Gisela Ullyatt. Facebook en Die Groot Poësiebrander. (Deel 1)
Wednesday, July 1st, 2015En skielik was daar Facebook.
Noem dit wat jy wil: Bakkiesboek, Vleesbroek (vir dié wat meer as net kuise selfies neem) of Feesboek (waarop jy pronkend die hoeveelste Springbokkie en Jägertjie down: zefste onsie óóit. Tot die volgende happy snappy saam met jou “besties”). Dis ’n netwerk waar jy vinniger as wat jy “Steve Hofmeyr” kan sê, ’n missing-pic van Hannibal, jou geliefde Rottweiler, kan share wat om donderswil al wéér uit die erf ontsnap het. Sy missing-pic laat Breaking Bad na ’n geflopte Romanza lyk.
Nie ’n idee wat om vir aandete aanmekaar te slaan nie? Facebook jou vriende. Tjop-tjop sal skakels op jou fb-muur verskyn van virtuele resepteboeke. Iemand mag selfs hul Ouma Baby se flatervrye pof-omelet met jou deel. Kry jy angsaanvalle oor die reiskoste van jou voorgenome Engeland-toer? Vra jou fb-vriende in Clacton of jy nie vir ’n paar dae by hulle kan gaan ‘doss down’ nie. Jy kan dieselfde guns aan hulle bewys wanneer hulle eendag jóú dorp aan die gatkant van die aardbol besoek.
Alleen en gatvol? Facebook is goedkoper as ’n dating website. Dit skakel outomaties BA-Manvang en studieskuld uit.
Ook kan jy herenig met jou nefies wat jy dertig jaar laas gesien het… in jou tannie se bad. Toe had Suid-Afrikaners nog ’n werklikheidsbegrip van waterbesparing: ten minste vyf junior familielede kon saam in ’n skuimbad geskrop word. Nou hoop jy maar niemand tag jou in hierdie Shipmate-oomblik uit 1980 nie. En ja, om nie te praat van ou skoolfoto’s wat uit Danté se bevrore hel opgediep word nie. Jou uni-brow was dalk tóé ‘n juweel. So ook die kuif, so styf gespuit soos ’n meringue se sagtepuntstadium…
Kôk-kôk: politieke kapokhaantjies en -hennetjies; daar is ’n eindelose gepik in die fb-hoenderhok (deurspek van tirades vol spelfoute). Selfs girl with cake word nou van politieke agendas beskuldig omdat sy koeke bak en aan haweloses uitdeel.
Tóg.
Vanuit ’n Boeddhistiese oogpunt sou ’n mens Facebook as ’n aangrypende moderne metafoor van Interkonneksie (Interconnectedness) en Indra se Net kon beskou. In die konteks van ons tegno-era is laasgenoemde ’n skitterende voorbeeld van hoe die World Wide Web se permutasies prakties manifesteer.
Indra se Net funksioneer as sentrale metafoor in die Boeddhistiese literatuur wanneer Interkonneksie onder die loep geneem word en verwys terug na die oorspronklike Hindoe kosmologie (vandaar die konneksie met die gode). Dit kan verder nagespoor word in die Avatamsaka Sutra (derde eeu voor die huidige jaartelling (VHJ)).
Vervolgens kan hierdie metafoor kortliks opgesom word as:
In the heavenly abode of the great god Indra is a wondrous net that has a light-reflecting jewel at each of the infinite intersections of its thread. Each jewel exists only as a reflection of all the others, and hence has no self-nature (Jones 2003:16).
Stel jou dus voor: ’n net wat tot in die oneindigheid strek, met biljoene der biljoene skitterende juwele. Elke sentient being word deur hierdie web verbind: “Indra’s Net symbolizes a cosmos in which there is an infinitely repeated interrelationship among all the members of the cosmos” (Cook 1981:2). Die idee wat by meeste van ons ingeprent is van kindsbeen af, dat elke individu as ’n afsonderlike entiteit funksioneer, is dus, vanuit die metaforiek van Indra se Net, slegs ’n illusie.
Gedagtig aan bogenoemde formulering van Indra se Net, is facebook natuurlik nie net die hoenderhok-drama wat dit soms kan wees nie. ’n Praktiese voorbeeld van hoe facebook Indra se Net illustreer, is wat ek “die Groot Poësiebrander” noem.
Konteks: facebook het van tyd tot tyd sogenaamde nominasies/uitnodigings waarin jy jou vriende kan uitdaag en tag. Gewoonlik vind ek hierdie nominasies pure snert en ’n totale mors van tyd en energie (alhoewel die intensie daaragter sekerlik goed bedoel is). ’n Voorbeeld hiervan: ek is getag om ’n no make-up selfie te neem en op fb te plaas as my profielfoto, ter onderskraging van borskankerpasiënte. Die idee is dan dat jy terselfdertyd nog vriende tag/nomineer om dieselfde te doen (ek neem aan slegs vrouens óf dan miskien mans wat gewoonlik grimering dra?).
