Posts Tagged ‘Ezra Pound’

Heilna du Plooy. Om in ‘n swerm te vlieg ─ weer eens oor vorm en inhoud

Monday, August 22nd, 2011

Om in ‘n swerm te vlieg – weer eens oor vorm en inhoud 

 

Paul Lake

   Paul Lake

 

In sy artikel “The shape of poetry” in ‘n boek met die titel Poetry after Modernism (red. Robert McDowell, 1998) skryf Paul Lake (1998:278-306) op ‘n baie interessante manier oor die implikasies van die verhouding tussen vorm en inhoud in die poësie. Hy begin deur te verwys na ‘n uitspraak van Ezra Pound waarin Pound die stelling maak dat daar twee soorte vormlikheid bestaan vir gedigte. Sommige gedigte se vorm is soos ‘n vaas waarin die inhoud van die gedig soos water gegiet word. Die inhoud neem dus die vorm van die houer aan. As modernis is Pound vanselfsprekend nie ten gunste van hierdie soort vorm nie en hoewel hy toegee dat sommige simmetriese vorme wel ‘n bepaalde gebruik kan hê, is hy oortuig daarvan dat die meeste onderwerpe van so ‘n aard is dat ‘n simmetriese en dwingende vorm nie reg kan laat geskied aan die poëtiese ontginning van die onderwerp nie. Die ander soort vorm vergelyk Pound met die vorm van ‘n boom. So ‘n vorm is volgens hom vry en organies en dit impliseer dat die gedig sy inhoud kan ontwikkel sonder om gebonde te wees aan ‘n vaste en potensieel dwingende poëtiese vorm. Hierdie argumentasie sluit aan by Coleridge se onderskeid tussen meganiese vorm wat vooraf vasgelê is en nie noodwendig korreleer of pas by die inhoud van ‘n gedig nie, en organiese vorm wat “inherent” is en wat van binne uit ontwikkel sodat die inhoud en vorm uiteindelik onskeibaar en selfs ononderskeibaar is.

Lake gee dan verskillende voorbeelde van digters wat hulle verlustig in hierdie vryheid van vorm. A.R. Ammons se gedig “Corson’s Inlet” word selfs beskou as ‘n soort manifesto vir vormvryheid:

…I was released from forms,
from the perpendiculars
   straight lines, blockes, boxes, binds
of thought
into the hues, shadings, rises, flowing bends and blends
   of sight…

Hieroor skryf Lake (1998:282-283) dan: “Thirty years have passed since Ammons published “Corson’s Inlet”, and in that time, discoveries in science and mathematics have shed new light on the problems discussed in his poem – discoveries with immense significance for our understanding of form and content, nature and art, organic and mechanical form.”

Lake verwys hier na die ontwikkelinge in die sogenaamde fraktale geometrie wat juis gaan oor die inherente patroonmatigheid van die natuur. Ammons het gedink dat die natuur se basiese reël is dat dit sonder reëls is, maar die fraktale geometrie toon dat daar juis byvoorbeeld in die skynbaar vrye groei van ‘n boom beslis ‘n patroonmatigheid is.

Om hierdie beginsel te illustreer, verwys Lake na ‘n eksperiment wat gedoen is deur ene Craig Reynolds aan die Santa Fé Instituut. Reynolds het klein “outonome voëlagtige agente” wat hy “boids” genoem het , geplaas in ‘n kunsmatige ruimte op ‘n rekenaarskerm. Hierdie ruimte was gevul met ‘n aantal hindernisse. Elkeen van die boids was geprogrammeer met drie eenvoudige reëls: dat elke boid ‘n bepaalde minimum afstand moet handhaaf ten opsigte van ander boids; dat elke boid sy spoed moet aanpas by die spoed van die ander boids in sy omgewing; en dat elke boid moet beweeg met ‘n bewustheid van ‘n virtuele kern in die massa boids in sy omgewing. Daar was geen oorkoepelende of gesamentlike opdrag aan die boids nie, net ‘n kodering van elkeen afsonderlik met drie eenvoudige reëls.

