Hendrik J. Botha. Covid 19
Wednesday, July 15th, 2020
Covid 19
in gesprek met Elisabeth Eybers
Hoe sou jy, meesteres van die sonnet
dié pandemie in veertien strak reëls
vir ons beskryf: onsigbare vyand
wat sweef, selfs in voue van ons klere skuil?
Vlermuise en ietermago’s bly ongedeerd.
In ICU newelagtig tussen
beddens, kabels, pype ‘n fyn balans,
gesuspendeer iewers tussen dood en lewe
met suurstof onheilspellend laer
probeer ek tevergeefs my weergawe
op te teken, terwyl jy elders
op ‘n bankie huiwer: met ‘n glimlag
en dalk ‘n koppie tee om namens my
die slot van dié gedig te skryf.
© Hendrik J Botha, 2020