer dieselfde sal wees nie.

Op die beeld Intertekstualiteit verskyn 5 poëtiese tekste ingegrif op tablette wat die bladsye van ʼn boek of die mure van ʼn huis of selfs die kleitablette waarop in antieke tye geskryf is, kan verteenwoordig: Eugène Marais se Die vaal koesterjie, Abraham Fouché se Lied van Khoib en Khois, Marlise joubert se Ballade vir die minnars, W.B. Yeats se The song of wandering Aengus en ʼn spreuk van Rumi. Wat hierdie uiteenlopende tekste gemeen het, is die liefde. Marais en Fouché se tekste betrek persone uit die Khoi en die San-gemeenskappe van Suid-Afrika. Bowendien maak albei gewag van die leeu-metafoor wat bomenslike krag verteenwoordig. In E.N. Marais se Dwaalstories verskyn die poëtiese verhaal Die vaal koestertjie. Dit handel oor die klein meisie Nampti wat ʼn vaal koestertjie in die veld beskerm. Die koesterjie help op haar beurt vir Nampti om bo-menslike mag te bekom deur middel waarvan sy ʼn begeerlike man se liefde wen. Die verhaal as sodanig is, ten spyte van die eenvoudige verloop, besonder meerduidig, selfs “duister” en moeilik om te interpreteer vir mense wat nie die sosiale en spitituele kodes van die San ken nie. Binne die verhaal kom twee gedigte voor. Die eerste is die lied van Nampti en die tweede die lied van die vaal koestertjie:

Intertekstualiteit

Intertekstualiteit

Gampta, my vaal sussie!

Al wat ek in die wêreld het

Buiten my ou ouma.

As jy bo in die lug sing,

Kan jy al die wonderlike dinge sien:

Waar die hasie wegkruip

En die steenbokkie sy lêplek maak.

En die meisies kan jou nie raak nie,

Want jy is sterker as almal,

Al is jy swakker as ek.

Selfs die bergleeu wat ons bang maak

As hy snags brul,

Kan jou nie raak nie.

Ek sal jou oppas, my sussie,

Tot al jou kleintjies groot is.

**

My vaal sussie Nampti,

Ek sien jou!

Ek sal jou ʼn groot ding vertel:

Vannag toe die Volstruiswyfie

Met haar kleintjies wegsak,

Het die bergleeu, wat julle bang maak,

Die gifstel in die fontein afgetrap.

En hy lê dood in die groot ghwarriebos.

Die een wat sy baardhaar onder die vel steek,

Word ʼn leeu, solank die Volstruiswyfie in

Die groot veld met haar kleintjies wei.

Abrahan Fouché se gedig betrek ook die bonatuurlike mag van die leeu en die simboliese nagtelike ruimte soos in die verhaal van die vaal koesterjie. Dit is eweneens die verhaal van twee geliefdes wat uiteindelik (soos in die verhaal Die vaal koesterjie) gelukkig saamleef – ʼn verhaal waarin sterk spore van die sprokie teenwoordig is. Ten spyte van dié ooreenkomste, wat waarskynlik slegs merkbaar is deur die saamlees van die tekste, is daar ook beduidende verskille tussen die twee gedigte, waarop in lengte uitgebrei sou kon word, maar wat vir die ingeligte leser redelik voor die hand liggend behoort te wees:

Lied van Khoib en Khois

.

Ons is twee leeus wat stukke

van die karkas laat lê

en ons is die nag

wat sy donker

oor die rante strooi

tussen die ligkolle

rinkhalsrooi

van die dag!

.

Ons is die vrou wat hier sing

en ons is die man wat dáár sê

dat daar stukke van die donker

in die dag rondlê!

.

Ons is vyf karwatsriempies

saamgevleg deurmekaar!

.

O my hartklop, ons is twee

soos die veldskoenblaar:

altyd één, diep gewortel

in die grond bymekaar.

.

Die ander twee gedigte betrek ʼn Westerse ruimte en daaruit spreek sieninge van die liefde soos dit in die westerse kanon ingebed is. Marlise Joubert se bekende gedig Ballade vir die minnaars is ʼn liefdesgedig geskryf vanuit die perspektief van die ouerwordende vrou:

Ballade Vir Die Minnaars

na ‘n voorbeeld van Yehuda Amichai

.

En ‘n man ontmoet ‘n vrou Iaat in sy lewe

Gehawend en dor soos die landerye

Weemoedig en wit soos die stiltes van siesta

.

En sy toon hom meteens haar honger mond

En sy toon hom meteens die skeure in haar hart

En sy gee hom al haar ure, verlate en verwond

.

En sy woon op die grond van haar skamel besittings

En die reën wat val begin daar in haar oë

En hy besluit om sag te wees

.

En sy ken die gesprek tussen tafeldoek en eetgerei

En die mes en die vurk van soveel jare

Maar langsaam neem hy die hef in die hand

.

En sy hare word lank soos verse, en sag, soos hare

En sy woorde ryg oor hare saam met stiltes en verlange

En vind gestalte in die uitroep van haar Iiggaam

.

En die vlamme van ‘n vuur flits oor hul gesigte

En hulle staan daar met hul rue na die strak verlede

En hy besluit om sag te wees

.

En hulle stap die gloed van somers blindelings binne

En die woorde word meer soos ‘n vallei met vrugte

En die ongeduld van seisoene verander hulle in minnaars

.

En hy sal haar elke dag daarna by die tafel laat sit

En hy sal haar met nuwe disse en eetgerei verlei

En die ligte van kers met adagio’s en jazz vermeng

.

En hulle sal nog daar wees as die najaar verkrummel

En hulle sal daar wees as die tyd verlore raak

En hulle sal daar wees as die linnedoek hulle skuifelend bedek

.

En sy sal die versugting van sy verse in die vlees toevou

En die mes en die vurk van jarelange saamwees

En hulle sal die woorde geniet wat brood geword het

Soos brood sal hulle mekaar bly eet en vermeerder

Want hy het besluit om sag te wees

.

Daarmee saam sou Yeats se gedig gelees kon word wat geskryf is vir ʼn onbereikbare geliefde – ʼn gedig vanuit die manlike perspektief aan ʼn vrou wat 5 keer sy huweliksaanbod van die hand gewys het omdat sy geweet het hy sou die huwelik nie kon volhou nie:

The song of wandering Aengus

.

