Posts Tagged ‘Fanus Rautenbach’

Philip de Vos. Daar is maar baie min van ons oor

Monday, December 19th, 2011

 Elke keer wanneer ek ’n telefoonoproep van Laetitia Pople van Die Burger se kunsblad kry, is my eerste vraag gewoonlik: “Wie is nou weer dood?” En ek is gewoonlik reg ook.

 Oor die jare het ek baie dikwels foto’s van skeppende Suid-Afrikaners geneem. Waarom weet ek self nie. ’n Vriend het die ander dag suggereer: “Miskien is dit maar net ’n subtiele manier van names-dropping.” Maar ek hoop tog dit is nie regtig so nie. As ek dink aan my intieme vriendekring, het ek selde kunstenaarsvriende van watter aard ookal. Dit is vir my veel makliker om soos ’n soort groupie dié mense van ver-af te beskou.

Dit het reeds begin toe ek die wêreld-beroemde skrywer Mary Renault afgeneem het. Ek het haar werk leer ken deur The Charioteer van 1953 – een van klassieke romans van die vorige eeu. Toe ek hoor dat sy in Kaapstad woon, het ek my skaamheid in my sak gesteek en het ek ’n brief geskryf en gevra of ek haar kon fotografeer en dit is ook sy wat my later die grootste kompliment oor my fotografie gegee het: “You are the first photographer who ever made me relax.”

En hierdie woorde was seker omdat ek nooit ’n groot bohaai maak as dit by my fotonemery kom nie. Dit is maar net ek en die persoon en ’n kamera. Niks meer nie – g’n driepote of beligting nie. Dit is maar seker omdat ek eintlik niks van die tegniese sy van fotografie weet nie. Toe ek jare gelede onderwyser was by Cape Town High was ek ook in beheer van die kameraklub. Een seun met ’n peperduur Hasselblad was g’n fotograaf nie, een met ’n goedkoop Instamatic het die mees sensitiewe foto’s geneem. Op die ou end is dit die oog wat die belangrikste is en nie die feit of jou digitale kamera 20 miljoen pixels het nie.

En dit was nog altyd my werksmetode: ek neem selde net portretstudies, want soos Freda Linde eenkeer vir my gesê het: ’n Mens is nie net ’n kop en skouers nie; daarom neem ek mense in hulle eie milieu af en gebruik net natuurlike lig. En Milieu het dan ook die uiteindelike titel van my foto-boek geword.

Die ander dag kom kuier Michael Bubb, ’n nuwe vriend wat ek deur joga-klasse leer ken het, by my. Hy het nog nooit my foto’s gesien nie, en toe ons deur Milieu blaai kom ek agter hoeveel van die mense wat ek oor die jare afgeneem het alreeds vanaf 2006, toe die boek gepubliseer is, oorlede is:

Dit is seker nie die vrolikste manier om ’n blog van 2011 af te sluit nie, maar daar is tog ’n klompie skeppendes wat ek sal onthou, al is dit maar net deur die foto’s wat ek van hulle geneem het.

Die een foto wat altyd reaksie kry, is dié van Al Debbo en meer mense word daardeur beïndruk as oor die foto van Chris Barnard die hartsjirurg of dié van Breyten Breytenbach. Meer mense ken seker Al Debbo se Hasie as een van die gedigte uit Die Ysterkoei moet sweet.

 

En dit was juis Al Debbo wat reeds vroeg in my hart gekruip het in die veertigjare oor sy films met Frederik Burgers. En ek onthou nou nog hoe teleurgesteld ek was dat ek nie destyds Die Kaskenades van Dokter Kwak kon gaan sien nie, want daar was ’n skielike polio-epidemie en ons kinders moes almal met ’n knoffelsakkie om ons nek rondloop en wegbly uit bioskope. “Dit is om die kinderverlamming weg te hou,” is aan ons gesê en dié wat mal was oor bioskoop het toe besef dit is nie net Dracula wat bang was vir knoffel nie.

En Al Debbo se Hasie was ook een van die groot plesiere van my kinderjare, maar ek kon glad nie verstaan waarom een van die woorde so stout was nie:

Jou spinnekop, jou akkedis,

jou sprinkaanvoël, jou koue pis.

Jou pikkewyn, jou pruttelaar.

Ek slaan jou inmekaar.

 

Hasie, hoekom is jou stert so kort?

Hasie, hoekom is jou stert so kort?

Hasie, hoekom is jou stert so kort?

Wat het van jou stertjie geword?

 

Eers, baie jare later, het ek agtergekom dat hy eintlik van koue vis gesing het, en toe was ’n bietjie van die lekkerte van die lied daarmee heen.

Ewenwel,’n paar jaar gelede het ek vir my ma in Bloemfontein gaan kuier en terselfdertyd besluit om Al Debbo te nader vir foto’s.

Toe ek daar aankom, moes ek eers ’n rukkie wag, want Al Debbo was aan suurstof gekoppel. Was dit emfiseem? Ek het nie gevra nie, maar toe ek begin foto’s neem was dit weer die Al Debbo van my kinderjare met ’n snaakse hoedjie op sy kop.

Op 14 Julie vanjaar is hy oorlede en dít is wat sy seun Alec in die koerant te sê gehad het:

“My pa het in die tyd wat hy in die hospitaal was só diep in die harte van die verpleegpersoneel gekruip dat almal erg ontsteld was toe hy oorlede is, want hy het gereeld in die hospitaalbed sy treffer Hasie gesit en sing.

