Posts Tagged ‘filmkuns’

Nini Bennett. Digters in die filmkuns, deel 2.

Sunday, November 15th, 2015

poe bo blog

Reeds in 2008 wys Leti Kleyn op die hernude belangstellings in die ouer Afrikaanse digters se werk, soos byvoorbeeld die herdrukke, vertalings en geleentheidsbundels van onder meer Ingrid Jonker en Eugène Marais se oeuvres. Met die onlangse verskyning van Vlam in die sneeu, ’n bestekopname van liefdesbriewe tussen Jonker en André P Brink, asook Carel van der Merwe se Donker Stroom oor Eugène Marais, blyk dit duidelik dat Jonker sowel as Marais steeds gewild bly onder die leserspubliek – soos ook die groeiende korpus metatekste rondom hulle werk getuig. Die rolprente Black Butterflies en Die Wonderwerker bevestig in ’n sekere sin hierdie ikoniese status. In die eerste deel van die blog is daar gekyk na die Ars poetikale invalshoeke en tendense in die filmkuns wat oor die lewens en werk van historiese digters handel (https://versindaba.co.za/2015/10/11/nini-bennett-digters-in-die-filmkuns/). In hierdie tweede aflewering van die blog word daar ’n vernouende fokus op Suid-Afrikaanse digters gestel.

Black Butterflies (2011)

In laasgenoemde Nederlandse filmproduksie wat in Engels vervaardig is, word Jonker se verhouding met Jack Cope, ander minnaars, haar vader, Abraham Jonker, en haar digterskap as uiting van protes teen die Apartheidsregime belig. Alhoewel die rolprent gemengde reaksie plaaslik en in Nederland ontlok het, ontvang Carice van Houten die filmprys as beste aktrise tydens die 2011-Tribeca-filmfees in New York. Die prent is ook genomineer vir nege SAFTA-toekennings en kry ’n gunstige resepsie in The New York Times. Dit is egter jammer dat die film werklikheidsgetrouheid moes inboet deur ’n “fiktiewe” André P Brink in die karakter van “Eugène Maritz” in die biografiese narratief in te skryf. Ironies genoeg fokus dit juis die aandag op Brink! Sommige literêre kritici, soos JC Kannemeyer, spreek hulle twyfel oor die (moontlik oorskatte) oeuvre van Jonker uit, en deel die mening dat dit inderwaarheid Jonker se kultusstatus is wat generasies lesers bly aangryp. In ‘n onlangse studie word Jonker se lewe as ’n argetipe van die sprokie, Die Rooi Skoene, geanaliseer (http://www.litnet.co.za/was-ingrid-jonker-n-slagoffer-van-die-rooi-skoene/). Die skeptisisme ten spyt, is Jonker se werk onder meer vertaal in Zoeloe, Hindi, Pools, Duits en Russies. Brink verwys na haar klein, maar seminale bydrae as digter, en dat sy verse skryf wat sing in die universele hartsaal van die mens. Jonker is by verre die gewildste digter op die sosiale media, en heelwat van die huldigingsbladsye en inisiatiewe om haar nagedagtenis te herdenk, word deur haar dogter, Simone Garcia Marques, geadministreer.

Die Wonderwerker (2012)

marais minnaar

In 1908 daag Eugène Marais, siek aan malaria, op by die Van Rooyen-gesin in die Waterberg in Limpopo, waar hy vertoef en sy navorsing oor termiete en bobbejane doen. Marais se digterskap word verbeeld as deel van ’n groter, maar rustelose intellektuele soeke. Dawid Minnaar skitter in die hoofrol as ’n charismatiese Marais wat die lewens van ’n boeregemeenskap verander; hy word die klassieke Buitestaander, ’n enigmatiese vreemdeling en ‘dokter’ wat siekes in die distrik genees en “mesmeraais”. Die besondere kinematografie verdien vermelding, byvoorbeeld die tonele waar ’n termietnes oopgemaak word. Die prent herinner aan visuele poësie, en Marais se gedig, Winternag, word geplaas teen die groter tafereel van dié digter en natuurkenner se gedagtewêreld. Ben Ludik sorg eweneens vir ’n mooi klankbaan. Ten spyte van die kritiek van enkele literêre kommentators op die internet, is dit belangrik om te onthou dat ’n Suid-Afrikaanse rolprent soos hierdie (met ’n veel kleiner begroting as sy oorsese eweknieë) suksesvol kon kompeteer met ’n gunstige IMDb-gradering (7.2/10); ’n rolprent waarvoor Leon van Nierop sonder huiwering 9/10 gegee het.

