Posts Tagged ‘Fees must fall’

Joan Hambidge. Opruiming

Monday, August 1st, 2022

 

Nou onlangs word daar kantore geskuif. Van groot permanente kantoor tot tydelike een, danksy aftrede. Daar word besluit om eerder ‘n argief tuis te skep.

Om dertig jaar se boeke, papiere, dokumente, tesisse, skryfwerk, tydskrifte, manuskripte op te pak is geen grap nie. Vir ongeveer veertien dae sit jy elke dag vir ongeveer ses ure en neem ‘n akademiese loopbaan in oënskou. Waar o waar kom al die stof vandaan?

Vergete briewe duik op. Selfs ‘n brief van ons allergrootste randfiguur Etienne Leroux vind jy hier in ‘n kas neffens briewe van Elize Botha. ‘n Poskaart van T.T. Cloete. Briewe van jou ouers. Pynlike briewe van mense wat oorlede is. Briewe van dekane en kollegas.

Geliefdes wat reageer op gedigte. Gedigte wat reageer op geliefdes.

Reisverslae. ‘n E-pos van iemand wat jy nie meer ken nie. ‘n Chileense reis met besoeke na Neruda se drie huise. Op die spoor van Márquez in Colombië. ‘n Plattegrond van Tokio, die stad sonder straatnommers.

Aan die begin lees jy elke dokument en ruim stadig op. Later begin jy ou papiere wegsmyt soos werkswinkels van studente deur die jare: alles netjies in leggers. Geswartsak.

Lesingnotas wat nog tersaaklik is, word bewaar. Jy glimlag wrang oor jou aanvanklike sieninge en hoe jy later flinker met teorie werk. Jy kom af op vergete resensies en polemieke. Toe daar nog vurig verskil is oor die verdwyning van resensieruimtes. Jy glimlag wrang oor hoe komputers verander het. Briewe word e-posse.

Die opruiming is pynlik en onthutsend, want dit karteer die geskiedenis van die universiteit van ‘n faux-Cambridge-Oxford tot ‘n universiteit wat praat oor transformasie en uiteindelik volledig ‘n beduidende Afrika-universiteit geword het. Dekolonisasie is die kodewoord.

Van manlike hoofde tot vroue wat regeer.

Jou werk as voormalige Direkteur van die Skool vir Tale waar meertaligheid die wagwoord is tot die werk as Vise-dekaan met een van die portefeuljes indertyd die Musiekskool. Wonderlike tye. Hier het jy ‘n bloedjong Pretty Yende meegemaak wat by Angelo Gobbato se afskeid gesing het as ‘n derdejaarstudent (met Gobbato wat toe reeds ‘n groot loopbaan voorspel het) tot Virginia Davids wat jou parodies begelei voor ‘n vergadering met “Die blinkvosperd”.

Heerlike pret. En toe in Maart 2015 verander alles handomkeer. Rhodes Must Fall. ‘n Studenteopstand wat begin as aan die UK versprei nie alleen landwyd nie, maar selfs na die buiteland. Ons probeer sin maak.

Hieroor is indertyd geskryf (“protes en anargie”) en gevra of die verwydering van Rhodes se standbeeld alles sou oplos?

Indertyd is daar beweer:

Emmer vol ekskresie is oor Rhodes se standbeeld uitgeslinger. Tampons met bloed en plakkate (Is verkragting erger as menstruasie?) voor die Arts-gebou gelaat; swastikas teen die Jameson Hall; ‘n besetting van die Bremner; ‘n uitkoggeling van dr. Max Price met ‘n afskakeling van sy mikrofoon:  kenmerkend van hierdie protes wat Jacques Lacan, die Franse psigoanalis, as ‘n passage à l’acte sou tipeer. Acting out. Woedeaanvalle omdat die universiteit nie genoegsaam transformeer nie.

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=studenteopstande+2015 Besoek 30 Junie 2022

Hierna het ons FeesMustFall, Shackville, die Corona-inperking (met aanlynklasse) en ‘n verwoestende brand by hierdie universiteit beleef.

En behalwe vir die virale oorlog ‘n werklike oorlog waar Poetin nie wil bes gee en wat op ons ekonomie ‘n verwoestende impak het met stygende petrol en kospryse wat hemelhoog is. Te midde van Eskom se beurende beurtkrag.

Jy tel Leipoldt se Polfyntjies vir die proe op en vind die woord: Sonneklaar.

Deur hierdie emosionele reis word ‘n lewensloop van ‘n universiteit gekarteer wat die argivaris glashelder sien. Dit sal die titel wees van jou memories oor die UK.

Voetjie-vir-voetjie? Allengs? Meestal stadige verandering; die laaste tye helaas meer dramaties.

Leipoldt en Eugène N. Marais kyk stilswyend toe wanneer jy die deur finaal sluit. 33 bokse; 25 swart sakke; 3 ou komputerbokse.

 

Opruiming

 

Hoe skryf mens ‘n lykdig vir ‘n kantoor?

Waar plaas jy ‘n “in memoriam”

vir dié vesting van meer as 30 jaar?

Soveel treurverse en funeraire verse

vir geliefdes, bekendes, selfs diere.

En nou vir ‘n ruimte, ‘n plek?

Maar hierdie kantoor 4.16.7 dra

boekmerke, vingerafdrukke, letsels

van my bestaan: ek ken jou, jou ken ek.

 

Pakplek, veral ‘n stil getuie

van dekolonisasie, Dag O,

waterbesparing tot après le déluge:

#RhodesMustFall, #FeesMustFall,

Shackville, tot die virale oorlog,

almal gemasker onkant betrap.

Daar het ‘n brand gewoed, rakelings

hierdie kantoor net-net gemis:

‘n treurende boom swart gevlek.

 

Stil getuie van somber tye.

 

Joan Hambidge