Posts Tagged ‘Gedig Droomballade’

Heilna du Plooy. Denke uit drome

Thursday, March 17th, 2011

Droomballade

 

Ek sien ‘n kind,                                     

‘n klein kind in ‘n bababed.                     

Dit is my kind, ‘n babaseun.                   

 

Hy kyk na my

sy helder oë groot en blou.

Ek steek my arms na hom uit.

 

Hy lag my toe

en in sy babamond

is vreemde klein gepunte tande.

 

Hy praat met my

maar in ‘n onbekende taal.

Nie hy of ek begryp waarom hy my verwyt.

 

Ek dra die kind

en hy leun liefderyk teen my aan.

Ek vryf sy kop en stap uit op die stoep.

 

Die lug is swaar.

Die wolke maal in donker wind.

Die lig is ver en dit is koud.

 

Die kind beur weg

en uit my arms tree hy agteruit.

Hy’s nou ‘n man, ‘n groot man in ‘n jas.

 

Twee ander mans

in somber jasse staan langs hom.

Ek sien die drie lyk na mekaar.

 

Die mans draai om,

weg van die huis, weg van my af.

Hul stap uit oor die ongelyke grond.

 

‘n Skaduwee

lê oor die landskap uitgestrek.

Die lig bly ver. Dit is steeds koud.

 

 

Die verhaal van Karel en Maria

 

Aanvanklik is dit net n vae gevoel. Met verloop van tyd word dit duideliker, n gedagte wat telkens dringender terugkom. Later dink sy gedurig daaraan. Een oggend in die grys Iig voor dagbreek sê sy vir haar man: “Ek moet weer iets maak.

 

Hy kreun instemmend.

 

Sy skuif skuins oor hom en vleg haar bene deur syne. In die beskutting van hulle warmte vertel sy teen sy slapende gesig hoe nodig dit vir haar is om n mooi verhaal te skryf.

 

Ek moet die kompleksiteit van die wêreld met iets besweer ... ek gaan disintegreer van te veel dinge wat op my aanstorm dit maak nie saak hoe ver die oorloë van die wereld van my af is nie, ek Iy daaraan ... ons Iy almal daaraan ...  Daar is te veel gegewens wat elke dag verwerk moet word ... ek kan geen patrone en Iyne meer sien nie ... ek moet my eie patroon maak ...

 

Met haar gesig teen sy nek sluimer sy weer in en droom n lieflike droom. Sy het n klein baba. Die kind is pas gebore. Sy Iê op die harde teatertafel toegedraai in ‘n sagte warm kombers met die baba in haar arm. Uit ‘n hoë dakvenster val Iig op die klein gesiggie en met verwondering sien sy die fyn wenkbrouhaartjies blink. Daar is n swaar loomheid in haar liggaam, ‘n intense gevoel van weldadigheid en totale ontspanning. Dit is net sy en die kind in ‘n algehele isolasie. Dit voel vir haar asof daar geen wêreld daar buite is nie, asof hulle twee in n klein ovaal kokon die ganse heelal uitmaak. Die baba maak haar oë oop en kyk die vrou ondeund en laggend aan. Verbaas sien sy hoe die baba in volle selfbewussyn vir haar knik. Die gesiggie gloei van geluk en vreugde. Die vrou ervaar n onbeskryflike suiwerheid. Sy sit regop sodat die kombers oor haar hoë vol borste afskuif. Sy laat die laggende kind aan haar drink in die lig wat van bo af oor hulle val.

 

Sy voel haar kop hoog en koninklik op haar nek, haar hare golwend oor haar rug. En so, sereen en heel, stol die beeld tot n kamee.

 

Die volgende dag in die genoeglike navoel van die droom, begin sy die verhaal skryf. Terwyl sy werk, glimlag sy maklik asof sy n heerlike geheim ken.

 

Die wêreld van die verhaal is jonk en helder. Eens was die werklike wêreld ook jonk en helder, die kontoere skerp en duidelik: as konsep wel onbevatlik, maar met ‘n wete van iets groots en suiwers, iets baie goeds.

 

Die verhaal gaan oor twee jong mense, die mooi dogter van n gesiene boer en die lieflingseun van n ander familie. Die verhaal begin op n plaas in n vrugbare vallei, so in die middel van die dertigerjare. Die mense in die verhaal het almal warm menslike gesigte party vrolik, ander ernstig, elkeen na sy eie aard.