Total Eclipse (1995)

rimbaud iii

In hierdie biografiese drama val die soeklig op die verhouding tussen die Franse digters, Paul Verlaine en Arthur Rimbaud. Leonardo DiCaprio oortuig in die hoofrol as die genie en infant terrible, Rimbaud, en die draaiboek herinner plek-plek aan ‘n manlike weergawe van Nabokov se meesterroman, Lolita. Verlaine tree sadisties en manipulerend op teenoor sy sewentienjarige swanger vrou, ’n siklus van emosionele geweld wat die sestienjarige Rimbaud op sy beurt weer teenoor Verlaine voortsit. Beide Verlaine en Rimbaud is labiel en eindelik disintegreer hulle psigologies – en beland Verlaine in die gevangenis nadat hy Rimbaud tydens ’n onderonsie in die hand skiet. Die prent gee ’n onthutsende kyk op die ontstuimige aard van Rimbaud se kreatiwiteit, gevoed deur anargie en die minagtiging van sosiale kodes. Rimbaud se dig- en skryfwerk het ’n groot invloed uitgeoefen op generasies skrywers, digters, skilders en musici, en kan ook as ’n voorloper van Surrealisme en Dadaïsme (naas sy invloed op Simbolisme) gesien word. Vervolgens die gedig, Eternity van Rimbaud wat in die slottoneel van die film genoem word.

It has been found again.

What ? – Eternity.

It is the sea fled away

With the sun.

 

Sentinel soul,

Let us whisper the confession

Of the night full of nothingness

And the day on fire.

 

From human approbation,

From common urges

You diverge here

And fly off as you may.

 

Since from you alone,

Satiny embers,

Duty breathes

Without anyone saying : at last.

Here is no hope,

No orietur.

Knowledge and fortitude,

Torture is certain.

 

It has been found again.

What ? – Eternity.

It is the sea fled away

With the sun.

The Raven (2012)

Hierdie bonatuurlike riller handel oor ’n reeksmoordenaar wat figmente uit die skrywer-digter, Edgar Allan Poe se gruverhale gebruik om “leidrade” vir volgende moorde te verskaf, en só kat-en-muis met die polisie en Poe begin speel. Biografiese verwysings in die film is die uitbeelding van Poe se laaste dae, en die sinistêre omstandighede waaronder hy dood aangetref is op ‘n parkbank. Die intrige is fyn en slim bedink, en werk verruimend deur die verhaalgebeure self as ’n Gotiese gruverhaal aan te bied (Poe was ’n groot eksponent van Gotiese literatuur). Ten spyte van kritiek, is dit ’n film wat getuig van waagmoed en byvoorbeeld nie huiwer om die soeklig op Poe se vermeende nekromanie te laat val nie. Die rolprent sluit dan ook gepas met die eerste strofe uit dié treffende gedig van Poe (A Dream within a Dream) ná sy eienaardige dood.

Take this kiss upon the brow!

And, in parting from you now,

Thus much let me avow-

You are not wrong, who deem

That my days have been a dream;

Yet if hope has flown away

In a night, or in a day,

In a vision, or in none,

Is it therefore the less gone?

All that we see or seem

Is but a dream within a dream.