I went out to the hazel wood,

Because a fire was in my head,

And cut and peeled a hazel wand,

And hooked a berry to a thread;

.

And when white moths were on the wing,

And moth-like stars were flickering out,

I dropped the berry in a stream

And caught a little silver trout.

.

When I had laid it on the floor

I went to blow the fire a-flame,

But something rustled on the floor,

And some one called me by my name:

It had become a glimmering girl

With apple blossom in her hair

Who called me by my name and ran

And faded through the brightening air.

.

Though I am old with wandering

Through hollow lands and hilly lands,

I will find out where she has gone,

And kiss her lips and take her hands;

And walk among long dappled grass,

And pluck till time and times are done

The silver apples of the moon,

The golden apples of the sun.

.

Hoewel die twee bogesiteerde gedigte beide vanuit ʼn perspektief wat ons rofweg as “Westers” kan klassifiseer geskryf is, verskil ook dié gedigte wêrelde van mekaar, ten spyte van die duidelike ooreenkomste, soos die honger na die geliefde wat die subteks van beide gedigte vorm. Die tema van magiese vormverandering waar die vis in die Yeats-gedig in ʼn meisie verander, hou weer verband met Die vaal koesterjie en die Lied van Khoib en Khois waarin mense in leeus verander …  Beskou ons die vier gedigte wat aangehaal is, is die oorkoepelende ooreenkoms die liefde tussen man en vrou en die versugting dat dié aardse liefde tot aan die einde van die lewe intak sal bly. Daarteenoor staan die wysheidspreuk van Rumi met sy transendentale versugting. Die leser wat Rumi ken, sal weet dat sy poësie in die sfeer van spiritualiteit val en dat God die Geliefde is oor wie hy skryf. Dit is opvallend dat, hoewel die Rumi-spreuk nie direk na liefde verwys nie, daar – net soos by die ander vier gedigte – die implisiete versugting tot eenwording met die Geliefde is. Sy versugting om saam met die engele in die hemelse ruimte te verkeer, is ʼn versugting na God as die bron van dié liefde waaruit alle dinge ontstaan het. Dit kan gelees word as ʼn relativering van die ander vier liefdestekste wat op Evette se beeld uitgegrafeer word:

When I die I will soar with angels. When I die to the angels, what I shall become you cannot imagine.

.

Die ondersoek na verskillende (ander) vlakke van saambestaan (Barthes se “blend and crash”-vlakke!) kan ʼn interessante studie op sigself uitmaak. Wat egter belangrik is, is dat die kyker wat die tekste op die beeld Intertekstualiteit lees, met dié tekste in gesprek sal tree en ʼn eie “waarheid” daaruit sal puur.

Marlies Taljard: Met linte van sterre en sinne

Friday, December 12th, 2014

Vir Aardklop 2014 het Evette Weyers ʼn uitstalling van beeldhouwerke saamgestel met die tema “Letterlik en figuurlik”. Die meeste van die werke op uitstalling het op een of ander wyse aangesluit by taal, letterkunde en veral by die poësie. Baie van die werke was letterlike uitbeeldings van Afrikaanse idiome of segswyses, soos “die beste voetjie voor sit”. “Kaalvoet oor die Drakensberge” is ʼn beeld van voete met Voortrekkerkappies op en die “Drakensberge” in die agtergrond waarop ʼn verhaal oor Afrikaans geskryf is. Een van die interessantste beelde op die uitstalling was ʼn speelse konseptuele beeld oor transformasie, “Recycling of a Cycle”. Weyers beskryf dié beeld soos volg:

“My eerste poging in 1986 het plat geval oor die die saadjies nie goed gespruit het nie. Ek het my ou fiets op ʼn beeld-staander gemonteer, asof dit ʼn beeld was. Met vriende het ons die fiets losweg met klei bedek en met saadjies besprinkel wat daagliks natgemaak moes word, sodat die sade uitspruit. My idee was dat die fiets ʼn kunswerk word, en die kunswerk dan ʼn maaltyd word wat ons, formeel geplaas om die beeld, saam sou eet.”

Hierdie keer het die saadjies wel ontkiem (in my kombuis) en die beeld het inderdaad ʼn maaltyd geword. Drie van ons het dié beeldmaaltyd geëet. Evette skryf verder:

“Kuns het te doen met metafore en soms met die transformasie daarvan. Tydens die ysige winter in die Eerste Wêreldoorlog, het die beroemde skilder, George Braque, die eerste keer gesien hoe ’n mens ʼn water-emmer vol gate steek en vol brandende kole pak om dit te transformeer in ʼn verwarmer, en sodoende te oorleef in die koue. Dit het hom terdeë laat besef hoe vorm, funksie en betekenis kan transformeer. Hy het hierdie beginsel in sy briljante kubistiese skilderye toegepas.”

Nog ʼn beeld wat my al vantevore getref het weens sy wyd uitkringende assosiasies en intertekste, is Die Klank van ʼn stukkende gedig, gebaseer op ʼn gedig van Breyten Breytenbach, stukkende gedig uit sy eerste bundel Die ysterkoei moet sweet. Dit is ʼn bekende feit dat Evette Weyers besondere inspirasie uit Breytenbach se poësie put en dikwels deur middel van haar beeldhouwerk met hom in gesprek tree. Sy beweer: “Sy verbysterende kreatiwiteit lig my op tot hoog bokant myself.” Die feit dat Weyers uitgebreid oor haar kuns skryf, dra natuurlik daartoe by dat die breër publiek insig verkry in haar werkwyse en verdig op teoretiese vlak die intertekstuele weefsel van spesifieke werke. Dit is byvoorbeeld algemeen bekend dat haar man, Marius Weyers, die stukkende gedig op ʼn kleiblad geskryf het (omdat sy beweer haar eie handskrif is te onleesbaar). Toe die klei droog was, het sy die kleiblad gebreek, en dit word toe letterlik ʼn stukkende gedig. Daarna het sy gaatjies gesteek in elke skerf en dit aan ʼn spiraal opgehang as roer-beeld. Die skerwe stamp klingelend teen mekaar as die wind waai. Sy skryf: “Bo-op die spiraal het ek ʼn vereenvoudigde figuur van Breyten geplaas, as ʼn Boeddha, met sy 16e September pampoen in sy skoot; hy is net so kaal gestroop soos hy in die gedig is.”