 

Met oujaar word daar elke jaar n groot fees gereël in die vallei. Maria is die mooiste meisie in die omgewing. AI die jong mans ken haar en bewonder haar, maar sy is op niemand verlief nie.

 

Dié jaar is daar tussen al die bekendes n gas, Karel van Nieuwenhuys, die nuwe posmeester by die klein poskantoortjie anderkant die rivier. Hy kan sy oë nie van Maria afhou nie. Hy probeer die hele dag die opslag van haar blink ligblou kyk vang, hy verlustig hom in die boog van haar bolip as sy so maklik lag, hy volg elke beweging van haar sterk lenige bene en haar heupe. Later die aand speel die jongmense boompie verplant. Karel hou die hele tyd vir Maria dop en probeer net om by haar uit te kom. So gebeur dit dat hy teen n ander kêrel vashardloop en sy mond teen die man se kop stukkend stamp.

 

Haai wag, hou eers op met speel,skree iemand. Karel se lip bloei vreeslik.

 

Maria, jy sal moet help – die lip moet ontsmet word. Weet jy waar die noodhuipkissie is?

 

Maria en Karel gaan saam die huis in sodat Karel se lip verpleeg kan word. In die donker kombuis hou hy die kers hoog vas sodat Maria kan sien wat sy doen. Sy ontsmet die snytjie versigtig en druk dan n stukkie gaas daarteen vas sodat dit kan ophou bloei.

 

Toe sy die gaas wegneem en sê: “So ja, nou Iyk dit al beter“, blaas Karel die kers dood, vat Maria stewig vas en soen haar behoorlik die hele dag se bewondering in die soen.

 

Dit is die begin van die verhaal. Die skryfster is tevrede, maar die verhaal moet n breë epiese gang ontwikkel. Hierdie mense wat so met jeug en krag en moed saam begin, moet nou n ryk en vol lewe lei. Daar moet betekenisvolle dinge met hulle gebeur, as individue en as lede van die gemeenskap. Die eerste keer wat Karel vir Maria na sy ouers toe neem, kyk sy ma Maria op en af en sê: “Jy is n sterk meisiekind. Dis goed, want Karel is nie alte sterk nie.

 

Maria dink nog sy terg en sê: “Vir my Iyk hy dan so sterk.

 

Maar die ouer vrou is baie ernstig: “Toe Karel klein was, so nege jaar, het hy mos eendag in die son aan die slaap geraak. Daar langs die pampoenland. Hy wou net rus, toe slaap hy. En van die warme son kry hy toe sonstraal. Hulle het hom huis toe moes dra hy was toe al so koorsig en ylend. Ja, die kind was gruwelik siek. Oe, daai wrede koors.

 

Haai siestog, Tante,” simpatiseer Maria.

 

Ja-a, weke lank was hy so swak soos n babatjie. Dis die dat hy vir ons so kosbaar is.

 

Karel is heelwat ouer as Maria en wil gevestig raak. Daarom wag die twee nie lank nie en staan sommer gou voor die preekstoel. Maria kom weldra agter dat Karel n beteuterde streep het of hy iets van die sonstraal self oorgehou het of van die bederf daarna, weet sy nie. Sy weet net sy het met hom én sy sonstraal getrou en n mens moet sy waardigheid nooit aantas nie.

 

Binne drie maande na die troue raak Maria swanger en toe kom Karel agter dat sy mooie Maria n eiewyse streep het. Sy is soggens baie naar en saans vreeslik vaak en kennelik nie altyd Ius om hom te bedien nie. Hy praat daaroor en kry blitsende oë en bitsige antwoorde.

 

Dieselfde ding gebeur weer en weer. Hy word op n dag woedend, ruk n tas van die kas af en sê vir Maria:

 

Pak in jou goed! Ek vat jou terug na jou ma toe!

 

Verskrikgedweë pak Maria in. Sy sien dat haar parmantigheid groot moeilikheid veroorsaak het, maar weet nie regtig wat om te doen nie.

 

Op die plaas aangekom, sê Karel vir Maria se ma:

 

Ek bring haar terug. Sy is humeurig en koppig en luister nie vir my nie.

 

Maar jy is tog lief vir haar? Julle moet maar weer vrede maak.”

 

Nee, Ma, ek dink nie ek is meer lief vir haar nie.”