En van donker Gotika na die eindpunt van die skaal: Songs from the Second Floor (2000) is ’n nihilistiese rolprent wat swaar dra aan invloede van Cinema Noir, en waarin eksistensie en sin uitgedaag en negeer word. In skrille kontras hierteenoor staan Shakespeare in Love (1998), ’n genietlike en verglansde voorstelling van ’n jong Shakespeare se liefdesintriges, geldnood, ensomeer. Van skeppende invalshoeke rondom die tematiek van digters, biografies of fiktief, en digterskap in al sy fasette ontbreek dit filmvervaardigers nie. Tog moet die impak van Dead Poets Society (1989) nie onderskat word nie. Ná Robin Williams se selfdood  verlede jaar het huldeblyke en elegieë van digters en bewonderaars bly instroom na nuus- en ander elektroniese netwerke: Williams is ikonies tot lewe gewek na analogie van sy rol as die geliefde onderwyser, John Keating (O Captain! My Captain!). In bykans alle digfilms is dié fokale punt teenwoordig: digters word voorgestel as (dikwels masochistiese) beoefenaars van digkuns, met al die verrukkinge en verdriet – en die ewige spanning tussen die binêre kragte van noodlot en wonder – wat die kunsvorm vergesel. Vir diegene wat meer wil lees of na ander films oor die onderwerp wil kyk, hier volg ’n meer volledige lys. (http://www.imdb.com/list/ls050659361/).

Bibliografie

Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Pretoria, Kaapstad & Johannesburg: Academica.

Black Butterflies. IDTV & Cool Beans. Riba Film International (rolprent). 2011

Die Wonderwerker.  Sonneblom Films (rolprent). 2012

The Raven.  Filmnation Entertainment. Relativity Media (rolprent). 2012

Total Eclipse. Fine Line Features (rolprent). 1995

http://www.poemhunter.com/  (Besoek 10 November 2015).

http://www.litnet.co.za/n-ander-bestekopname-van-die-afrikaanse-po-e-sie-2004-2007/ (Besoek 11 November 2015).

http://www.nytimes.com/2012/03/02/movies/black-butterflies-a-biopic-about-the-poet-ingrid-jonker.html?_r=0  (Besoek 11 November 2015).

Nini Bennett. Digters in die filmkuns.

Sunday, October 11th, 2015

wilde fliek

Filmverse, ‘n digkuns-animasieprojek wat die kunstenaar Diek Grobler in samewerking met die ATKV en Fopspeen Moving Pictures loods, word Oktober vanjaar by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees bekendgestel. Die projek bevorder nie net ‘n liefde vir poësie nie, maar lewer ook ‘n belangrike bydrae tot die artistieke animasiebedryf in Suid-Afrika, en kan vergelyk word met soortgelyke projekte in Nederland, België en Estland. ‘n Besliste hoogtepunt binne die film-poem as genre is die eksperimentele film wat gebaseer is op Allen Ginsberg se Howl. Met die ontploffing in tegnologie en die moontlikhede wat die multimedia bied, word die diglandskap aansienlik verruim. Poësie as antieke orale tradisie leef nou op die web in toonsettings, voorlesings, en digkuns word begelei met ikonografie, wat die vraag by ‘n mens laat ontstaan: hoe word digters uitgebeeld in filmkuns? Daar gaan vervolgens gekyk word na vier biografiese hoofstroomfilms wat oor bekende historiese digters handel.

Sylvia (2003)

Gwyneth Paltrow gee ‘n skitterende vertolking van die digter, Sylvia Plath, en haar stormagtige huwelik met die British Poet Laureate, Ted Hughes (gespeel deur Daniel Craig). Die film begin met die twee verliefdes se ontmoeting op Cambridge in 1956 en eindig met Plath se selfmoord toe sy dertig was. Sober en somber, word ‘n onthutsende kyk gegee op Hughes se selfgesentreerde karakter en Plath se toenemende depressie en fiksasie met die dood. Plath en Hughes se dogter, Frieda Hughes, het die filmvervaardigers beskuldig dat hulle ‘n profyt wil maak uit haar moeder se tragiese lewe – en die regte, om Plath se poësie in die film te gebruik, is geweier. Die openings- en slottonele bevat wel (minder bevredigende) verwerkings van dié fragment uit Plath se roman, The Bell Jar.