Ek het gevind dat die hele kettingreaksie dalk vir party mense gewerk het, maar dat, na ’n dag of wat niemand daadwerklik iets vir borskankerpasiënte deur hul no make-up selfies gedoen het nie. Geen pasiënt, sover ek weet, het na vore gekom en gesê dat dit hulle daadwerklik beter laat voel of genees het nie. Hoekom dan nie maar iemand met borskanker ondersteun deur kos te neem vir die gesin wanneer sy in die hospitaal is of van jou hare laat afsny en skenk vir ’n pruik nie? Of begin ’n fb-blad ter ondersteuning van ’n pasiënt? Ongelukkig ontaard uitdagings soos hierdie soms in ’n ongeduldige, voorskriftelike vingerswaaiery, ’n bietjie soos die uitdagende en dweepsieke “If you love Jesus, share this message on your wall”. Betrek slegs mense wat werklik van ’n spesifieke uitdaging sal hou.
Ewenwel.
Soms kom daar tog ’n tag/uitnodiging op jou fb-pad wat ’n wesentlike verskil maak. Annette Snyckers, een van my fb-vriende, vryskut-vertaler (Engels, Duits en Frans) en skilder, nooi my uit om vir vier dae elke dag ’n gedig of ’n bepeinsing oor die digkuns op facebook te deel en dan terselfdertyd ook vier ander vriende elke dag te nomineer.
Ek skryf die volgende op my status update na Annette se uitnodiging:
“Gewoonlik “doen” ek nie nominasies op fb nie. Ek het nie die oudste foto “gedoen” wat ek op fb gehad het of een of ander gedwonge besigheid wat almal skielik voel hulle moes doen nie. Maar Annette Snyckers het ‘n uitnodiging aan my gerig wat my na aan die hart lê: poësie. Om elke dag, vir vier dae ‘n gedig of iets oor poësie (aanhaling, ens) met almal te deel. Nou dís ‘n uitdaging wat ek met ope arms verwelkom. Ek nomineer ‘n paar fb-vriende wat ek weet ‘n spesifieke liefde vir poësie koester. Maar, asseblief, daar is geen verwagting dat enige iemand dit ”moet” doen nie. No pressure. As jy egter lus voel om vir vier dae elke dag ‘n gunsteling gedig op jou status wil pos of iets wat jy oor poësie gelees het wat jou geïntrigeer het, of selfs een van jou eie gedigte, nomineer ook vier ander mense, as jy wil, om dieselfde te doen. Ek nomineer vir Charl Cilliers, Ilisna Nel, Melanie Grobler, Marlise Joubert, Marie Bredenkamp, Lieze Stassen, Con Robinson, Tessa Muller, Nini Bennett, Nicolette van der Walt, René Bohnen, Ester de Beer en Fanie Marais“.
Die eerste gedig wat ek as deel van die uitdaging plaas, is Mark Strand se “Lines for winter”, wat Strand aan Ros Krauss opgedra het (Selected Poems:1979):
Tell yourself
as it gets cold and gray falls from the air
that you will go on
walking, hearing
the same tune no matter where
you find yourself –
inside the dome of dark
or under the cracking white
of the moon’s gaze in a valley of snow.
Tonight as it gets cold
tell yourself
what you know which is nothing
but the tune your bones play
as you keep going. And you will be able
for once to lie down under the small fire
of winter stars.
And if it happens that you cannot
go on or turn back
and you find yourself
where you will be at the end,
tell yourself
in that final flowing of cold through your limbs
that you love what you are.
Annette se gedigte kom dus eerste aan die beurt omdat sy my ‘genesis’ was. Ook plaas ek slegs gedigte van mense wat ek DIREK genomineer het. ’n Paar van die nominasies kon egter nie deelneem nie weens persoonlike en/of werksverpligtinge of die feit dat hulle nie baie tyd op facebook spandeer nie. Ek het hulle tags dus uitgelaat vir Versindaba om niemand in ’n moeilike posisie te plaas nie. Die blogs sou ook te uitgesponne raak as ek vier gedigte van elke deelnemer geplaas het. Ek het my bes gedoen om deur al die gedigte te werk, maar kon onmoontlik nie ieder en elk gaan opsoek en met die oorspronklike vergelyk nie. Daar mag dus ’n paar foute ingesluip het betreffende versreëls, ens. Soms het mense die datum of digbundel en selfs bladsynommer aangedui, soms nie. Ek het dit meestal net so gelos, weereens omdat dit maande sou kon duur om elke bundel, bladsynommer en datum van publikasie te gaan opsoek. Baie mense het ook van die internet af gewerk en ken ook nie die besonderhede nie. Die gedigte en hul bundels wat as deel van hierdie uitdaging aangehaal word, verskyn dus nie in die bibliografie nie.
