Posts Tagged ‘Francis Grobler’

Resensie: Nagblind (Francis Grobler)

Sunday, March 22nd, 2020

 

 

Nagblind deur Francis Grobler. Naledi, 2020.

Resensie: Nini Bennett

 

Die eerste indruk wat Nagblind skep, is een van verwagting: Die blakerteks bevat immers vyf akkolades, onderskeidelik dié van Richard van der Westhuizen, Dana Snyman, Koos Kombuis, Berdéhan Brand en Antjie Krog. Op die agterflap sê Krog: “Daadwerklike talent wat ’n eie interne woordeskat tot stand bring.” Dit skep ’n verwagting na Grobler se idiolek.

Een van bovermelde kommentators, Berdéhan Brand, het ook die persverklaring geskryf. Dit stem ooreen met die flapteks: “Francis Grobler skuif die sluier van ’n verskuilde wêreld met ’n afgerigte werklikheid en konformiteite oop met ’n moderne benadering tot digkuns. Haar outentieke benadering dra by tot ’n skaars, maar nodige kommoditeit in Afrikaanse poësie. Nagblind is ’n kragtige, eiesoortige en eenmalige leserservaring. Die woord word verhelder deur retoriek en metafore wat vonk. (…) Sy verfyn en rond die eindproduk tot ’n “andersheid” af wat ver verby die grense van konvensies gaan en aan die geskrewe woord ’n nuwe betekenis gee. (…) Francis Grobler is ’n spelterapeut, eggenote en ma van drie seuns (…). Haar debuutbundel verskyn in 2007, waarna andere volg. In 2019 word sy as algehele wenner aangewys deur die Genootskap van Handhawing van Afrikaans en verower die N.P. van Wyk Louw-prys. – Berdéhan Brand, digter, resensent, vryskut en keurder by hoofstroomuitgewers.”

Hierdie uitspraak is in vele opsigte problematies, maar meer daaroor later. Dit is egter ook onbekend op watter platforms Brand geresenseer het – ’n soektog na sy resensies lewer niks op nie. Die digter se resepsiegeskiedenis is eweneens duister. ’n Uitgebreide soektog op die sosiale media lewer ’n foto op wat die volgende inligting bevat: “Francis Grobler is ’n vrygees woordkunstenaar. ’n Vrydenker. ’n Dromer. ’n Kind van die aarde. (…) Haar debuutbundel, Pyltjies innie sand word vrygestel in 2007. Daaropvolgende werke sluit in duskant annerkant, Wie Ore Het en aard. ’n Versameling van Grobler se ander werke word vervat in die omnibusse Vier Seisoene; Dissekteer die Reënboog en Die Tiende Provinsie, asook in ander publikasies (…). In haar meer onlangse werke en met die ondersteuning van bekende name in die musiekbedryf, word Grobler se poësie, beelde en musiek meesterlik vervleg tot kragtige vlerke met intense boodskappe” (sic). Iederwel: die deftige voetwerk in die blakerteks skep die verwagting dat Nagblind ’n belangrike, selfs grensverskuiwende bundel mag wees. En om die verwarring uit te skakel: Nagblind is nié ’n debuutbundel, soos Hans du Plessis in sy resensie op Maroela Media beweer het nie – as ’n mens Grobler se selfpublikasies in berekening bring, dan is Nagblind haar vierde bundel.

Die eerste gedeelte, “annertrap se spoor”, open met die programgedig, “andersoort eenders” (2-3) wat ’n spel tussen anders en eenders as ’n skynbaar versoenbare kontradiksie voorstel. Die digter is egter inkonsekwent ten opsigte van die spelling van anners / anders en eenders / eners, waarskynlik ’n opsetlike poging om hierdie ‘andersheid’ te beklemtoon. Ongelukkig skep dit eerder die indruk van literêre slordigheid, byvoorbeeld “annertrap”, “andersoort”, “annerkant”, “anders”, ensovoort. Die ontronding en praattaal van “anner” dien geen doel nie; dis steurend, en ’n mens wonder of dit nie dalk ’n oorblyfsel van die digter se selfpublikasie, duskant annerkant is nie. Hierdie andersheid / andersom-‘logika’ word in enkele gedigte beskryf:

 

jirre, wat nou

 

dis seker maar oor ons mekaar se eenders

of mekaar se anders is

dat metafore uit my skryfhand ontbreek

 

of dalk is dit oor die verlopige verbond

dat ek – godweet weer jou asem wou voel

teen die skelet van my ribbekas

wat wordend wou úít

soos ’n eva

 

miskien het ek geglo dat my praat

nou ’n versigtige winter word

en my mond stadiger as gister

asof ons geneties apart is

 

jirre, wat maak ek nou? (14)