Om die Breyten-figuur bo-aan die beeld akkuraat te kan interpreteer, moet die kyker egter ook kennis dra van die invloed van Zen-Boeddhistiese denke op Breytenbach se werk. Ook kennis van die interteks “16 September 2001” uit die bundel Die windvanger verruim die betekenis van die gedig. 16 September is natuurlik Breyten se verjaarsdag wat dikwels in sy werk gedokumenteer word. Die gedig waarna hierbo verwys is, begin só:

ʼn Man het vir hom ʼn pampoen gekoop op die Union Square

Market in New York City vir sy verjaardag die sestiende

September ʼn geboorteglips moet herdenk en gevier word daar

is nie meer baie oor nie en die wêreld word koud om ons.

In die nag kon die man nie slaap nie, “Hy het opgestaan en buite op die balkon / op sy hurke by die pampoen gaan sit” en met hom begin gesels. Toe die pampoen egter begin huil, gooi hy hom af

En polisie en

soldate het gekom met ʼn geloei uit die doderyk en met maskers en

masjiengewere en skynwerpers en die man soos ʼn vlieg vasgespeld

teen die muur van die balkon.

 

Die man begin hom verdedig, en die gedig sluit dan met die woorde:

Dis maar net ʼn storie en kyk hoe

stukkend lê die woorde nou! Wat sal ek tog hê om te onthou van

my verjaardag die sestiende september in New York City?

 

Met die geklingel van die stukkende gedig in my ore, onthou ek egter ook nog kommentaar wat Evette oor ʼn ander beeldhouwerk, “Gebruiksaanwysings” (ook na aanleiding van ʼn Breytenbach-gedig) geskryf het. Hierdie kommentaar kan ewe goed op die beeldhouwerk “die klank van ʼn stukkende gedig” (asook op baie ander van haar beeldhouwerke) van toepassing gemaak word. Eers die gedig:

 

Gebruiksaanwysings

eers kom die wind

die voël die vis die boom

die kind (die wind)

en ʼn begin van woorde

wat kleuterkleure aan geheue bind

met ʼn lint van klanke

 

die sterwe kom uit die lyf

soos getye tyd gestoot

deur ʼn larwe lewe van sterre en sinne

gestring aan wat om die oog

se einders knetter en brand

die verstrengelde voël, die vaste vis,

die ketter,        die kindse kind

die asem         weemoed

die hand          ʼn blinde hond

snoep-snoet teen        die bederfenis

 

van soet wind

 

En dan Weyers se kommentaar:

“Breyten is soos ’n rukwind wat deur jou huis en haard waai, deur jou oerwoude en landerye, deur die vergete boorde van jou verbeelding. Die betekenis vir my lê in die vrugte wat losgeruk is, dakplate wat soms afgewaai het, alles wat oopgekloof is en die klokke wat hy laat beier het. Die eggo’s van assosiasie, wat wyer en wyer uitkring deur jou lewe. Dit is reeds die persoonlike intimiteit van ’n gedig. Om ʼn logiese betekenis te moet skep is ’n heel ander reis, met sy eie openbaringe. Kortliks, die gedig begin as asem, lewe. Met linte van sterre en sinne string Breyten die heelal se ontstaan aan lewensiklusse van larwe tot mens, van sein en bewussyn tot kwyn en verdwyn. Vir my ruik die “soet wind” aan die einde van die gedig na katjiepiering, want so ruik die dood, volgens ʼn vriend wat op die grens geveg het. Maar steeds bly die grootste betowering van ʼn gedig vir my dat dit so evokatief is.

“Breyten is kreatief só aansteeklik. In antwoord op sy Lappaseit-doekboeke het kunstenaars hulle sluise oopgetrek, hulle riviere laat vloei en musiek gemaak om dit te vier. Die gedigte is getoonset en op CD vasgelê. Party van ons het beelde van die gedigte gemaak. Die toneelstuk Wemeltong, op die KKNK, was manjifiek. Dit gebruik bloot die teks van Breyten se doekboeke as ʼn toneelstuk, met die doekboeke self as deel van die stuk.

“Ons as lesers, toeskouers en toehoorders moes iets mooi skep om ons balans te behou te midde van soveel kreatiewe uitmuntendheid. Ons moes iets skep om ons aan die aarde te anker, anders sou ons wegwaai met die volgende orkaan van ʼn gedig.”

Besonder veelseggend is dat die beeldhouer dit as haar opdrag beskou om in gesprek te tree, te antwoord op die kunswerk van ʼn ander digter. Dat sy spontaan reageer op ander kunswerke wat haar ontroer. Hierdie is ʼn Ars Poetica, ʼn verhaal oor die werking van die muses.

Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval

Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval

ʼn Beeld wat baie Aardklopgangers aangegryp het, is die pragtige “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval”. Volgens die beeldhouer het sy weer eens haar inspirasie vir dié beeld geput uit ʼn bundel van Breyten Breytenbach, hierdie keer uit nege landskappe van ons tye bemaak aan ʼn beminde. Die laaste afdeling van hierdie bundel heet die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval. Dit bevat gedigte oor afskeid, verganklikheid, verval en die dood. Enkele strofes teen die einde van die afdeling uit die gedig die titel is: ʼn belydende woord uit die dood het my opgeval as deel van ʼn moontlike huiwerige interpretasie van die betrokke beeld:

woorde? landskap? wysie?

dis maar net ʼn netvlies refleksies

soos flitsende spieëls vir kommunikasie

met die ander land, kyk, die goud

is son wat gebeen het in die aarde

maar ruite is sonbriewe waarin jy

die verblindendste betekenisse kan lees

(…)

ek sê nog: die ewigheid

is om aan te hou vervel deur ʼn landskap

van oase na fontein langs trajekte

van klank, ʼn lied is ʼn roete,

(hierdie is my lied)

die land loop by my oë uit,

die meetsnoere het so mooi vir my geval[.]

