Posts Tagged ‘G.A. Watermeyer’

Andries Bezuidenhout. Son, sekel en simbaal

Thursday, January 10th, 2013

Middelburg – dis nou die een in die Karoo, nie Mpumalanga of Zeeland nie – is G.A. Watermeyer se wêreld. Hy is in 1917 op die plaas Spitskop in die Witteberge gebore. Hy sal seker onthou word vir sy eerste digbundel, Sekel en simbaal, wat in 1948 gepubliseer is. D.J. Opperman het ʼn sterk hand in die samestelling van die bundel gehad. Die bundel handel oor die verhouding tussen stad (“simbaal”) en platteland (“sekel”). Opperman en Watermeyer sou later rusie kry, blykbaar weens literêre smaak en konvensie, maar dalk ook weens Watermeyer se kru nasionalisme. As kopieskrywer was Watermeyer verantwoordelik vir Castle Lager se “dou vir die dors”. Meer onlangs het Valiant Swart ʼn baie mooi toonsetting van sy gedig “Ballade van die dronkparty” saam met Ollie Viljoen opgeneem. Gaan kyk & luister gerus daarna op YouTube.

Ek het aan Watermeyer gedink met ʼn onlangse besoek aan Middelburg. Die foto’s hier onder probeer om iets van die verandering in lig daar weer te gee. Dalk is daar meer simbaal as sekel in die foto’s – ek vind die argitektuur van plattelandse bankgeboue besonder bekoorlik, soms meer bekoorlik as kerke.

Meer oor Watermeyer hier.

Verwoesting

Tuesday, November 10th, 2009

 Vanoggend wonder ek oor die Engelse woord “devastation” – verwoesting, sê die woordeboek. Neergeslaan en kaalgestroop. Vanoggend weet ek wat dit beteken.

   Daar lê ’n haelhoop op my stoep, ’n halwe meter hoog. Ek reken dit gaan ’n dag of wat neem om te smelt, ek sou ’n ysman kon bou. My strelitzias lyk soos palmbome, slierterig aan flarde geskeur en van die sonneblomme is daar nie veel meer as stammetjies oor nie. My groentetuin, ag – verwoesting.

   Min mense lees seker nog die ou Afrikaanse digters. Te verstane. “Klaas Geswind en syn perd” het seker nog vermaaklikheidswaarde, maar as selfs Van Wyk Louw vir die jonger garde onbereikbaar is, wat dan van Totius en A.G. Visser? Ek mag verkeerd wees.

   Iewers uit my kleintyd, iewers toe die aande vol kerslig was en die weer meer as hoflike geselsies, onthou ek A.D. Keet se “Lied van die koringboer”. Sentimenteel, ek weet. Droogte, die uiteindelike reën, maar ook hael en dan weerlig wat die hooimied tref:

En dit is die lied van die koringboer

    Wat die hele jaar se gesaaie –

Sy brokkie brood, en sy vee se voer,

    Sien vergaan ‘t in ligte laaie.

   Daar is ander en beter gedigte oor storms en reën, selfs uit daardie era. Eugène Marais se “Die dans van die reën” en Jan F.E. Cilliers se “Die vlakte” of die wonderlike “Reën in die voorwinter” van G.A. Watermeyer. Maar oor verwoesting? Vertel my.

   Miskien nou dat die aarde kwaad word, nou sal sy ons weer grond toe dwing. Kaalgestroop, neergeslaan, maar hopelik gewortel. Dis nie in teer en beton waar dinge groei nie, maar daardéúr. Sê Van Wyk Louw:

Toe jy kind was, het jy gedink:

daar sal groot dinge kom uit my,

groot dinge, grotes en goeies –

soos ’n seun moet dink, natuurlik.

En: die groot is gesplits, én die goeie,

nou:

en in plaas van net groot en net goed,

het daar verskriklikheid en eenvoud

en boosheid en eenvoud

en eenvoud en nederigheid

          gesprikkelde sampioene,

deur die teer, uit die teer van die straat,

keiserlik rooi en wit

by die breuk uit wat jy is, kom peul.

Die aarde is nie eenvoudig nie.

Wees gewaarsku. Die aarde is nie eenvoudig nie.

  •