 

Asook:

 

spieëls voor die ruite

 

my hande hurk in die spore

van ’n andersom-neig

asof ek ’n rekenfout is

 

word ’n eenling se weerkaatsende bestaan

dan ’n soort hoofstroom-offensief

of bloot die droewige vloek

van ’n meerdimensionele kop

wat stukkende motte en duiwe aaneenlas? (34)

(…)

 

In bovermelde vers voel die aweregse spel met “andersom-neig” na ’n futlose literêre speletjie en tref dit die leser as infantiel. Dis nou hande wat hurk, nie bene nie. En die eenling weerkaats (die enkelvoud verdeel in meervoud).

In geheel neig die verse na willekeur. ’n Logiese poëtikale verloop ontbreek en botsende metafore vier hoogty. ’n Sentrale of sentrifugale tema ontbreek, en breedweg handel die verse oor lig teenoor donker, dag en nag, die prosesse van lewe en dood, die seisoene, en daar kom liefdesgedigte en Bybelse verwysings voor. Die omslagontwerp met die dubbelmaan suggereer iets van ’n “dubbelkyk”, ’n dubbelduidige of selfs meerduidige betekenis van die poëtiese woord. Ongelukkig ontbreek laasgenoemde en vertroebel die verse eerder in obskurantisme.

Op stilistiese vlak werk die digter met amorfe poësie. Sy skryf uitsluitlik in kleinletters en gebruik leestekens spaarsamig. Alle gedigte in Nagblind is binne hierdie templaat geskryf, wat op sy beurt poog om die digter se stilistiese armoede en gebrek aan verstegniese beheer te verdoesel. Die bundel herinner aan die amorfe poësie van die sewentigerjare wat gekenmerk is deur literêre bandeloosheid en die gebrek aan selfkritiek. Volgens Kannemeyer het uitgewers hulle skuldig gemaak aan die onkritiese aanvaarding en literêre oorproduksie van minderwaardige werk. Nagblind is sowel in styl, vorm en aanbod ’n bundel wat die mankemente van die sewentigerjare se poësie weerspieël.

Die taaltruuks slaag nie:

 

kon ek jou net eenmaal inspoor tot teen my skelet –

in – inner – inste (soos vel en weefsel en are) (68)

 

Die oordadige gebruik van hakies en koppeltekens is steurend.

vandag skryf ek (in die wig van ’n wensbeen) / (…) / want dis eers van onder (van heel onder) (75)

 

In enkele verse kom Ars poëtikale besinnings voor, byvoorbeeld “kyk hoe sak die ink”:

 

dié verse is alweer te slordig

vir literatore en ykers

maar as my ink sak om

’n heelgister te bid teen jou kussingsloop

en jou terug te sit in die son

 

láát dit dan sak

sodat jy van vooraf kan onthou –

dán sal ek jou naam hardop uitsê

sodat die hemel heel sal bly

soos dit nog altyd was (9)

 

’n Metafoor word op ander plekke as iets wat “bang” is, beskryf. Nog ’n voorbeeld:

 

soeker

 

my hande bring jou in swerfsand buite teks

met slordige sinsbou sonder sintaksis

interpunksie en dies meer

 

jy het reeds die maan

in jou mond laat slaap

en die reliëf van bykans elke koördinaat

op die kaart gespoor

 

jy skryf die sinne van ’n vryskutdromer

as teenmaatreël vir bloei

maar steeds verken jy nes ek

vryheid veeltalig ver

buite die taalgrens van literatore

 

en berei ’n eie kontinent in dryf

soos ’n weggebreekte skelet (30)

 

Mankemente soos ’n onlogiese poëtiese verloop van verse, ’n gebrek aan logiese oorsaaklikheid en verse wat wemel van beelde wat willekeurig én ondoeltreffend ingespan word, kom in alle verse voor. In “soeker”, die volgende voorbeelde: Strofe 1 se geswymel maak hoegenaamd nie sin nie. Wat op dees aarde is ’n “vryskutdromer” – is daar, by implikasie, ook iets soos ’n “voltydse” dromer? Die gebruik van die woord “dryf” in strofe 4 as s.nw. is verwarrend en slaag nie. Ook die gebruik van die verhewe woord is hinderlik, soos “ykers” in “kyk hoe sak die ink”. Voorts gryp die digter na biologiese begrippe sonder dat enige van hierdie motiewe deurgekomponeer word. Die woorde word lukraak gebruik en mens kry die gevoel dat die verhewe of geleerde woord as intellektuele fineer moet dien, met ander woorde dis myns insiens niks meer as pretensieuse stopwerk nie. Die bundel wemel van embrio’s, gamete, ovums, vrugwande, geendraers en fetusse. In “lepidoptera” (38) word die vers, wat handel oor motte en vlinders, as ’n raaisel aan die leser gestel.