 

In die laaste afdeling van die bogenoemde bundel word die dood as landskap uitgebeeld. Dikwels is die landskap egter ook die liggaam, want dit is juis die liggaam wat aan sterf onderworpe is. In Psalm 16:6 (Ou Vertaling), waar die woorde “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja my erfenis is vir my mooi” oorspronklik verskyn, word inderdaad na ʼn land(skap) verwys. Die woord wat vertaal word met “meetsnoere” is die Hebreeuse woord “chebel” wat gebruik is vir ‘n maatlyn met knope daarin aangebring om lengte te meet soos wat ‘n gebou of ‘n kleinerige stuk grond gemeet sou word. In Weyers se beeld is die landskap die liggaam soos dit dikwels ook in die letterkunde as metafoor gebruik word. Die digter Dawid (die Psalmdigter) word by haar ʼn losstaande beeld wat oor die vrouebeeld hang en wat verplaas kan word, al na gelang van welke deel van die liggaam hy wil beskou. Om die vrou is die “meetsnoere” – die pragtige snoer met knope gedrapeer wat ons nog al koffiedrinkend in ʼn kafeetjie in Stellenbosch geknoop het voordat die beeld die eerste keer op uitstalling gegaan het …

Met hierdie blog het ek probeer aantoon hoe ryk die intertekstuele netwerk rondom moderne kunswerke kan word, veral weens moderne media wat dit moontlik maak dat so baie stemme gehoor kan word, so baie kommentaar verreken word en so baie tekste binne sekondes opgespoor kan word.

Marlies Taljard: Simbole, woorde, beelde …

Sunday, April 13th, 2014

 

 

1 Korintiërs 13 sê ons ken maar ten dele. Ook die spektrum van ons emosies en ons sintuie is beperk. Baie dinge lê buite die begrips- en uitdrukkingsvermoë van die mens. Daarom gebruik ons – soos Graham Hancock byvoorbeeld in sy fassinerende boek Supernatural aantoon – sedert Homo Sapiens sy verskyning op aarde gemaak het, simbole om dié konsepte te representeer wat buite ons begrip en verstand lê. Dit is ook die rede waarom simbole in alle godsdienste ʼn vername rol spel.

ʼn Woord of beeld is simbolies wanneer dit meer as die letterlike en voor die hand liggende betekenis impliseer, wanneer dit ook ʼn onbewuste konnotasie het wat as’t ware buite taal geleë is. Wanneer dié simbool deur die gees of die intellek verken word, aktiveer dit insigte wat nie deur rasionele denke verkry sou kon word nie. Daarom is simbole in sowel die letterkunde (veral die poësie wat nie daarsonder kan bestaan nie) én die beeldende kunste een van die belangrikste betekenisgewende en -verruimende aspekte.

In enkele vorige blogs het ek die intieme verhouding probeer aantoon tussen Evette Weyers se beeldhouwerk en bepaalde literêre tekste. In hierdie laaste blog oor haar werk raak ek vlugtig aan twee besondere beeldhouwerke waarin die beeld van diepgang en terugkeer na die simboliese wortels van die mens belangrik is.

In haar outobiografiese werk Wat die hart van vol is …” skryf Weyers oor ʼn reeks beelde wat sy van ysberge gemaak het. Een daarvan (hierbo afgebeeld), Wie sal my kan sê hoe diep die liefde lê, is ʼn beeld waarop die kunstenaar en haar man, Marius Weyers, bo-op ʼn ysberg staan. Marius het op die ysberg ʼn aantal liefdesgedigte geskryf waarvan hulle besonder baie hou, onder andere ʼn gedig van Pablo Neruda en Marlise Joubert se Ballade van die minnaars. Die ysberg is natuurlik ʼn baie sterk simbool wat verbind kan word met die onbewuste en selfs met die kollektiewe onbewuste, wat in die kunste steeds een van die beste metafore is om aanwesigheid van argetipiese materiaal te suggereer. Deur ʼn argetipiese simbool kom die mens in kontak met argetipiese inhoude wat daartoe in staat is om dieper insig in die eie psige te bewerkstellig en selfs om individuasie of satori (of wat ʼn mens die toestand van diepste insig ook al wil noem) te bereik.

Core Sample

Core Sample

Nog een van Evette Weyers se bekendste en belangrikste beelde is Core sample, ʼn beeld wat letterlik die delf in die diepste oorspronge van die mens se bewussyn uitbeeld. Selfs al bevat hierdie wek geen skriftekens of verwysing na poëtiese of ander tekste nie, demonstreer dit ‘n praktyk van kunsskepping wat eie is aan alle kunsgenres. Daar word dikwels beweer dat alle groot kuns jou terugneem na die diepste plekke in die menslike psige om daar vanuit die “bron” gevoed te word en met dieper waarhede bedeel te word. Dit is beslis ook waar van Core sample (in Afrikaans vertaalbaar met “tydspoor”) waaroor die kunstenaar self in Wat die hart van vol is … die volgende te sê het:

Wanneer geoloë die geskiedenis van ʼn gebied wil bepaal, boor hulle ʼn lang klip-pyp uit die aarde. Hulle noem dit ʼn “core sample”. Daarvolgens kan hulle die geologiese geskiedenis van daardie gebied, oor ʼn tydperk van duisende jare, noukeurig lees. Die beeltenis van ʼn “core sample” het lank in my gesluimer.

Tydens ʼn praatjie oor die kunste wat ek op Stellenbosch gegee het, besef ek die meeste kunswerke waarna ek verwys, bestaan nog op aarde en kan steeds besigtig word! Geskrewe taal is slegs 6 000 jaar oud. Maar die mens teken al oor die 30 000 jaar op rotswande, op been en op potte, en maak beelde uit hout, been en klei. Visuele kunstenaars vertel sedert prehistoriese tye die storie van die mensdom. Die visuele kunste is inderdaad die “core sample” van die verhale van die mensdom. Wat die mens nog altyd waardeer, begeer, vrees en aanbid, lê hierin vasgevang – en ons kan dit vandag steeds besigtig.

Ek wou ʼn beeld hiervan maak. Dit is in die vorm van ʼn kleipyp, 1½ meter hoog, ʼn “core sample”, wat die geskiedenis van ons mensdom se visuele kunste weerspieël. Ek kon net nie so ʼn evokatiewe naam in Afrikaans vind soos “Core Sample” nie en het dit in Engels benoem.