Toe die rekenaarprogram in werking gestel is met die boids verspreid oor die skerm, het die boids dadelik ‘n swerm gevorm en by herhaling van die eksperiment het dit elke keer gebeur. Waar die swerm teen ‘n hindernis gebots het, het dit verdeel in twee kleiner swerms en aan die ander kant van die hindernis het die twee weer bymekaar aangesluit om as een swerm verder te vlieg.

Die fraktale geometrie berus dan ook inderdaad op die beginsel dat die struktuur van natuurlike dinge, van ‘n kop brokkoli, ‘n varingblaar, ‘n boom en kuslyne (om maar enkeles te noem) berus op ‘n eenvoudige formule wat ‘n bepaalde versameling kurwes beskryf. Hierdie kurwes herhaal sigself tot die oneindige toe in die struktuur van die natuurlike objek. Fraktale geometrie hou verband met die sogenaamde chaosteorie, wat eintlik dui op slegs ‘n oënskynlike chaos omdat wat uiteindelik gesien word uit soveel herhalings bestaan dat dit lyk soos chaos maar eintlik ‘n onderliggende patroonmatigheid vertoon. Die vorms is net nie vroeër raakgesien nie. Dit is die ontwikkeling van bepaalde vorme van die wiskunde (soos onder meer deur die wiskundige Benoit Mandelbrot) en die moontlikheid van rekenaarmatige ontleding van dinge  wat die aandag op hierdie patroonmatighede gevestig het.

Voorbeelde van sulke fraktale strukture is byvoorbeeld bome waarvan die vertakkings van dik takke uit die stam tot die fynste twygies dieselfde patroon en vorm vertoon, ‘n varingblaar waarvan die fyner verdelings die groteres eggo in vorm. ‘n Mens kan op die internet baie voorbeelde van grafiese voorstellings van sulke fraktale kurwes vind.

Die verband met estetiese beginsels is hier nogal opvallend. Alle tekenaars en skilders weet dat om ‘n boom te skilder jy baie goed moet kyk na juis die spesifieke vertakkingspatroon om die kenmerkende aard van ‘n bepaalde boomsoort te kan weergee. Wilgerbome en populierbome se vertakking en takverspreiding werk verskillend en die bome heg hulleself ook op verskillende maniere aan die grond, maar vir elke boomsoort is daar ‘n duidelike ooreenstemmende patroon in die oksels van die vertakkings. Dieselfde geld vir blomme – die kenmerkende van ‘n blom moet raakgesien word om daardie spesifieke blom tweedimensioneel te kan voorstel.

Die interessante is dat die basiese formule van fraktale vorms eenvoudig is. Wanneer die resultaat van elke herhaling in die volgende herhaling gebruik wod, word daar egter komplekse en “chaotiese” maar baie mooi vorms geskep. Die sogenaamde fibonacci-beginsel hou ook hiermee verband en as ‘n mens dink hoe pragtig reëlmatig die fynertuitende kurwe van ‘n skulp is, dan begryp jy dat daar ‘n besondere korrelasie is tussen reëlmaat en skoonheid. Die fibonacci-beginsel werk ook in die beeldende kuns in die sogenaamde goue snit. Daar is ook gevind dat kinders dikwels op ‘n natuurlike manier wel die belangrike voorwerpe in hulle tekeninge op die goue snit plaas.

Op grond hiervan kan ‘n mens dan bespiegel oor die verband tussen kulturele koderings of argetipiese patrone in die menslike psige en die herkenbaarheid of funksionaliteit van sulke patroonmatighede.

Hoewel die eerste formule van fraktale eenvoudig is, word die herhalings toenemend ingewikkeld en die eindelose vermenigvuldiging lei dan tot so ‘n graad van ingewikkeldheid dat dit as chaos vertoon (soos die fyn en skynbaar onreëlmatige vertakkings van die takkies van ‘n boom waaraan die blare uiteindelik sit). Dit is dan ook so dat hierdie ingewikkelde en skynbaar onontwarbare patrone baie mooi is soos ‘n boom se takke van groot tot klein baie mooi is. As ‘n mens die saak met wiskundiges bespreek, noem hulle ook baie ander patroonmatighede, maar dit word verskriklik interessant as hierdie patroonmatighede ook in die kunste gevind en ontleed word.