Die verse steier onder die roekelose gebruik van koppeltekens om woordkonstellasies te skep: “klip-vir-bliksemse-klip”, “van daar-af-aan” en “van dus- tot anderkant skemer – “, om enkele voorbeelde te noem.

Die digter is lief vir potsierlike sameflansings van woorde, waarskynlik pogings tot neologisme. Voorbeelde hiervan is “droomskelette” (12), “vlindermurg” (12), “tussenstroofstiltes” (12), “aarsels” (15), “kleingebed” (17), “ingekapte wederbestaan” (19), “woordsigote” (20), “vryskutdromer” (30), “gistertrap” (26), “hoofstroom-offensief” (34), “brandbane” (41), “gelykpreek” (42), “kruisdodings” (48), “aardelinge” (48), “eenrigtingstaar” (50), “bystelling” (52), “medevers” (54), “skynideologie” (54), “swaaiings” (54), “halfgeringe” (58), “smalgeskatte” (66), “sigeuns” (67), “kleinsekonde” (69), “halfbang-vlietend” (70), “herteug” (76), “onthulde” (74), “onsekerte” (78), en “waarwording” (80).

Die mildelike gebruik van poëtiese clichés en die gesogte woord of beeld kom voor. “Spore” is só ’n cliché, byvoorbeeld: “hulle sê dat ons ’n ándersoort eenders lostrap” (2); “vandag het ek my voete verpas en / my spoor was vreemd vir my trap” (18); “ons spore naslaan” (21); “uit gistertrap se groef” (26) “my hande hurk in die spore / van ’n andersom-neig” (34); “want net ons sal weet dat die kleur van dromers / in die prismas van eie spore bly spartel” (42); “maar vanaand ken my voete nie my eie spoor nie” (51); (…) “sal als wat leef / terugtroef tot ’n spoorlose bestaan” (59); “deur hoeveel katarsisse / kan een paar voete / sonder sloeg of struikel trap” (65); “jou naam kerf teen elke spoor / wat jy in die melkweg los” (67); en “ek weet nie of my voete bepaald iewers minder sal sleep / en of my spore ooit meer gelyk sal neig” (68).

In sommige verse val die spreker haarself in die rede by wyse van ’n emosiebelaaide interjeksie: die “verhewe” inhoud word kras onderbreek en gejukstaponeer met banaliteite, byvoorbeeld “want godweet” (20); “jirre, wat maak ek nou”? (14); “fokweet” (51); en “ek wil terstond uitmekaarbliksem” (68).

Uiteindelik raak die botsende metafore, poëtiese willekeur en mooiskrywery nét te veel, en ek haal aan uit “toe jy omkyk” (12):

 

(…)

want die versmakers dig hulself ter dood

in die leemtes van droomskelette en ou vlindermurg

 

tussenstroofstiltes word altesaam

waarmakings wat opsteier

in ’n stom applous

aan die klamkant van kyk

 

Asook:

 

kopklank

 

ons koppe werk wederkerig

ons verstand soos die voorkennis

van magiese nagte

 

al het ons bloot

van ver af effe eenders gelyk

want ek was nog nooit jou antoniem nie

 

ons soort sal altyd

in verspringende hoeke

deur brandbane en die breeklyn van branders beur

in hierdie afgemete halfsirkelbestaan

wat ander leef noem

 

of tot vrede in ons vestig (41)

 

Die toetssteen vir ’n goeie bundel is of daar ’n nuwe stem is; ’n nuwe stylgreep. Ongelukkig verklap Nagblind al die hebbelikhede van die sewentigerjare se poësie, met gepaargaande literêre argeloosheid. Nagblind is nie, soos aangedui in die blakerteks, ’n nuwe, moderne of outentieke benadering tot poësie nie, dit is al tot vervelens toe beoefen veertig, vyftig jaar gelede. Kannemeyer het dikwels na hierdie tydvak se swak poësie verwys, wat Hambidge elders as “terreuraanvalle op die digkuns” beskryf. ’n Streng keurdershand kon van die hebbelikhede in Nagblind uitgeskakel het. Desnieteenstaande het die digter egter ’n verantwoordelikheid teenoor haarself om haar talent te ontwikkel, al beteken dit sy moet terugkeer tekenbord toe. In Nagblind is daar té veel voetwerk en te min poësie.

 

 

  •