Ná heelwat navorsing oor die geskiedenis van kuns, begin ek my beeld van onder opbou: van die vroegste tekeninge in grotte – spirale, en die buitelyne van mensehande, wat die Boesmans en Australiese inboorlinge op rotswande geteken het. Dan volg die tyd van die springende Boesmanjagters, wat ook op die wande van grotte in Frankryk en in Noord-Spanje geteken is, stilisties presies dieselfde.

Klein beeldjies van vrugbaarheidgodinne is 10 000 jaar gelede reg oor die planeet gemaak. ‘n Bekende een is die pragtige, abstrakte “Venus van Lespugua”, in Frankryk. Ek maak replikas en plaas hulle op my “Core Sample”. Ek gebruik kuns van regoor die wêreld – kronologies, maar sonder rangorde. Die beelde en tekeninge spoel oor mekaar.

Ek ontdek ʼn pragtige klein perde-amulet in ʼn boek oor die Neandertal-periode, ongeveer 32 000 jaar gelede. Dit is nie deur ʼn Neandertalmens gemaak nie, maar dateer uit daardie tydvak. Perde was toentertyd klein en bonkig, en hulle is vir voedsel gejag. Dit is asof die kunstenaar wat die perde-amulet gemaak het, geweet het hoe mooi perde nog gaan word. Dit het hy (of sy) in die klein beeldjie vasgevang. Ek was só geraak deur die antieke beeldjie, ek moes net ‘n beeltenis daarvan in “Core Sample” maak!

Ek besef weer eens taal het ʼn liniêre ontwikkeling. Taal is soos ʼn slang wat ou woorde vervel, afstroop, sodat nuwes in die plek daarvan kan uitgroei. Ons verstaan nie meer presies die taal van 800 jaar gelede nie – hetsy Engels, Duits, Grieks, Frans. Maar visuele beelde ontwikkel as ‘n wyer uitdeinende poel konsentriese sirkels, wat alle vorige beelde insluit. Iets wat 32 000 jaar gelede geskep is, kan net so ʼn groot emosionele impak op jou hê as ʼn beeld wat gister gemaak is. So het die 32 000 jaar oue perde-amulet my hart gesteel.

Ek het verder navorsing gedoen – oor die periode van die groot godsdienste, met die Boeddha in 500 v.C., en daarna die kuns van die vroeë Christendom. Uit elk van díé kies ek net een beeld. Die Moslem-geloof het beelde en verbeelding van heiliges verbied, maar pragtige patrone en sierskrif het by hulle floreer. Uit die Middeleeue en die Renaissance, met Da Vinci en Michaelangelo, kies ek nie die beste of grootste werke nie, maar iets kenmerkends van elke kunstenaar of periode. Heel bo-op “Core Sample” herhaal ek die spirale en hand-omlyning uit die vroegste tye, wat ek onder aan die beeld gebruik het. Maar ek vorm dit soos John Smith in die 1960’s, toe hy ʼn spiraal hawehoof of “jetty” in Kalifornië as kunswerk gebou het. En soos Jasper Johns, wat telkens ’n afdruk van sy oop hand gebruik het.

My vriende het gevoel “Core Sample” moes op ʼn publieke ruimte staan, want dit is ʼn eerbetoon aan die kreatiwiteit van die mensdom oor baie eeue. Ek het ook ʼn klankbaan vir “Core Sample” gemaak. Daarvoor het ek die klanke van die didgeridoe gebruik – die instrument wat al 40 000 jaar gelede in Australië bespeel is en steeds gebruik word. Ook die Boesmans se handeklap en dreunsang het ek gebruik, en die mondboog wat hulle bespeel het. Saam met die diep dreunsang, soortgelyk aan dié van Tibettaanse monnike, en die dromme en slaginstrumente van latere jare. Ek wou die toeskouers omring met die spektrum van klank en musiek wat ons as mensdom deur die eeue geskep en gemaak het.

Marlies Taljard: Herwonne land in beeld

Saturday, March 15th, 2014

Die term ekfrasis het sy oorsprong in die klassieke retorika – die kuns van oorreding – waar dit as stylfiguur gebruik is om ʼn gebeurtenis of ʼn voorwerp so duidelik voor die oog te roep dat die luisteraar dit as’t ware voor sy geestesoog kon sien. In die eerste hoofstuk van sy Poëtika wys Aristoteles (384-322 vC) daarop dat sommige ervare kunstenaars in staat is om dinge te representeer deur hulle kleure, vorms en ander eienskappe met hulle stemme te imiteer. Dit is waarskynlik die rede waarom die poësie en die skilderkuns dikwels as susterskunste met ʼn osmotiese verhouding beskou is: destyds is geglo dat sowel die poësie as die beeldende kuns in staat is om ʼn beeld te skep van die verhouding tussen mense en dinge ten opsigte van die wêreld “daar buite”. Hierdie siening kom byvoorbeeld ook voor in Horatius se dikwels aangehaalde uitspraak “Ut pictura poesis” (ʼn Gedig is soos ʼn prent) uit sy bekende Ars Poetica (65-8 vC). In die moderne literêre teorie word die term ekfrasis meestal gebruik om te verwys na die uitbeelding van ʼn kunsobjek binne ʼn gedig.

In sy opstel Painting, poetry, parallelism: ekphrasis, stylistics and cognitive poetics maak Peter Verdonk, na aanleiding van Nunberg se boek The Future of the Book die volgende stelling oor die verhouding tussen poësie en beeldende kuns: “…if ekphrasis is taken in its broadest sense of an attempt to capture the visual in words, the present-day state of affairs in modern communicative rhetoric may well be seen as an inversion of this classical ideal, in that now ‘images are given the task . . . of explaining words, rather than the reverse’. Hierdie stelling word geïllustreer deur die moderne klem op advertensie, strokiesprente, film en selfs konkrete poësie. Verdonk merk op dat die ekfrastiese onderneming van sulke gemengde kuns inderdaad konkrete beelde produseer, anders as wanneer taal in gedigte ekfrasties gebruik word om ʼn bestaande kunswerk uit te beeld.

