Posts Tagged ‘FEDERICO LORCA’

Marius Crous. Om Federico (lief te kry)

Monday, June 28th, 2010

Nog nooit was ek eintlik geïnteresseerd in Lorca (1898-1936) as mens of as digter nie. Net nog `n romantiese siel wat hom geroepe gevoel het om sy al op die altaar te lê vir die republikeinse ideaal, het ek trouens gedink. Idealisties soos die Britse digters wat destyds afgesit het Spanje toe om hul deel te gaan doen en onder meer ambulanse gedryf het. Susan Sontag het haar tog na Sarajevo om Waiting for Godot daar te gaan opvoer ten midde van lugaanvalle en in konserthooltjies met kerslig, destyds ook hiermee vergelyk.

Maar twee dinge het my nou onlangs by Lorca uitgebring: Melt Myburgh se aangrypende verse oor die lewe en dood van Lorca en die DVD van Little Ashes. Laasgenoemde het ek veral gekyk omdat Robert Pattison, die bleek vampier wat menigte tiener laat drome droom en gesigte sien, `n gay Salvador Dali daarin speel en nogal `n ander man soen ook! Die debunking van die vampiriese held is oral aangekondig en ek wonder hoe dit afgegaan het by Stephanie Meyer, die kuise Mormoon wat droom van mans wat haar in die nek byt en van Taylor Lautner wat sy spiere bol en omwolf word.

Lorca, die “andalusiese prins” van Melt Myburgh se gedigte in Oewerbestaan kom nadat hy jare gelede deur Uys Krige die Afrikaanse poësie binnegenooi is, weer terug en skuif die Noord-Kaapse en Spaanse landskappe oor mekaar. Dis veral in die gedig “fuente grande” (39) wat die dood van Lorca beskryf word:

 

by hierdie fontein het federico garcia lorca

soos `n hond met `n koeël in die hart gesterf …

 

Of verder aan:

            onomwonde vervloek ek die engele in franco-uniforms

            wat hom hier tussen die bome laat aantree het

            vir die vernederende saluut van `n enkele salvo

            het hulle op hom gepis voor hulle hom daar gelaat het

          die grootste digter van Spanje?

 

Dig hierdie grootste digter van Spanje (nes Neruda) deur die een pragtige surrealistiese metafoor na die ander (ewe klankryk in sy oorspronklike Spaans) aaneen te string of hoe? Gedagtig aan die lirieke van Leonard Cohen waar hy sy laaste wals dans op die maat van Lorca?

In sy inleiding tot die versamelde gedigte van Lorca skryf Christopher Maurer (2002) dat Lorca veral geïnteresseerd was in “the otherness of nature, the demons of personal identity and artistic creation, sex, childhood, and death.”  En in die gedeelte oor Lorca se gebruik van die simbool en die metafoor wys Maurer ook op die invloed van die avant-garde op Lorca se werk. Dis veral Lorca se aansluiting by die Ultraïsme wat `n antwoord bied op my vraag oor Lorca en Neruda: “ At times, Lorca’s symbolism grows so private, so opaque, that only the will to speak poetically – and to show the inadequacy of language – has any meaning. But at its best, it is truly universal. By means of certain archetypal symbols – the moon, blood, the elements – Lorca awakens resonances deep within the psyche of his readers as though appealing to mythic ways of thinking that civilization has all but obliterated” (Maurer, 2002: lxiii).

So ek as leser moet leer om soos Krog vir Lorca en Neruda surrealisties lief te kry en my oop te stel vir:

 

I want to cry my pain, and I tell you

so you will love me and will cry for me

in a dusk of nightingales

with a dagger, with kisses and with you.

 

I want to kill the only witness

to the assassination of my flowers

and turn my cry and my sweat

into an eternal heap of hard wheat.

 

Let the skein never end

of I love you you love me, ever burnt

with decrepit sun and old moon;

 

for whatever you don’t give me and I don’t ask of you

will be for death, which does not leave

even a shadow on trembling flesh.

 

(“The Poet tells the Truth”, Maurer p. 835).

 

 En waar Melt Myburgh “drie klippe” en “’n droë tak met omgekrulde blaar” as talismans saamgebring het van die graf van Lorca, so gaan ek nou die wêreld van die Andalusiër betree en soek na wat dit is wat Petra Müller laat skryf het in “Teregstelling” (Die aandag van jou oë, p. 94) – met as subtitel, klanke vir Lorca:

 

Langsaam, om die man se swart pupille,

groei daar nou `n wit vermoede aan.

Aangeroep deur klanke wat hy nou nie meer

sal kan onthou nie

noem hy die naam van al andaluz.

 

Wou jy nog iets gesê het, vra die jong skut

wat uit teerheid vir die oomblik aan die beef gegaan het,

 

hy wat die naam dra van José.

  •