Vir dié wat wil luister, her is ’n uittreksel. Tik maar net op die skakel.

 http://instalyrics.com/artists/462883-al-debbo/lyrics/8595605-hasie

En in Bloemfontein het ek ook vir Lucas Maree afgeneem wat vanjaar op 19 Februarie oorlede is. Van die besoek kan ek niks onthou nie, behalwe dat ek gevlei was toe ek hoor dat Lucas soms van my versies by sy vertonings voorgelees het.

 

Ook die miljoen waarna hy gesoek het, was nooit te kry nie en kort voor sy dood het Mathys Roets 30 musikante en tegniese mense bymekaar gekry om ’n CD te maak om van Lucas se yslike mediese koste te help dek.

En in Lucas se eie woorde: “Ek word partykeer wakker, dan dink ek ek kan nie glo daar is mense wat soveel moeite vir my doen nie.”

Hier is ’n skakel:

 http://www.youtube.com/watch?v=xMdSN8qr13A

 Dan was daar Fanus Rautenbach wat op 29 Januarie oorlede is en wat self so ’n bietjie met die dood kon spot:

  “Ons moet almal eendag sterwe, maar elkeen sterf volgens sy beroep: 

Reisigers gaan heen

Jagters gaan bokveld toe

Kokke steek lepel in die dak

Die horlosiemaker se tyd het aangebreek

Die melkboer het die emmer geskop

Die tuinier is van die gras afgemaak

Die begrafnisondernemer sien sy gat

 Hier is ’n skakel:

 http://www.youtube.com/watch?v=pBhtRpJlTGs&feature=endscreen&NR=1

 

Toe die komponis Hubert du Plessis op 11 Maart oorlede is, het ek onmiddellik gedink aan sy woorde.

Omdat hy alreeds verswak was, het hy sy jarelange vriend Henry gestuur om ’n kopie van die foto-boek by die bekendstelling te kom kry.

 

 En daardie selfde aand het Hubert my gebel. “Eendag wanneer ek sterf, moet jy asseblief die foto wat in Milieu verskyn vir Die Burger stuur, want dit is hoe ek graag onthou wil word.”

Later het Hennie Aucamp se artikel oor Du Plessis as woordmens op die Versindaba-blad verskyn:

  http://versindaba.co.za/2011/03/15/hennie-aucamp-hubert-du-plessis-woordmens/

 Van Phil du Plessis kan ek maar min sê. Miskien moet Marié Blomerus dit maar liewers doen:

“Vir my sal hy altyd ’n gewaardeerde enigma bly; ’n besonderse mens met ’n besondere verstand en ’n buitengewone siening van die taal: ook maklik die persoon met die donkerste psige wat ek ooit geken het. Sy benadering van die skryfkuns was so anders as dié van die gewone digter en het bepaald met die onbegryplike duisternis waarmee hy geworstel het, te doen gehad, hoewel dit soms na maklike woordspelings gelyk het.”

Verlede week sien ek vir Deon Knobel en hy sê: “Ek was by Phil du Plessis se gedenkdiens en daar was nie ‘n enkele skrywer êrens te sien nie.”

En laastens was daar Lloyd Strauss-Smith wat dood is terwyl ek en Peter vanjaar op ons 2½ maande toer in die VSA en Kanada was. Lloyd – die enigste een wat werklik oor die jare ’n vriend geword het. Lloyd, wat dalk plaaslik seker die minste bekend was, maar wat in sy nederigheid tog soveel bereik het.

 

Toe ek in 1967 in Kaapstad aangekom het, het ek sangles by Adelheid Armhold gehad en 3 jaar daarna sê Deon Knobel vir my: “Jou stem was so oop en gemaklik toe ek jou eers hoor sing het, maar nou klink dit geknyp en geforseerd. Waarom gaan jy nie na Lloyd Strauss-Smith toe nie?”

En Lloyd het vir my gesê: “Jy maak jou mond oop en jy sing”, en net deur na hom te luister, kon ek weer sing, en nie soos in Adelheid Armhold se dae hier gedink, en daar gedink, en hier gedruk, en daar gedruk nie. Teoretiese kennis het nog nooit vir my gewerk nie.

Hier is wat Barry Smith oor Lloyd geskryf het:

“Sometimes we South Africans tend to forget all too easily some of our singers who pioneered a place in world music, especially in an age where we seem to recognise younger talent that has ‘made good’ abroad quickly. One of these much neglected figures is the tenor Lloyd Strauss-Smith. Part of this neglect is possibly due to the fact that the most active part of his career was spent in England and that, although he sang in more than 80 operas, he was primarily an oratorio and lieder singer, a field which attracts less attention than that of the opera world.”

En Lloyd het inderdaad met die grotes gesing: Joan Sutherland en Kathleen Ferrier en in hierdie snit saam met Leontyne Price in Richard Strauss se Die Liebe der Danae 1959

  http://www.youtube.com/watch?v=S_tJpI6VUiU

Ek sal altyd Lloyd se vrolike stem onthou wanneer hy die telefoon beantwood met: “Lloyd here!” 

En die woorde wanneer hy tot siens sê: “Pas jouself goed op, boetie. Onthou, daar is maar baie min van ons oor!”