Lake se argument loop daarop uit dat ‘n gedig slegs oënskynlik ‘n vrye vorm het. Digters vertel dikwels dat hulle die aanleiding tot ‘n gedig kry in ‘n frase, ‘n woord of ‘n versreël en dat daardie eerste reël of woord of frase ‘n inherente patroonmatigheid vertoon waarop hulle dan verder werk, wat hulle dan verder uitwerk. Die gedig wat heeltemal vry is van enige reëls (ook sy eie reëls) is  “too ruleless, arbitrary and mechanical to produce the organic integrity of good sonnet” (Lake: 1998:282).

‘n Mens sien dus dat op ‘n ironiese manier die term “organies” eerder te make het met ‘n gepaste vorm as met geen vorm nie. Mens sien die vorm dikwels net nie raak nie omdat dit soos ‘n boom se onbegryplik ingewikkelde vertakkings nie oor-duidelik is nie. Maar dat die goeie gedig wel oor so ‘n onderliggende verborge patroonmatigheid beskik  soms selfs buite die bewuste wete van die digter, vermoed ek lyk vir my wel ‘n belangrike insig. Daar is natuurlik ook die gedagte dat die bekende vorms wat in die poësie ontwikkel het, berus op ‘n argetipiese patroon in die denke van die mens en dat die sonnet byvoorbeeld sulke merkwaardige manifestasies opgelewer het omdat die struktuur van ‘n uiteensetting van ‘n beeld en ‘n uitbreiding/toepassing/konsekwensie van die beeld een van die natuurlike kognitiewe skripte van menslike denke is.

In die fraktale geometrie is ‘n ander boeiende konsep, dié van ‘n “strange attractor” wat in die massa van herhalings en patroonmatighede funksioneer. Dit is die soos die virtuele kern waarom die voëltjies in ‘n swerm hulleself skik. Myns insiens is dit ‘n lekker beeld om in die poësie te gebruik want daar is ‘n bindende en organiese aspek van ‘n gedig wat die gedig laat saamhang, wat dit bind, wat die betekenis daarvan so laat ontwikkel dat dit die leser vashou en boei. En hierdie virtuele kern, hierdie vreemde of onbekende trekkrag, is miskien juis daardie onnoembare saak, die X-faktor waarvan gepraat word, die ster in Robert Browning se gedig, wat bind sonder om sigbaar te wees.

Die gedig het dus vorm, maar wat dit altyd is en wat dit alles kan wees, is ‘n oopeindige reeks moontlikhede.

II

Daar het egter nog ander gedagtes na aanleiding van Lake se artikel by my opgekom. Wat is byvoorbeeld die rol van ‘n basiese onderliggende patroonmatigheid in kulturele sin of in die geval van ‘n versameling mense, ‘n gemeenskap?  Die analogie sou gemaak kon word, dat indien ‘n gemeenskap met ‘n paar ooreenstemmende onderliggende reëls gekodeeer is, hulle optimaal kan saamwerk en saamfunksioneer. Hulle sal dus metafories gesproke waarskynlik ‘n swerm kan vorm. As ‘n gemeenskap oor geen onderliggende bindende kragte beskik nie, geen gedeelde ideale of waardes het nie, kan dit hiervolgens gewoon nie ‘n gemeenskap word nie.

Dit laat ‘n mens besef hoe moeilik dit is om ‘n mulitkulturele gemeenskap te bestuur, om ‘n groot genoeg gemene deler te vind wat mense kan saamsnoer sodat daar samewerking en vooruitgang kan wees.

