FNSA
Wednesday, January 20th, 2010DIE FONDS NEERLANDISTIEK SUIDER-AFRIKA,
UNIVERSITEIT VAN STELLENBOSCH
Die Fonds Neerlandistiek Suider-Afrika aan die Universiteit van Stellenbosch stel in 2010 bedrae aan Suider-Afrikaanse navorsers beskikbaar ter ondersteuning van boekpublikasies, die organisering van wetenskaplike byeenkomste en die aankoop van onderrighulpmiddele op die gebied van die Neerlandistiek. Die keerdatum vir die aansoeke is 11 September 2010. Daar kan onder die volgende voorwaardes in hierdie kategorieë aansoek om ondersteuning gedoen word.
Publikasiesubsidie aan boeke oor die Neerlandistiek
‘n Ruim bedrag is beskikbaar om as subsidies (nie as voorskotte nie) regstreeks aan uitgewers uit te betaal. Net boeke van vakwetenskaplike aard en proefskrifte oor die Neerlandistiek wat vir publikasie aanvaar is, sal oorweeg word. Die lopende koste van navorsing word nie befonds nie.
Voorrang word gegee aan die subsidiëring van Afrikaanse of Nederlandse boekpublikasies op die gebied van die Nederlandse of Afrikaanse taalkunde of taalbeheersing (waaronder inbegryp word teksuitgawes), by voorkeur werke oor Afrikaans wat betrekking het op die sinkroniese of diakroniese verband tussen Afrikaans en Nederlands.
Boekpublikasies oor die Nederlandse letterkunde waarin die verband tussen Nederlands en Afrikaans aan die orde kom, sal ook oorweeg word.
Die aansoek moet die doelstelling, die inhoudsopgawe en ‘n samevatting van 5000 woorde van die boek bevat, vergesel van keurdersverslae en ‘n brief van die uitgewer waarin ‘n kosteberaming en motivering vir die nodigheid van die subsidie vervat word, ‘n onderneming gegee word om die werk te publiseer en die verskyningsdatum (laatstens agtien maande na die keerdatum van die aansoek) vermeld word. Boeke wat voor die keerdatum van die aansoek verskyn het, kwalifiseer nie.
‘n Uitbetaling sal gedoen word nadat ‘n eksemplaar van die gepubliseerde boek aan die Fonds verskaf is.
Kongresse en simposia oor die Neerlandistiek
Die maksimumbedrag per aansoek is R10 000 as subsidie vir die hou van plaaslike kongresse of simposia oor die Neerlandistiek. Die aansoek moet die program van die voorgestelde byeenkoms bevat met vermelding van die doel daarvan, die koste, die reëlingskomitee, die referaattitels en die referente wat optree. Die reis- en verblyfkoste van referente wat by dergelike byeenkomste optree, asook kongresbywoning plaaslik of in die buiteland, kom nie in aanmerking nie.
Hulpmiddele vir die onderrig van die Neerlandistiek
Die maksimumbedrag per aansoek is R6 000. Ondersteuning word gegee aan die aankoop van literatuur en programmatuur asook video- en klankkassette wat regstreeks op die onderrig van die Neerlandistiek betrekking het. Die aard, die benutting (bv. getal studente wat bereik word) en die koste van die hulpmiddele moet duidelik in die aansoek gespesifiseer word. Die aankoop van rekenaarapparatuur en literatuur vir navorsing word nie ondersteun nie.
Buitengewone aansoeke
Goed gemotiveerde buitengewone aansoeke wat nie binne die bostaande kategorieë val nie, sal oorweeg word.
Afgesien van die besonderhede wat onder elke kategorie vereis word, moet die aansoeker ‘n kort curriculum vitae insluit. Slegs wetenskaplike publikasies (geen resensies of populêre artikels nie) van die afgelope twee jaar moet vermeld word.
Aansoekers moet ook aandui of hulle vir die spesifieke behoefte steun uit ander bronne gevra het, of hulle met sodanige versoeke suksesvol was, en, indien wel, wat die bedrag van hierdie steun is.
Skriftelike aansoeke moet aan die volgende adres gerig word:
Me. M. Hunter-Hüsselmann
Afdeling Navorsingsontwikkeling
Universiteit van Stellenbosch
Privaatsak X1
MATIELAND
7602
Tel. (021) 808-4623
E-pos: mh3@sun.ac.za
Aansoeke per e-pos sal oorweeg word, maar dan moet die bladsy waarop die aansoeker se handtekening verskyn, per faks aan die sekretaris gestuur word.