Posts Tagged ‘Friedrich Nietzsche’

Johann Lodewyk Marais. Die Anglo-Boereoorlog, weer

Monday, July 27th, 2009

Die Duitse filosoof Martin Heidegger (1889–1976) het hom oor sowel die aard van die kunswerk as oor die poësie uitgelaat. In sy meesterwerk Sein und Zeit (1927) het hy belangrike vrae oor die syn gevra, sonder om egter aandag aan die kunswerk te gee. Ná die sogenaamde Kehre in sy denke word sowel die kuns as die poësie egter belangrike onderwerpe in sy geskrifte. In Der Ursprung des Kunstwerkes (1950) sê hy dat die kuns tonele is waar “die waarheid homself in werking stel” en dat hierdie waarheid ’n stryd tussen “wêreld” en “aarde” vereis.

 

Hoewel Heidegger die poësie as die essensiële vorm van die kuns beskou, maak hy in die essay gebruik van voorbeelde uit die argitektuur (’n Griekse tempel) en ’n skildery (’n werk deur Van Gogh). Vir die doeleindes van hierdie kursoriese aantekeninge wil ek aan die hand van Heidegger na enkele ander toepaslike voorbeelde verwys. Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein, die Kaiser-Wilhelm-Gedächtnis-Kirche in Berlyn en die Vietnam Veterans Memorial in Washington DC is almal opgerig om mense te gedenk wat aan oorloë deelgeneem en gesterf het. My argumentasie in verband met die Vrouemonument sou in bepaalde opsigte ook vir die twee ander voorbeelde kon geld.

 

Die Vrouemonument, wat deur die beeldhouer Anton van Wouw ontwerp en deur die argitek en bouer Frans Soff gebou is, is op 13 Desember 1913 in Bloemfontein onthul ter nagedagtenis aan die meer as 26 000 vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in konsentrasiekampe gesterf het. Hierdie monument het van vroeg af mense se verbeelding aangespreek. Die ontwerp van die monument is eenvoudig soos uit die volgende aanhaling uit Wêreldspektrum (Deel 29) blyk:

 

“Die monument bestaan uit ’n 37 m hoë gedenknaald van bruin sandsteen met ’n beeldgroep aan die voetstuk en geskiedkundige panele aan weerskante. Dit word deur ’n ringmuur ingesluit. Die sentrale beeldgroep simboliseer smart en hoop, terwyl die reliëfpanele ervarings van vroue en kinders tydens die oorlog uitbeeld.

 

[…]

 

“Daar is ook besluit om ’n Godsman, ’n staatsman en ’n krygsman aan die voet van die monument te begrawe. Die keuse het op dr. J.D. Kestell, pres. Steyn en genl. De Wet geval. Nadat Emily Hobhouse in 1926 in Engeland oorlede is, is haar as in die voetstuk van die gedenksuil geplaas. Mev. Rachel Steyn is langs haar man begrawe.”

 

Deur middel van sy eenvoud en teenwoordigheid slaag die monument daarin om ’n impak op die besoeker te maak. Maar waarom? Wat die kunswerk (en terselfdertyd natuurlik die Vroumonument) regkry, is om, volgens Heidegger, ons uit die “ryk van die alledaagse weg te voer”. “Hoe meer essensieel die werk homself openbaar, hoe duideliker word die uniekheid van die feit dat hy bestaan in plaas daarvan dat hy nie bestaan nie.” Die monument is egter nie volkome representatief van die werklikhied nie, sodat die betekenis van die monument nie maklik uitgeput kan word nie. Die Vrouemonument van 1913 spreek ons byvoorbeeld meer aan as die latere byna hiperrealistiese beelde van Danie de Jager wat op die terrein bygevoeg is en gedurende die 1980’s tot heelwat omstredenheid gelei het.

 

Heidegger se konsepte van wêreld en aarde wil ek kortliks soos volg op die Vrouemonument van toepassing maak. Die Vrouemonument herinner ons aan die groot kwessies wat van belang is in ons bestaan: lewe, dood, oorwinning, nederlaag, skande, hoop, geregtigheid. Sodoende open die monument vir ons ’n besondere blik op die wêreld.

