’n Veelsielige digter. De Waal Venter
Wednesday, December 7th, 2016’n Veelsielige digter

Fernando Pessoa
Die vier grootste Portugese, en ook Europese digters in die moderne tyd is Fernando Pessoa. So word daar op ’n half speelse wyse gepraat van hierdie digter wat in Durban sy skoolopleiding gehad het. In 1905 het hy na Lissabon verhuis waar hy die res van sy lewe geslyt het. Hy is in 1888 gebore en het in 1935 gesterf.
Die stelling dat hy die vier grootste digters is, berus op die besonderse manier wat Pessoa gehad het om fiktiewe “digters” te skep wat elkeen sy eie persoonlikheid gehad het en ’n eie skryfstyl wat heeltemal van die ander “digters” verskil het. Pessoa het hulle “heteronieme” genoem. Hy het gesê dat ’n pseudoniem ’n vals naam is wat ’n digter gebruik om sy of haar werk bekend te stel. ’n Heteroniem kan vertaal word as “ander naam”. Pessoa het ander “digters” met ander name geskep.
Die bekendste heteronieme was Ricardo Reis, Alberto Caeiro en Álvaro de Campos. Saam met Pessoa was hierdie groep dan die “grootste Portugese digter”. Mens sidder eintlik om te dink dat Pessoa meer as sewentig sulke heteronieme geskep het! Die ander het egter werk van mindere belang gelewer.
Kom ons kyk na hierdie vier “digters” se werk. Eerstens die vlees-en-bloed digter, Fernando Pessoa self. Sy gedig “Ek weet nie hoeveel siele ek het nie” is baie beskrywend van die soort mens wat hy was.
Não sei quantas almas tenho.
Cada momento mudei.
Continuamente me estranho.
Ek weet nie hoeveel siele ek het nie.
Fernando Pessoa
Ek weet nie hoeveel siele ek het nie.
Ek verander elke oomblik.
Ek voel voortdurend vreemd.
Ek het myself nog nooit gesien of gevind nie.
Vanaf soveel te wees, het ek net siel.
Hy wat ’n siel het, het nie kalmte nie.
Hy wat sien is net wat hy sien.
Hy wat voel is nie wie hy is nie.
Oplettend na wat ek is en sien,
word ek hulle en is nie meer ek nie.
Elkeen van my drome en begeertes
kom uit hulleself, nie van my nie.
Ek is my eie landskap.
Ek bekyk my eie reis,
verskillend, bewegend en alleen.
Ek kan myself nie voel hier waar ek is nie.
Dis waarom ek, as ’n vreemdeling
my wese lees asof dit bladsye is.
Ek weet nie wat gaan gebeur nie,
en vergeet wat gebeur het.
Ek merk in die kantlyn van my leeswerk
wat ek gedink het ek voel.
Met die herlees wonder ek: “Was dit ek?”
God weet, want hy het dit geskryf.
Die gedig gee mens insig in watter soort mens Pessoa was. Hy was in ’n sin, “buite homself”. Hy het geleef sonder om werklik in die werklikheid te wees soos die meeste ander mense. “Ek voel voortdurend vreemd” verklaar hy. En: “Ek het myself nog nooit gesien of gevind nie.” Hy “lees” sy wese asof dit neergeskryf is op bladsye. Hy word eintlik net “werklik” wanneer hy homself uitleef in ’n gedig.
Heteronieme
Mens kom in die versoeking om hierdie persoonlikheidstrekke van die digter dadelik as “skisofrenies” te wil sien. Een van daardie persone wat versteurd is en talle verskillende persoonlikhede het. Ek dink egter nie dat dit die ware toedrag van sake is nie.
Letterkundiges wat ’n studie van Pessoa en sy oeuvre gemaak het, wys daarop dat hy as jong man homself die taak gestel het om Shakespeare die loef af te steek! Hy was ’n bewonderaar van o.a. Walt Whitman, TS Elliot en Shakespeare. Die groot Engelse bard het hom beïndruk met die onvergeetlike karakters wat hy geskep het – Othello, Hamlet, Lear e.a.