As ‘n mens egter verder dink, besef jy dat daar potensiële ongelukkige gevolge uit ‘n te groot eenvormigheid kan voortkom. As mens die metafoor of analogie van die fraktale verder bedink, sal jy onthou dat in die natuur elke boom blootgestel is aan die wind en die weer en elke boom sal op ‘n unieke manier deur die blootstelling beïnvloed word. Sterk wind, storms en oorstromings of droogtes sal die primêre patroon ondermyn en verbreek en elke boom gaan op grond van sy posisie, sy grootte en geskiedenis anders reageer op die teistering. Die onderliggende patroon sal bly, maar wanneer ‘n tak afbreek sal die stam kompenseer deur ‘n groot klomp klein jong lote net daarbo uit te stoot of deur die helling van die primêre stam te verander om die boom se balans te bewaar. Alles gebeur dan steeds volgens die fraktale patroon, maar die beeld van die boom word daardeur uniek gemaak. Hierdie boom is van sy soort, maar hy lyk anders as elke ander boom van sy soort.

In die kuns werk dit immers ook so. Geen twee werke lyk ooit presies dieselfde nie. Daar is al baie geskryf oor die onmoontlikheid van herhaling en tog is dinge in groepe herkenbaar as bymekaar passend. Meer nog, geen kunsvorm, hersy die skilderkuns, die letterkunde of die musiek, verdra dit om geyk te raak nie. Daar is dus in kunswerke sekere ononderhandelbare herkenbaarhede nodig, bepaalde “kodes”, anders word die kunswerk in Jurij Lotman se woorde “‘n grafskrif in ‘n onbekende taal”. Maar daar moet ook deurgaans en deurlopend verandering, aanpassing, improvisasie en uitbreiding plaasvind. Hierdie meganisme kan dan ook op meer of minder radikale wyse plaasvind (dink maar oor Bloom se idees in The Anxiety of Influence).

Toegepas op gemeenskappe of groepe mense, moet daar dus ook waarskynlik ‘n bepaalde mate van gedeelde kennis en kodering bestaan om ‘n funksionele gemeenskapslewe tot gevolg te hê. Jy kan jou voorstel dat byvoorbeeld in ‘n kerk mense ‘n stel gedeelde opvattings het, dat ‘n sportspan almal gekodeer moet wees met die gedagte om te wen as hulle wil wen en so kan ‘n mens aangaan.

Maar, en dit is vir my ‘n bykans ontstellend belangrike insig,  indien ‘n gemeenskap te eners raak, word hy ‘n massa, ‘n dom eenlynig funksionerende groep. Per slot van rekening is mense selfs meer verskillend as bome of berge of kuslyne. Mense is aan veel meer psigologiese en sosiale en familiale invloede blootgestel en daarom is die aantal veranderlikes wat op die basiese menslike patrone inwerk veel meer as die natuur se ingryp op die groei van ‘n boom.

Dit lyk dus baie lekker en baie wonderlik om ‘n gemeenskap te hê wat soos die boids ‘n swerm vorm en veral ideoloë het dit as die verstekideaal vir die gemeenskappe waaroor hulle heers. Hoe gaaf, hoe maklik,  moet dit nie wees om te regeer oor so ‘n gedienstige swerm wat eenvormig reageer op grond van ‘n relatief moeitelose eenvoudige kodering nie? Daarin skuil daar presies al die gevare wat ideologiese kodering kenmerk: onnadenkende mense, afgestompte mense, futlose mense, mense sonder inisiatief, sonder die vermoë of geleentheid om eties of moreel self te dink. Die ander gegewe wat hiermee saamgaan, is onvermydelik magsbehepte leiers en onderdrukking om die status quo te bewaar.

Aan die ander kant – in die lig van die onlangse opstande in Engeland en die eindelose beelde van betogings en optogte op die TV, begryp ‘n mens dan dat wanneer iemand in ‘n massa opgeneem word, hy ophou om selfstandig en krities te dink. Hy word meegevoer en onderwerp homself/haarself aan die mag van die vrituele kern, die vreemde bekoring van die onbekende trekkrag en storm dan blindelings saam met die stroom vorentoe. Dit verklaar waarom mense in Engeland nou selfs sê hulle weet nie juis waarom hulle deelgeneem het aan die vernietiging nie – hulle is gewoon meegesleur.