Waar die klem in klassieke tye geval het op die woord en sy vermoë om te beskryf en op te roep (mimesis), het die klem tans verskuif sodat die funksie van betekenisgewing al hoe meer prominent op beelde en konkrete uitbeelding val. Ook in die teorie van woordkuns word dit vandag aanvaar dat gedigte (en ander literêre werke) nie mimeties van aard is nie – dus nie bedoel is (en in staat is) om ʼn werklikheid te representeer nie.

Herwonne land – Evette Weyers

Die ingewikkelde verhouding tussen kunswerk, kunstenaar en betekenisgewing is ʼn besondere sterk teenwoordigheid in Evette Weyers se kuns. In die twee voorafgaande blogs het ek reeds oppervlakkig na dié problematiek verwys. Een van die interessantste werke wat my bly fassineer is die beeld wat sy gemaak het na aanleiding van Chris Chameleon se vertolking van Ingrid Jonker se Herwonne land. As mens haar vra, stel sy dit altyd besonder duidelik dat sy die beeld (en daar het intussen nóg beelde bygekom!) nié gemaak het na aanleiding van Jonker se gedig nie, maar wel na aanleiding van die impak wat Chameleon se vertolking van die getoonsette weergawe van die gedig (met herhalings wat nie in die gedig voorkom nie) op haar gemaak het. Haar inspirasie is en bly daardie gevoel van verrukking wat die musiek op haar het, die gevoel van vervoering wat haar dwing om weer en weer te luister.

Sy dring dus daarop aan dat haar beeld as’t ware die derde vlak van interpretasie aanspreek, waar die gedig die primêre bron is, daarna is die oorspronklike woorde getoonset en die derde interpretasievlak is dan die sanger wat die musiek tot lewe oproep. In wese is die beeld ‘n driedubbele representasie, naamlik ʼn konkrete vertolking van die oorspronklike teks, die toonsetting en die uitvoering daarvan, ʼn uitbeelding van denkbeelde, waardes, insigte en emosies wat in die verskillende diskoerse verteenwoordig word – ʼn ware palimpses van tekste.

In Ingrid Jonker se bundel Rook en Oker (1963) verskyn die gedig Herwonne land:

 

Ek het jou herwin van die see

en waar die stormwaters was

die aarde aan jou teruggegee

 

saad van my begeerte     son van my woord

wat bome plant in jou vore

teen die kus van die dood

 

Ek het ʼn hemel bo jou gerond

fondamente laat sak en ʼn stad

laat bloei uit jou grond

 

Ek het jou teruggegee aan die lug

maar met die eerste sirenes

van jou weggevlug

 

Op Evette Weyers se facebook skryf Anna H Lemmer soos volg oor haar beeld na aanleiding van Chris Chameleon se vertolking van Herwonne land: “Wonderlike strukturele eenheid in die eenvoudige lyne! Die oorvleueling van die arms skep ‘n sterk gevoel van koestering en beskerming. Die kruiskontoerlyne in die koppe laat die oog opwaarts beweeg tot ‘n byna oneindige versugting…Waar haar hare in sy vorm versmelt is daar ‘n eenwording wat soos ‘n gebed woordeloos spreek.” Iets van die onsegbare ekstase van Chameleon se vertolking spreek uit hierdie waardering – die gedig vir ʼn oomblik vergete. In die letterkunde is ekfrasis – in die wydste sin van die woord – ʼn beskrywing van enige verbeelde of naspeurbare objek of toneel, van ʼn abstrakte idee, ʼn psigiese aktiwiteit of ʼn emosionele toestand. Hoewel die term ekfrasis gewoonlik nie in terme van ʼn nie-literêre kunswerk gebruik word nie, sou die bostaande beskrywing van ekfrastiese praktyk wel gebruik kon word om die betrokke kunswerk van Weyers te tipeer. Dit is inderdaad ʼn weergawe van ʼn psigiese aktiwiteit en ʼn emosionele belewenis.

Tog het sy die oorspronklike gedigteks nie verontagsaam nie. Beide die figure het ʼn patroon op die liggame wat met water verbind kan word en wat ook as skubbe geïnterpreteer kan word. Ook die houding van die twee figure het iets vis-agtigs in hulle – én die opwaartse neiging van die liggame suggereer inderdaad ook: “Ek het jou teruggegee aan die lug”. ʼn Uiters ambivalente beeld dus!

Dit is inderdaad so dat die klassieke betekenis van ekfrasis vandag nie meer op die kunste van toepassing is nie. Die bostaande bespreking behoort dit egter duidelik te maak dat ons selfs in moderne tye steeds die behoefte voel om ʼn kreatiewe spel aan die gang te sit tussen woord en beeld, ʼn spel wat 2000 jaar gelede reeds aan Quintilianus bekend moes gewees het toe hy die term “woordprent” bedink het. Hy het sy lesers vermaan dat ʼn toespraak nie slegs ʼn beroep op die gehoor behoort te doen nie, maar dat dit ʼn prent behoort op te tower in die geestesoë van die luisteraars – iets wat Evette Weyers konkreet maak in haar kuns. Sowel poësie as musiek spreek dikwels die emosie van die leser en luisteraar aan. Hierdie ooreenkoms tussen woordkuns, musiek en beeldhoukuns is die kreatiewe ruimte waarbinne die beeld onder bespreking ontstaan het en dit is hierdie vlak van belewing wat dit in die kyker wil aktiveer.

Marlies Taljard. Dans met die Minotaurus

Sunday, February 23rd, 2014

“Vir my is die Minotaurus die versinnebeelding van kreatiwiteit en die kunste. Hy is een van die basterkinders van die verbeelding. Maar die soektog na die Minotaurus is ʼn gevaarlike pad om te loop. Mý doelwit is nie om hom dood te maak of te keer dat hy my vermorsel nie, maar om met hom te dans. By die groot byeenkomste in antieke Kreta het die Grieke nié die bulle doodgemaak, soos later in Spanje nie. In teendeel, die Kretaanse akrobate het tussen die bulle se horings deur bolmakiesie geslaan en flink op hulle voete geland. Ek wil graag in daardie arena kuns skep en aanskou.”

