Posts Tagged ‘gedigeksegese’

Marlies Taljard. “Waar is jou Pa nou?”

Thursday, January 16th, 2020

 

Boekbespreking: Met my hand op my hart – Cas Vos

 

“Ek het my lewensmaat verloor, my kinders en kleinkinders wil my nie meer ken nie, en nou keer my enigste vriende my ook nog die rug toe … al wat ek oorhet, is my gebroke gemoed en my depressiewe gedagtes.”

Hierdie argetipiese versugting in moderne taal uitgedruk, verwoord ʼn essensiële aspek van die menslike kondisie. Daarmee gepaardgaande word dikwels die vrae gevra: Leef God? As God leef, is hy Goed? Waarom laat God slegte dinge met goeie mense gebeur?

Die Bybelboek Job is ʼn poëtiese teks wat handel oor hierdie algemeen-menslike worstelinge. Die teoloog dr. Gerben Heitink skryf:

“Job is een uitzonderlijk poëtisch geschrift in de Hebreeuwse Bijbel. Het hele dichtwerk draait om de vraag of er een God is die deze wêreld rechtvaardig bestuurt. Dat is een nooit verstommende vraag die alle mensen aangaat en die iedere gelovige van tijd tot tijd de adem beneemt” (Vos, 2019:v).

Hoewel die boek Job soos ons hom vandag ken, ongeveer 400-500 jaar voor die geboorte van Christus iewers oos van Israel in sy finale vorm ontstaan het (die basisgegewe kan tot 1000vC teruggevoer word), is die Job-verhaal vir moderne mense van die 21ste eeu net so relevant as toe dit geskryf is.

Cas Vos, internasionaal bekende teoloog en digter van verskeie Afrikaanse bundels, het hierdie stof vir ʼn moderne Afrikaanse gehoor verteerbaar gemaak in Met my hand op my hart: Waar is God? Die boek bestaan uit vier dele. Deel I is ʼn toeligting by die boek Job, wat onder andere handel oor die ontstaan en komposisie van die boek Job, die narratiewe bou daarvan en literêr-kritiese aksente, wat die aktualiteit van die verhaalgegewe benadruk. Deel II is ʼn vers-vir-vers analise van die boek Job wat sowel op literêre aspekte as op eksegese gemik is. Deel III handel oor die universele betekenis van die teks, terwyl Deel IV ʼn dosyn oorspronklike en vertaalde gedigte bevat wat op die Job-teks gebaseer is. Die 40 bladsye “Aantekeninge” dui op die deeglike navorsing wat die skrywer gedoen het en verskaf waardevolle addisionele bronne vir die belangstellende leser.

Ek wil in hierdie bespreking fokus op die relevansie van Vos se boek vir poësielesers en die wyse waarop die skrywer inskryf teen die interpretasie van die teks wat deur baie teoloë gehuldig word.

Job is ʼn fiktiewe karakter uit die land Us wat, aldus Vos, waarskynlik Kanaän is. Tematies is die verhaal verwant aan Midde-Oosterse tekste, hoewel dit “ʼn unieke antropologie, kosmologie en teologie” bied en die “samehang van skuld, straf en vergewing” deurbreek, soos dit in die vroeë wysheidsboeke voorkom (Vos, 2019:1). Job kom egter tot die besef van die misterie van God en Sy handelinge. Sy swaarkry is nié die direkte gevolg van sy sondes nie.

Wat die styl van die Job-teks betref, skryf Vos:

“Die Job-gedig is in die vorm van ʼn literêre kunswerk geskryf wat die tradisionele wysheid uitdruk. Dié manier van skrywe behoort nie tot die vroeëre wysheidsliteratuur met sy doen-gevolg-samehang nie. Hierteen is die boek Job juis ʼn protes” (Vos, 2019:1). Dit vertoon ʼn tweeledige struktuur, naamlik ʼn proloog en epiloog in prosavorm en ʼn poëtiese middeldeel (Vos, 2019:2).

Die tema van die verhaal is (soos ons weet) “Job wat protes aanteken teen die onverdiende lyding rondom hom. (…) Wie is die God wat onskuldige kinders laat omkom en aan sy troue dienaar ondraaglike laste oplê om ʼn weddenskap met die Satan te wen? Watter godsdiens is dit wat blinde gehoorsaamheid eis sonder protes teen die onreg wat hom aangedoen is?” (Vos, 2019:2).

Ook in moderne tye kom hierdie tema algemeen voor – en in modernistiese, postmodernistiese en sekularistiese tye dalk meer eksplisiet as voorheen. Ek dink byvoorbeeld aan ooreenkomste met die bekende en argetipiese Faust-gegewe. Soos Goethe se Faust, is ook die weergawe van die Job-verhaal wat in die Bybel opgeneem is, geskoei op volksverhale. Vos wys daarop dat die “finale” vorm van die Job-teks op teenstellende wyse afwyk van die volksverhale waarop dit gebaseer is, moontlik om te impliseer dat albei lewenshoudings algemeen voorkom: Waar die volksverhaal op aanvaarding en berusting berus, berus Job op die tema vertwyfeling en berusting. Wat die skrywer van Met my hand op my hart egter wil beklemtoon, is dat God die bondgenoot van die mens is. In sy uitvoerige verklaring van die hele boek Job na aanleiding van die Hebreeuse bronteks, kom die skrywer aan die hand van ʼn intense stiplees en herevaluering van bestaande interpretasies van die Job-gegewe by die gevolgtrekking uit dat God die bestryder van die oerchaos is, en nie die bron daarvan nie:

“Job 42:6 kan en moet anders verstaan en verklaar word as wat byna alle kommentare dit doen. Alles maak sin as dit soos volg vertaal en verstaan word:

‘Daarom wil ek daarmee ophou,
stof en as agter my laat.’