Hierin speel die kuns dan weer ‘n belangrik rol as ‘n analogie vir die lewe. Vernuwing, selfstandige en oorspronklike denke is ononderhandelbaar nodig, dit is onontbeerlik vir ‘n gemeenskap. Stagnasie is die dood in die pot. Die mens kan dus eerder met ‘n kunswerk vergelyk word as met ‘n gekodeerde boid, soos wat ‘n kunswerk in sy veelfassettigheid eerder vergelyk moet word met ‘n mens as met die natuurlike objek, die referent, wat as aanleiding daarvoor dien. Ons is eenders omdat ons anders as mekaar is en moet wees. Daarin lê die moontlikheid van eindelose vernuwing en eindelose vernuwing is immers ‘n basiese lewensbeginsel.

 

 

 

Heilna du Plooy

Heilna du Plooy

Heilna du Plooy het in Bronkhorstspruit en Alberton grootgeword.  Sy studeer aan die PU vir CHO en aan UP. Na haar huwelik met Andries du Plooy woon sy 6 jaar in Durban, 11 jaar in Pretoria en sedert 1986 in Potchefstroom waar sy tans professor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde  aan die Noordwes-Universiteit is.  Sy het ‘n paar kortverhale in literêre tydskrifte gepubliseer asook ‘n akademiese werk, Verhaalteorie in die twintigste eeu (Butterworth, 1986), en bydraes in verskeie versamelings van artikels en essays oor die Afrikaanse letterkunde. Sy het twee digbundels, naamlik  Die donker is nooit leeg nie (1997) en In die landskap ingelyf (2003). 

 

 

 

 

 

 

 

Desmond Painter. Wat is jare? Elliott Carter se baie lang lewe

Tuesday, August 3rd, 2010
Eliott Carter

Elliott Carter

Die meeste van ons hoop seker heimlik om gesond en produktief oud te word, maar min van ons sou selfs in ons wildste drome daarop hoop om Elliott Carter sy produktiewe langlewendheid na te doen. Dit sou buitensporig wees; ‘n soort hubris!

Hierdie groot Amerikaanse komponis is op 11 Desember 1908 gebore. Hy word dus binnekort 102 jaar oud… Wat dit meer verstommendend maak, is dat Carter nog strykdeur nuwe werk produseer en laat uitvoer. En nie drupsgewys nie. Tussen sy 90ste en 100ste verjaardae het hy nie minder nie as 40 werke gekomponeer. Sedert hy 100 geword het, al om en by vier groot nuwe werke… Sy mees onlangse komposisie is skaars twee maande gelede by die Aldeburgh Musiekfees (deur Benjamin Britten tot stand gebring) in Engeland uitgevoer.

Carter was nog altyd lief daarvoor om Amerikaanse digters se werk te toonset, maar dit lyk of hy hom in onlangse tye hierop toegespits het. Drie van sy jongste werke, Poems of Louis Zukofsky (2008), On Conversing With Paradise (2008) en What Are Years? (2009), is liedersiklusse bestaande uit toonsettings van Amerikaanse gedigte — van Zukofsky, Ezra Pound en Marianne Moore onderskeidelik. Ek het Moore (1887-1972) se gedig “What are years?” nie geken nie, en dit toe gegoogle. ‘n Pragtige vers; ek kan nie wag om Carter se toonsetting hiervan te hoor nie:

What Are Years?
by Marianne Moore

What is our innocence,
what is our guilt? All are
naked, none is safe. And whence
is courage: the unanswered question,
the resolute doubt, –
dumbly calling, deafly listening – that
in misfortune, even death,
encourages others
and in its defeat, stirs

the soul to be strong? He
sees deep and is glad, who
accedes to mortality
and in his imprisonment rises
upon himself as
the sea in a chasm, struggling to be
free and unable to be,
in its surrendering
finds its continuing.

So he who strongly feels,
behaves. The very bird,
grown taller as he sings, steels
his form straight up. Though he is captive,
his mighty singing
says, satisfaction is a lowly
thing, how pure a thing is joy.
This is mortality,
this is eternity.

  •