Aldus Evette Weyers, bekende beeldhouer van Rooiels. Volgens haar word kunstenaars deur die kunste geïnspireer. Sy glo dat kuns die vermoë het om haar te aktiveer en om die kreatiwiteit en bewustheid in haar aan te wakker. In haar boek Wat die hart van vol is … skryf sy: “Ek het ʼn hele uitstalling gewy aan die saamdans van die kunste; hoe hulle mekaar beïnvloed en wat dit vir my beteken. My een beeld heet Dans met die Minotaurus. Dit is gebaseer op die bogenoemde legende uit Kreta. Die beeld spruit veral uit my liefde vir teater en waardering vir die genot, kennis en insig wat teater my dwarsdeur my lewe verskaf het.”

Soos dit met die poësie die geval is, wemel Weyers se werk eweneens van argetipiese simbole wat dikwels hulle oorsprong in die mitiese en letterkundige wêreld het. Na aanleiding van haar beeld Die aarde droom haar toekoms (sien afbeelding hierbo) sê sy: “Dit was ʼn letterkundige, eerder as ʼn visuele beeld …”

Omdat die wêreld vol onverklaarbare dinge is wat bokant die begrip of verstand van ons nietige mense is, vind veral kunstenaars dit nodig om simbole te gebruik om dié konsepte te representeer wat ondefinieerbaar is en “wat om die grense flikker van [ons] duister woorde”. Volgens Jungiaanse insigte is woorde of beelde simbole wanneer dit meer impliseer en ʼn wyer betekenis het as die ooglopende betekenis. Simbole het as’t ware ʼn onbewuste aspek aan hulle wat nooit presies gedefinieer kan word of ten volle verklaar kan word nie. Soos die intellek met die simbool omgaan, word die mens soms gelei na insigte wat nie deur middel van die rede verklaar kan word nie. Ons daaglikse lewe is gevul met simbole, soos die sirkel, die kruis, die vis, ensovoorts. Baie van hierdie simbole is eintlik argetipes wat met die kollektiewe onbewuste verbind kan word en wat deur alle eeue heen tot mense gespreek het. Juis weens hulle meerduidige en argetipiese aard, vorm simbole ʼn belangrike aspek van die poësie wat weens sy aard meerdimensionele betekenis genereer. Ook in die beeldhoukuns (en ander kunste) vervul simbole dié funksie.

Die bostaande beeld, Die vrou wat vrede droom, (‘n beeld wat in Hirosjima op die vredesmonument geplaas is) is ‘n voorbeeld van die argetipiese aard van Weyers se beeldhouwerk: die oerfiguur sit gehurk met ‘n weekdier in haar hand – die skulp waarin die nageslag woon.

Winddanser

Die see is waarskynlik dié mees prominente argetipiese simbool in Evette Weyers se lewensfilosofie en in haar kuns, maar ook haar bewustheid van en respek vir die wind spreek veral uit haar beelde wat dikwels vlieënde figure met die wind in hulle hare is (sien afbeelding van Winddanser langsaan). Sy vertel graag die verhaal van haar afspraak met die wind. Toe hulle langs die Hartebeespoortdam gewoon het, het sy een aand toe sy die wind hoor opsteek, in die maanlig gaan seilplank ry. Na ʼn tintelende rit het sy die wind bedank en ʼn afspraak gemaak dat sy hom oor presies ʼn maand weer sal ontmoet. Presies ʼn maand later steek die wind weer die aand op, maar omdat hulle besig was om te verhuis en sy ʼn klomp beelde moes klaar maak, kon sy nie die afspraak nakom nie. Skielik hoor sy ʼn groot slag buite: “Die wind het ʼn klaargemaakte beeld omgeklits. Flenters!” Vir haar is die grens tussen fantasie en werklikheid vloeibaar. Hierdie insig breek telkens deur wanneer sy brokke van haar lewensverhaal vertel, hetsy aan jou persoonlik, in haar boek of op haar facebook.

Daarom is dit nie verbasend nie dat sy ʼn voorliefde en groot bewondering het vir die werk van Breyten Breytenbach wat eweneens steun op simbole en sterk argetipiese beelde. Benewens ʼn beeld van hom wat sy gemaak het (sien afbeelding onder), het sy ook enkele van sy gedigte in beelde omskep. Man wat val is ʼn beeld wat sy gemaak het na aanleiding van Breytenbach se gedig New York, 12 September 2001 wat in die bundel Die windvanger opgeneem is en handel oor die man wat op 9/11 uit die Twin Towers gespring het, veral oor die strofe

beelde bly kerm om uiting agter die oog

vliegtuie is bomme vol skrapnel van sagte lywe

dan die inferno van vlamblomme uit wolkekrabbers

mensfakkels soos neerstortende engele uit die hoogste verdieping

af,af, al langs glimmende geboue van glas en staal

gewigloos en slank en vuurvlerk vaartbelyn

verskietend weerspieël in die vlugtige taal van vergeet –

die helhond van vernietiging het ʼn rooi lagtong

 

Na aanleiding van hierdie gedig ontstaan nog verskeie engelbeelde: “vallende, vlammende engele”. Ook van Joan Hambidge se bekende gedig man wat val het sy ʼn beeld gemaak. Hierdie gedig handel ook, soos Breytenbach se gedig, oor die eerste man wat op 9/11 uit die Twin Towers gespring het. Die slotstrofe van hierdie gedig lui:

Maar eintlik was hy ʼn engel

wat tydens hierdie Armageddon

die ondraaglike breekbaarheid van lewe

oorwin.

 

Nog ʼn Breytenbach-gedig wat Evette omgebeeld het, is stukkende gedig uit Die ysterkoei moet sweet. Sy noem hierdie beeld Die klank van ʼn stukkende gedig. Veral die slotreëls eggo in die Weyers-beeld saam:

al glo jy dan nie in ʼn siel nie

ontrafel ten minste die frases wat in jou donkerste wese eggo

en breek hierdie moment oop in ʼn stom kreet[.]

 

Oor hierdie beeld skryf sy: “Marius het die hele gedig vir my op ʼn halfdroë kleiblad geskryf (my handskrif is te onleesbaar). Toe die klei droog was, het ek die kleiblad gebreek en gaatjies in elke stukkie gesteek, sodat ek hulle kon ophang as ʼn roerbeeld. Bo-op die spiraal het ek ʼn vereenvoudigde figuur van Breyten geplaas, net so kaal gestroop soos hy in die gedig is. Die stukkende gedig hang aan ʼn spiraal. Die skerwe stamp klinkend teen mekaar as daar ʼn luggie waai.”