 

Maria se ma kom uit n vurige en taai geslag en net daar vat sy vlam.

 

0 so! Dis nou te sê. Jy vat my mooi dogter, n skone kind uit my huis uit en nou dat jy haar besoedel het, wil jy haar nie meer hê nie. ls jy nie mans genoeg vir haar nie?

 

“Ek gee nie meer vir haar om nie – sy is onmoontlik.”

 

A nee a, sy is jou vrou. Vat haar en gaan maak self jou sake reg. Wat moet ek met haar doen? Is jy in die ander tyd, Maria?

 

Ja, Ma.

 

Nou toe, des te meer. Karel, vat jou vrou en gaan huis toe. Jy trek nie jou neus vir my kind op as jy haar in die toestand gesit het nie. Wees n man en dra jou verantwoordelikhede.

 

Sy is stomend die huis in en die twee jongmense moes maar bedremmeld in hulle kar klim en terugry huis toe.

 

In die stadium is dit asof die skryfster haar momentum verloor, asof iets nie reg loop met die verhaal nie.

 

Vorder jy?vra haar man.

 

Ek dink darem so. Ek gaan nou maar eers terug om die eerste deel af te rond en breër uit te werk, want ek is nie seker oor hoe die ding verder moet loop nie.”

 

Dis dan jou storie. Skryf hom soos jy wil.

 

Ja, maar iewers heel in die begin is iets nie reg nie. Die mense kry nie statuur nie ... hulle bly so gewoon ...

 

Maak hulle spesiaal ...

 

Ek weet ek moet, maar hulle wil nie, nog nie ... iets wil nie

 

n Week lank werk sy aan die eerste deel van die storie. Sy beskryf die pragtige plaas, die ou hoë bome, die diep skaduwees en die sterk stil rivier. Die mense se gesigte kry detail, hulle liggame elk n kenmerkende houding. Klere en meubels word bygevoeg. Meer nog, die lig en skadu en donkerte word atmosfeer. Sy weeg en oorweeg die woorde en sinne, sy skik en rangskik tot woorde en ritmes in n patroon vloei.

 

Maar sy vorder nie, want sy kry nie die fout in die fondament van die bousel nie, sy kan haar vinger nie lê op die kiem wat die verhaal wég van haar laat ontwikkel nie.

 

Mense is maar so doodgewoon,” troos haar man. Miskien is hierdie mense nie van die groot geeste nie.

 

Maar hulle sou dit moes kon wees hulie is sterk en gesond en lewenskragtig en hulle leef in n tyd van hoop en goeie vooruitsigte. Hulle is die generasie wat moet opstaan uit die swaarkry ... wat met moed en insig moet leef ...

 

Haar man is half geamuseerd omdat sy so spook met die verhaal. Soms raak hy selfs ongeduldig: “Onthou net, jy kan nie vir altyd in die storie bly nie. Jy bly eintlik by my.

 

Op n aand sleep hy haar agter die lessenaar uit.

 

Wat sukkel jy so met jou mense van papier? Jy kry niks gedoen nie. Ek sukkel nie so met goed nie, kom ek wys jou wat ek alles kan regkry!

 

Hy sit sy arms van agter om haar en skuif sy voete onder hare in. Op een paar sole skuifel hulle die gang af.

 

Die nag droom sy weer.

 

Sy kom van buite af in haar huis in en stap kamer toe, want sy weet sy het n jaar oue seuntjie. Die kind sit met sy gladde koppie regop in die bababed. Sy loop tot by die bed en steek haar hande uit na die kind. Hy kyk op en lag vir haar. Ontsteld trek sy haar hande terug. ln die kind se klein babamond is n volledige stel tande, almal met skerp punte wat na bo en onder sig-sag in mekaar pas. “Liebst du mich vra die kind rustig tussen sy gepunte tandjies deur. “Jawohl,antwoord sy.

 

Du liebst Jesu mehr,” konstateer hy met kalm oortuiging.

 

Jaa, aber ich liebe Sie auch, denn Sie sind mein Kind.

 

Sy tel die kind op uit die bed. In haar hande, onder haar hande word hy groot. Hy tree weg van haar n volgroeide man. Dan draai hy weg en stap by die deur uit op die stoep. Twee ander mansfigure sluit by hom aan. AI drie het jasse aan en hoede op. Soos hulle oor die stoep wegstap waai n sterk wind teen hulie aan. Hulie buig effens saam met die wind terwyl die jasse aan een kant teen hulle bene vaswaai.

