Posts Tagged ‘Fellini’

Philip de Vos. Vir later se onthou

Saturday, May 31st, 2014

Vroeër vandeesweek kry ek ‘n telefoonoproep van Joan Hambidge en sy vra: “Wanneer kan ons weer foto’s neem?”

En dit is toe afgespreek vir Dinsdag by dieselfde restaurant in Kaapstad soos die vorige vier keer sedert 1998.

En op my selfoon kry ek haar SMS-boodskap terug: sien @ twee jh xx

Dié middag was ek al vroeg reeds gereed toe ek weer ‘n SMS ontvang: Vasgebrand by die werk kan ons om drie nm ontmoet.

En om vyf voor drie reeds het ek buite in die tuin van die restaurant gesit – op ‘n koel Kaapstad wintersdag met ‘n paar mense wat die buitelug trotseer.

Om vyf oor drie het Joan ingestap en ons het weer net soos verlede jaar ‘n plek gekry by dieselfde hoektafeltjie naby die balkon met die leë groen botteltjies wat buite hang.

En toe na ‘n rukkie uit die bloute vra sy my: “Wat het jy gedink van Hennie Aucamp?”

En my enigste antwoord: “Ek weet nie hoe om te antwoord nie. In Hennie se teenwoordigheid het ek eintlik ‘n bietjie dom gevoel  en het altyd gedink hy is veels te slim vir my. En dit is miskien die rede waarom ek nie skrywersvriende het nie. Ek is altyd bang hulle gaan my slim vrae vra wat ek nie verstaan nie. Vir Hennie onthou ek daarom eintlik maar net uit die foto’s wat ek oor die jare geneem het.”

En dit is presies waaroor hierdie blog-inskrywing vandag is.

Christopher Isherwood het in sy book Goodbye to Berlin geskryf:

“I am a camera with its shutter open, quite passive, recording, not thinking. Recording the man shaving at the window opposite and the woman in the kimono washing her hair. Some day, all this will have to be developed, carefully printed, fixed.”

En al wat ek persoonlik kan byvoeg: Ek het ‘n kamera en ek druk so nou en dan die knoppie. Niks meer nie,

Hier is dus ‘n paar foto’s wat ek oor die jare van Hennie Aucamp geneem het:

 

 

En op Dinsdagmiddag 27 Mei het ek en Joan by die hoektafeltjie gesit.

En as iemand my eendag vra: “Wat dink jy van Joan Hambidge?” kan ek dalk alleen maar sê:

“Ek het haar ‘n paar keer oor die jare altyd  in dieselfde restaurant ontmoet en so nou en dan ‘n knoppie gedruk. ‘n Nice vrou met ‘n mooi stem, nogal formidabel, maar miskien was sy te slim vir my.”

En toe ons aan die einde van die middag tot siens sê onthou ek dat ek vergeet het om die beloofde kopieë van twee Fellini se rolprente  vir haar saam te bring.

En miskien kan ek dieselfde oor Fellini sê : “Ek verstaan nie eintlik wat aangaan nie, maar ek hou tog daarvan om die beelde op die doek voor my te sien.”

Philip de Vos: 15 April 1912

Monday, April 9th, 2012

My obsessies oor die jare het gekom en gegaan: maar een het gebly:

Eers was daar die Little Lulu-comics wat ek so ywerig in die vyftiger-jare versamel het en toe aan my oom Paul geleen het. En toe hy twee weke later weer kom kuier, was dit met ‘n handvol Little Archie-comics wat hy by die Plaza bioskoop by ‘n skoolmaat omgeruil het vir my geliefde Little Lulu. Dit was ‘n verlies wat vir my jare geneem het om te oorkom. Elke paar maande vir dekades lank het ek gedroom dat ek hulle weer terug het, en in my drome het elke comic intussen gegroei tot die dikte van ‘n Statebybel – en hier word ek toe soggens op ouderdom 60 wakker en word ek weereens bewus van my verlies van vyftig jaar tevore.

In 2005 ontdek ek op die internet dat die volledige Little Lulu-reeks na al die jare deur Dark Horse Books herdruk word. En nou, begin 2012 sit ek met 29 koffietafel-volumes van meer as 200 bladsye elk van elke Lilttle Lulu-comic wat ooit gepubliseer is.

Maar nou besef ek dat my drome van destyds skielik êrens heen verdwyn het en ek wonder of dit liewers maar ‘n droom moes gebly het, in plaas van die ongelese volumes op my boekrak.

En dan was daar my obsessie met die films van Federico Fellini en hier sit ek nou met al die DVDs van sy films – behalwe die heel laaste La Voce della Luna wat nog nooit op DVD uitgereik is nie, en dalk is dit beter so, want anders is daar niks meer om oor te droom nie.

