Eggo
PET skandering 2020
by ontvangs
‘n televisieskerm
sonder klank
so ook die gange
‘n naaldkamer vir kleurstof
met radioaktiewe aanduiders
‘n kernspoor
in die snelweg
van my are
‘n gemakstoel
in ‘n steriele hokkie
twee ure se wag
agter gordyn
en spieëlblink mure
iemand sug iewers
‘n witgestyfde vrou
bring ‘n liter water
ledig jou blaas
sê sy heelwat later
gangaf sit ‘n man
sê hy wil gaan
het sin verloor
in die lewe
ek
my huis
als stink na pis
kyk die sakkie
aan my sy
halfleeg halfvol
‘n druppende kraan
oor my lot
is niemand begaan
net my seun
ons praat
lewe dood hoop
die liefde
van die Seun
hy groet
“glo jy dit”
ja eggo dit
deur die kil
stilte omheen
dis my beurt
die kankeraanduiders skitter
net ‘n sakkie ver
in die skandering op
tog sal ek
loof en eer
‘n welriekende geur.
© Francois de Jongh, 2020