I saw my life branching out before me like the green fig tree in the story. From the tip of every branch, like a fat purple fig, a wonderful future beckoned and winked. One fig was a husband and a happy home and children, and another fig was a famous poet and another fig was a brilliant professor, and another fig was Ee Gee, the amazing editor, and another fig was Europe and Africa and South America, and another fig was Constantin and Socrates and Attila and a pack of other lovers with queer names and offbeat professions, and another fig was an Olympic lady crew champion, and beyond and above these figs were many more figs I couldn’t quite make out. I saw myself sitting in the crotch of this fig tree, starving to death, just because I couldn’t make up my mind which of the figs I would choose. I wanted each and every one of them, but choosing one meant losing all the rest, and, as I sat there, unable to decide, the figs began to wrinkle and go black, and, one by one, they plopped to the ground at my feet.

Wilde (1997)

Hierdie biografiese film is gebaseer op Richard Ellman se Pullitzer-bekroonde biografie oor Oscar Wilde. Stephen Fry oortuig in die komplekse hoofrol as die flambojante, skerpsinnige skrywer, en die soeklig val op Wilde se verhouding met Lord Alfred Douglas, ‘n hedonistiese leefstyl, en Wilde se arrestasie vir onsedelike dade met mans. ‘n Hoogtepunt in die film is Wilde se briljante betoog oor Douglas se verdoemende gedig, Two Loves (“I am the love that dare not speak its name”), wat aldus die aanklaer op ‘bewyse’ van homoseksualiteit sou dui. Ná ‘n vonnis van drie jaar dwangarbeid, en afgetakel na liggaam en gees, kry Wilde se bekende The Ballad of Reading Gaol besondere betekenis in die rolprent. Vervolgens strofes 7-9 uit dié lywige gedig:

Yet each man kills the thing he loves

By each let this be heard,

Some do it with a bitter look,

Some with a flattering word,

The coward does it with a kiss,

The brave man with a sword!

 

Some kill their love when they are young,

And some when they are old;

Some strangle with the hands of Lust,

Some with the hands of Gold:

The kindest use a knife, because

The dead so soon grow cold.

 

Some love too little, some too long,

Some sell, and others buy;

Some do the deed with many tears,

And some without a sigh:

For each man kills the thing he loves,

Yet each man does not die. 

 Bright Star (2009)

In hierdie romantiese drama word die laaste drie jaar van die digter, John Keats, en sy verhouding met Fanny Brawne uitgebeeld. Die film het ‘n ouwêreldse Victoriaanse gevoel en beweeg stadig; die uitbeeld en indrink van die poëtiese oomblik word voorop gestel. Ben Whishaw lewer ‘n teer vertolking van die jong, brose Keats wat op vyf-en-twintig oorlede is aan tering.  Bright Star het meegeding om ‘n plek in die twee-en-sestigste Cannes Film Festival, en is by uitstek ‘n rolprent vir die fynproewer. Die naam is ontleen aan ‘n bekende sonnet van Keats, naamlik Bright Star.

 Bright star, would I were stedfast as thou art —

Not in lone splendour hung aloft the night

And watching, with eternal lids apart,

Like nature’s patient, sleepless Eremite,

The moving waters at their priestlike task

Of pure ablution round earth’s human shores,

Or gazing on the new soft-fallen mask

Of snow upon the mountains and the moors —

No—yet still stedfast, still unchangeable,

Pillow’d upon my fair love’s ripening breast,

To feel for ever its soft fall and swell,

Awake for ever in a sweet unrest,

Still, still to hear her tender-taken breath,

And so live ever—or else swoon to death.

Il Postino: The Postman (1994)

neruda film v

‘n Nederige posbode, Mario Ruoppolo, ontmoet die Chileense digter en Nobelpryswenner, Pablo Neruda, waar hy in ballingskap woon op ‘n Italiaanse eiland. Il Postino is ‘n gewilde en genietlike prent wat goed gevaar het by die loket. ‘n Grootgeestige Neruda (gespeel deur Philippe Noiret) gee nuwe sin aan Mario se lewe deur sy wyshede oor liefde, kommunisme en poësie met hom te deel. Die verhaal speel af teen die dekor van lieflike natuurskoon afgewissel met burgerlike opstootjies in Italië, en so behou die film ‘n fyn balans tussen werklikheidsgetrouheid en magiese realisme.  Soos met Bright Star, word digterskap met patos verbeeld. Poësie is vir alle mense en nie beperk tot ivoortorings nie, of in Mario se woorde:  Poetry doesn’t belong to those who write it; it belongs to those who need it. ‘n Hoogtepunt in die prent is Neruda se spontane voordrag van sy werk om die beginsel van metaforiek aan die leergierige posman te illustreer.