Maar die ander obsessie wat nou alreeds 59 jaar met my saamloop is die storie van die Titanic.

In 1953 het ek in Bloemfontein in die heel voorste ry van die Vaudette- bioskoop gesit en gesien hoe Clifton Webb vir Barbara Stanwick tot siens soen en dan saam met sy seun op die dek staan terwyl die skeepsorkes Nearer my God to thee speel voordat die skip wegsak in die dieptes van die Atlantiese Oseaan.

Dit was my eerste kennismaking met die gebeurtenis van 15 April 1912 en van toe af, vir jare lank, het ek elke boek oor die Titanic gekoop, en al die films gesien: A Night to Remember ; S.O.S. Titanic; Raise the Titanic; daarna ‘n TV-reeks met en uiteindelik die bekende film Titanic met Leonardo di Caprio.

En in 2008 by die Titanic Artifacts Exhibition in die Science Centre in Londen koop ek ‘n nekhangertjie met ‘n stukkie steenkool uit die Titanic se ruim – die enigste artifak wat toegelaat is om aan die publiek verkoop te word.

En nou is dit April – en op 15 April presies 100 jaar gelede het hierdie weeldeskip met die rykste van die rykes en die armste van die armes op sy nooiensvaart gesink. Nes die Twin Towers-ramp is hierdie sekerlik die grootste ramp wat ons in moderne tye getref het.

En alreeds in 1912 het die eerste vers-bundels verskyn deur mense wat deur die ramp aangegryp is, baie van die gedigte maar vrotserig byna soos dié van die Briels oor die destydse Coalbrook-ramp of die prul wat baie sogenaamde digters op Facebook-blaaie plaas met ‘n kopiereg-teken, net asof iemand hulle braaksels sou wou steel.

Ek wil graag twee gedigte noem. Die eerste is van Thomas Hardy, meer bekend vir sy romanwerke soos Tess of the D’urbervilles en Far From the Madding Crowd.

 

THE CONVERGENCE OF THE TWAIN

(Lines on the loss of the ‘Titanic’)

In a solitude of the sea
Deep from human vanity,
And the Pride of Life that planned her, stilly couches she.

Steel chambers, late the pyres
Of her salamandrine fires,
Cold currents thrid, and turn to rhythmic tidal lyres.

Over the mirrors meant
To glass the opulent
The sea-worm crawls — grotesque, slimed, dumb, indifferent.

Jewels in joy designed
To ravish the sensuous mind
Lie lightless, all their sparkles bleared and black and blind.

Dim moon-eyed fishes near
Gaze at the gilded gear
And query: ‘What does this vaingloriousness down here?’…

Well: while was fashioning
This creature of cleaving wing,
The Immanent Will that stirs and urges everything

Prepared a sinister mate
For her — so gaily great —
A Shape of Ice, for the time far and dissociate.

And as the smart ship grew
In stature, grace, and hue,
In shadowy silent distance grew the Iceberg too.

Alien they seemed to be:
No mortal eye could see
The intimate welding of their later history,

Or sign that they were bent
By paths coincident
On being anon twin halves of one august event,

Till the Spinner of the Years
Said ‘Now!’ And each one hears,
And consummation comes, and jars two hemispheres.

 

Dit is tog wonderlik dat daar op die internet deesdae ontledings is van bekende gedigte. Van hierdie een is daar talle met slegs ‘n druk van ‘n knoppie by Google en die woorde: Poem Analysis: The Convergence of the Twain. Miskien is dit ‘n lui manier om ‘n gedig te verstaan, maar dit dien tog ‘n sekere doel.

Selfs ek het op ‘n stadium Titanic in een van my versies ingewerk – maar hier was dit beslis ‘n ligter aanslag en glad g’n gespottery nie, maar wel oor Hans Andersen se Klein Meermin wat baie jaloers geword het toe sy vir Leonardo di Caprio en Kate Winslett op die boeg van James Cameron se Titanic sien staan het.

woorde: Philip de Vos; illustrasie: Piet Grobler

En terloops, van die Klein Meermin gepraat, ‘n klompie jare gelede was ek en Peter in Kopenhagen en volgens die besoekersboek was die meermin-beeld ‘n moet vir alle besoekers. Reisgids in die hand het ons haar in die hawe gaan soek, maar nes die Titanic was daar niks op aarde te sien nie, behalwe ‘n klomp Japannese toeriste wat ywerig foto’s geneem het van ‘n doodgewone rots wat uit die water gesteek het.

Daardie aand moes ons in die plaaslike koerant lees: “Vandale het gisteraand die kop van die beroemde meermin-beeld afgesaag.”

Ja, so is die lewe: party rampe is mensgemaak, ander soos die sink van die Titanic, miskien nie – en ja, my obsessie met die Titanic is nog lank nie verby nie.