Annette is deur Christine Muller Coates genomineer (sy het onder andere Mary Oliver se “Wild Geese” aangehaal. Christine is ook betrokke by vanjaar se McGregor Poetry Festival in Augustus); Annette se eerste keuse vir Dag 1 is “Introduction to Poetry” deur Billy Collins:
I ask them to take a poem
and hold it up to the light
like a color slideor press an ear against its hive.
I say drop a mouse into a poem
and watch him probe his way out,or walk inside the poem’s room
and feel the walls for a light switch.I want them to water-ski
across the surface of a poem
waving at the author’s name on the shore.But all they want to do
is tie the poem to a chair with rope
and torture a confession out of it.They begin beating it with a hose
to find out what it really means.
Dag 2: Finuala Dowling se “An initiative to increase the numbers of male readers”:
We do love men with charming looks
but send us more who have read books.We ogle men who’re built like champs
but send us more with reading lamps.We still like men who make us passes
but send in more with reading glasses.We’ll race with men in racy cars
if they have valid library cards.Please, please, goddess, before it’s bed
send in men who have read
hardbacks.
Vir Dag 3 kies Annette die volgende aanhaling uit Breyten Breytenbach se Intimate Stranger:
Poetry is a love. Of what? Of the discovery and the celebration of words, things, feelings, ideas, undigested memories, insights, other people, yourself, other selves, mystery, sense, eternity, other eternities, nonsense, nothingness, the whales and the foam and the shadow of the grass on the mountain, the bones of the dog buried in the garden. Of love itself. And it is an engagement with all of the above. It is a love-act.
Poetry is a love of that art of making which will take you away from self-indulgence — for even as you fashion it, it takes on a life of its own.
Op Dag 4 plaas Annette gedeeltes van Antjie Krog se “die laning”.
die laning
die laning is ‘n ruggraat
die laning rig homself teen die heuwel op
die laning geur diep in panele terpentyn en denne, honderoos, moerbei
in digte potblou seders
van ver af dink sy
o, hoe blou is die groen
hoe olyf die pers
hoe roerloos die sipresse
en dig hulle mantels as die donderweer rammel
en die aarde antwoord soos iets vrygelaat en diep ontroer
[…]
die laning skitter soos ‘n held
die laning klim glanssilwerend die heuwel uit
die laning behou homself in panele van iep, van eik, bokdoring en berk
hoe timmer die merel
hoe glip die uil se beitelklankies
hoe snipper die vinkies soggens geluide van koelte en dou
hoe ritsel koringgeel oortjies hoe geur die besembos
hoe blom melkdistels en sigorei blou skoelappers van hulle stingels los
[…]
Melanie Grobler, bekende Afrikaanse digter, deel een van haar eie gedigte, genaamd “Die Argonauts”:
Soos Atlas buk onder die juk van die wêreld
leun hul teen die reuse roeispane
die verrotte spane merk wel die plek
op die wit strand waar hul nou soos die gode rus
hul laaste asem buig om die platane
teen ’n winderige berg se hang.
Nini Bennett, digter, kies die volgende vir haar Dag 1:
Nothing erases the immoral act. Not forgiveness. Not confession. And even if the act could be forgiven, no one could bear the responsibility of forgiveness on behalf of the dead. No act of violence is ever resolved when the one who can forgive can no longer speak; there is only silence. ― Anne Michaels
vader Andrei vertel
soms as ek die mis bedien en ek onthou die dinge
wat ek in die oorlog gedoen het toe ek ’n soldaat
was, dan begin ek huil. die mense dink ek huil
oor god maar ek huil oor myself, ek huil myself skoon
op miskien huil god in my in my huil god oor als
wat ek gedoen het in die oorlog toe ek nog soldaat was
in nikos se leër dan kan ek nie ’n woord vind
om te sê nie hulle, die armsaliges, wat hiernatoe
gekom het om die mis te vind, hoor dat daar nie gepraat
word nie die mis misluk vandag god huil verlate
en alleen tussen die spierwit tafeldoeke en stukkies
witbrood heen sy trane vlek die brood
en heeltemal ontwy huil hy soos vader andrei,
troosteloos
Petra Müller (Om die gedagte van geel:102).
Op Dag 2 deel Nini toe Dolf van Niekerk se gedig 7 uit Nag op ’n kaal plein (2006) en op Dag 3 skryf sy:
“Gisela, met jou liefde vir sneeu en gedigte wat oor sneeu handel, plaas ek graag dié bekende gunsteling van Tomas Tranströmer”.
Sick of those who come with words, words but no language,
I make my way to the snow-covered island.Wilderness has no words. The unwritten pages
stretch out in all directions.I come across this line of deer-slots in the snow: a language,
language without words.