Dit is waarskynlik hoe dit gebeur het dat Pessoa uitgekom het by die skepping van sy heteronieme. Hy wou karakters skep wat nog meer geloofwaardig is as Shakespeare s’n. In ’n sekere sin kan mens dan ook sê dat hy Shakespeare wel oortref het deur sy “mede-digters” lewens te gee wat netsowel deur werklike mense gelei kon gewees het.
Alberto Caeiro da Silva
Die heteronieme het met mekaar gekorrespondeer en oor mekaar geskryf en mekaar gekritiseer. Ricardo Reis het byvoorbeeld van Alberto Caeiro gesê dat sy werk “die absolute essensie van paganisme verteenwoordig, ten volle geherkonstrueer.”
Alberto Caeiro da Silva is in 1889 in Lissabon “gebore” en het in 1915 “gesterf”. Hy het feitlik sy hele lewe afgesonderd deurgebring in ’n dorpie in Ribatejo. Reis skryf dat Caeira se paganisme nie bewustelik gekom het nie, maar van êrens diep binne hom, dieper as rede of gevoelens. Caeira se styl het hierdie lewenswyse weerspieël. Dit is suiwer, eenvoudig en terselfdertyd diepsnydend en onthullend. (Ek gebruik die woord “paganisme” eerder as “heidens” omdat laasgenoemde woord baie sterk gelaai is met ’n element van ongelowigheid, terwyl dit nie presies is wat Reis bedoel het met “paganisme” nie).
Dit klink onwaarskynlik, maar die “eenvoudige” Caeira is deur die ander drie digters as hulle “meester” beskou. Hulle het almal groot bewondering vir hom en sy werk gehad.
Uit ’n boekbeskrywing van The keeper of sheep by Fernando Pessoa, bilingual edition, translated by Edwin Honig and Susan M Brown:
On a singular March day in 1914, Fernando Pessoa felt his master appear inside him, Alberto Caeiro, the heteronym that stands over his epiphanic collection, composed that day The Keeper of Sheep – the pivotal work in the career of Portugal’s great modern poet.
O GUARDADOR DE REBANHOS II
Hier is een van Caeiro se gedigte uit sy versameling “Die oppasser van die kudde II” .
O meu olhar é nítido como um girassol.
Tenho o costume de andar pelas estradas
Olhando para a direita e para a esquerda,
E de vez em quando olhando para trás…
Die oppasser van die kudde II
My kyk is so helder soos ’n sonneblom.
Dit is my gewoonte om in die strate te stap
links en regs te kyk,
en partykeer agter my …
en dit wat ek elke oomblik sien
is wat ek nog nooit voorheen gesien het nie
en ek kan dus baie goed sien …
ek weet dat ek die verwondering kan ervaar
wat ’n pasgebore kind sou ervaar
as hy besef dat hy gebore is …
ek voel elke oomblik dat ek pas gebore is
in die ewigdurende nuutheid van die wêreld …
Ek glo aan die wêreld soos ’n madeliefie,
omdat ek dit sien. Maar ek dink nie daaroor nie
want om te dink is om nie te verstaan nie …
die wêreld is nie vir ons gemaak om daaroor te dink nie
(om te dink is om oë te hê wat nie gesond is nie)
maar om daarna te kyk en daarmee saam te stem.
Ek het geen filosofie nie: ek het sintuie …
as ek van die natuur praat, is dit nie omdat ek weet wat dit is nie,
maar omdat ek dit liefhet, en ek het dit lief om daardie rede,
want dié wat lief het, weet nooit wat hulle lief het nie
of hoekom hulle lief het nie, of wat liefde is nie.
© 1914, Alberto Caeiro (Fernando Pessoa)
Hierdie “paganistiese” lewenssiening kan miskien ten beste beskryf word met die hedendaagse modefrase: “om in die oomblik te leef.” Twee reëls in die gedig beskryf hierdie benadering baie goed:
“ek voel elke oomblik dat ek pas gebore is
in die ewigdurende nuutheid van die wêreld …”
Die digter voel hom vry van die bagasie wat die meeste van ons saamdra: beplanning, rasionalisering, bekommernis, verveling ens. Vir hom is die wêreld altyd verrassend nuut.