 

Met aarde bedoel Heidegger dit wat die grondslag is waarop ons bestaan, die fondament waarop ons bou. Die aarde “beskut” die syndes wat daaruit “opstaan/opkom”. In wese is die aarde die misterieuse bron waaruit ons spruit. Op die Vrouemonuent “toegepas”, kan ons melding maak van die besondere plasing van die monument op die Vrystaatse landskap. Die soberheid van die monument versterk hierdie ervaring. Die besoeker word bewus van ruimte: die ruimte wat deur die monument geskep word, maar ook die ruimtes van die Vrystaat en waarskynlik ook van die hele Suid-Afrika wat in ’n misterieuse besef van hierheid voor jou oopgemaak word.

 

Ons word terselfdertyd by die Vrouemonument terdeё bewus van die konflik tussen wêreld en aarde. By die aanskoue van die Vrouemonument skree die Britse regering se verskroeideaardebeleid ten hemele. Dit word ’n protes soos ook die volgende gedig van Martjie Bosman met dieselfde titel uit die bundel Landelik (2002), waarin daar ook met ’n perspektief op die hede vorendag gekom word:

 

VERSKROEIDE AARDE

 

Van dié geskiedenis kan ons slegs brokke agterhaal:

Grootouma Geldenhuys met vier kinders

in ’n oop beestrok na die kamp by Merebank,

’n paar stuks vee behoue in die walle van die Vaal,

Grootoupa te velde wie weet waar.

Die rooi huis is gekonfiskeer as hospitaal –

gerugte van soldate begrawe onder die leiklipstoep,

die erfgenaam naamloos in ’n seepkis iewers in die sand.

Ek erf uit ouma Makkie se beroertemond

twee bitter woorde: smaad en hoon

en die droewe wete van familiegrond

vir geslagte tevergeefs bewoon.

 

Waaroor het die hedendaage digters dit as hy/sy oor die Anglo-Boereoorlog skryf? Om hierdie vraag te antwoord, kan dit meer verhelderend wees om aan die hand van Heidegger na die aard van die poësie te kyk. Vir Heidegger is die poësie dit wat die mens in staat stel om waarlik te woon. Poëtiese beelding stel ons in staat om na die teenwoordigheid van die onbekende of selfs die transendentale (in die lig van die era ná Nietzsche en die geestelike krisis tydens die twintigste eeu) uit te reik. “Poetry cannot cause the unknown god to come near, but poetry can put forward words that enable this presence to show itself,” sê Patricia Altenbernd Johnson in Heidegger (2000).

 

Heidegger maak daarom ’n onderskeid tussen gewone en poëtiese taalgebruik. Iets soos die “Die Anglo-Boereoorlog het van 1899 tot 1902 geduur”, is byvoorbeeld ’n gewone, alledaagse uitspraak. Vir Heidegger is poësie egter nie ’n bron vir spesiale estetiese plesier op grond van die niegewone taalgebruik nie, maar eerder die krag wat ons wêreld kan openbaar en ons bestaan kan transformeer. In sowel die lewe van die digters as die geskiedenis van ’n volk is die helder en kreatiewe oomblikke seldsaam; die res is onoorspronklik en afgeleid. Taal behoort vir die mens ’n ryk bron van openbaring te wees. Vir Heidegger is “Alledaagse taal vergete en daarom ’n opgebruikte gedig, waaruit daar kwalik ’n geroep uit voorkom.”

 

Ander hedendaagse digters soos Wilma Stockenström, T.T. Cloete, Heilna du Plooy, Trienke Laurie, Hennie Aucamp en H.J. Pieterse betrek nog steeds die Anglo-Boereoorlog in hulle werk. Ten slotte gaan ek na een gedig kyk waarin die Anglo-Boereoorlog op ’n besondere manier aanwesig is. My keuse val op die sanger en liriekskrywer Piet Botha se “Staan saam burgers” uit sy CD ’n Suitcase vol winter (1999). Op hierdie CD kom daar terloops nog een ander snit voor wat oor die Anglo-Boereoorlog handel, naamlik “Van Tonder”. Botha se teks klink soos volg:

 

STAAN SAAM BURGERS

 