– soos vertaal uit die Sweeds deur Robert Robinson
Vir Dag 4 haal Nini ’n gedig aan uit Tom Gouws se bundel, Stigmata (72-73).
Fanie Marais, wat aan die hoof van Cordis-Trust staan, deel op sy eerste dag die volgende gedig van Mardene Marais, sy dogter wat op die ouderdom van 21 oorlede is en aan die destydse RAU studeer het:
KUNSMUSEUM
ek kuns deur die museum
en bondel die kleure tot diep binne my
my oë verf oor die skilderye
en ekspressionisties word ek deel daarvan
my hele bestaan ry wipplank
en bedwelmd kan ek nie genoeg kry nie
ek raam my gedagtes
en vernis dit vir nou
môre
en die oormôres in my drome.
Dag 2:
Herinnering
Onthou hierdie nag, môre reeds “laas nag”,
oor ’n week, ’n jaar, ’n lewe: ’n nag
vuurwit van verspreide mane agter reën
en in die dor hout van ranke naby my ruit
die winter en die wind. - Wees alleen
vir hierdie nag in tye wat kom: wag
ongemerk en praat, praat want nagte
sonder teken sal kom. O sal dit anders wees
en my oë in die donker slaap, ek nie weer skrik
vir ’n hewige wit, ’n geruis en geen vlees
in my vlees die vatbare engel onthul?
O brand in my in, nag,
want ’n dowwer lig moet kom met die dag
en uit die koue spieël dieselfde vertroude totaal,
maar soek góú wat is nuut en behou, vóór
die onverloorbare lyfwag jou weer inhaal.
-Sheila Cussons (Omtoorvuur:1982)
Dag 3 se gedig lui soos volg:
Trombose
Mens weet nie aldag wie om te beween:
die kind en jongeling is lankal heen,
die deftige, bedaarde heer is moeg
van jarelange sorge en geswoeg,
van drome in kolomme dwing, les bes
tot sterwens toe versadig van sukses.
Al was sy loopbaan ingestel
op snel besluite neem en ewe snel
ten uitvoer bring, het hy nooit onbesuis
of teatraal gehandel – waarom juis
vanmiddag met so ’n onbesonne haas
sy personeel en vriendekring verbaas?
Asof die Akte van die Maatskappy
hom onbeperkte volmag skenk het hy
(sonder beraad met mededirekteur)
sy nuwe stap nie eens genotuleer,
versuim om sy verpligtinge te oorweeg,
kontrakbreuk sonder blik of bloos gepleeg,
geen boodskap op die diktafoon gelaat
geen jaarverslag en geen finansiestaat,
niks om die aandeelhouers mee te paai.
Nou moet die rekenmeester alles raai
want hoe beraam mens skade en profyt
as syfers saamvloei voor die boekjaar sluit?
(Hy’t selfs nie aan sy tikster of sy vrou
verduideliking of opdrag toevertrou
voor hy met bondige gebaar die Dood
van konkurrent verhef het tot vennoot.)
– Elisabeth Eybers (Die helder halfjaar:1955)
Dag 4:
’n mens moet
’n mens moet éénkeer in jou lewe
’n droom vér-vér gaan haal
’n put uitgrawe
totdat die water oor jou lippe spoel
’n boom klim
sonder vrees vir hoogte
of dat die takke sal knars en breek
totdat jy die wind tussen blare voel
’n mens moet eenkeer baldadig wees
langs die see gaan staan
jou verbeel dit is Hermanus
en dat jy ’n walvis of ’n digter is
wat die wêreld in verdoeseling
met jou woorde
skoon kan vee
’n mens móét eenkeer
’n vreemde skare
kan binneloop
alleen op die trap gaan staan
en onbevrees verklaar
dat die arena jou nie ontsenu
dat jy die kake van leeus
oop kan breek
dat jy nie bang is vir dolke in die rug
en op vuur sal loop
as dit moet
’n mens moet eenkeer
kan spring waar jy nie sien
jou oë en lippe sluit
en in die stilte wag
om te hóór
of ander jou
met hul woorde of hande
in selfloosheid kan dien
’n mens moet eenkeer
op jou knieë gaan
en onbeskroomd
in skamelwoorde stil verklaar
dat jy verkeerd was
sodat jy eenkeer
kan vergifnis vra
– ©Marie Bredenkamp
Kry jou branderplank solank gereed vir Deel 2 van Versindaba se Groot Poësiebrander …
Bibliografie
Cook, F.H. 1981. Hua-Yen Buddhism: The Jewel Net of Indra. University Park, PA: Pennsylvania State University Press.
Jones, K. 2003. The New Soacial Face of Buddhism: A Call to Action. Somerville, MA: Wisdom.