Alle lyding is daar; onverdiende lyding, waar geen enkel eie skuld as ‘oorsaak’ aangewys kan word nie. Ons God is nie die bron van chaos en lyding nie, maar die Bestryder daarvan. Hierin is Hy ons Bondgenoot vir die lewe” (Vos, 2019:104).

Cas Vos is ʼn bekende en gerespekteerde teoloog en eksegeet. Wat die interpretasie en uitleg van die Job-teks betref, het hy homself uitmuntend van sy taak gekwyt. Hy is ʼn kenner van Bybelse retoriek, simboliek, verstegniek en literêre strategie. Hierdie afdeling van die boek (Deel II) is verpligte leeswerk vir enige voornemende (én praktiserende) literêre kritikus wat stiplees van literêre tekste aanbetref – iets wat blykbaar vinnig uit die mode gaan …

Dele III en IV is bedoel as teologiese en kreatiewe kommentaar op die Bybelse Job-teks. Van die 12 gedigte wat in Deel IV voorkom, is 3 vertalings van bestaande Nederlandse tekste en kerkliedere. Die 9 oorspronklike gedigte is gebaseer op die Job-teks as geheel, of op spesifieke dele daarvan. Soms gaan die digter intertekstueel te werk, maar hy aarsel nie om die antieke gegewe in moderne idioom te klee nie. Stilisties herinner die gedigte aan Vos se onlangse werk en steun sterk op die Bybelse register. Persoonlik kan ek my vereenselwig met die keuses wat die digter gemaak het. Een van my gunstelinge is die beskrywing van Job se vrou as diaboli adiutrix in “Jobsvriende” wat op Job 2:7-13 gebaseer is:

Op die rand van die doderyk daag Job se vrou,
die diaboli adiutrix, op. “Jy oorskat jou vroomheid.
Ek weet, jy hou jou doof, dalk tref my woordeskerf jou.
Slinger vloeke na God toe en gee jou droewige lewe prys.”

Die gedigte wat op Job 37 en 38 gebaseer is, “Die wonder van die skepping” en “Wie? Wie? Wie?” met hulle sterk polsende, byna ekstatiese ritme gee die intensiteit van die vriende se argumentvoering die beste weer. In die laasgenoemde gedig word die Bybelgegewe met moderne beelde afgewissel:

Wie het die aarde se lyf
met ʼn maatband gemeet?
Wie het asem goddelik
in haar neus geblaas?
Wie hou haar knus in sy handholte?
Wie het skares van alle uithoeke
genooi om met vlae en feesklere
sonder vloeke en gewere tot nanag te dans?
Wie het die hemelruim opgehang
soos ʼn spieël wat in die nag vlam?
Wie versluier dáár raaisels
en wie laat sterre saans smeul?
Wie het die duisternis
soos ʼn lyk in doeke toegevou?
Wie het klokke vir eerste lig gelui?
Wie het die rooidag met harp en fluit
agter die berg se hange wakker gemaak?

Die dele van die boek Job wat waarskynlik vir die leek die bekendste is, word saamgevat in die gedig “Troos in stof en as” waarin die beskrywing van die perd, die aasvoël, die seekoei en die krokodil voorkom, maar ook – weer eens – ʼn verwondering aan die heelal:

As ek ʼn tafeldoek oor die heelal gooi
en die goddeloses soos krummeltjies
probeer afskud, gebeur daar niks nie.
As ek aan die web van u raadsbesluit vat,
voel ek soos ʼn vlieg, ʼn spinnekopprooi.

Met my hand op my hart is ʼn unieke boek in dié sin dat dit sowel eksegese as praktykgerigte én kreatiewe toepassing bevat. Die akademiese verdienste van dié werk kan kwalik oorskat word, terwyl dit ook vir die gelowige Christen van die tergendste vrae waarmee mense te doen kry, in stylvolle leketaal probeer beantwoord. Dit is in sy wese ʼn post-sekulêre werk, aangesien dit bewys lewer daarvan dat die moderne mens steeds met spirituele vrae worstel, ten spyte daarvan dat ons sogenaamd in ʼn sekulêre wêreld leef.

Die boek is by Protea Boekwinkel in Pretoria beskikbaar. Dit kan ook by eddington@proteaboekwinkel.com bestel word.

Bronverwysing

Vos, Cas. 2019. Met my hand op my hart: Waar is God? Pretoria: Cordis Trust Publikasies.

  •