Ricardo Reis
Ricardo Reis, wat oor Caeiro se paganisme geskryf het, is in Oporto gebore in 1887. Hy was ’n mediese dokter en ’n klassikus. Pessoa het hom beskryf as “’n Griekse Horatius wat in Portugees skryf.” Hy het nie-rymende odes geskryf oor die leegheid van die lewe en die nodigheid dat mens jou lot moet aanvaar.
Waar Caeiro ’n paganis is wat die lewe eenvoudig net lééf, is Reis die deurdagte klassieke skrywer wat heeltemal natuurlik kan skryf van (Romeinse) gode en die Noodlot. Die volgende gedig illustreer dit.
Não consentem os deuses mais que a vida.
Tudo pois refusemos, que nos alce
A irrespiráveis píncaros,
Perenes sem ter flores.
Die gode gee niks meer as die lewe nie.
Die gode gee niks meer as die lewe nie.
Laat ons dan alles verwerp wat ons oplig
na asemlose hoogtes, ewig maar sonder blomme.
Al wat ons hoef te aanvaar, is wetenskap,
en so lank die bloed in ons fonteine nog pols
en liefde nie verskrompel nie,
laat ons aangaan,
soos glas lig-deurskynend
druppelend in die treurige reën,
warm gebak in die son,
effens weerkaatsend.
©Ricardo Reis (Fernando Pessoa)
Vir hierdie digter is die mens weerloos teen die verloop van die lewe. Hy meen dat mens ten beste soos glas moet wees – passief, deurskynend en onversteurd deur reën en son.
Álvaro de Campos
Die derde heteroniem, Álvaro de Campos, is in 1890 gebore, maar Pessoa het nie sy sterfdatum aangegee nie. De Campos was ’n stormagtige en emosionele digter wat vurige manifesto’s geskryf het en skerp polemiese essays geskryf het. Hiervoor het sommige mense hom bewonder en is hy deur ander sterk aangeval.
Pessoa het hom beskryf as iemand wat meganiese ingenieurswese bestudeer het en het gegradueer in skeepsingenieurswese. Hy het op verskeie skeepsvaarte gegaan en baie van sy gedigte is op hierdie vaarte geskryf.
Een van sy bekendste gedigte is “Ai margarida” met die onderskrif: “Gedikteer deur die skeepsingenieur mnr. Álvaro de Campos in ’n toestand van alkoholiese bewusteloosheid.”
Daar is twee sprekers in die gedig: ’n minnaar wat sy geliefde aanspreek, en haar antwoorde op sy vrae. Verskeie komponiste het die gedig getoonset en as mens “Ai, Margarida” google kry jy verskeie weergawes van die gedig, party sang-weergawes daarvan.
Hier is die gedig:
Ai, Margarida,
Se eu te desse a minha vida,
Que farias tu com ela?
— Tirava os brincos do prego,
Casava c’um homem cego
E ia morar para a Estrela*
*’n Deftige distrik in Lissabon naby die parlementsgeboue.
Ai, Margarida
As ek jou my lewe gee,
wat sal jy daarmee maak?
Dan vat ek my oorringe uit die pandjieswinkel
trou met ’n blinde man
en gaan bly in Estrela*.
Maar, Margarida,
as ek jou my lewe gee,
wat sal jou moeder sê?
– (sy ken my baie goed.)
sy sal sê daar’s baie dwase in die wêreld
en dat jy ook een is.
En, Margarida
as ek jou my lewe gee,
deur werklik te sterf?
– Ek sal na jou begrafnis gaan
maar ek sal dink dit is ’n fout
om te probeer bemin sonder om te lewe.
Maar, Margarida
as hierdie oorgawe van my lewe aan jou
maar net poësie is?
Dan kom daar niks van nie, boet.
Klaar en gedaan.
Hier maak ons nie so nie.
Nota: Al die gedigte in hierdie essay is uit Portugees deur De Waal Venter vertaal.