 

Hulle stap in n groot landskap in – donker naggroen heuwels lê op die ver horison. Tussen die stoep en die heuwels is die land n bruin en swart skadu. Die lug is swaar van swartgrys bollende wolke.

 

Die drie figure beweeg weg van haar af hulle jasse roes en oker en bruin. Net voordat hulie van die stoep aftrap, stol die beeld tot n donker ekspressionistiese skildery: drie swaar figure, swartomlyn geboë teen die wind in n stormlandskap wat gloei in die diepste donker kleure.

 

Die volgende oggend skuif die skryfster die hoop papiere opmekaar en stoot dit in n laai. Sy leef deur baie onrustige dae.

 

Die wêreld het somber geword, die kontoere verdonker en die lug besoedel. Die wêreld is moeg en troebel, oud en gewoon ... en waar.

 

Maande later eers haal sy weer die papiere uit die laai. Berustend skrap sy die onnodige detail uit die eerste deel van die verhaal. Dan skryf sy gelate die res. Die verhaal moet in die eerste plek op sigself en vir sigself geloofbaar wees. Sy is net die skrywer, al is dit ook hoe swaar om so te skryf.

 

Karel en Maria het later drie kinders. Hy vorder tot posmeester op ‘n groot dorp. Sy word n voorslag in die gemeenskap sy kan die beste kook en bak en borduur. In die omgang is sy daarvoor bekend dat sy nogal kwaai en skerp kan wees, maar vir Karel gaan sy nooit teë nie. Ten spyte van haar onderdanigheid is Karel altyd ferm met haar. Hy maak haar maklik stil in n geselskap (Wat weet jy nou?”) en sonder dat hy dit ooit direk sê, weet sy dat hy deurgaans van haar verwag om te sorg dat die praktyk van sy lewe glad verloop.

 

Hulle kinders is liewer vir hom as vir haar, want hulle kan hom manipuleer as hulle hom paai. Maria sorg dat hulle mooi Iyk en goed eet, maar hulle dink sy is hard. En tog dra sy haar lewe lank graag wit omdat Karel ‘n keer of wat te kenne gegee het sy Iyk mooi in wit.

 

Binne die patroon leef hulle gewoonweg voort soos enige ander gesin geseën en geteister op hulle eie manier. Die skryfster weet dit wat sy skryf is onuitstaanbaar voorspelbaar.

 

Met verloop van die jare word Karel waardiger en oneffektiewer, Maria bekwamer, kwaaier en eensamer. n Paar jaar voor Karel se aftrede begin sy werk in n klein boetiek. En toe hy aftree en heeldag tuis is, bly sy werk. Sy tref goeie reëlings en die huishouding loop steeds glad, maar sy bly werk. Sy doen wat sy wil en Karel se kragtelose protes verwaai in die wind. Sy weet nou sy is sterker en geniet dit oplaas.

 

Hy word later siekerig en swakkerig en al sê die dokter dat dit normale veroudering is, glo hy die sonstraal haal hom nou uiteindelik in.

 

Die laaste weke van sy lewe is hy in die hospitaal. Maria en die kinders besoek hom elke dag. Hy voel hy word swakker en een middag hy vir die suster sy moet sy vrou en kinders bel, hy voel baie sleg.

 

Die suster besluit besoektyd is nie so ver nie en bel nie.

 

Maria en haar dogter kom die aand saam daar aan. Karel beduie net vaag met sy hand en sê oor en oor op sy bekende beteuterde en verwytende manier: “Julie is te laat ... julle is te laat ... ”

 

Hulle bel dadelik die ander kinders. Die groepie staan styf teen sy bed terwyl sy oë dowwer en dowwer word en strakker staar. Tussen hulle gly hy weg. So sterf hy, stil en gewoon soos ontelbare mense voor hom en na hom.  Maria ontleed nie die diep weemoed en vae spyt wat sy voel nie. Sy byt op haar tande en gaan aan met die lewe.

 

Die skryfster stap weg van die storie af. Sy omhels haar man met oorgawe. Sy kan ook weer met haar lewe aangaan, verlig dat n geliefde n anker kan wees en ‘n storie ‘n baken. Niks het verander nie, niks is werklik besweer nie, maar iets helends het tog gebeur.

 

  •