Hierdie proses van beelde skep na aanleiding van ʼn poëtiese impuls behoort ʼn insiggewende studie te kan wees en behoort beslis deur iemand met kennis van beide kunsterreine onderneem te word.

Marlies Taljard: Woord-meermin

Tuesday, January 21st, 2014

 

ʼn Rukkie gelede stuur kunstenaar Evette Weyers vir my haar boek “Wat die hart van vol is …” en sedertdien lê dié uitsonderlike publikasie steeds op ʼn plek waar ek terstond my hand daarop kan lê ter sielelafenis. “Wat die hart van vol is …” is beslis een van die mees uitsonderlike boeke wat nog in Afrikaans verskyn het: onkategoriseerbaar is dit sowel mite as legende, sowel biografie as droom, koffietafelkunsboek, hartreis en kopreis, kunsfilosofie, literêre besinning en nadenke oor die misterie van die lewe. Na verskeie deurlese vind ek elke keer nóg ʼn waarheid wat getuig van die skrywer se diepe mensekennis, verbondenheid met die natuur en indringende bemoeienis met die wese van alle geskape dinge. Wat die boek vir my as letterkundige besonders maak, is die wyse waarop die letterkunde, en veral die poësie en die poëtiese woord in hierdie boek weerklank vind. Elke werk wat Evette skep, word op een of ander wyse deur die letterkunde en die woord as toording gevoed. Teen die einde van die boek, waar sy weer eens oor die invloed van gedigte op haar beeldhouwerke besin, haal sy Mary Oliver aan:

“Poetry is a life-cherishing force. For poetry is not pictures or figures after all, but fires for the cold, ropes let down to the lost, something as necessary as bread in the pockets of the hungry. Yes indeed.”

“Wat die hart van vol is …” word verdeel in 9 dele, wat ek nie hoofstukke wil noem nie, want ook die ordening van die inhoud word nie volgens konvensionele logika onderneem nie. Die name van die verskillende dele gee reeds ʼn aanduiding van die verbeeldingryke lewensreis wat beskryf word: Meermin en wilde perde; Rondom taal-ie; Wie sal my kan sê hoe die liefde lê; Skoppensboer; Onder deur die grensdraad glip; Die wiskunde van fantasie; Hart en kopreise; Oseana; Fluit-fluit my storie is …

 Direk na die inhoudsopgawe verskyn daar ʼn subtitel: “Dagboek van ʼn trekvoël” en ʼn motto: “Vroeg-vroeg in my kleintyd het ek al geweet ek is ʼn ou siel met geen onskuld oor om te verloor nie.” Die vertelling begin met die herkomsverhaal wat aan baie van ons opgedis is toe ons klein was – ons was eers klein bobbejaantjies wat in die berge gevang is. “Om van die wildheid ontslae te raak, het hulle ons sterte afgekap. Daarna het hulle ons in ʼn bad warm seepwater skoon geskrop en ons hare afgeskraap en siedaar, ons was pure mens!” ʼn Alternatiewe verhaal van haar geboorte op die eerste bladsy dui daarop dat die kunstenaar bewus is van die meerduidigheid en gelaagdheid van die “waarheid”: “Nog voor my geboorte het my ma al geweet ek was ʼn meermin en dat ek nie uit die binnesee sou kom voor ek nie die buitesee gehoor het nie. Laat een nag het sy uit die kraamsaal van die Addington-hospitaal in Durban se strandfront gesluip en op die sand gaan lê. Sy het haar dye vir die see oopgemaak. Ek het die golwe gehoor en opgewonde uit die binnesee uitgeswem tot op die strand. ʼn Groot golf het my kom skoon lek.”

Onmiddellik word die leser dus ingewy in die esoteriese ruimte tussen droom en werklikheid wat die vertelling van begin tot einde kenmerk – ʼn styl wat sterk herinner aan die poësie, veral as gevolg van die argetipiese ruimte wat telkens opgeroep word en die gebruikmaking van oersimbole en -figure wat ook in haar beelde tot uiting kom.

 Evette vertel hoe sy reeds op hoërskool verlief geraak het op die letterkunde en hoe King Lear haar begeester het, maar ook hoe sy telkens voordat sy met ʼn beeld begin, haar kop moet skoonmaak van woorde:

“As ek op die pad van beelde loop, moet ek myself eers ʼn ruk lank speen van woorde. Woorde is so verleidelik. Woorde is nie onderhewig aan swaartekrag nie. Hulle kan lekker vinnig hardloop; oor berge en dale en ver, ver weg.

Beelde verg tyd. Ek moet eers in die stom hart van die beeld delf. Dit is ʼn blinde ontginningsproses. Ek boor deur soliede klip in die donker aarde in. Wanneer ek eers ʼn aar van die beeld oopboor, begin die opwinding oorneem. Dan kry ek momentum en die beeld kry gestalte in kleur en vorm en begin loop, later hardloop, vlieg en sing, woordeloos. Ek jubel woordeloos saam.”

Die verhouding tussen die verskillende kunste is ʼn onderwerp wat Evette dikwels aansny. Sy vertel hoe sy in 1980 betrokke was by die produksie van Vroue van Troje in die Markteater: “As beeldhouer was dit openbarend om deel te wees van die skepping van ʼn opvoering. Hoe verskil die gebruik van tyd en ruimte in ʼn toneelstuk en ʼn beeldhouwerk? Die toeskouers van my beelde is heeltemal in beheer van tyd en ruimte. Hulle kies hoe lank hulle na een kant van ʼn beeld wil kyk, en vanuit watter hoek; hoe ver of hoe naby hulle aan die beeld wil staan.” In teenstelling hiermee, word die tyd en ruimte in ʼn toneelstuk deur die regisseur en die spelers bepaal. Wanneer die toneelstuk egter gelees word, is die verhouding weer eens heeltemal anders en word dit grootliks deur die leser bepaal …

In die volgende paar blogs wil ek fokus op sommige beelde van Evette Weyers wat deur spesifieke gedigte geïnspireer is. Evette, baie dankie vir die verrykende gesprekke met jou – in die algemeen, maar veral rondom hierdie blogs.

  •