By die goue vallei het ons so lank gewag

Op ’n antwoord wat kom uit die noorde

Staan saam burgers staan saam

 

Siener van Rensburg kyk na sy hande

En sê ek kan dit nie verstaan

Iewers op die vlakte

Begin ’n jakkals tjank

Die boodskapper kom in die nag

Het gekom en gegaan

Staan saam burgers staan saam

 

Hoekom het jy ons nie gesê nie

Die man se perd was swart,

Net soos die nag

Dit was nie Van Tonder nie

Net so tussen my en jou

Vir wat dit werd is

Ek dink die duiwel het ons ’n streep getrek

Staan saam burgers staan saam

Staan saam burgers staan saam

           

Wanneer hierdie woorde deur Piet Botha gesing word, kom daar sekerlik ook ander elemente by wat hierdie kunswerk sy karakter gee. Die groot trefkrag van hierdie lied is vir my (en ek glo vir baie ander) egter juis in die woorde geleë, wat by ons ’n herkenning van die land(skap), die geskiedenis en iets baie wesentliks van die Afrikaanse taal oproep. Hierdie herkenning word by die luisteraar deur die woorde wakker gemaak. In die Afrikaanse taal kan woorde soos “saamstaan”, “burgers” en “boodskapper” maklik in verband met die Anglo-Boereoorlog gebring word. Die landskap wat hier beskryf word, is ook tipiese Suid-Afrikaans: die geografiese ruimte waar die oorlog afgespeel het. Charles van Onselen het die Hoëveld wat in Botha se lied ter sprake is in The seed is mine: The life of Kas Maine, a South African sharecropper, 1894–1985 (1996) soos volg beskryf:

 

“[The] hot, dry and expansive plains of the subcontinent provide the country with its most characteristic landscape, and a distinctive terminology which singles out for special attention any geomorphological feature which so much as hints at either height or water. Koppie, krans, pan, platteland, rand, sloot, spruit, vlakte, and vlei – are all Afrikaans words that defy easy translation and which have been incorporated holus-bolus into the vocabulary of all urban South Africans. They are quintessentially highveld words; words that give life to the ways in which one senses and experiences much of what it is to be South African.”

 

Die gedig handel dus oor ’n essensiële Suid-Afrikaanse stuk landskap. Daar word ook in die gedig ’n figuur soos Siener van Rensburg betrek in wie daar die afgelope jare groot belangstellings in die Afrikaanse gemeenskap was en oor wie Trienke Laurie se digbundel Ek sien ’n rooi bul storm (1999) handel. In dié bundel is hy “self aan die woord en vertel van angswekkende gesigte wat bewaarheid is, onder meer die lyding van vroue en kinders in die Engelse Oorlog, generaal De la Rey se tragiese dood, en die verlies van drie van sy eie kinders. Hy vertel ook hoe God hom as boodskapper gebruik het, soos in die geval van ons eie Rooi See-wonder, toe generaal De Wet en sy krygers deur die Engelse teen ’n vol rivier vasgekeer is. Hy voorspel die opkoms van swart mag in die land, en ’n donker tyd vir die Afrikaner totdat hy hom voor God verootmoedig. Verder in die toekoms sien hy wit tente in die Karoo staan soos vervolgde Christene uit ’n oorlogsgeteisterde wêreld hierheen vlug,” aldus die flapteks.

 

Na aanleiding van die voorafgaande aantekeninge wil ek graag enkele afleidings maak:

 

1.                   Die Anglo-Boereoorlog is ’n multidissiplinêre aangeleentheid waartoe ook die kunstenaar en die digter ’n bydrae kan lewer.

2.                   Die Anglo-Boereoorlog word vandag nog steeds (ook) in Afrikaanse woorde en in gedigte bewaar en herdenk, wat dit steeds ’n gebeurtenis van buitengewone belang maak.

3.                   Die Anglo-Boereoorlog word op so ’n manier in die Afrikaanse poësie uitgebeeld dat dit die Afrikaner met sy historiese situasie konfronteer.

4.                   Die Anglo-Boereoorlog is ’n kwessie waaroor die afrekening van die Afrikaanse digter se kant af klaarblyklik nog nie afgehandel is nie.

  •