Ode to the sea

 Here surrounding the island,
There΄s sea.
But what sea?
It΄s always overflowing.
Says yes,
Then no,
Then no again,
And no,
Says yes
In blue
In sea spray
Raging,
Says no
And no again.
It can΄t be still.
It stammers
My name is sea.

 It slaps the rocks
And when they aren΄t convinced,
Strokes them
And soaks them
And smothers them with kisses.

 With seven green tongues
Of seven green dogs
Or seven green tigers
Or seven green seas,
Beating its chest,
Stammering its name,

 Oh Sea,
This is your name.
Oh comrade ocean,
Don΄t waste time
Or water
Getting so upset
Help us instead.
We are meager fishermen,
Men from the shore
Who are hungry and cold
And you΄re our foe.
Don΄t beat so hard,
Don΄t shout so loud,
Open your green coffers,
Place gifts of silver in our hands.
Give us this day our daily fish.

‘n Interessante kenmerk van rolprente wat digters/digterskap as tema betrek, is enersyds die Ars poetikale invalshoeke wat wissel van die Carpe diem-tema, soos dit gestalte gekry het in die ikoniese Dead Poets Society (1989); andersyds word die skadukant van digterskap belig. In feitlik alle prente oor die onderwerp sterf iemand: óf die digter, óf ‘n ‘gewone persoon’ wat ná ‘n poëtiese ontwaking op ironiese wyse met die noodlot gekonfronteer word. Hierdie kenmerk verwys nie na die biografiese sterfte van die digter nie, maar na die dood as ‘n soort selfopoffering. Die jukstaposisie: die magie of wonder van poësie versus tragiese lewensrealiteite is in bykans alle films teenwoordig, waar die skryf van poësie ‘n tipe antidoot teen die noodlot word.  Die kyker kan die verglansde werklikheid van die silwerdoek vergewe – ‘n rolprent is immers in die eerste plek om te vermaak! Die eufemisme van verromantisering is welkom – en selfs genadig. Groot digters word as slagoffers van selfvernietiging of komplekse situasies uitgebeeld, en hulle status as tragiese helde/heldinne herbevestig (soos byvoorbeeld in die geval van Wilde en Plath). Digfilms met poësiewerkwinkels as tema begin toeneem (byvoorbeeld Poetry (2002)), asook films oor digmentors (soos die minder geslaagde Blue Car (2002) en The History Boys (2006)), wat raakpunte met Dead Poets Society toon.

Afgesien van die opvoedkundige en prikkelende waarde wat biografiese digfilms en films oor digterskap bied, noop dit kykers om dieper in digters se oeuvres te delf; die boodskap is om geïnspireerd te leef binne die dieper dimensies wat digkuns kan bied. In deel twee van die blog sal daar gekyk word na die uitbeelding van onder meer Suid-Afrikaanse digters in rolprente, asook nuwe filmtendense binne die mens se eeu-oue bemoeienis met digkuns.

Bibliografie

Plath, S. 1971. The Bell Jar. New York: Harper & Row Publishers.

Bright Star. BBC Films. Screen Australia (rolprent).2009

Il Postino: The Postman. Miramax (rolprent).1994.

Sylvia. BBC Films. Capitol Films (rolprent). 2003.

Wilde. Sony Pictures Classics (rolprent). 1997.

http://www.atkv.org.za/af/kunste/atkv-digkuns-animasieprojek-filmverse.

(Besoek 25 September 2015).

http://www.poemhunter.com/ (Besoek 27 September 2015).

http://www.imdb.com/list/ls050659361/ (Besoek 22 September 2015).

  •